Kom ons ooit werklik uit Anargie uit?

kom ons uit ooit uit Anargie uit

Deur Alfred G Cuzán

Inleiding

ʼn Belangrike punt van bespreking onder Libertariese teoretici en denkers vandag draai om die eeue-oue vraag of mense werklik in anargie kan leef en of die minimale staat absoluut noodsaaklik is vir die maksimering van vryheid? Verlore in hierdie hele dispuut is die vraag of mens ooit werklik in staat is om enigsins uit anargie te kan ontsnap? Kan ons werklik anargie ophef en ʼn regering in die plek daarvan oprig? Die meeste mense, ongeag hulle ideologiese voorkeure, neem gewoonlik eenvoudiglik aan dat die afskaffing van anargie moontlik is, dat hulle onder die staat moet lewe en dat anargie chaos en geweld sal wees.

Die doel van hierdie opstel is om hierdie aanname te bevraagteken en te argumenteer dat enige “ontsnapping” uit anargie onmoontlik is, dat ons altyd in anargie lewe, en dat die ware vraag is in watter soort anargie ons wil lewe, vryemark anargie of ʼn staatsbeplande anargie. Verder word daar aangevoer dat politieke anargieë bestaan uit twee tipes, hiërargies of pluralisties. Hoe meer pluralisties politieke anargieë is, hoe meer reflekteer dit vryemark anargie. Die prestasie van hiërargiese en pluralistiese anargieë word geëvalueer in terme van hul vermoë om geweldsvlakke in die samelewing te minimaliseer. Daar word aangetoon dat pluralistiese anargieë veel minder geweldadig is as hiërargiese anargieë. Ons gevolgtrekking is dat die regte vrae wat libertariërs moet oplos, nie minimale-regering of anargisme is nie, maar eerder watter tipe anargie, mark of staat, hiërargies of pluralisties? Watter tipe anargie is die bevorderlikste vir die maksimering van vryheid?

                                                                     I

Anargie kan beskryf word as ʼn sosiale orde sonder ʼn staat, onderworpe slegs aan die ekonomiese wette van die mark. Die staat kan beskryf word as ʼn agent buite die gemeenskap, ʼn “derde party” met die mag om alle ander partye met dwang in ʼn enkele verhouding in die samelewing te laat staan en om die bevolking te forseer om die “derde party” se opvattings en gevolge van daardie opvattings noodgedwonge te aanvaar.

Dat die idee van die staat intellektueel gekonseptualiseer kan word, is geen bewys vir die empiriese bestaan daarvan nie. Min van ons sou oortuig word deur ʼn argument soos, “ek glo dat die idee van God moontlik is, daarom bestaan God”. Dit is die struktuur van die argument wat dit ten grondslag lê van al die aannames oor die bestaan van die staat. Dat die samelewing dalk een of ander vorm van organisasie het wat hulle “Regering” kan noem, is geen rede om af te lei dat hierdie “regerings” ʼn empiriese manifestasies van die idee van regering is nie. Die argument is dalk nie so eienaardig as wat dit met die eerste oogopslag voorkom nie, aangesien van dieselfde argumente wat gebruik word om die staat te regverdig, in religieuse debatte voorkom asof die staat God vervang het, m.a.w. “Die mens is van nature boos en het ʼn staat nodig om die mens struktuur te gee”. Dat die staat bloot ʼn instelling is wat uit mense bestaan ontvlug ongelukkig te veel mense se denke.

Paul Craig Roberts, in Alienation and the Soviet Economy (Albuquerque: University of New Mexico Press, 1971), maak bykans dieselfde argument dat om intellektueel die idee van ʼn sentraal beplande ekonomie te kan konseptualiseer is geen bewys vir die empiriese moontlikheid daarvan nie. Roberts het uitgewys dat sentraal beplande ekonomieë soos Sowjet Rusland geensins sentraal beplan was nie, maar eerder sukkelende plurale ekonomieë wat hulpbronne met nie-mark seine probeer allokeer het. Robert se gevolgtrekking dat sentraal beplande ekonomieë nie bestaan nie is bykans dieselfde as die argument wat hier gemaak word.

ʼn Nadere studie van aardse state toon dat die staat ons nie uit anargie uit kry nie. Die staat vervang slegs een vorm van anargie met ʼn ander en gee ons gevolglik dus nie werklik regering nie. Dit werk soos volg; waar ook al aardse “state” ingestel is of bestaan, is anargie amptelik verbode vir alle lede van die samelewing. Gewoonlik word daar na hulle verwys as onderdane of burgers. Hulle kan nie meer met mekaar in ʼn verhouding tree op hul eie terme nie, nie as twee internasionale handelaars by ʼn hawe of vir die alledaagse doeleindes van sekuriteit, regspraak, en vele meer inter-menslike handelinge nie. Alle lede van die samelewing moet ʼn enkele eksterne “derde party” aanvaar in hul verhoudings tot mekaar. ʼn Enkele derde party met die mag van dwang tot sy beskikking om besluite en wette af te dwing en teenstanders of oortreders te straf.

As ʼn grypdief my beursie steel byvoorbeeld, is ek wettiglik verplig om te steun op die dienste van lede van ʼn derde party om hom te vang (polisie), om hom aan te hou (tronkbewaarders), en om hom te veroordeel (aanklaers, regters) om hom dan skuldig te bevind en te straf of om hom vry te spreek. Die meeste insae wat ek in hierdie verband kan hê is om hom te vang, solank as wat ek by sekere van die derde party se reëls hou want ek word verbied om die rekening self te vereffen. Dis ooglopend dat derde partye nodig sal wees om die saak te ondersoek en al die bogenoemde funksies te verrig, maar ek het geen insae om self daardie ander partye aan te stel nie. Sodanige prohibisies kan tragies-komiese afmetings aanneem, soos wanneer die staat slagoffers van misdaad straf vir die feit dat hulle hulself of eiendom verdedig het bo die limiete wat deur die staat vasgestel was of selfs soms wanneer ʼn misdadiger homself beseer het as gevolg van ʼn obstruksie op die slagoffer se eiendom wat vir een of ander rede onwettig was, in terme van die reëls van die derde party. Kortliks moet ek, of enige ander burger of onderdaan, hierdie beslissings van die staat in ons verhoudings tot mekaar aanvaar. Ons is verplig om by die wet van hierdie “derde party” te hou.

Tog bestaan so ʼn “derde party” reëling soos vir die samelewing egter nie onder diegene wat mag uitoefen as “staat” nie. Met ander woorde, daar is geen “derde party” om reëlings te maak en toe te pas onder die besluite van die individuele derde partye(state) nie en ook nie die lede wat die derde party self opmaak nie. Die politieke heersers is steeds in ʼn toestand van anargie vis-à-vis met mekaar. Hulle los geskille tussen mekaar op, maar sonder enige agting vir ʼn regering (ʼn entiteit buite hulself). Die kiesers in ʼn demokratiese bedeling verkies slegs beroeps-politici tot ampte in die staat en het geen werklike keuse oor tipe staat of bedeling nie, anargie bestaan dus nog steeds. Gegewe dat sonder die staat dit mark-anargie in terme van vraag en aanbod sou wees en dit nou eerder politieke anargie is, ʼn anargie binne die staatsmag.[1]

Neem, byvoorbeeld, die leiers van ons eie regering. Dit is ʼn groep bestaande uit ministers, regters, ʼn president, ʼn vise-president, adjunk-ministers, direkteur-generaals, adjunk direkteur generaals, direkteure, militêre instellings, en hul hordes ontelbare adjunkte, assistente en medewerkers wat saam toesig hou oor die staatsburokrasie van die sogenaamde openbare sektor en die verskillende instellings beman. Hierdie individue bymekaar maak en dwing wette af, edikte, regulasies en oneindige variante van ordonnansies van alle soorte waarby al die lede van die samelewing moet hou.

Tog, in hul verhoudings onder mekaar bly hulle grootliks “wetteloos”, niemand buite die groep skryf en dwing die regulasies vir die verhoudings tussen hulle af nie. Op sy beste is die staat verbind tot slegs sekere buigsame beperkings opgelê deur ʼn “grondwet” wat hulle in elk geval interpreteer en toepas tussen hulself, deur hulself en oor hulself. Die hooggeregshof is na alles slegs ʼn tak van die regering wat bestaan uit mense wat aangestel is deur, en onderworpe aan drukgroepe en ander lede van die regering. Daarbenewens word hul besluite uitgevoer deur ʼn ander tak van die staat, die uitvoerende gesag, oor wie die regters geen mag het nie, slegs gesag. Verder kan die parlement deur middel van druk en die manipulasie van die begroting, allokasies aan die regbank verander en dit in werklikheid in enige ideologiese rigting druk. Hulle oefen ook per geleentheid druk op die regters self uit. Net so het parlementêre verteenwoordigers geen “derde party” arbiters óf tussen hulself óf in hul verhoudings met ander nie. Verder het selfs al die verskillende burokrasieë en al hulle saamgestelde komponente geen “derde party” om oor hulle verhoudings te regeer nie, nie intern of ekstern nie. In kort bring ʼn ondersoek na verhoudings binne-in die regering aan die lig dat hulle altyd in ʼn toestand van anargie onder mekaar verkeer. Hulle verkeer in ʼn politieke anargie befonds uit diefstal.

Die anargistiese verhoudings van regeringsamptenare kan geïllustreer word in die volgende voorbeeld: Gestel ʼn parlementslid kry dit reg om groot strome geld uit die regering te laat vloei na sy eie persoonlike eiendom. Dit is ʼn misdaad, diefstal, die skending van eiendomsreg. Maar van wie? Van my of van jou? Slegs in die sin dat ons gedwing was om by te dra tot die staatskas wat die parlementslid beskou het as buit. Dit was nie meer ons s’n nie, dit behoort aan iemand anders. Maar wie? Natuurlik aan die lede van die regering wat die mag het om die vloei van hulpbronne te allokeer. In ʼn neutedop het die parlementslid gesteel van ander parlementslede, burokrate, ens. Wat word gedoen omtrent die misdaad? Word die parlementslid openlik in die publiek beskuldig, aangekla, en verhoor vir sy misdaad soos ʼn gewone burger wat steel van ʼn ander burger?  Soms, maar wat gewoonlik gebeur is ʼn onophoudelike stroom van politieke manipulering op hoë vlakke; wedersydse dreigemente wat gelewer word agter geslote deure en magte wat teen mekaar opgeweeg word. Af en toe vind politieke gevegte plaas wat reputasies vernietig of geld verwissel van hande of hulpbron strome of toegang daartoe word verander.

Die sensasie en publieke ontevredenheid is gou vergete, die

Opvallend hoe naby die vergelyking aan die huidige Nkandla skandaal kom gegewe dat die opstel om en by 1980 geskryf was.

Opvallend hoe naby die voorbeeld aan die huidige Nkandla skandaal kom, gegewe dat die opstel ten minste drie dekades voor die tyd geskryf was.

politikus ontvang ʼn skoon blaadjie deur die vervolgingsgesag of die aanklagte word laat vaar of onder die mat in gevee na die betrokke politikus herverkies word. Soms, as die oortreding of onetiese transaksie deur ʼn laevlak burokraat gemaak word, of selfs deur ʼn ongewilde politikus gemaak word, word hy deur die howe uitgedaag, en kry ʼn minimale of selfs ʼn opgeskorte vonnis. In die meeste gevalle word ʼn klein vissie naby die onderkant van die burokrasie opgeoffer vir die misdade wat deur topvlak burokrate goedgekeur was, of waaruit hulle voordeel uit getrek het, of selfs net geïgnoreer het.

Maak egter geen fout nie, geen derde party(staat) het al ooit ʼn regsuitspraak gemaak, gerespekteer of afgedwing waarmee hul fundamenteel verskil het nie. Ten beste sal hulle dit vir die publiek so laat voorkom. Die leiers van die staat het self letterlik die reg in eie hande geneem en daardeur tot stand gebring wat buite die regering beskou sou word as “vigilante geregtigheid.” In ʼn neutedop is die samelewing altyd in anargie. ʼn Staat hef anargie op tussen die sogenaamde “onderdane” of “burgers”, maar tussen die wat die staat beheer, heers anargie.

Figuur 1 illustreer hierdie situasie. Die sirkel aan die linkerkant toon ʼn toestand van ware- of mark- of natuurlike anargie, waarin al die lede van die gemeenskap se verhouding tot mekaar in streng bilaterale transaksies sonder derde party tussenkoms bestaan. Die sirkel aan die regterkant toon die situasie wat voorkom onder staatsgesag. In die boonste gedeelte sien ons individue wie se verhoudings tussen mekaar nie meer bilateraal is nie. Alle verhoudings is wettiglik “driehoekig” deurdat alle lede van die samelewing gedwing word om die reëls van die staat te aanvaar in hul transaksies en verhoudings tot mekaar. Maar in die onderste gedeelte, binne die “staat” self, bestaan verhoudings tussen die staatsamptenare steeds in anargie.

Regering

Noudat aangetoon is dat anargie nie afgeskaf is deur die staat nie, maar slegs vir hulself voorbehou is, “Slegs vir Staatsamptenare”, onder wie dit die normale toestand is, is dit belangrik om te ondersoek of dit voordelig is vir die samelewing. Die voorstanders van die staatlike paradigma beweer dat die samelewing sonder die staat in ʼn toestand van aanhoudende geweld sou wees. Dit volg dus logies om hierdie aanspraak te ondersoek, en te kyk of die effek van die staat daarop neerkom dat geweldsvlakke in die samelewing of verhoog, of verminder, of op geen manier beïnvloed word nie. Is politieke anargie minder geweldadig as ʼn natuurlike anargie? Minargiste argumenteer dat dit die geval is, op die voorwaarde dat die staat streng beperk word tot die rol van optrede as ʼn derde party in eiendomsgeskille. Terwyl die staat noodwendig die gebruik van beperkte geweld behels, sê minargiste dat die vlakke van geweld in ʼn minimale staat laer sou wees as dié in ʼn natuurlike anargie.

Geweld

Figuur 2 illustreer die Minargiste se idee. Deur die daarstelling van die minimale staat val die vlakke van geweld in die samelewing tot onder die vlakke wat teenwoordig sou wees in ʼn natuurlike anargie. Die idee wat die minargiste het is vermoeddelik dat wanneer die staat verby hierdie minimale vlakke groei is daar geen verdere stygings of voordeel in die vermindering van geweldsvlakke nie en is meer regering dus nutteloos, duur en onnodig en verdere groei in die omvang van staat kan die vlakke van geweld in die samelewing weer laat styg, tot selfs verby die vlak van natuurlike geweld. (Sien Figuur 3).

minimale regering

* Gebroke lyne verteenwoordig die moontlike effek op geweld deur die uitbreiding van die staat verby die minimale staat.

Dat geweld onder politieke anargie dalk geweld onder natuurlike anargie sal oortref, is nie ondenkbaar nie. Hitler se konsentrasie kampe en Stalin se Gulags is almal bewyse van geweld in sodanige buitensporige verhoudings dat mens dit skaars kan waag om te sê dat geweld onder natuurlike anargie vanselfsprekend hoër sal wees as onder ʼn staat. Net so het die politieke anargie van nasiestate, ongeag hoe totalitaristies of minimaal, interstaatlike geweld op so ʼn skaal geproduseer dat selfs die mees toegewyde gelowige in die staat moet stilstaan by die argument.[2]

ʼn Derde perspektief is moontlik teoreties die mees interessantste. Hierdie siening veronderstel dat die verhouding tussen die staat (die substitusie van mark- anargie vir politieke-anargie) en geweld gekwalifiseer word deur ʼn derde element, die struktuur van die staat gemeet langs ʼn mag sentraliseringsdimensie. Hoe meer die gesaghebbende magte versprei is tussen die takke van politieke eenhede, en hoe meer mag teruggekaap word na lokale outoriteite toe, hoe meer pluralisties is die staat(federaal/provinsies/kantons/munisipaliteite). Hoe meer gesentraliseerd die struktuur is, dit wil sê hoe meer die gesaghebbende magte gesentraliseer is, hoe meer hiërargies is die staat. Let daarop dat hoe meer hiërargies die regering is, hoe meer word die staat bestuur op die veronderstelling van ʼn absolute arbitrêr. Met ander woorde, hoe meer gesentraliseerd die struktuur is, hoe groter is die poging om ʼn enkele “derde party” binne die regering self in die vorm van ʼn god-agtige figuur soos ʼn Hitler, Stalin, Mao of Castro te skep. So ʼn “derde party” bly egter in ʼn volledige anargie van die res van sy landgenote en die res van die wêreld.

Hoe meer pluralisties die politiek van ʼn land is, hoe meer gedra die leiers hulself sonder enige verwysing na ʼn “derde party” en reflekteer die samelewing meer ʼn natuurlike anargie. Hoe minder pluralisties, hoe meer hiërargiese die politiek van ʼn land is, hoe meer word die samelewing geregeer deur wat blyk om ʼn ware “eksterne” element, ʼn tipe god-agtige figuur (die sterkman of staatsman) uit die hemel gestuur vanuit die geskiedenis, godsdiens of ideologie. ʼn Vinnige blik op ons kontemporêre samelewings en die onlangse geskiedenis bewys dit onteenseglik. Dit is juis die soort samelewings wat geregeer word deur so ʼn aardse personifikasie van die staat waar die vlak van geweld in die vorm van politieke onderdrukking, dwang en intimidasie die hoogste is. In teenstelling is geweld die laagste in samelewings met ʼn hoë vlak van pluralistiese politiek, soos Switserland. Dit was selfs waar in die kommunistiese wêreld – die meer pluralistiese kommunisme-politiek van Pole of Joegoslawië was veel minder gewelddadig as die meer hiërargiese kommunisme-politiek van die Sowjetunie. Net so in die Westerse wêreld, waar die meer pluralistiese politiek van die Verenigde State veel minder gewelddadig is as dié van Italië, waar politiek baie meer hiërargies is.

Maar waarom sou die graad van sentralisasie bepaal of die politieke anargie gewelddadig is in hiërargiese lande soos China en Kuba, en weer relatief vreedsaam in meer pluralistiese lande soos Indië en Costa Rica? Die antwoord lê bloot in die feit dat gesentraliseerde state meer geneig is om foute te maak as gedesentraliseerde state.[3] Politieke foute manifesteer in die vorm van verkeerde of valse opvattinge oor die aard van bilaterale verhoudings in die samelewing en in politiek, soos die konsepsies oor die verhouding tussen die werker en kapitaliste in kommunistiese lande of die verhouding van ekonomiese besluite en die gevolge daarvan of die wisselwerking tussen verskillende etniese groepe. As besluite verkeerd is, word dit nie vrywilliglik aanvaar deur een of meer van die partye by die transaksie nie. Onder hierdie toestande is die enigste manier vir die leiers of heersers om hul “derde party ” konsepsies toe te pas, óf dwang óf geweld, wat onder ander omstandighede deur die opposisie teengestaan sou kon word.

In pluralistiese state en pluralistiese regerings is verkeerde opvattings oor die bilaterale verhoudings in die samelewing minder geneig om voor te kom. Dit is omdat daar talle eenhede is, wat onafhanklike interaksie met mekaar het en met die onderdane, sodat meer en beter inligting oor die effek van hierdie besluite op bilaterale verhoudings bestaan. Verder word verkeerde begrippe en konsepsies makliker in toom gehou aangesien verskillende outonome politieke eenhede elk daartoe in staat om sy eie magsbasis te mobiliseer en politieke hulpbronne van hul eie teen mekaar in ʼn opeenvolgende reeks politieke transaksies te konfronteer. In ʼn hiërargiese staat is dit egter nie die geval nie, selfs die lede van die staat of regerende party word nie altyd toegelaat om geskille onder mekaar op te los nie. Alle verhoudings is onderworpe aan die wil of uitspraak van ʼn paar senior leiers. Veral waar verhoudings onderworpe is aan die wil van ʼn enkel leier wat oor ʼn groot netwerk van spioene en dwang bemiddelaars(staatssekuriteit) moet beskik en kan handhaaf om sulke supermenslike dade te kan verwesenlik. Natuurlik is ʼn mens se vermoë om die gedrag van ander te beheer redelik beperk, en selfs in Hitler se Duitsland was die mees Machiavelliaanse, feudalistiese reëlings gemaak, reg onder die Feurer se neus. Natuurlik was sulke transaksies verbode sodat baie in ʼn toestand van vrees moes lewe in lewensgevaarlike onsekerheid, onwetend wanneer sy vyande daarin sou slaag om Hitler teen hom te draai.[4]

Dit is onteenseglik dat hiërargiese politiek meer gewelddadige is as pluralistiese politiek, maar as ʼn pluralistiese samelewing met politieke anargie minder geweld ervaar, as samelewings met ʼn hiërargiese of “beheerde” regering, is dit nie logies om te vra of natuurlike anargie minder geweldadig as politieke anargie sal wees nie? Waarom moet ons veronderstel dat die verhouding tussen die staat en geweld kromlynig is? Is dit nie moontlik dat dit altyd ʼn opwaartse helling het nie, dat die staat met ander woorde altyd meer geweld produseer as die vryemark nie?

Oorsig en Slot

Ons het bewys dat anargie net soos materie, nooit verdwyn nie, dit verander net van vorm. Anargie is óf vryemark- óf politieke-anargie en pluralistiese gedesentraliseerde politieke anargie is minder geweldadig as politieke hiërargiese anargie. Gevolglik het ons goeie rede om te aanvaar dat vryemark anargie minder geweldadig sal wees as politieke anargie, aangesien ons kan aantoon dat vryemark anargie beter presteer as politieke anargie in effektiwiteit en billikheid in alle opsigte.[5] Daar is niks wat die staat produseer wat die vrye mark nie beter kan doen nie, waarom sou ons dan verwag dat enigiets anders sou wees by die behoud van vrede en geregtigheid? Daar kan sekerlik verwag word dat vryemark anargie minder geweld sal oplewer in die handhawing van eiendomsreg as politieke anargie. Na alles is die vryemark die beste ekonomiseerder van alles. Sou dit nie ook meer spaarsamig, moreel en ekonomies oor sake van geweld beslis as die staat nie? 

Notas 

  • [1]. Die heersers van enige regering het natuurlik hul magsbasis van belangegroepe binne en buite die regering. Die leiers van nie-regerings organisasies wat wel belange groepe is hou baie keer die sleutel tot politieke oorlewing van selfs die mees magtigste politici. Gevolglik breek die streng tweeledige verhouding af tussen regerings en nie-regerings lede van die samelewing. By sekere raakpunte het lede van die regering belange in die privaatsektor en vice versa, en kry mens privaat individue wat sulke goeie politieke konneksies het dat hulle bykans in totale anargie lewe. Dieselfde argument word soms geopper oor die nabye verhouding wat soms tussen georganiseerde misdaad en die staat se sekuriteitsdienste bestaan.
  • [2]. Murray Rothbard maak die argument wat impliseer dat teenstanders van anargie logies voorstanders van ʼn een-wêreldregering moet wees om anargie tussen nasie state op te hef, tog sal weinig van hulle die argument maak. (Murray Rothbard, in ʼn bief aan die outeur, September 21, 1978; en Walter Block, in ʼn brief aan die outeur, Oktober 26, 1978.)
  • [3]. Sien Gordon Tullock, The Politics of Bureaucracy (Washington, D.C.: The Public Affairs Press, 1965), vir ʼn vol teoretiese ontwikkeling van die idee.
  • [4]. Sien Albert Speer, Inside the Third Reich (New York: Avon Books, 1970), Part 11.
  • [5]. Murray Rothbard, Power and Marker (Kansas City: Sheed Andrews and McMeel, Inc., 1970).

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.