Die Nie-Aggressie-Beginsel

 

nie-aggressie beginsel

Deur Walter Block

Die nie-aggressie beginsel is die hoeksteen van die libertariese filosofie. Dit staaf net eenvoudig dat dit wettig is vir enigeen om te doen wat hy wil, solank hy nie geweld of die dreigement van geweld inisieer teen ʼn ander persoon of regmatige eiendom van die persoon nie. Ook dat ʼn man in ʼn vrye samelewing die reg het om enige produk of diens te produseer, te koop en verkoop op enige terme waarop wedersyds ooreengekom word. Daar sal gevolglik in ʼn regstelsel wat daarop gebaseer word dus nie slagofferlose misdade, prohibisie, prysbeheer, regeringsregulasies op die ekonomie, ens., wees nie.

Die nie-aggressie beginsel is die basiese bou blokke van libertariese privaat eiendomsreg gebaseer op die (Lockeaanse en Rothbardiese) tuistevesting beginsel as grondslag. Selfs al veronderstel ons dat A sy hand in B se sak druk, sy beursie uitruk en weghardloop daarmee, kan ons nie bloot sê A is die aggressor en B die slagoffer nie, dit mag dalk wees dat A bloot sy eie beursie weer in besit geneem het wat B die vorige dag by hom gesteel het. Deur die nie-aggressie beginsel te bou op ʼn korrekte interpretasie van eiendomsreg maak dit die beginsel ʼn baie magtige instrument in die stryd van idees, want die meeste individue glo, en tereg ook so, dat dit verkeerd is om ander mense van hul lewens en eiendom te vervreem of dit met geweld te verower. Wie is tog ten gunste van diefstal, moord en verkragting? Met dit as invalshoek is libertariërs vry om die beginsel intellektueel toe te pas tot alle vorme van menslike aksies, insluitende die aksies van unies, belastinggaarders en die regering self.

Die nie-aggressie beginsel en private eiendomsreg teorie wat dit onderskryf het onlangs onder skoot gekom met heelwat interessante voorbeelde wat poog om die idee te diskrediteer. Laat ons na twee van die bestes van hierdie voorbeelde kyk.

Eerste voorbeeld: Jy staan op ʼn balkon van ʼn woonstel op die 25ste vloer van ʼn hoë woonstelblok, jy verloor jou balans en val. Tot jou geluk gryp jy 10 verdiepings verder vas aan ʼn vlagpaal wat ver uitsteek vanaf ʼn woonstel op die 15de vloer. Die eienaar van die woonstel storm woedend uit op haar balkon en dring aan dat jy van haar eiendom af moet verkas en geen reg het om aan haar vlagpaal te hang nie en nog minder om haar woonstel te betree, met ander woorde jy moet nou 15 verdiepings ver val en heel moontlik sterf. Jy protesteer dat jy net tot by haar woonstel se balkon wil klouter en jouself red en sal dan haar eiendom verlaat, maar sy is onwillig en weier. Is jy nou as libertariër verplig om maar te sterf?

Tweede voorbeeld: Jy het verdwaal in die veld, sonder kos of water en dit is bitter koud, jy gaan sterf as jy nie skuiling en kos kry nie. Gelukkig kom jy af op ʼn plaashuis toegerus met ʼn oorvloed kos en voorrade. Jou intensies is om die aand te vertoef, te eet en jou visitekaartjie te los sodat jy die eienaar dubbel soveel kan vergoed vir enige redelike prys wat hy mag vra. Ongelukkig is daar ʼn groot bord wat lees “Waarskuwing: Privaat Eiendom – Geen Toegang”. Moet jy nou maar omdraai om van die koue en honger te sterf?

Opponente van die nie-aggressie beginsel hou vol dat jy onder geen verpligting is om te sterf in die soort gevalle nie en nog minder in die naam van privaat eiendomsreg. Vanuit hul siening het hulle die konsepte en argumente aangeneem om menslike lewens en sosiale gesondheid te bevorder, maar in hierdie uitsonderlike gevalle waar die nie-aggressie beginsel indruis teen utilitarisme moet dit, volgens hulle, oorboord gegooi word. Die nie-aggressie beginsel is vir hulle ʼn goeie reël in die algemeen, maar een wat soms in uitsonderlike gevalle geïgnoreer moet word.

Daar is egter verskeie gevaarlike slaggate in die voorbeelde teen die nie-aggressie beginsel.

1.Hulle verstaan nie die natuur van hierdie libertariese konsep nie. Hierdie soort argumente veronderstel onvoorwaardelik dat libertariese reg ʼn morele filosofie is wat belang het in wat die korrekte gedrag in aangeleenthede is. Moet die arme man wat aan die vlagpaal hang laat los? Moet die arme stapper omdraai en sterf? Libertariese regsteorie is begaan oor die regverdige gebruik van aggressie en geweld, wat gebaseer is op eiendomsreg en nie moraliteit nie. Daarom is die enigste regte vrae wat beantwoord kan word deur die filosofie, die wat daarby pas: As die paalhanger poog om die woonstel binne te kom en die eienaar skiet hom, sal die instellings verantwoordelik vir wet en orde die huiseienaar kan straf? Of, as die eienaar van die plaashuis ʼn slagyster of vangstrik gestel het vir mense wat sy eiendom wil beroof of die man skiet wat probeer binne dring, sal hy dan skuldig wees aan ʼn wetsoortreding? As die vrae op hierdie manier gestel word is die antwoorde duidelik. Die eienaar is in elke geval binne sy regte en die oortreder verkeerd. As geweld gebruik word in die beskerming van eiendomsreg, selfs dodelike geweld, is die eienaar nie skuldig aan die skending van enige wettige reg nie.

2. Hierdie voorbeelde probeer doelbewus die leser se meegevoel plaas in die denke van die kriminele oortreeder. Ons word spreekwoordelik ingesuig om empatie te toon met die man wat aan die vlagpaal hang en met die stapper en nie met die toepaslike eienaar van die eiendom nie. Laat ons dan met ons eie hipotetiese voorbeelde die perspektief omdraai. Veronderstel die eienaar van die woonstel op die 15de verdiepping was onlangs die slagoffer van verkragting deur iemand van dieselfde ras of etniese groep as die een wat nou aan die vlagpaal hang, of dat ʼn klouterdief in die verlede tot by die vlagpaal geklim het om die misdaad te kon uitvoer. Mag sy hom skiet in selfverdediging voor hy haar woonstel binnedring? Of veronderstel dat die eienaar van die plaashuis menigte inbrake gehad het in die voorafgaande paar maande en finaal besluit het om iets daaromtrent te doen. Of dat die plaaseienaar sy voorsienings beskou as absoluut noodsaaklik vir sy eie oorlewing deur die wintermaande . Mag hy dan verdere stappe neem om sy eiendom te beskerm? Om hierdie vra te vra is so selfverduidelikend dis om hulle self te beantwoord.

3. Die kritici van libertariese eiendomsreg teorie baseer hul siennings op ʼn soort filosofie van noodgevalle. Die nie-aggressie beginsel is vir hulle aanvaarbaar in gewone omstandighede, maar met ʼn sinkende skip en reddingsbote, is dit ʼn geval van elkeen vir homself. Die probleem is egter dat hierdie voorbeelde wat dalk abnormaal mag voorkom in werklikheid op ander maniere baie meer algemeen voorkom as wat voorgestel word. Daar is nou op hierdie gegewe oomblik mense wat iewers in die wêreld besig is om dood te gaan van hongersnood. Daar is nou op hierdie gegewe oomblik mense wat iewers in die wêreld doodgaan van siektes wat geneesbaar is, en selfs geneesbaar is met lae koste medikasie soos penisillien. Almal het al die advertensies van humanitêre agentskappe gesien: “Hier is klein Maria, jy kan haar red asook haar hele dorpie deur ons elke maand ʼn klein bedraggie van slegs R….. te stuur.”

Die feit is dat die mense wat die belaglike aanval gepoog het op die nie-aggressie beginsel op hierdie noodgeval gronde self lewe in gemaklike middelklas huise of dalk beter; in ordentlike motors ry en hul kinders na duur universiteite stuur. As hulle werklik oortuig was van hul kritiek, sou bostaande nie waar gewees het nie.  Want as die woonstel en plaas eienaar hul eiendomsreg moet opgee om die paalhanger en stapper se lewens te red op morele gronde, dan moet die kritici hul gemaklike middelklas lewens op dieselfde gronde onmiddellik opgee om te poog om almal wat siek of sterwend van die honger is te red vir presies dieselfde redes. Die feit dat nie een van hulle dit gaan doen nie bewys dat hulle hul eie argumente nie ernstig opneem nie.

Die logiese implikasies van dwangmatige welsynsargumente is veel strawwer as om net ʼn paar rand elke maand uit vrye wil te skenk aan organisasies wat hul beywer vir behoeftiges. Veronderstel hulle gee selfs vrylik in die verband, is hul lewensstandaarde steeds veel hoër as dié wat van ʼn gewisse dood gered word. Daar is sekerlik niks met vrywillige welsyn verkeerd nie, maar as hulle werklik glo wat hulle verkondig moet hulle die logika van hul eie argumente deurvoer en elke laaste sent wat hulle besit skenk vir honger en armoede verligting aan die wat minder bevoorreg is as hulle, alvorens hulle kan argumenteer dat eiendomsreg op morele gronde by ander mense misken moet word.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Eiendomsreg, Regte and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.