Eiendomsreg: Die ‘vergete’ mensereg


Eiendomsreg

Deur Gerhard van Onselen

ʼn Politieke debat word gereeld gevoer oor menseregte. In die debat gebruik politici graag menseregte as die motivering vir verdere ingryping, rassetransformasie en herverdeling.

Volgens sekere politieke denkwyses is alle “menseregte” natuurlik nie gelyk nie. Ek probeer hier wys dat dit ook nooit die geval kan wees nie, veral nie wanneer die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte beteken dat ander regte daardeur belemmer kan word nie.

Die een reg wat deesdae toenemend die spilpunt van die botsing van regte aantoon, is die reg op eiendom, spesifiek private besitreg. Die tendens is nie net op Suid-Afrika van toepassing nie.

Wêreldwyd is dit tans aanvaarde regspraktyk dat sekere regte van mense geweeg en verswak kan word teenoor die belange van die samelewing. Die weeg van regte is spesifiek op eiendomsreg van toepassing.

Veral Artikel 25(2)(a) van die Grondwet illustreer die beginsel:

“(2) Eiendom mag slegs ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif onteien word-
(a) vir ʼn openbare doel of in die openbare belang”

Artikel 25 illustreer hoe die reg op eiendom geweeg word teenoor die “belang van die samelewing”. By ons skep die Grondwet self ook in Artikel 25 die gronde vir grondhervorming en herverdeling van eiendom. Artikel 25(8) van die grondwet lui dat:

“(8) Geen bepaling van hierdie artikel verhinder die staat om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie, op voorwaarde dat enige afwyking van die bepalings van hierdie artikel in ooreenstemming met die bepalings van artikel 36 (1) is.”

Die staat se onteieningsbevoegdheid en die toewyding aan grondhervorming, wat beide in die Grondwet self genoem word, laat dit voorkom asof landsburgers nie ʼn suiwere reg op private eiendom het nie. Natuurlik is baie nie hiervan bewus is nie.

In konteks hiervan kan melding gemaak word van die onderliggende spanning wat heers in die grondwet tussen eerste-orde “negatiewe” regte en derde-orde “positiewe” sosio-ekonomiese regte.
Grondwetlike sosio-ekonomiese regte, soos die reg tot opvoeding, verblyf, kos en gesondheidsdienste, word in die Handves van Regte aan almal verseker.

Hoe presies word die soort regte dan “bevorder”? Sosio-ekonomiese positiewe regte vereis tog dat iemand “iets moet doen” om die regte te positief te bevorder.

Ongelukkig vir sommige van ons, staan die “iets wat gedoen moet word” bankvas in die kamp van staatsingryping en belasting. Ten einde moet iemand tog belas word, of regte op eiendom moet ontneem word, om sosio-ekonomiese regte te verwesenlik.

In werklikheid word die bevordering van sosio-ekonomiese “regte” moontlik gemaak ten koste van ander regte, waarvan private besitreg waarskynlik die belangrikste is.

Tog herinner diegene soos David Friedman ons daaraan dat eiendomsregte ook ʼn soort mensereg is. Friedman voer aan dat “eiendomsregte nie ʼn reg van eiendom is nie, maar die reg van mense met betrekking tot eiendom”. Eiendomsregte kan dus nie van menseregte geskei word nie.

Die huidige toedrag van sake stel skynbaar eiendomsregte ondergeskik aan sosio-ekonomiese regte. Die skep ʼn onderliggende konflik, wat selfs in die Handves van Regte teenwoordig is. Prof. AJ van der Walt, hoogleraar in eiendomsreg aan die Universiteit van Stellenbosch, verduidelik hoe regslui tans dié spanning grondwetlik benader:

“The core of this judicial solution for managing the tension was the notion that a just and equitable balance had to be found between upholding extant property interests and promoting equitable access to housing, land, wealth and natural resources for those who had been excluded from it.”

Wanneer Van der Walt se stelling op sigwaarde geneem word, toon dit dat bestaande eiendomsbelange opgeweeg word teenoor die verwesenliking van die sosio-ekonomiese regte vervat in die Handves van Regte. Volgens dié stelling blyk die reg op eiendom geensins absoluut te wees nie.

Vir eienaars skep die gedagte sekerlik ongemak. Hans-Herman Hoppe dui op die ongemak wat eienaars beleef. Hy reken dat die idee van private eiendom by meeste mense se morele intuïsies insteming vind.

Die instem kan met ʼn eenvoudige voorbeeld van die “redelike mens” verhelder word. Die “redelike mens” ag dit as immoreel wanneer hulpbronne wat iemand anders regverdig bymekaar gemaak het, en benodig vir oorlewing, met dwang onteien word (lees: gesteel/afgepers word). Die “redelike mens” ken mos só ʼn handeling as roof en diefstal. Diefstal is mos teen die wet.

Wat dan as die staat self die een is wat deur wetgewing eiendom in gevaar stel? In Nazi Duitsland is wette juis gebruik om Jode van hul eiendom te vervreem. Dit is waarskynlik waar konflik tussen wette en die “redelike mens” na vore kan tree.

Baie mense reken dat hulle tot die wet sal kan wend vir beskerming van eiendom. Is die wet dan nie juis veronderstel om eiendom en persoon te beskerm nie? Nie altyd nie. Die skrywer Bastiat het reeds in die 1850s gewaarsku dat verwronge wetgewing self ʼn instrument van “gewettigde plunder” kan word.

ʼn Stroom nuwe wetsontwerpe en beleide wat absolute eiendomsregte verswak, kry tans gestalte. ʼn Versameling van redes vir onteiening en ontneming van private eiendom en regte gebonde aan eiendom is besig om in werking te tree.

Is hierdie eintlik gewettigde plunder, of is die “redelike mens” onredelik?

Hierdie artikel het oorspronklik op Maroela Media verskyn.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Eiendomsreg, Opinie, Regte and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.