Politokrasie: Middeleeuse konstitusionalisme

Landelike Serfs

Hierdie is ʼn uittreksel van: Politokrasie Hoofstuk 2 :

Republica Christiana – Die Voorganger Van Staatlikheid.

politokrasiePolitokrasie is ʼn moet lees vir enigeen geïnteresseerd in staatsleer en word uitgegee deur PULP uitgewers bestelvorm HIER beskikbaar.

2 Middeleeuse konstitusionalisme

Deur Prof Koos Malan

Die term, konstitusionalisme is van betreklik onlangse oorsprong en het eers in die negentiende eeu ’n plek in die leksikon van die openbare diskoers verwerf. Die denkbeeld van konstitusionalisme is egter veel ouer as die term en het onder verskeie ander vaandels reeds oor baie eeue heen ʼn prominente plek in die openbare diskoers en in denke oor die politiek en regering ingeneem.[59] Dit is die rede waarom daar ook van Middeleeuse konstitusionalisme gepraat kan word. Die konstitusionalisme-begrip word in sy mees basiese vorm vereenselwig met beginsels en reëls waarkragtens openbare mag uitgeoefen moet word en is gemik op magsbeperking en die voorkoming van arbitrêre, lukrake en onvoorspelbare mags-uitoefening. Kragtens die uitgangspunte van die konstitusionalisme word bindende beginsels en reëls vir regsgeldige openbare magsaanwending neergelê. Die integriteit van die beginsels word opsigself beskerm in die sin dat die wysiging of afskaffing daarvan buite die bereik van die politieke maghebbers geplaas word. Daardie beginsels geniet dus vanweë die onaantasbaarheid daarvan die status van hoër, oftewel fundamentele reg.

Middeleeuse konstitusionalisme is om minstens twee redes ʼn moeilike saak:

Eerstens is die tydperk wat met Middeleeuse konstitusionalisme verbind word, baie lank. Dit neem ʼn aanvang aan die begin van vroeë feodalisme, na die disintegrering van die ryk van Karel die Grote in die middel van die negende eeu en strek tot aan die einde van laat feodalisme teen die einde van die dertiende eeu, toe nuwe politieke magsentralisasie uit die gefragmenteerde feodale stelsel begin ontwikkel het.[60] Dit strek trouens tot nog veel later, aangesien wesenlik Middeleeuse politiek tot diep in die vroeg-moderne era van aansienlike praktiese belang was. Ofskoon die begrip Middeleeue dus ʼn enkele era suggereer, is meerdere historiese tydvakke ter sprake en daarmee gepaardgaande ook meerdere en verskillende politiekkonstitusionele reëlings. Veralgemenings oor Middeleeuse konstitusionalisme kan dus nie sonder meer gemaak word nie.

Tweedens was die inhoud en implikasies van Middeleeuse konstitusionalisme en fundamentele reg gedurende die Engelse konstitusionele stryd van die sewentiende eeu die onderwerp van ʼn intense stryd. Edward Coke het byvoorbeeld swaar op die beweerde inhoud van Middeleeuse fundamentele reg gesteun as teenvoeter vir die groeiende vorstelike absolutisme van James I.[61]

Heelwat skeptiese stemme het aangevoer dat die geldigheid van die fundamenteelregtelike aansprake onder verdenking is en dat Middeleeuse konstitusionalisme mitologies voorkom,[62] of minstens dat oormatige gesag daaraan toegedig is.[63]

Met inagneming van hierdie waarskuwings blyk dit nogtans korrek te wees dat Middeleeuse konstitusionalisme die volgende opvattings behels het:

  • volksoewereiniteit;
  • regsoewereiniteit;
  • dat politieke bestuur sy bestaan en legitimiteit aan ʼn bona fide kontraktuele verhouding tussen die politieke leierskap en die volk te danke het;
  • dat reg, hetsy as natuurreg of as gewoonte (en later as gemenereg) ʼn permanente en onveranderlike, of ten minste stadig-bewegende gegewe is wat nie aktief gemaak word nie, maar wat bloot gevind en daarna geartikuleer of gepromulgeer word.[64]

Die vier opvattings is onderling verweef en kan sinvol gesamentlik bespreek word.

Die mededelings van Tacitus oor sekere Germaanse gebruike bevat die eerste rapport oor volksoewereiniteit. Tacitus deel ons mee dat die Germaanse konings se gesag nie arbitrêr of absoluut was nie.[65] Die verantwoordelikheid vir besluitneming oor minder belangrike aangeleenthede was op die skouers van hoofmanne wat na bespreking besluite geneem het, maar by meer gewigtige aangeleenthede is die hele gemeenskap betrek.[66]

Volgens die Germaanse en vroeg-Middeleeuse opvattings kleef die reg aan die gemeenskap. Dit beteken egter nie dat die volk die aktiewe skepper van die reg was nie; inteendeel, die reg in die gestalte van die geykte volksgewoontes was eerder as’t ware ʼn eienskap van die volk. Die reg was inderwaarheid nie die produk van die volkswil nie. As ʼn inherente eienskap van die volk was die reg net so blywend soos die volk self.[67]

Die opvatting dat die reg ʼn eienskap van die volk is, gaan hand aan hand met die opvatting dat die reg wesenlik permanent is, asook met die oortuiging dat die reg nie geskep nie, maar bloot verklaar oftewel geartikuleer en gepromulgeer is.[68] Die reg word beleef as ʼn kultuurproduk wat heg met die volk self verweef is. Die verandering van die reg kom onbeplan en onopgemerk voor, net soos verandering en ontwikkeling van die volk self.

Om te verklaar dat die reg soewerein is, impliseer dus tegelyk dat die volk ook soewerein is,[69] omdat die reg, soos vermeld, ’n eienskap van die volk is. Volksoewereiniteit impliseer uiteraard dat magsuitoefening in welke vorm ook al, aan die instemming van die volk onderworpe is. Die owerheid — in Middeleeuse terme die koning of die keiser in raadplegende verhouding met sy raad[70] — is verbind tot die toepassing van daardie reg waarop daar met die volk ooreengekom is.[71]

Volksoewereine opvattings is oor die verloop van die Middeleeue oor die hele Europa en Engeland gehuldig en is onder andere in die sestiende eeu weer energiek herformuleer. Dit het later onder druk van opvattings oor die goddelike reg van konings en absolutistiese elemente van die Romeinse reg onder druk gekom. Hierdie absolutistiese tendense het in Engeland die geringste impak gehad, met die gevolg dat volksoewereiniteit daar die duursaamste was. In Engeland is die opvatting gehuldig dat die koning aan die common law, oftewel die algemene reg van die land, onderworpe was. Die oorsprong van die common law was die gewoontes van die volk.[72] Die Afrikaanse juris, CP Joubert, wys daarop dat die absolutistiese elemente van die Romeinse keiserlike reg nooit saam met die Romeinse privaatreg geresipieer is nie en verwys na die Romeins-Hollandse skrywer, Groenewegen, wat verklaar het dat die absolutistiese beginsel van princeps legibus solutus est nooit vanuit die Romeinse reg in die Nederlande opgeneem is nie.[73]

Dit is weliswaar so dat die Romeinse reg ʼn sterk absolutistiese inslag gehad het, en dat soos daar in hoofstuk 3 geargumenteer word, dit in latere Europa die ontwikkeling van absolutisme help stimuleer het. Daar is egter ook ʼn ander noemenswaardige tradisie in die regsontwikkeling sedert die Glossatore.[74] Daarvolgens is sekere tekste in die Corpus Iuris Civilis van Justinianus op so ʼn wyse vertolk dat dit die konsep van volksoewereiniteit ondersteun het.

Volgens hierdie tradisie is die legitimiteitsbron van keiserlike heerskappy die volkswil, soos dit uitdrukking gevind het in ʼn kontrak waardeur die volk voorwaardelik sy gesag aan die keiser opgedra het en sigself voorwaardelik aan die keiser onderwerp het.[75] Die populus was steeds verhewe bo die imperator; die populus behou steeds sy soewereiniteit (imperium) en kon te eniger tyd weer self die uitoefening van gesag hervat.[76]

Otto Gierke verduidelik hoe sommige Glossatore ʼn suiwer vorm van volksoewereiniteit uit die Corpus Iuris Civilis gekonstrueer het. Die volk bly soewerein en staan ingevolge ʼn ooreenkoms met die keiser bloot die gebruik (usus) van sy soewereiniteit aan die keiser af. Wanneer die keiser sy kontrakverpligtinge versaak, verval die regsoorsaak van die usus, waarna die volk geregtig is om die ooreenkoms met die keiser op te sê en die keiser van sy pligte te onthef.[77] Die oorsprong van soewereiniteit is die volk en daarom word die begrip volksoewereiniteit gebruik.

Vervolgens word die sentrale begrip van Middeleeuse konstitusionalisme, naamlik regsoewereiniteit, van naderby beskou. Die opvatting dat politieke mag gedurende die Middeleeue arbitrêr uitgeoefen is, is geheel en al ongegrond. Carlyle verduidelik dat regsoewereiniteit so goed gevestig was dat politieke gesagsuitoefening daarsonder eenvoudig ondenkbaar was.[78] Die beginsel van regsoewereiniteit, oftewel oppergesag van die reg wat ook aan die Germane toegedig word,[79] beteken dat owerheidsgesag aan die reg ontleen word en dat alle gesagsuitoefening aan die geldigheidsmaatstawwe van die reg onderworpe is. Die maatstawwe is ook op die gesagsuitoefening van die pous van toepassing.[80]

Wat die strekking en inhoud van die soewereine reg betref, neig die Vastelandse en Engelsregtelike opvattings in ʼn mate in teenoorgestelde rigtings. Die Vastelandse opvattings is meer ideëel en rasionalisties omdat die soewereine regsbeginsels dikwels met die natuurreg vereenselwig is. Die rasionalisme moet egter ook nie te geredelik aanvaar word nie, aangesien ook die sogenaamde rasionalistiese natuurreg baie lank nie vanself uit die rede gespreek het nie maar wel met die volksgewoontes en oortuigings, of met alledaagse ervaring vereenselwig is.[81] Die Engelse spesie van regsoewereiniteit het op sy beurt baie sterk in die geykte gewoontes van die gemenebes (commonwealth), oftewel die common law of the land, neerslag gevind, en as die soewereine maatstaf vir die geldigheid van owerheidsoptrede gedien.[82]

Wat die Vastelandse stroming betref, siteer Gierke ʼn indrukwekkende hoeveelheid gesag, sowel uit die filosofie as uit werk van die Kommentatore van die Corpus Iuris Civilis. Daaruit blyk dit duidelik dat die hoofstroom van Middeleeuse regs/politieke teorie alle optrede van maghebbers wat strydig met die natuurreg was, as formeel nietig beskou het.[83] Regters moes statute en owerheids-optrede wat teenstrydig met die natuurreg was, as nietig behandel. Sodanige optrede was ook nietig met betrekking tot die individue wat deur die optrede geraak is. Indien owerheidsoptrede enigsins tiranniek van aard was, was individue wat daardeur gely het, geregtig om hulleself teen die owerheid te verset.[84] Die onderskeid tussen die tiran en die ware vors is trouens een van die mees geykte onderskeidinge van die Middeleeuse politieke en konstitusionele denke, met die vors wat per definisie onderdanig aan die reg, soos vervat in die volksgewoontes opgetree het — teenoor die tiran wat dit juis verontagsaam het.[85]

Die soewereine reg het nie bloot die status van etiese norme gehad nie.[86] Konstitusionele beginsels is as volwaardige reg beskou en kon daadwerklik teen onregmatige optrede gebruik word. Die voorkeurstatus van soewereine regsbeginsels is afgelei uit die oortuiging dat die beginsels ʼn outonome bestaan gevoer het en nie deur die politieke owerhede (die staat) daargestel is nie. Inteendeel, dit het die politieke owerheid voorafgegaan.[87]

In die praktyk het die beginsel van regsoewereiniteit in die kroningsede neerslag gevind. In dié eedsverklarings het die koning hom aan die reg, insluitende die gemenereg, onderwerp en hom daartoe verbind om die reg in stand te hou.[88] Met die beëindiging van die feodale era en die toenemende sentralisering van mag in die persoon van die monarg het dit nodig geword om nuwe maatreëls te tref om regsoewereiniteit te bestendig en om die opkomende vorste in weerwil van hulle relatief belangrike posisie teenoor die adel (en die volk) steeds aan die reg onderhewig te hou. Daarom is nie slegs die beroemde Magna Carta in 1215 in Engeland aangeneem nie, maar ook soortgelyke konstitusionele prototipes soos die Handves van Leon in 1188, die Kulmer Handveste in 1233, die Joyeusse Entrée in die Nederlande in 1356,[89] asook die Hongaarse Goue Bul in 1222.[90]

In Engeland is daar ʼn lang tradisie van pleitbesorgers vir die regsoewereiniteit van die common law wat figure soos Henry Bracton, John Fortescue, Thomas Smith, Richard Hooker en, natuurlik, Edward Coke insluit.

Die Engelse juris, Bracton (sterf 1268), skryf in tipies Middeleeuse en sterk godsdienstig geïnspireerde styl. Sy werk veroorsaak dikwels vertolkingsprobleme weens wat vir die moderne leser onverstaanbare teenstrydighede blyk te wees.[91] Hy maak enersyds sy beroemde stelling oor regsoewereiniteit en teen vorstelike absolutisme deur te verklaar dat die koning aan die reg onderworpe is.

For the king has no other power in his hands since he is the minister and vicar of God save that alone which he has of right (de jure). Nor is that to the contrary when it is said quod principi placet legis habet vigorem, for there follows at the end of the law cum legis regia quae de imperio eius lata est (together with the lex regia which has been laid down concerning his authority). Therefore it is not anything rashly presumed by will of the king, that what has been rightly defined with the king’s authorization on the advice of his magnates after deliberation and conference concerning it.[92]

Daarenteen verklaar hy egter ook dat die koning aan geen menslike wil onderhewig is nie en kragtens sy eie oordeel mag regeer.[93]

McIlwain los die teenstrydigheid op deur te wys op twee basiese onderskeide wat in Middeleeuse konstitusionele denke getref is. Eerstens was daar die onderskeid tussen regering (gubernaculum) en jurisdiksie (jurisdictio);[94] tweedens was daar die onderskeid tussen verordeninge van administratiewe prosedure en die afbakening, oftewel die definiëring, van regte.[95] Regering het te make met die handhawing van orde in die gemeenskap. Dit is die raison d’être van koningskap. Binne die veld van regering mag die koning diskresionêr optree.[96] Met jurisdictio wat met die definiëring van die regte van die burgery te make het, is dit egter heel anders gesteld. In hierdie veld moet die koning kragtens die reg optree, anders is sy handelinge ultra vires en gevolglik nietig. Geen absolutisme geld by laasgenoemde nie en op hierdie terrein word die onderneming wat met die kroningseed gedoen word om die reg te eerbiedig, streng toegepas.[97] Met hierdie onderskeid wat herinner aan die moderne onderskeid tussen die wetgewende en uitvoerende gesag is die beginsel van regsoewereiniteit in stand gehou.

Ofskoon hy ander terme gebruik, tref die Engelse juris, John Fortescue (1390-1479) inhoudelik dieselfde onderskeid as Bracton en deel ook laasgenoemde se standpunte.[98] JGA Pocock se oordeel, met uitvoerige verwysing na Fortescue, is dat die Middeleeuse opvattings oor konstitusionalisme sterk republikeins geneig het. Reg en regering is volgens hom gebaseer op die gewoontes en gebruike van die totale gemeenskap oor ʼn lang periode. Dit was nie gebaseer op ideëele rede, nie deduktief-rasionalisties bepaal nie, maar gefundeer in almal se gesamentlike ervaring. Hoe langer ʼn gewoonte bestaan, des te beter is die kwaliteit daarvan. Wetgewing (en regspraak) behoort nie binne die koning se bevoegdhede te val nie, omdat dit nie deur gewoonte en ervaring onderlê word nie. Ervaring en gewoonte is die grondslag van demokraties-republikeinse regering.[99] Dienooreenkomstig leer Fortescue dat die Engelse vors slegs met parlementêre instemming wette kan maak en belastings kan hef en dat die regters kragtens hulle eed verplig is om die reg toe te pas selfs al sou die koning uitdruklik anders gelas.[100]

Fortescue verwys in die besonder na die Romeinsregtelik gebaseerde wilsteorie wat in sy tyd in Europa opgang begin maak het. (Sien hoofstuk 3). Hierdie Romeinsgebaseerde beginsel dateer uit die Dominaat, dit wil sê die latere absolutistiese tydvak van die Romeinse ryk. Daarvolgens het dít wat die vors behaag die status van reg. (Quod principi placuit, legis habet vigorem). Die beginsel is egter nie in die Engelse staatsreg opgeneem nie en die Engelse vors is wel aan die reg gebonde.[101] Dit bly ʼn omstrede vraag in welke mate die Engelse common law inderdaad die status van fundamentele reg gehad het en as geldigheidsmaatstaf vir vorstelike optrede aangewend is.[102] Desnieteenstaande is dit volgens Fortescue (en Bracton) duidelik dat die beginsels van volk- en regsoewereiniteit en die gepaardgaande regterlike hersieningsbevoegdheid (al is dit in ʼn rudimentêre vorm) reeds vroeg met groot deernis in die Engelse regsdenke gekoester is. Sir Thomas Smith (1542-1577), Richard Hooker (1553-1600) en sir Edward Coke (1552-1634) is latere eksponente van hierdie lang Engelse tradisie.[103]

ʼn Belangrike eienskap van die vroeg Middeleeuse konstitusionalisme is dat dit ʼn kontraktuele inslag gehad het. Daar het ʼn intieme verhouding van wedersydse afhanklikheid en hulpverlening tussen leenheer en leenmanne bestaan. Dit is by wyse van ʼn kontraktuele verhouding tussen hulle gereël. Met die eerste oogopslag lyk ʼn persoonlike verhouding enersyds, teenoor ʼn kontraktuele reëling aan die ander kant, teenstrydig.[104] Feodale verhoudings was egter wesenlik kontraktueel van aard. Daarvolgens het die vasal sekere verpligtings teenoor die leenheer gehad, met dien verstande dat die leenheer ook sy verpligtinge teenoor die vasal gestand sal doen.[105]

Die een ding wat hierdie kontraktuele verhouding en volk- en regsoewereiniteit in gemeen het, is dat dit contra-absolutisties is. Ingevolge sy ooreenkoms met sy vasalle, staan dit die koning nie vry om te maak soos hy wil nie. Hy is onderhewig aan die ooreenkoms en sy vasalle is trou aan hom verskuldig, slegs vir sover hy die ooreenkoms eerbiedig. Indien die ooreenkoms deur die koning of die leenhere verbreek word, word die vasalle daarop geregtig om daaruit terug te tree.[106]

Hierdie feodale kontrakgedrewe koningskap is mettertyd deur ʼn absolutisties-teokratiese (vervat in denkbeelde soos die goddelike reg van konings en later in sekulêre vorstelike absolutisme) vorm van koningskap uitgedaag. Volgens eersgenoemde is die koning ʼn party tot ʼn regsverhouding met sy ondergeskiktes, waarvolgens hy alleen met hulle instemming reg kan skep. Volgens laasgenoemde staan die koning bo en buite die gemeenskap en kan hy onbelemmerd en na willekeur reg skep.[107] Die Magna Carta is tekenend van die kontraktueel gefundeerde feodale koningskap.[108] Dit is in die persoonlike aard van die verhouding tussen die vasal en die leenheer dat die verskil tussen die destydse feodale verhouding en die latere onpersoonlike legalistiese verhouding tussen trouverskuldigde en die staat lê.[109] Die feodale verhouding verskil ingrypend van die staatlike verhouding:

It was an element that was very difficult to reconcile with the national idea and with the national constitution.[110]

Bykomend tot wat tot dusver aangeroer is, moet ons natuurlik ook na ’n ander — waarskynlik die mees geformaliseerde — konstitusionele reëling van Middeleeuse Christendom in Wes-Europa verwys. Dit is die konstitusionele reëling[111] tussen die kerklike en wêreldlike gesagsfere: in die besonder die verhouding tussen die kerk en die ryk. Hierdie verhouding het geformaliseerde beslag gedurende die pouslike rewolusie gekry. Dié rewolusie[112] het aan die begin van die pousdom van Gregorius VII (Hildebrand, pous: 1073-1085) ’n aanvang geneem en is uiteindelik in 1122 met die Konkordaat van Worms voltrek. Voor die pouslike rewolusie het keisers dikwels pouse aangestel en afgedank. Hulle het ook ander hoë kerklike ampsdraers aangestel. Hulle het kerklike sinodes belê en daarin voorgesit en van tyd tot tyd selfs kanons van sowel ’n teologiese as ’n juridiese aard neergelê.[113] Gedurende die middel van die elfde eeu het opeenvolgende keisers juis weer ’n stewige greep op die kerk uitgeoefen. Benewens die aanstel van die senior kerklike ampsbekleërs, waaroor die keisers teen daardie tyd reeds geruime tyd beslis het, is opeenvolgende pouse bowendien deur die keiser ontslaan en met pouse van sy eie keuse vervang.[114]

Dit het die kerk toenemend ’n onderdeel van die ryk gemaak en sterk herinner aan die ondergeskikte posisie wat die Oosterse Ortodokse kerk van Konstantinopel jeens die ryk beklee het. In die jare voordat Gregorius pous geword het, het daar vanuit die kerk weerstand hierteen opgebou[115] en toe Gregorius uiteindelik pous word, het hy spoedig ’n pouslike dekreet (Dictatus Papae) uitgereik waarvolgens die kerk sigself van die ryk en die keiser bevry het. Volgens die dekreet sou die pous sonder keiserlike voorskrif deur die senior ampsdraers van die kerk aangewys word, terwyl die aanstelling van kerklike ampsbekleërs binne die jurisdiksie van die pous en pertinent buite die gesag van die keiser geplaas is. Met ’n beroep op wat die posisie van die kerk vroeër sou wees,[116] in teenstelling met die vryheid wat dit later teenoor die ryk prysgegee het, het die pous hiermee die integriteit van die kerk as ’n korporatiewe struktuur vry van wêreldlike gesag probeer vestig.

Onder die aanvoering van keiser Hendrik IV het die ryk sigself teen hierdie dekreet verset en Gregorius onder meer as ’n vals pous afgemaak, waarop Gregorius op sy beurt met die ekskommunikering van Hendrik teruggeslaan het. Verswak deur bondgenote wat teen hom gedraai en hulle by die pous geskaar het, was Hendrik uiteindelik verplig om bes te gee. Die stryd tussen pous en keiser — opvolgers van die twee aanvanklike teenstanders — het in 1122 met die Konkordaat van Worms op ’n kompromie uitgeloop. Dié kompromie het die vryheid van die kerk bevestig en finaal aan die konstitusionele reëling vir die Republica Christiana beslag gegee: daar sou na dese ’n duidelik omskrewe verdeling van gesag tussen ryk en kerk wees, ofskoon daar terselfdertyd ook hegte samewerking tussen die twee entiteite as komponente van een rykskerklike geheel sou wees. Die leerstuk van die twee swaarde het weliswaar reeds lank voor die pouslike rewolusie bestaan. Dit het nou egter ’n nuwe formulering gekry. Vroeër het dit te doen gehad met die verhouding tussen die aardse en hemelse sfere waarin Christene hulle bevind het. In dié verhouding was die kerk bloot die gemeente van (tydelike) pelgrims na uiteindelike ewige redding. Voortaan het dit ’n politieke en meer bepaald ’n konstitusionele karakter verwerf in die sin dat dit die aardse magsterreine tussen die kerk en die ryk — pous en keiser — gereël het. Die kerk as ’n aardse korporatiewe politieke en regsentiteit het die geestelike swaard gedra en dié swaard het nie net met die hiernamaals te doen gehad nie. Dit het daarbenewens ook gesag oor ’n klomp sake van hierdie wêreld, soos die beheer van kerkeiendom, die bedrywighede van kerklike ampsdraers, familieverhoudings, sakemoraliteit en dergelike ander sake uitgeoefen.[117]

Die kerk het hiermee sy posisie gekonsolideer en onder meer na aanleiding van die werk van Gratianus sy eie regstelsel — die kanonieke reg — gekry. Die vestiging van ’n eie regstelsel vir die kerk is die duidelike merkteken van die kerk se outonomie los van die ryk.[118] Aan die ander kant was die ryk. Hoewel dit as deel van die rykskerklike geheel uiteraard ’n Christelike ryk was, kon dit in die lig van die kerk se outonomie oor geestelike sake op die wêreldlike sy — die politiek — konsentreer. Op hierdie wyse is daar as ‘t ware ’n konstitusionele reëling tussen die kerk en die ryk getref. Dié reëling het met die opkoms van die dinastiese state onder druk gekom. Dit het uiteindelik met die vestiging van territoriale state en die Lutherse Hervorming, wat in hoofstuk 3 bespreek word, finaal verval.

Gregorius VII het as deel van die kerk se aansprake teen die keiser ook verklaar dat die pous die bevoegdheid het om oor sowel kerklike as wêreldlike sake te oordeel. Innocentius III (pous: 1198-1216), waarskynlik die magtigste van al die pouse, hou vol dat die pous as opvolger van Petrus oor alle kerklike én wêreldlike sake waar die sonde ter sake is, jurisdiksie het. Hy beskou die wêreldlike mag van die keiser as heeltemal ondergeskik aan die mag van die pous want dit is die pous wat die imperiale kroon van Byzantium na die Weste verplaas het en wat meegebring het dat die keisers hulle mag deur die grasie van die pous uitgeoefen het.[119] Ofskoon die wêreldlike mag wat Innocentius III uitgeoefen het nooit deur enige ander pous oortref is nie, bereik die pouslike politieke aansprake met die promulgering van die Bul Unam Sanctum in 1302 ʼn teoretiese hoogtepunt gedurende die pousdom van Bonifacius VIII (pous: 1294-1303). Hiervolgens moes wêreldlike (politieke) mag onder die toesig van die pous uitgeoefen word.[120] Bowendien het die teologies dominante denkwyse van die Middeleeue die kerk se politieke magsaansprake ondersteun. Volgens hierdie denkwyse het God nie die mens vir die wêreld gemaak nie, maar vir die hiernamaals, en was dit die plig van die kerk om die verwesenliking van dié oogmerk te bewerkstellig.[121]

Notas

  • [59] Berman (n 38 hierbo) 395-6.
  • [60] Van Wyk & Spies (n 1 hierbo) 147.
  • [61] Die aspek word meer breedvoerig in 8.3.4 behandel.
  • [62] JHM Salmon The French religious wars in English political thought (1979) 160 verwys byvoorbeeld na die legende van die Gotiese konstitusie.
  • [63] JW Gough Fundamental law in English constitutional history (1955) 14-15, 17; Sien ook in die algemeen JGA Pocock The Ancient Constitution and the Feudal Law (1957).
  • [64] Sien byvoorbeeld CH Mc Ilwain Constitutionalism: Ancient and Modern (1947) 67-123; AJ Carlyle A History of Medieval political theory in the West (1928) Vol III, IV, V, VI.; FB Artz The mind of the Middle Ages: An Historical Survey (1980) 270-280; Salmon (n 62 hierbo) 160-162; Gough (n 63 hierbo) 13-48; W Ullmann Medieval Political Thought (1965) 145-158; P Vonogradoff The legacy of the Middle Ages (1926) 287-319; JP Verloren van Themaat Staatsreg (1956) 18-25; CP Joubert ‘Die gebondenheid van die soewereine wetgewer aan die reg’ (1942 5 THRHR 7, 33-41; JGA Pocock The Machiavellian Moment: Florentine Political Thought and the Atlantic Republican Tradition (1975)16-24; Sabine (n 2 hierbo) 202-223; A Vincent Theories of the State Theories of the State (1987) 77-118; Sien ook verder in die algemeen Pocock (n 63 hierbo); O Gierke Political Theories of the Middle Ages (Engelse vertaling deur RW Maitland) (1938).
  • [65] Tacitus The Agricola and the Germania (1970) 107.
  • [66] Tacitus (n 65 hierbo) 101–2; Carlyle (n 64 hierbo) Vol III 41, 45-46,183-4.
  • [67] Sabine (n 2 hierbo) 204.
  • [68] Verloren Vasn Themaat (n 64 hierbo) 19 voetnoot 10.
  • [69] Joubert (n 64 hierbo) 33.
  • [70] Carlyle (n 64 hierbo) Vol III 67-9, 148, 154, Vol V 83
  • [71] Ullmann (n 64 hierbo) 152-3.
  • [72] Verloren Vasn Themaat (n 64 hierbo) 22-3.
  • [73] Joubert (n 64 hierbo) 47. Die resepsie het vernaamlik op die privaatreg (ook nie alles nie) betrekking gehad en het klaarblyklik nie die publiekreg ingesluit nie. Sien byvoorbeeld W de Vos Regsgeskiedenis (1992) 52 et seq.
  • [74] Die Glossatore neem die voortou met die hernude bestudering van die Romeinse reg van die Corpus Iuris Civilis in die tydperk 1100 tot 1260. Sien hieroor byvoorbeeld DH van Zyl Geskiedenis van die Romeins-Hollandse Reg (1983) 8 et seq.
  • [75] Gierke (n 64 hierbo) 40; Joubert (n 64 hierbo) 19-22.
  • [76] Gierke (n 64 hierbo) 43-44.
  • [77] Gierrke (n 64 hierbo) 45-46.
  • [78] Carlyle (n 64 hierbo)Vol III 38, 184; Vol V 36
  • [79] Verloren Van Themaat (n 64 hierbo) 24; Salmon (n 62 hierbo) 160. Gierke (n 64 hierbo) sê dat die Germaanse staatsopvatting die van die regstaat was.
  • [80] Gierke (n 64 hierbo) 45-46.
  • [81] Vergelyk hieroor AP d’Entrèves Natural Law (1970) 52.
  • [82] Vincent A 1987 77-80 verduidelik dat die ancient constitution ’n belangrike variant van die leerstuk van konstitusionalisme is. Dit funksioneer as ’n outonome konserwatisme wat sy gesag by uitstek aan die tradisies wat sedert menslike heugenis bestaan het, ontleen. Die opvatting is byvoorbeeld waarneembaar in die denke van Edmund Burke. Sien ook Pocock (n 63 hierbo) 16 ev wat beskryf hoe daar ingevolge die denkwyse kragtens die ancient constitution geredeneer is dat hoe meer antiek ’n reg is, des te beter dit teen skending verskans is.
  • [83] Gierke (n 64 hierbo) 84; 174 (nota 257); 179 (nota 273).
  • [84] Gierke (n 64 hierbo) 84; 143-144 (notas 129-130).
  • [85] Vgl. Carlyle (n 64 hierbo) Vol III 115-6, 184.
  • [86] Gierke (n 64 hierbo) Gierke (n 64 hierbo) 85.
  • [87] Gierke (n 64 hierbo) 74-75.
  • [88] Carlyle (n 64 hierbo) hoofstuk 20; Sabine (n 2 hierbo) 207-208; Artz (n 64 hierbo) 278; Joubert (n 64 hierbo) 38. Die belang van die kroningsede blyk ook uit die feodale Sachsenspiegel in Duitsland (Carlyle (n 64 hierbo) 3; 40) waarin verklaar word dat die koning na sy verkiesing moet beloof om die reg van die koninkryk in stand te hou. Volgens Van Zyl (n 74 hierbo) 69 het die Sachsensopiegel wat die reg van die Saksiese stam weergegee het, omstreeks 1215-1235 verskyn, d.w.s. in dieselfde tydvak as waarin die reg van ander Germaanse stamme opgeteken is.
  • [89] K Stern ‘The genesis en evolution of European-American constitutionalism’ (1985) XVIII CILSA 187, 189.
  • [90] JH Mundy Europe in the High Middle Ages (1973) 405-6.
  • [91] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 72.
  • [92] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 70; Joubert (n 64 hierbo) 36.
  • [93] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 72.
  • [94] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 67-80.
  • [95] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 82-83.
  • [96] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 84.
  • [97] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 85.
  • [98] Mc Ilwain (n 64 hierbo) 89-90.
  • [99] Pocock (n 64 hierbo) 9-30.
  • [100] Joubert (n 64 hierbo) 37.
  • [101] Joubert (n 64 hierbo) 38.
  • [102] Sien byvoorbeeld Gough (n 63 hierbo) 12-48 asook die bespreking van judisiële hersiening in hoofstuk 8.
  • [103] Joubert (n 64 hierbo) 38-41.
  • [104] Carlyle (n 64 hierbo) 21.
  • [105] Carlyle (n 64 hierbo) 21
  • [106] Ullmann (n 64 hierbo) 147.
  • [107] Ullmann (n 64 hierbo) 146-8.
  • [108] Ullmann (n 64 hierbo) 149-150.
  • [109] Sien die bespreking van hoogverraad in hoofstuk 9.1.
  • [110] Carlyle (n 64 hierbo) 28.
  • [111] Ek is dit heeltemal met Harold Berman eens dat ons hier inderdaad met ’n konstitusionele reëling te doen het. Nie net die gesagstoedeling binne die kerk (kragtens die kanonieke reg) nie, maar veral die verdeling van gesag tussen die kerk en die ryk is ten gevolge van die pouslike rewolusie gereël. Elkeen se gesag is afgebaken en beperk. Dit dra al die eienskappe van ’n eg konstitusionele reëling. Soos Berman (n 38 hierbo) 213-214 sê: ‘The very separation between ecclesiastical and secular authority was a constitutional principle of the first magnitude, which permeated the entire system of the canon law.’
  • [112] Berman (n 38 hierbo) 99 et seq verduidelik breedvoerig waarom dit inderdaad ’n volskaalse rewolusionêr was.
  • [113] Berman (n 38 hierbo) 484.
  • [114] Trouens, in die honderd jaar voor 1059 toe die kerk vir die eerste maal teen lekeinvestituur vasgeskop het, het die keiser 21 van die 25 pouse van daardie era self aangestel en verskeie afgedank. Sien Berman (n 38 hierbo) 91.
  • [115] ’n Kerkvergadering, wat deur pous Nicolas II belê is, het in 1059 vir die eerste maal verklaar dat die pous deur die kardinale van die kerk verkies moet word. Sien Berman (n 38 hierbo) 94.
  • [116] Baie tipies nie net van die pouslike rewolusie nie, maar ook van daaropvolgende rewolusies soos die Lutherse rewolusie, is die legitimiteit vir hierdie rewolusie in die praktyke van die verre verlede gesoek. Die rewolusie is derhalwe as ’n herstel van (en regstelling) van ’n eertydse orde regverdig. Sien Berman (n 38 hierbo) 112-3.
  • [117] Berman (n 38 hierbo) 521.
  • [118] Berman (n 38 hierbo) 202-3.
  • [119] Copleston (n 42 hierbo) 294.
  • [120] Copleston (n 42 hierbo) 303.
  • [121] Copleston (n 42 hierbo) 295.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Geskiedenis, Politieke Filosofie and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.