Die Obsessie met Volle Indiensneming

werkskepping

Deur Henry Hazlitt 

Die ekonomiese doelwit van enige land, net soos van enige individu, is om die beste resultate met die minste inspanning te verkry. Die hele ekonomiese vooruitgang van die mensdom is gebou daarop ​om meer produktief te wees met minder inspanning of te wel dieselfde arbeidsmag. Dit is om hierdie rede dat die mense begin het om swaar laste op die rûe van muile te pak in plaas van op hul eie; dat hulle die wiel, die wa, die spoorweg en die vragmotor uitgevind het. Dit is om hierdie rede dat die mense hul vernuf gebruik het om miljoene arbeidsbesparende uitvindings te ontwikkel.

Dit is so elementêr dat ʼn mens sou bloos om dit te sê, as dit nie was vir politici wat alewig nuwe slagspreuke skep en sirkuleer wat voortdurend daarvan vergeet of dit straks nie verstaan nie. Vertaal in nasionale terme beteken hierdie beginsel dat ons ware doel is om produksie te verhoog, nie indiensneming self nie. Deur die proses van verhoogde produksie word volle indiensneming (die afwesigheid van onwillekeurige ledigheid) ʼn noodsaaklike byproduk. Produksie is egter die enddoelwit, terwyl die werk bloot die metode is. Ons kan nie voortdurend volle produksie sonder volle indiensneming hê nie, maar ons kan baie maklik ʼn volle indiensnemingsyfer sonder volle produksie hê.

Sekere primitiewe stamme in afgeleë wêreldgedeeltes woon steeds halfnaak, baie van hulle karig gevoed en beskutting skaars, maar hulle ly nie aan werkloosheid nie. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was lande soos China en Indië byvoorbeeld onvergelykbaar armer as Amerika, maar die grootste probleem wat hulle gehad het, was primitiewe produksiemetodes (wat beide ʼn oorsaak en ʼn gevolg van ʼn tekort aan kapitaal is) en nie werkloosheid nie. Niks is makliker om te bereik as volle indiensneming nie, veral wanneer dit geskei word van die doel van volle produksie en as ʼn doel op sigself geneem word. Hitler het volle indiensneming met ʼn groot wapentuigprogram verskaf, die oorlog het volle indiensneming verskaf vir elke nasie wat betrokke was. Die slawe arbeidskampe in Duitsland en Rusland het volle indiensneming gehad. Tronke en gekettingde bandiete kan altyd volle indiensneming hê. Dwang kan altyd volle indiensneming verskaf.

Tog stel ons politici en parlementslede nie volle produksie-wetgewing voor in die parlement nie, maar volle indiensneming-wetgewing. Selfs komitees, drukgroepe, werkersunies en sakemanne smeek soms die regering om werkskepping aan te spreek, nooit smeek hulle om hoër produksie of volle produksie aan te spreek nie. Die middele word oral en altyd gebruik om die enddoelwitte te bereik, wanneer die middel die enddoelwit word, word die ware enddoelwit self vergeet.

Lone en indiensneming word bespreek asof hulle absoluut geen verband hou met produktiwiteit en uitsette nie. Dit vind plaas met die valse aanname dat daar slegs ʼn vaste hoeveelheid werk is wat gedoen kan word, foutiewe gevolgtrekkings word dan gemaak, soos dat ʼn dertig-uur-werksweek meer werksgeleenthede kan verskaf as ʼn veertig-uur-werksweek. Hordes werkskeppingskemas waarmee vakbonde vorendag kom word net as korrek aanvaar. Wanneer staatsamptenare projekte uit hul duime suig wat die grootste aantal mense moontlik in diens neem in verhouding met die waarde van die werk wat gedoen word – met ander woorde, waar arbeid die ondoeltreffendste is, word hul lof besing as geniaal.

Dit sou veel selfs beter gewees het indien dit die keuse was( wat dit nie is nie) om maksimum produksie te bereik met ʼn gedeelte van die bevolking wat dan finansieel vergoed word met vrugtelose staatstoelaes vir ledigheid eerder as om werkskepping na te jaag wat niks doen behalwe om die markproduksieseine te versteur nie. Die vooruitgang van die beskawing beteken gevolglik die vermindering van indiensneming, nie die verhoging daarvan nie. Dit is omdat ons toenemend ryk geword het as mense wat ons in staat gestel het om kinderarbeid feitlik uit te skakel, om die noodsaaklikheid van werk deur bejaardes so te sê uit te skakel. ʼn Baie kleiner deel van die Amerikaanse bevolking het nog nodig om te werk in vergelyking met byvoorbeeld Suid-Afrika of China. Die werklike vraag is nie of daar 1 of 5 miljoen werksgeleenthede geskep kan word nie, maar hoeveel sal ons kan produseer, en wat ons lewensstandaarde as gevolg daarvan sal wees? Die aandag wat toenemend op welvaartverdeling geplaas word, is immers makliker om op te los as daar meer is om te verdeel.

Ons kan veel makliker ons doelwitte bereik indien ons die klem plaas waar dit hoort – op wetgewing wat produksie vergemaklik en vermeerder eerder as werkskepping.

___________________________________________________________________________

Hierdie was dan hoofstuk 10 van Henry Hazlitt (1894-1993) se gewilde boek Ekonomie in Een Les gepubliseer in 1946. Die beginsels en uitgewysde denkfoute daarin weergegee het nog net soveel waarheid en slaankrag in hedendaagse Suid-Afrika as in die tyd en plek waar dit neergepen is.

Hoofstuk 9

Hoofstuk 11

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.