Wat is Sosiale Kontrak Teorie?

Sosiale Kontrak Teorie

Inleiding en Indeks 

In Desember van 1991 kom ʼn paar politieke partye en bewegings bymekaar om te onderhandel oor die toekoms van die territoriale gebied bekend as Suid-Afrika, elk met ʼn aanspraak op die troon, by wyse van spreke. Hierdie onderhandelingsproses was bekend as KODESA (Konvensie vir ʼn Demokratiese Suid-Afrika). ʼn Integrale deel van hul doel was om ʼn grondwet op te stel waarmee hulle en hul onderskeie ondersteuners tevrede sou wees. Van die begin af was daar verskille oor hoe die proses moes verloop, die ANC het daarop aangedring dat slegs ʼn demokraties verkose konstitusionele-vergadering so iets kon onderneem, terwyl die NP gevrees het dat hulle geen insette sou hê indien hulle nie genoeg stemme in so ʼn verkiesing sou kon monster nie. Onderhandelings het uiteindelik skipbreuk gelei maar is in 1993 hervat as die MPNP(Multi-Party Negotiating Process). Hulle skryf dan ʼn grondwet wat as interim grondwet aanvaar word en deur die parlement bekragtig word op 27 April 1994. Die nuwe grondwet wat die tussentydse grondwet vervang word op 8 Mei 1996 aanvaar maar deur die hof terugverwys vir veranderings en finaal aanvaar op 11 Oktober 1996. 

Op watter grondslag het hierdie grondwet dan gesag oor my of jou? Elke maatskappy het byvoorbeeld ʼn akte en statute wat as grondwet van daardie maatskappy dien, maar dit het geen dwingende invloed op enigeen nie, behalwe dalk enkele voorskrifte ten opsigte van pligte van die aandeelhouers en personeel en die gesag wat dit wel het, kan beëindig word. Wat as jy byvoorbeeld tydens die onderhandelings wat tot die Suid-Afrikaanse grondwet gelei het nie aan een van die partye behoort het nie, of niemand na jou wou luister nie, of dalk selfs na die tyd gebore was? Op watter grondslag kan mense ʼn kontrak aangaan waartoe jy nie partydig is nie en dit dan op regsgronde op jou afdwing? Die antwoord wat gegee word staan bekend as sosiale kontrak teorie. In hierdie reeks op die anargisme blog gaan ons aandag gee aan die ontwikkeling daarvan, die verskeie denkers wat dit tot stand gebring het asook die kritiek wat daarop gelewer word. 

Sosiale kontrak teorie is bykans so oud soos filosofie self, die idee dat ʼn persoon se morele en/of politieke verbintenis afhang van ʼn kontrak of ooreenkoms tussen die lede van die samelewing waarin hulle leef. Sokrates gebruik meer as 400 jaar voor Christus al iets baie naby aan ʼn sosiale-kontrak argument om aan sy vriend Krito te verduidelik waarom hy wat Sokrates is, in die tronk moet bly en die doodstraf wat op hom neergelê is, aanvaar. Sokrates leef egter in ʼn stadstaat, voor die moderne staat tot standgekom het en sosiale kontrak teorie word daarom eerder met moderne morele en politieke teorie geassosieer. Die verskeie denkers wat elk hul eie teorie daar probeer stel het, het nie net die regverdiging van die moderne staat verduidelik soos hulle dit in hul eie tyd verstaan het nie, die moderne staat het ook terselfde tyd ontwikkel aan die hand van hierdie teoretiese regverdigings.

Die eerste intellektuele uiteensetting en verdediging daarvan was deur Thomas Hobbes(1588 – 1679). Benewens Hobbes het denkers soos Jean-Jacques Rousseau(1712 – 1778); John Locke(1632 – 1704) en David Hume(1711 -1776) bygedra tot hierdie invloedryke teorie waarop die morele gesag van die staat rus. In die Negentiende eeu is die teorie intellektueel uitgedaag deur anargiste soos Pierre-Joseph Proudhon(1809 – 1865) en Lysander Spooner(1808 – 1887).

In die Twintigste eeu het die teorie weer ʼn hele rits debatte opgelewer as gevolg van John Rawls(1921 -2002) se weergawe van sosiale kontrak teorie en is opgevolg deur David Gauthier asook ander. Die teorie bly egter vir baie mense onvoldoende as antwoord op hul status as onderdane en word toenemend uitgedaag deur filosowe en politieke denkers van uiteenlopende agtergronde.

Afgesien van teenkanting tot die teorie is daar beide links en regs baie ideologiese strominge wat redeneer dat die sosiale kontrak gebroke is op een of ander grondslag en wat dan aan die hand van hul eie beskouing daarvan, reggestel moet word. In besonder het libertariërs(Minargiste), feministe, ras-bewuste individue, anti-emigrasie groepe, etniese minderhede en selfs anti-feministe geargumenteer dat sosiale kontrak teorie onvoldoende is om ons ware morele en politieke lewens volledig uit te beeld, en mag dalk net ʼn rookskerm wees vir die manier wat die staat parasities van aard is vir die doelbewuste onderwerping van die mens.

Aangesien enige militêre opstand teen die staat strafbaar is as hoogverraad kan dit ook nie sondermeer as tema geïgnoreer word nie. Hierdie reeks kan nie kortliks afgehandel word nie en hierdie plasing sal as inleiding dien sowel as ʼn indeks waarop voortgebou sal word, soos nuwe plasings in die reeks volg.

Reeks oor Sosiale Kontrak Teorie

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Politieke Filosofie, Regte and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.