Ontbind die Troepe en die Burokrate

troepe en burokrate

Deur Henry Hazlitt

1

Wanneer daar na elke oorlog voorgestel word dat die gewapende magte demobiliseer, is daar altyd ʼn groot vrees dat daar net nie genoeg werk vir hierdie mense sal wees nie en dat hulle as gevolg daarvan werkloos sal wees. Dit mag dalk waar wees dat wanneer miljoene mense skielik vrygestel word van militêre diens dit tyd neem vir die privaatsektor om hulle weer op te neem – alhoewel dit in die verlede merkwaardig vinnig eerder as stadig gebeur het. Die vrese vir werkloosheid ontstaan ​​omdat mense net na een kant van hierdie proses kyk.

Hulle sien soldate wat op die arbeidsmark losgelaat word en wonder waar al die “koopkrag” vandaan gaan kom wat die werksgeleenthede skep om hulle weer in diens te kan neem? As ons die aanname maak dat die staatsbegroting gebalanseer word, is die antwoord eenvoudig. Die regering sal ophou om die soldate se besoldiging te betaal, met ander woorde die belastingbetalers wat in werklikheid hiervoor moes betaal sal toegelaat word om die fondse te behou wat voorheen van hulle weggeneem is vir daardie salarisse. Die belastingbetaler beskik gevolglik oor meer addisionele fondse om bykomende goedere en dienste te koop. Die aanvraag sal dus verhoog, en werk verskaf aan die bykomende arbeidsmag wat deur die soldate verteenwoordig word.

Indien die soldate se lone uit staatslenings gefinansier was, met ander woorde ʼn ongebalanseerde begroting, is dit ietwat van ʼn ander geval. Dit bring egter ʼn ander vraag na vore en ons sal in ʼn latere hoofstuk op regeringsskuld en lenings konsentreer. Dit is genoeg om te verstaan dat die bostaande verduideliking op hierdie stadium irrelevant is tot die gekose metode van die finansiering van die soldate se besoldiging. Indien ons aanneem dat daar ʼn voordeel in ʼn begrotingstekort is, dan kan presies dieselfde begrotingstekort gehandhaaf word as voorheen deur eenvoudig die belastingkoers te verminder gelykstaande tot die hoeveelheid wat voorheen spandeer was op militêre uitgawes.

ʼn Skielike militêre demobilisasie sal die ekonomie egter nie presies op dieselfde punt laat waar dit was voor dit begin het nie. Die soldate wat voorheen as ʼn finansiële las deur burgerlikes gedra was, sal nie net burgerlikes word wat deur ander burgerlikes finansieel gedra word nie maar word eerder selfgefinansierde burgers. Enige gewapende magte wat in die weermag behoue bly en wat onnodig is, is niks meer as ʼn finansiële vermorsing van hulpbronne nie. Hulle sou totaal onproduktief wees. Die belastingbetalers kry in ruil vir hulle ondersteuning niks in terme van teenprestasie nie. Met demobilisasie behou die belastingbetalers nie hul addisionele fondse nie maar gee dit steeds uit aan hul medeburgers, maar nou in ruil vir die ekwivalent in goedere en dienste. Die totale nasionale inkomste en produksie styg en die welvaart van almal is gevolglik hoër. 

2

Dieselfde redenasie geld ook vir burgerlike regeringsamptenare wanneer hulle in oormatige getalle deur die regering in diens geneem word en nie werklik enige dienste aan die gemeenskap lewer gelykstaande tot dit wat die belastingbetaler as ʼn koste dra nie. Nog erger is dat hierdie verduideliking staan met ʼn aanname van zero korrupsie. Tog, wanneer ook al ʼn poging aangewend word om die aantal onnodige staatsamptenare en burokrasie te verminder, word daar onmiddellik kapsie gemaak dat hierdie aksie “deflasionêr” is. Wil jy die “koopkrag” van hierdie amptenare uit die ekonomie uit verwyder? Wil jy die arbeiders, ambagsmanne en middelklas wat afhanklik is van daardie koopkrag seermaak? Jy is net besig om bruto binnelandse produk te vernietig en ʼn depressie te veroorsaak of selfs te vererger.

Weereens is dit net ʼn drogredenasie wat ter sprake is wanneer gekyk word na die gevolge van hierdie aksie op slegs die afgedankte ampsdraers en op die bepaalde ambagsmanne wat afhanklik van hulle is. Dit word weereens uit die oog verloor dat indien hierdie burokrate nie in die kantoorgeboue teruggehou word nie, die belastingbetalers toegelaat sal word om die geld te behou wat voorheen van hulle geneem is vir die finansiering van daardie staatsamptenare. Weereens word vergeet dat die belastingbetalers se inkomste en koopkrag met ten minste net soveel vermeerder as wat die inkomste en koopkrag van die voormalige staatsamptenare verminder is. Wanneer die bepaalde winkeleienaars en kontrakteurs wat voorheen die besigheid van hierdie burokrate gekry het, die bepaalde besigheid verloor, kry ander winkeleienaars en kontrakteurs elders ten minste net soveel besigheid. Vir elke industrie waarop die regering nie verder fondse op spandeer nie is daar ander industrieë wat daardie fondse verkry in ruil vir goedere en dienste.

Weer eens stop die saak egter nie daar nie. Die land is nie net so goed daaraan toe sonder die onnodige staatsamptenare as wat dit sou gewees het met hulle nie. Die land is veel beter daaraan toe sonder hierdie staatsamptenare. Hulle moet nou probeer om in die privaatsektor werk te kry of om ondernemings te begin. Die addisionele koopkrag waaroor die belastingbetalers nou sal beskik, net soos in die geval van die soldate, sal dit aanmoedig en die ekonomie stimuleer. Die verskil is dat die staatsamptenare slegs sal kan werk deur die verskaffing van tasbare dienste en produkte wat die mense werklik benodig. In plaas daarvan om parasiete te wees word hulle dan produktiewe mans en vroue.

Ek moet daarop aandring dat daar moontlik staatsamptenare is wie se dienste werklik nodig is. Polisiemanne, brandweermanne, straatskoonmakers, regters, wetgewers en tronkbewaarders verrig produktiewe dienste wat belangrik is. Hulle maak dit moontlik vir die privaatsektor om in ʼn atmosfeer van wet en orde, vryheid en vrede te funksioneer, maar hul regverdiging bestaan ​​in die nut van hul dienste. Dit bestaan ​​nie uit die “koopkrag” of werkskepping wat hulle bied op publieke onkoste nie.

Hierdie argument van “koopkrag”, as ʼn mens dit ernstig moet opneem, is nogal uniek. Dit kon net sowel van toepassing gewees het op ʼn afperser of ʼn dief wat jou beroof. Nadat hy jou geld gesteel het, het hy meer koopkrag. Hy ondersteun met hierdie geld kroeë, restaurante, nagklubs, kleremakers, en miskien mense wat aan motors werk. Maar vir elke arbeidsgeleentheid wat sy besteding skep, moet jou eie besteding een minder skep, want jy het baie minder om te spandeer. Vir elke werksgeleentheid wat die staat skep gaan een werksgeleentheid verlore in die mark. Wanneer jou geld geneem word deur ʼn dief, kry jy niks in ruil daarvoor nie. Wanneer jou geld deur middel van belasting geneem word om onnodige burokrate se salarisse te betaal, ontstaan presies dieselfde situasie​​. Ons is inderdaad beter daaraan toe as die onnodige burokrate bloot by hul tafels lê en slaap. Hulle is deesdae ongelukkig meer geneig om energieke ekonomiese hervormers te wees wat op allerlei maniere in die mark inmeng (dalk met goeie intensies) maar wat ongelukkig net produksie ontwrig en ontmoedig.

Wanneer ons nie ʼn beter argument kan vind vir die behoud van ʼn groep staatsamptenare as die koopkrag van hul salarisse nie dan is dit ʼn teken dat die tyd aangebreek het om van hulle ontslae te raak.

___________________________________________________________________________

Hierdie was dan hoofstuk 9 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek Ekonomie in Een Les gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Hoofstuk 8

Hoofstuk 10

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.