Die Aard van die Reg

Reg en Orde

Deur Roderick T. Long

Deel 1: Reg en orde sonder regering

Vir meeste mense is die terme orde, reg en regering verlengstukke van mekaar. Sonder regering sou daar geen reg wees nie. Sonder reg sou daar geen maatskaplike orde wees nie. Inderwaarheid is die drie begrippe egter afsonderlik onderskeibaar.

Die reg is daardie instelling of versameling instellings in ʼn gegewe samelewing wat weersprekende aansprake besleg en nakoming van die beslegting in ʼn formele, stelselmatige en ordelike manier verseker. Só gesien is die reg maar een soort maatskaplike orde, maar nie die geheel daarvan nie; daar is ook minder formele meganismes vir die handhawing van maatskaplike orde. Om die waarheid te sê: die oorgrote meerderheid van samewerking in die samelewing maak op informele orde, eerder as die reg, staat.

Vorme van Reg

Die reg kan onderverdeel word in vrywillige en dwangmatige reg, afhangende van die meganismes waardeur nakoming verseker word. Vrywillige reg, soos wat die naam aandui, maak alleenlik op vrywillige meganismes staat, soos sosiale druk, boikotte en dies meer, ten einde nakoming van die uitkoms van beslegting te verseker. Dwangmatige reg, aan die ander kant, maak ten minste ten dele staat op geweld en dreigemente van geweld.

DwanDie Reggmatige reg kan op sy beurt weer onderverdeel word in monosentriese en polisentriese dwangmatige reg. Onder monosentriese dwangmatige reg is daar ʼn enkele instelling wat aanspraak maak op – en tot ʼn groot slaag in die verkryging van – ʼn dwangmatige monopolie op die gebruik van geweld om te besleg tussen aansprake en nakoming te verseker binne ʼn gegewe gebied. Hierdie instelling word ʼn regering genoem en enigiemand anders as die regering en sy agente word verbied om per geweld geskille te besleg. Onder polisentriese [dwangmatige] reg, daarenteen, maak geen enkele organisasie aansprake op of besit so ʼn monopolie nie.

ʼn Anargis, dan, is nie iemand wat orde of reg – of selfs dwangmatige reg – verwerp nie, maar eerder iemand wat regering verwerp. Die anargis beweer dat informele orde, vrywillige reg en polisentriese dwangmatige reg voldoende is om maatskaplike samewerking in stand te hou; die voorstander van regering voer aan dat monosentriese dwangmatige reg bykomend nodig is – en maak inderwaarheid tipies die punt dat die omvang van maatskaplike orde wat deur nie-regeringsbronne alleen onderhou kan word werklik klein is.

Maar tog word ʼn groot hoeveelheid maatskaplike orde deur informele middele alleen in stand gehou. In “Order Without Law: How Neighbors Settle Disputes,” toon die ekonoom Robert Ellickson hoe dispute oor grondgebruik gereeld op informele wyse besleg word, sonder beroep op amptelike regspreking en sekerlik sonder beroep op wetlike bepalings (die relevante statute synde onbekend aan die weersprekende party in enige saak). Meer algemeen het Robert Axelrod in “The Evolution of Cooperation” verduidelik waarom samewerking normaalweg ʼn suksesvolle strategie is en dus waarom dit neig om deur die mark “gekies” te word, aangesien samewerkingsverhoudings ontluik en spontaan groei sonder om deur enige owerheid aangestuur te word.

Wanneer daar wél behoefte aan ʼn meer formele meganisme van reg bestaan, kan die reg vrywillig eerder as dwangmatig wees. ʼn Voorbeeld van vrywillige reg is die Lex Mercatoria, ʼn handelsregstelsel wat in die laat-Middeleeue ontstaan het in antwoord op die behoefte aan ʼn gedeelde stel standaarde om internasionale handel te reguleer. Die handelaars, siek en sat vir die uitermatige onbuigsaamheid van regeringswette wat handel gereguleer het en gefrustreerd met die gebrek aan eenvormigheid tussen die kommersiële kodes van verskillende nasies, het eenvoudig hul eie Europa-wye stelsel van howe en wetboeke ontwikkel. Vir nakoming het die Lex Mercatoria nie staatgemaak op staatsingestelde strawwe nie, maar op reputasierekords; diegene wat geweier het om hulle by die stelsel se reëls en besluite neer te lê sou ʼn moeilike taak gehad het om ander handelaars wat bereid is om met hulle sake te doen te vind. (Die voorbeeld van die Lex Mercatoria toon dat private regstelsels nie afhanklik hoef te wees van bloedverwantskap of ander plaaslike bande vir hul sukses nie.)

Wanneer die reg wél dwangmatig is, hoef dit nog nie monosentries te wees nie. Onder vroeë Anglo-Saksiese reg, byvoorbeeld, het Konings slegs buitelandse beleid bepaal; binnelandse beleid is aan plaaslike howe bekend as “Moots” oorgelaat, wat bloot ooreengekome plaaslike gebruike toegepas het. Nóg Konings, nóg Moots het enige mag oor plaaslike afdwinging gehad; dit was aan indiwidue oorgelaat om die reg deur private dwang te bekragtig. Sulke indiwidue het normaalweg groeperinge genaam borhs gevorm, waarmee beskerming verseker is in ruil vir elkaar se betroubaarheid; en selfs hier was baie van die wetstoepassing deur middel van sosiale sanksies (soos om lidmaatskap van ʼn borh geweier te word) eerder as dwang.

Openbare Goedere vs. Openbare Keuse

Dit blyk dus dat private reg, of dit nou streng vrywillig of ook dwangmatig is, ditself histories bewys het as ʼn effektiewe verskaffer van maatskaplike orde. Maar die anargis se punt is nie bloot dat monosentriese reg nie nodig is vir die handhawing van maatskaplike orde nie, maar meer fundamenteel dat die invoeging van monosentrisme in die prentjie inderwaarheid maatskaplike orde verskraal.

Voorstanders van regering neem aan dat nie-regeringsmeganismes van orde nie effektief sal wees nie vanweë die openbare goedere-probleem – meer spesifiek, die probleem dat tensy mense gedwing word om saam te werk, elke persoon ʼn aansporing sal hê om te free-ride op die samewerking van ander sonder om self saam te werk. Hierdie argument word dikwels gebruik om die noodsaak van regering aan te toon.

Maar as mark-oplossings gebuk gaan onder perverse aansporings veroorsaak deur die openbare goedere-probleem, dan gaan regeringsoplossings eweseer gebuk onder perverse aansporings veroorsaak deur die openbare keuse-probleem: monopolieë wat inkomste deur geweld insamel is nie verantwoordbaar teenoor hul kliënte nie en staatsamptenare hoef nie die finansiële koste van hul besluite te dra nie; oneffektiwiteit is die onvermydelike gevolg. Aangesien beide stelsels perverse insentiewe daarstel, is die belangrike vraag: watter stelsel is beter om sulke perverse insentiewe te oorkom?

En wat dít betref is die antwoord duidelik. In ʼn markstelsel kan entrepreneurs finansiële beloning inpalm deur maniere te ontwikkel om “openbare” goedere te voorsien op maniere wat free-riders uitsluit. Dus skep dieselfde stelsel wat verantwoordelik is vir perverse aansporings ook die einste aansporings om hulle te oorkom. Dit is waarom elke sogenaamde “openbare” ding al op een of ander stadium in die geskiedenis op ʼn private wyse voorsien is. Regerings, daarenteen, moet per definisie mededinging verbied. Daarom het regerings, anders as markte, geen manier om hul aansporingsprobleme op te los nie. Dit sal vir ons, dus, wys wees om ons reg op die mark te koop eerder as van die staat.

Hierdie is slegs ʼn kort uittreksel, die res van Professor Roderick T. Long se uitstekende The Nature of Law kan by die skakel in Engels gevind word. 

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Regte and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.