Versprei die werk skemas

stop werksverlies

Deur Henry Hazlitt

Ek het verwys na die arbeidunies se werkskeppingskemas. Hierdie praktyke en die openbare verdraagsaamheid daarvan spruit uit dieselfde fundamentele dwaling as die vrees vir masjiene. Dit is die geloof dat die meer doeltreffende manier om iets te doen werksgeleenthede vernietig, en die inverse daarvan dat die minder doeltreffende manier werksgeleenthede sal skep.

Verwant aan hierdie denkfout is die geloof dat daar net ʼn vaste hoeveelheid werk in die wêreld is, en as ons nie iets tot hierdie werk kan byvoeg deur te dink aan meer omslagtige maniere om dit te doen nie, ons ten minste kan dink aan maniere om dit onder soveel moontlik mense te versprei.

Hierdie fout lê in die kleinlike onderverdeling van arbeid waarop vakbonde aandring. In groot Amerikaanse stede is die onderverdeling van arbeid in die boubedryf welbekend. Messelaars word nie toegelaat om klippe te gebruik vir ʼn skoorsteen nie: Dit is die spesiale werk van klipmesselaars. ʼn Elektrisiën kan nie ʼn kas uitruk om ʼn konneksie reg te maak en dit weer terug te sit nie: Dit is die spesiale werk van ʼn skrynwerker. ʼn Loodgieter sal nie ʼn teël verwyder of terugsit om ʼn lekkasie in die stort reg te maak nie: Dit is die werk van ʼn teëllêer.

Woedende gevegte het al uitgebreek in hierdie jurisdiksie-stakings tussen vakbonde vir die eksklusiewe reg om sekere vorme van verwante werk te kan doen. In ʼn verklaring wat deur die Amerikaanse spoorweë vir die Prokureur-generaal se Komitee oor die administratiewe prosesse voorberei is het die spoorweë ontelbare voorbeelde gegee waar die Nasionale Spoorwegaanpassingsraad besluit het: Dat elke afsonderlike werkstakie op die spoorweg, maak nie saak hoe kleinlik dit is nie, soos praat oor ʼn telefoon of om ʼn meganiese skakelaar vas of los te maak, die eksklusiewe rol van ʼn bepaalde werknemersklas is, en as ʼn werknemer van ʼn ander klas in die loop van sy daaglikse pligte sulke handelinge uitvoer, moet hy nie net betaal word vir ʼn ekstra dag se loon nie, maar terselfdertyd is die “werklose” lede van die ander werknemersklas geregtig op ʼn ekstra dag se loon vir die feit dat hy nie uitgeroep is om die werk te doen nie.

Dit is waar dat ʼn paar persone met hierdie kleinlike arbitrêre onderverdeling van arbeid bevoordeel kan word ten koste van die res van ons – op voorwaarde dat dit slegs in ʼn paar gevalle gebeur. Diegene wat dit egter ondersteun as ʼn algemene praktyk sien nie in dat dit produksiekoste verhoog nie en dat dit op die netto balans neerkom op minder werk en minder geproduseerde goedere nie. Dit is waar dat die huiseienaar wat gedwing word om twee mans in plaas van een in diens te neem ʼn ekstra man werk gegee het, maar hy het veel minder geld om te spandeer op iets anders, waarmee iemand anders weer in diens geneem sou kon word. Nadat die lekkasie in ʼn man se badkamer herstel is teen dubbel die prys as wat dit moes wees het hy besluit om nie die nuwe trui wat hy wou hê te koop nie. “Arbeid” is nie beter daaraan toe nie, want ʼn dag se werk van ʼn onnodige teëllêer beteken ʼn dag se werk van ʼn masjien wat truie brei of ʼn masjienhanteerder wat nie plaasvind nie. Die huiseienaar is egter slegter daaraan toe. In plaas daarvan om ʼn herstelde stort en ʼn trui te hê, het hy die stort en geen trui nie. Sou ons die trui beskou as deel van die nasionale welvaart, kort die land een trui. Hierdie voorbeeld simboliseer die netto resultaat van die poging om ekstra werk te skep deur die arbitrêre onderverdeling van arbeid.

Daar is egter ander “versprei die werk” skemas wat dikwels deur uniewoordvoerders en wetgewers voorgelê word. Die mees algemene van hierdie is die voorstel om die werksweek met wetgewing te verkort. Die oortuiging dat dit “die werk help versprei” en “meer werksgeleenthede skep” was een van die vernaamste redes vir die insluiting van die “straf-oortyd-voorsienings” in die V.S.A. se Federale Besoldigingsuurwet. Die vorige wetgewing wat die indiensneming van vroue en minderjariges vir meer as agt en veertig uur per week verbied het, was gebaseer op die oortuiging dat langer ure skadelik vir die gesondheid en arbeiders se moraal was. Daar was ook geglo dat langer werksure skadelik was vir doeltreffendheid.

Die voorsiening in die wetgewing dat ʼn werkgewer ʼn werker ʼn 50 persent premie bo sy uurlikse tarief van lone moet betaal vir alle ure gewerk meer as veertig ʼn week is egter nie primêr gebaseer op die oortuiging dat ʼn vyf en veertig uur werksweek skadelik was óf vir die gesondheid óf vir die doeltreffendheid nie. Dit is deels opgeneem in die hoop om die werkers se weeklikse inkomste te verhoog, en deels in die hoop dat die werkgewer ontmoedig sal word om iemand op ʼn gereelde basis vir meer as veertig uur per week in diens te hê en daardeur bykomende werkers in diens sal neem. Tydens die skryf hiervan was daar talle skemas wat werkersunies graag sou wou realiseer vir “die voorkoming van werkloosheid” deur die inwerkingstelling van ʼn dertig-uur-werksweek. Wat is die werklike effek van sodanige planne, ongeag óf dit nou afgedwing word deur vakbonde óf deur wetgewing?

Om die problematiek te verduidelik gaan ons na twee gevalle kyk. Die eerste is ʼn verlaging in die werksweek van veertig na dertig uur sonder enige verandering in die uurlikse loonkoers. Die tweede is ʼn vermindering in die werksweek van veertig na dertig uur, maar met ʼn voldoende toename in uurlikse loontariewe om dieselfde weeklikse betalings vir die individuele werkers wat reeds in diens is te handhaaf.

Eerste geval: Ons neem aan die werksweek word gesny van veertig tot dertig uur, met geen verandering in die uurlikse loonkoers nie. As daar aansienlike werkloosheid bestaan met die inwerkingtreding van hierdie plan sal die plan ongetwyfeld bykomende werksgeleenthede skep. Ons kan daarby egter ook aanneem dat dit nie voldoende bykomende werksgeleenthede sal bied om dieselfde loonuitgawes en dieselfde aantal man-ure as tevore in stand te hou nie, tensy ons die baie onwaarskynlike aanname maak dat in elke industrie daar presies dieselfde persentasie van werkloosheid is en dat die nuwe arbeiders wat in diens geneem word nie minder doeltreffend in hulle spesifieke take gaan wees as die arbeiders wat reeds in diens was nie. Laat ons dan vir argumentsonthalwe presies hierdie onwaarskynlike aannames maak. Ons veronderstel dat die regte hoeveelheid werkers vir elke vaardigheid beskikbaar is, en dat die nuwe werkers nie produksiekoste verhoog nie, wat sal die gevolge van die vermindering van die werksweek van veertig na dertig uur (sonder enige toename in die loonkoers) wees?

Hoewel meer werkers in diens geneem sal word, sal elkeen minder ure werk, en sal daar dus geen netto toename in produksie-ure wees nie. Dit is onwaarskynlik dat daar ʼn beduidende toename in produksie sal wees. Die arbeiders se inkomste en “koopkrag” sal nie groter wees nie. Al wat kan gebeur, selfs onder die mees gunstige aannames (wat selde gerealiseer sou word), is dat die werkers wat voorheen in diens was, in effek, die nuwe werkers wat voorheen werkloos was, subsidieer sodat die nuwe werkers individueel driekwart van die geld ʼn week ontvang as wat die ou werkers sou ontvang het. Die oorspronklike werkers sal nou individueel net driekwart van hul vorige looninkomste kry. Dit is wel die geval dat die ou werkers vir minder ure sal werk, maar die aankoop van meer vrye tyd teen ʼn hoë prys is vermoedelik nie ʼn besluit wat die ou arbeiders vir hul eie onthalwe sou gemaak het nie.

Vakbondleiers wat aandring op korter werksweke om die “werk te versprei” herken dit gewoonlik, en daarom bied hulle die voorstel in ʼn vorm aan waarin almal dan veronderstel is om ʼn stuk van die spreekwoordelike “koek” te kry. Verminder die werkweek van veertig na dertig uur, sal hulle byvoorbeeld voorstel, sodat meer werk verskaf kan word maar vergoed werknemers vir die korter week deur ʼn verhoging in die uurlikse loon van 33.33%. Die werkers in diens het voorheen sê ʼn gemiddeld van R400 per week vir veertig ure se werk gekry en ten einde dat hulle nog steeds R400 kan kry vir net dertig ure se werk moet die uurlikse loon verhoog word.

Wat sal die gevolge in die tweede geval wees? Die mees voor die hand liggende gevolg sal verhoogde produksie koste wees. As ons die onwaarskynlike aanname maak dat terwyl die werkers vir veertig ure in diens was, hulle die bepaalde pryse en winste moontlik gemaak het en die vlak van produksiekoste ʼn 33.33% toename in lone sou toelaat dan kon hulle die uurlikse toename gekry het sonder die vermindering van die lengte van die werksweek.

Aan die ander kant, as ʼn mens van die veronderstelling uitgaan dat werkers wat veertig uur per week werk reeds so ʼn hoë loon verdien as wat die vlak van produksiekoste en pryse moontlik maak (en die juiste werkloosheidsprobleem wat hulle probeer oplos is ʼn aanduiding dat hulle reeds meer as dit kry), dan sal die toename in produksiekoste as gevolg van die 33.33% toename in die uurlikse loontariewe baie groter wees as wat die bestaande prystoestande en produksiekoste (sonder aanpassing) sal kan hanteer​​.

Die gevolg van die hoër arbeidskoste sal dus meer werkloosheid as tevore teweeg bring. Die mees ondoeltreffende maatskappye sal hul besigheid verloor, en die mees ondoeltreffende werkers sal hul werk verloor. Produksie sal oral minder word. Hoër produksiekoste en skaarser voorrade sal neig om pryse te verhoog, sodat werkers minder met dieselfde hoeveelheid geld kan koop; aan die ander kant sal die toename in werkloosheid die aanvraag in sekere sektore verminder en dus neig na laer pryse. Wat uiteindelik met die pryse van goedere gebeur, sal afhang van watter monetêre beleid dan gevolg word. Sou ʼn beleid van monetêre inflasie voortgesit word om pryse te laat styg sodat die verhoogde uurlikse lone betaal kan word, sal dit bloot ʼn bedekte manier wees om die werklike lone te verminder, sodat hulle sal terugkeer, in terme van die bedrag van goedere wat hulle kan koop, na dieselfde reële koers as voorheen. Die resultaat sal dan dieselfde wees as wanneer die werksweek verminder is sonder ʼn toename in uurlikse loontariewe. Die resultate hiervan is reeds bespreek.

Versprei-die-werk-skemas berus op dieselfde soort illusie wat ons al oorweeg het. Die mense wat sulke skemas ondersteun, dink net aan die werk wat hulle sou kon voorsien het aan sekere persone of groepe; hulle dink nie verder wat die effek op almal sal wees nie.

Versprei-die-werk-skemas berus ook op die valse aanname dat daar net ʼn vaste hoeveelheid werk is wat gedoen kan word. Daar kan geen groter dwaasheid wees nie. Daar is geen beperking op die hoeveelheid werk wat gedoen kan word nie, so lank as wat enige mens behoeftes of begeertes het wat onbevredig is sal daar werk wees wat gedoen moet word. In ʼn moderne ruil-ekonomie sal die meeste werk gedoen kan word wanneer pryse, koste en lone in die beste verhoudings tot mekaar staan.            ____________________________________________________________________________

Hierdie was dan hoofstuk 8 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek Ekonomie in Een Les gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Hoofstuk 7

Hoofstuk 9

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.