Sosiale Kontrak Teorie: ʼn Beknopte Oorsig

Sosiale kontrak

Hierdie plasing vorm deel van ʼn reeks aangaande sosiale kontrak teorieë, die Inleiding en Indeks hier te vinde.

In morele en politieke filosofie is die sosiale kontrak of politieke kontrak ʼn teorie of model wat hul oorsprong in die Eeu van Verligting het, dit spreek tipies die vraag aan na die oorsprong van die samelewing en die legitimiteit (wettigheid van die gesag) van die staat oor die individu.[1] Sosiale kontrak argumente probeer tipies bewys en verduidelik dat individue, of uitdruklik of stilswyend ingestem het om van hul vryheid prys te gee en hul te onderwerp aan die gesag van of die staat, in ruil vir die beskerming van hul oorblywende regte. Die problematiek tussen die verhouding van natuurlike regte en wettige regte is daarom ʼn konstante tema van sosiale kontrak teorie. Die Sosiale Kontrak (Du contrat social ou Principes du droit politique) is ook die titel van ʼn 1762 boek deur Jean-Jacques Rousseau oor hierdie onderwerp.

Alhoewel daar geredeneer kan word dat die voorgeskiedenis van sosiale kontrak teorie gevind kan word in ou sedes en gewoontes, in die Griekse en stoïsynse filosofie, en in Romeinse en Kanonieke reg, sowel as in die Bybelse idee van die verbond, was die hoogtepunt van die teorieë tussen die middel 17de tot vroeë 19de eeu toe dit die belangrikste faktor in politieke filosofie was. Die vertrekpunt van meeste sosiale kontrak teorieë is ʼn ontdekkende ondersoek na die menslike toestand in die afwesigheid van enige politieke orde, wat Thomas Hobbes noem die “state of nature” of dan natuurtoestand.[2] In hierdie toestand word individue se aksies slegs beperk deur hul eie gewete en magsbeperkings. Vanaf hierdie gedeelde wegspringplek probeer sosiale kontrak teorieë om op verskeie maniere te demonstreer waarom ʼn rasionele individu vrywilliglik sal instem om hul natuurlike vryheid op te gee om die veronderstelde voordele van ʼn politieke orde te bekom.

Hugo de Groot(1625), Thomas Hobbes(1651), Samuel Pufendorf(1673), John Locke(1689), Jean-Jacques Rousseau(1762) en Immanuel Kant(1797) is van die mees prominente 17de en 18de eeu se teoretici van sosiale kontrak en natuurregte. Elkeen het die probleem van politieke outoriteit verskillend probeer oplos. De Groot was eerste en sy bydrae was hoofsaaklik die verspreiding van die idee van natuurregte as die grondslag van die Reg; Hobbes het weer hierteen geskop en gehandhaaf dat mense instem om afstand te doen van hul regte ten gunste van die absolute outoriteit van die regering (hetsy monargies of parlementêr); Pufendorf het weer op sy beurt Hobbes se gelykstelling van ʼn natuurtoestand met oorlog betwis[3].

Locke het geglo dat natuurlike regte onvervreembaar was en God gegewe, en daarom enige regeringsoutoriteit in gesag oorskry. Rousseau het weer geglo dat demokrasie die beste manier was om die algemene welstand te verseker en individuele vryheid te verseker onder die oppergesag van die reg. In die 19de eeu was hierdie teorieë van minder belang en meer aandag is geskenk aan utilitarisme, Marxisme en Hegeliaanse idees, en het eers weer begin aandag kry in die 20ste eeu na die publikasie van John Rawls se denk-eksperimente.[3]

Oorsig

Thomas Hobbes se beroemde aanspraak was dat in ʼn natuurtoestand die menslike lewe “eensaam, arm, sleg, wreed en kort” sou wees. In die afwesigheid van politieke orde en wette sou almal onbeperkte natuurlike vryheid hê, insluitend die “reg tot alle dinge” en dus die vryheid om te plunder, verkrag en moor; daar sou eindelose “oorloë van almal teen almal” wees (bellum omnium contra omnes). Om dit te vermy kontrakteur elke vrye mens met mekaar om ʼn politieke gemeenskap te vestig (burgerlike samelewing) deur ʼn sosiale kontrak waarin almal sekuriteit verkry in ruil vir hul onderwerping aan die wil van ʼn absolute soewereine (een man of ʼn vergadering van mans). Alhoewel die Soewereine se edikte na willekeur en tirannies van aard kan wees, het Hobbes die absolute regering gesien as die enigste alternatief vir ʼn natuurtoestand.

Alternatiewelik het John Locke en Jean-Jacques Rousseau geargumenteer dat ons burgerlike regte verkry in ruil vir ons aanvaarding van die verpligting om die regte van ander te respekteer en te verdedig, en sekere vryhede moet prysgee hiervoor. Die hoof aanspraak van sosiale kontrak benaderings is dat die reg en politieke orde onnatuurlik is en dus mensgemaakte skeppings is. Die Sosiale Kontrak en politieke orde wat dit skep is eenvoudig net die middel tot die enddoelwit – die voordele aan die individue wat betrokke is – en slegs legitiem(geldig) tot die mate dat hulle hul deel van die ooreenkoms nakom.

Volgens Hobbes (in wie se seining die regering nie ʼn party tot die oorspronklike kontrak is nie) is burgers nie verplig om hulself te onderwerp aan enige owerheid wanneer dit te swak is om op effektiewe wyse op te tree teen verdeelde faksies en burgerlike onrus nie. Volgens ander sosiale kontrak teoretici kan burgers weer hul verpligting tot gehoorsaamheid onttrek, of leierskap deur verkiesings of ander wyses vervang en indien die staat nie hul natuurlike regte kan beskerm nie, kan hulle tot geweld oorgaan (Locke) om die beste belange van die samelewing te beskerm. Rousseau het hierdie “belange” die algemene wil genoem, Rousseau is egter baie meer geïnteresseerd in die skepping van nuwe regerings as in die omverwerping van bestaandes.

Geskiedenis

Die konsep van die Sosiale Kontrak word uiteengesit deur Glaucon, soos beskryf in Plato se “Die Republiek” Boek II.

Hulle sê om onreg te pleeg is van nature goed en om daaronder te ly is boos; maar dat die sleg groter as die goeie is. So wanneer die mens beide onreg pleeg en daaronder ly en beide ervaar het, en nie daartoe in staat is om die een te vermy en die ander te bekom nie, – dan dink hulle by hulself om eerder nie een van die twee te ervaar nie, gevolglik ontstaan daar wette en gemeenskaplike ooreenkomste; en dit wat deur die reg ingestel is noem hulle wettig en regverdig. Dit bevestig hulle as die oorsprong en natuur van geregtigheid; – dit is ʼn middel of kompromie tussen die beste van alles, dit is om onreg te pleeg en nie gestraf te word nie en die ergste van alles, om onreg te ervaar sonder die mag van vergelding, en geregtigheid as die middelpunt tussen die twee. Dit word deur mense geduld nie as die goeie nie maar eerder die minste van twee euwels, en vereer vir die rede dat die mens onbevoeg is om ongeregtigheid te doen, want geen mens wat waardig is om mens genoem te word sal ooit instem tot so ʼn ooreenkoms as hy in staat is om weerstand te bied nie. Hy sou mal wees indien hy dit sou doen, so is die oorgedraagde bevindings van Sokrates, oor die natuur en oorsprong van geregtigheid.[4]

Klassieke idees

Afgesien van Sokrates het Epicurus geregtigheid gesien as ʼn uitvloeisel van ooreenkoms, met reg en geregtigheid wat ingewortel was in wedersydse ooreenkomste en voordele, soos gedemonstreer deur sy “Principal Doctrines”.

31. Natuurlike geregtigheid is ʼn belofte of wedersydse voordeel om te verhoed dat een persoon ʼn ander leed aandoen of leed aangedoen word.

32. Die diere wat nie in staat is om bindende ooreenkomste met mekaar aan te gaan vir die doel om nie skade te ly nie is eerder sonder geregtigheid en ongeregtigheid; en eweneens net so vir die mense wat nie daartoe in staat is of nie bindende ooreenkomste wil vorm vir die doel om nie leed toe te pas of te ly nie.

33. Daar was nooit so iets soos absolute geregtigheid nie, slegs ooreenkomste wat gemaak is in gemeenskaplike omgang of handelswyses tussen mense op enige plek en op verskillende tye om voorsienning te maak teen die kwaadwillige aandoening van lyding.

Renaissance onwikkelings

Quentin Skinner het geargumenteer dat verskeie belangrike moderne weergawes van kontrak teorie idees bevat wat reeds in die skryfwerk van Franse Calviniste en Hugenote voorgekom het, wat veral skrywers in Nederlandstalige lande aangespoor het. Hierdie sosiale kontrak argumente was egter gebruik as morele verduidelikings vir hul verwerping van Spaanse oorheersing, ʼn beroep op dieselfde argumente is weer later deur Katolieke in Engeland gemaak.[6] Onder hulle is Francisco Suárez (1548–1617), van die Skool van Salamanca, wat as ʼn vroeë sosiale kontrak teoretikus oorweeg kan word, hy het geteoretiseer oor natuurlike regsbeginsels in ʼn poging om die goddelike reg van absolute monargieë te beperk. Al hierdie groepe het idees uitgedruk oor populêre soewereiniteit deur ʼn sosiale verband of kontrak, en vele daarvan begin met proto-natuurtoestand argumente, met die gevolg dat die grondslag van meeste politieke teorieë is dat almal van nature vry is van onderdanigheid tot enige regering.

Hierdie argumente het egter swaar gesteun op korporatiewe teorie wat in Romeinse Reg te vinde was,  waarvolgens ʼn “populus” kan bestaan as ʼn afsonderlike regsentiteit. Derhalwe het hierdie argumente die posisie ingeneem dat ʼn groep mense by ʼn regering kan aansluit omrede dit die kapasitiet het om ʼn enkele wil uit te oefen en besluite kan maak met ʼn enkele stem in die afwesigheid van ʼn soewereine outoriteit – ʼn opvatting wat verwerp was deur Hobbes en latere kontrak teoretici.

Hugo de Groot (1625)

In die vroeë 17de eeu het Hugo de Groot die moderne idee van natuurlike regte van individue bekend gestel. De Groot stel dit dat elke individu natuurlike regte het wat selfbehoud moontlik maak en wend dan die idee aan as ʼn grondslag vir ʼn morele konsensus in die aangesig van religieuse diversiteit en die opkoms van die natuurwetenskappe. Hy probeer om ʼn rakende grondslag te vind vir ʼn morele beginpunt van die samelewing, ʼn soort natuurreg wat almal kan aanvaar. In sy over het recht van oorlog en vrede gaan hy sover as om te sê dat selfs al gee ons toe wat ons nie sonder om te sondig kan toegee nie, naamlik dat daar geen God is nie, hierdie wette steeds sal staan.

Die idee was later as radikaal beskou aangesien ʼn mens daarvan sou kon aflei dat mag uiteindelik terug kan verskuif na individue, as die politieke instellings wat hulle opgestel het nie meer hul oorspronklike doel dien nie. Die individu is dus soewerein, de Groot sê dat mense sui juris (onder hul eie jurisdiksie is). Mense het regte as mense, maar dat daardie regte afgebaken is tot dit wat vir almal moreel aanvaarbaar is; almal moet aanvaar dat elke persoon as individu geregtig is om sy lewe en eiendom te beskerm. Elke persoon moet hom daarom daarvan weerhou om ander kwaad aan te doen of in hul sake in te meng, enige oortreding van hierdie regte moet gestraf word.

Thomas Hobbes se Leviatan (1651)

Die eerste moderne filosoof om ʼn gedetailleerde kontrak teorie daar te stel was Thomas Hobbes (1588-1679). Volgens Hobbes was die lewens van individue in ʼn natuurstaat of toestand afsydig, arm, wreed en kort, ʼn toestand waarin selfbelang en die afwesigheid van regte en kontrakte die voordele van die sosiale of samelewing verhoed het. Lewe was anargies (sonder leierskap of die konsep van soewereiniteit). Individue in die natuurtoestand was apolities en asosiaal. Die natuurtoestand word dan opgevolg deur die sosiale kontrak.

Die sosiale kontrak was ʼn gebeurtenis waartydens individue byeengekom het en afstand gedoen het van sommige van hul individuele regte sodat ander weer op hul beurt dieselfde doen (bv. Persoon A gee sy/haar reg op om persoon B dood te maak indien persoon B dieselfde sou doen). Dit is hierdie metaforiese gebeurtenis wat aanleiding gee tot die totstandkoming van die staat, ʼn soewereine entiteit net soos die individue wat nou onder die heerskappy daarvan staan eens was, wat nou wette uitvaardig om die samelewing se interaksies te reguleer. Die menslike lewe sou dan nie meer ʼn “oorlog van almal teen almal” wees nie.

Maar die staatsbestel wat uit die sosiale kontrak gegroei het, was ook anargies (sonder regering) sover dit die verhouding tussen state aan betref. Net soos die individue in die natuurtoestand soewerein was en dus gelei was deur selfbelang en die afwesigheid van regte, so het state nou opgetree in hul eie selfbelang en in kompetisie met mekaar. Net soos in die natuurtoestand, was state nou ook onafwendbaar in konstante konflik want daar was geen soewereiniteit  bo en behalwe die staat om geregtigheid af te dwing nie. Hobbes se werk het as grondslag gedien vir die politieke realisme teorieë in internasionale verhoudinge, soos bevorder deur E.H. Carr en Hans Morgenthau.

John Locke se Second Treatise of Government (1689)

John Locke se sosiale kontrak verskil fundamenteel van Hobbes s’n op verskeie maniere, slegs die sentrale motief word behou dat mense in ʼn natuurtoestand gewilliglik byeen sal kom om ʼn staat te vorm. Locke het geglo dat individue in ʼn natuurtoestand moreel daartoe verbind sal wees deur die natuurwet om mekaar nie kwaad aan te doen nie in terme van lewe en eiendom nie, maar dat dit sonder ʼn regering ter verdediging teen diegene wat wel daarop uit is om hulle te beseer, skade aan te rig of slawe van hulle wil maak, sekuriteit in hul regte onseker sou wees en mense in relatiewe vrees sou lewe. Locke het geargumenteer dat individue daarom ooreen sou stem om ʼn staat te vorm wat ʼn neutrale regter sal voorsien, wat sal optree om hul lewens, vryheid en eiendom te beskerm.

Terwyl Hobbes geargumenteer het vir naas- absolute outoriteit (gesag), het Locke geargumenteer vir ongeskonde vryheid onder die wet in sy Tweede Verhandeling oor Regering. Locke redeneer dat regering se legitimiteit verkry word van die burgers se delegasie aan die regering van hul reg op selfverdediging en selfbehoud. Die regering tree dan op as onpartydige, objektiewe agent van daardie reg op selfverdediging, eerder as wat elke persoon optree as sy eie regter, jurie en laksman – soos wat hy dit in ʼn natuurtoestand voorsien het. Vanuit hierdie oogpunt, verkry die regering hul regmatige mag deur instemming, met ander woorde, deur delegasie aan ʼn regering.

Jean-Jacques Rousseau se Du contrat social (1762)

Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) het in sy invloedryke 1762 verhandeling, Die Sosiale Kontrak, ʼn ander weergawe van sosiale kontrak teorie uiteengesit, as die grondslag van politieke regte gebaseer op onbeperkte populêre soewereiniteit. Alhoewel Rousseau geskryf het dat die Britte op daardie stadium moontlik die vryste mense op aarde was, was hy nie beïndruk met hul verteenwoordigende monargie nie. Rousseau het geglo dat vryheid slegs moontlik was waar daar direkte selfregering was by die mense wat as ʼn geheel betrokke is by die wetgewende proses, waar populêre soewereiniteit onverdeelbaar en onvervreembaar is. Maar hy het ook volgehou dat mense soms nie geweet het wat hul “ware wil” is nie, en dat ʼn behoorlike gemeenskap nie tot stand sal kan kom nie tot daar ʼn groot leier (“die Wetgewer”) opstaan om die waardes en gewoontes van mense te verander nie. Daarby het hy gedink dat so ʼn regsdenker of wetgewer waarskynlik deur die strategiese gebruik van godsdiens bekendheid sal verwerf.

Rousseau se politieke teorie verskil weer van die van Locke en Hobbes s’n. Rousseau se kollektivisme is mees opvallend in sy ontwikkeling van die “luminous konsepsie” van die algemene wil(waarvoor hy Diderot krediet gee). Rousseau argumenteer dat ʼn burger nie sy ware belange kan najaag deur ʼn egoïs te wees nie maar dat hy in stede daarvan homself moet onderwerp aan die wet wat geskep is deur die burgery wat as ʼn kollektiewe eenheid optree.

(Die Sosiale Kontrak) kan gereduseer word na die volgende term: Elkeen van ons sit homself as persoon en al sy mag in die gemeenskaplike onder die hoogste leiding van die algemene wil; en in ʼn liggaam ontvang ons elke lid as ʼn onverdeelbare part van die geheel.[7]

Rousseau se treffende frase dat die mens “forseer moet word om vry te wees”[8] kan soos volg verstaan word: aangesien die onverdeelbare en onvervreembare populêre soewereiniteit besluit wat vir die geheel goed is, as ʼn individu dan terugval in sy gewone egoïsme en die leierskap verontagsaam, sal hy geforseer word om te luister na wat hulle besluit het, as ʼn lid van die kollektiewe (burgers). Die wet is dus, in sover as wat dit ʼn skepping is van die mense wat optree as ʼn geheel, nie ʼn beperking van individuele vryheid nie, maar eerder die uitdrukking daarvan.

Daarom is toepassing van die wet, insluitende kriminele wet, dus nie ʼn beperking op individuele vryheid nie, omdat die individu as ʼn burger uitdruklik ooreenkom om beperk te word as hy of sy as ʼn private individu nie sy eie wil gerespekteer het nie, soos geformuleer in die algemene wil. Omdat wette die beperkings van burgerlike vryheid verteenwoordig, verteenwoordig dit die sprong van mense vanuit ʼn natuurtoestand na burgerlike samelewing. In dié sin is die wet ʼn mag wat beskawing tot stand bring, en dus het Rousseau geglo dat die wet wat mense se aksies reguleer help om hul karakter te vorm.

Pierre-Joseph Proudhon se individuele sosiale kontrak (1851)

Terwyl Rousseau se sosiale kontrak gebaseer is op populêre soewereiniteit en nie op individuele soewereiniteit nie, is daar weer baie teorieë van individualistelibertariërs en anargiste, waarin ooreengekom word tot bykans niks, behalwe negatiewe regte en die skepping van ʼn minimale staat, indien dit onafwendbaar geag word.

Pierre-Joseph Proudhon (1809–1865) het so ʼn konsep van ʼn sosiale kontrak bevorder waarin die individu geen soewereiniteit aan ʼn ander opgee nie. Volgens hom was die sosiale kontrak nie tussen individue en die staat nie, maar eerder tussen individue om hulself te weerhou van dwang en nie oor mekaar te regeer nie, elk behou totale soewereiniteit oor homself:

Wat is die sosiale kontrak werklik? ʼn Ooreenkoms van die burgers met die regering? Nee, dit sou beteken die voortsetting van Rousseau se idee. Die sosiale kontrak is ʼn ooreenkoms van mens met mens; ʼn ooreenkoms waaruit voortspruit wat ons samelewing noem. Hierin word die opvatting van kommutatiewe geregtigheid wat deur die primitiewe feit van uitruiling teweeggebring word,… vervang met distributiewe geregtigheid… Vertaal die woorde kontrak en kommutatiewe geregtigheid wat die taal van die reg is na die taalgebruik van besigheid, en jy het handel, dit is om te sê in sy hoogste betekenisvolheid daarvan: Met die aksie waardeur elke man homself essensieel as produseerder verklaar en afstand doen van alle aansprake om oor mekaar te regeer.

—Pierre-Joseph Proudhon, General Idea of the Revolution in the Nineteenth Century (1851)

John Rawls se Theory of Justice (1971)

Deur voort te bou op die werk van Immanuel Kant met sy aanname van beperkings op die staat,[9] het John Rawls (1921–2002) ʼn kontrak benadering voorgestel in A Theory of Justice (1971), waar rasionale mense in ʼn hipotetiese “oorspronklike posisie” hul individuele voorkeure en kapasiteit ter syde stel agter ʼn “veil of ignorance“, om ooreen te kom tot sekere algemene beginsels van geregtigheid en toepaslike regsinstellings. Hierdie idee word ook gebruik as ʼn spel teorie vir die formulering vandie konsep van regverdigheid.

David Gauthier se Morals By Agreement (1986)

David Gauthier “neo-Hobbesiaanse” teorie argumenteer dat samewerking tussen twee onafhanklike, selfstandige partye gemoeid met selfbelang moontlik is, veral as dit by die begryping van moraliteit en politiek kom.[10] Gauthier wys byvoorbeeld die voordeel van samewerking tussen twee partye uit in die uitdagende bandiet dilemma. Hy stel voor dat as beide partye by hul oorspronklike ooreengekomde reëling sou hou en die sedes wat in die kontrak uiteengesit was, sou hulle albei die optimale voordeel kry.[10][11] In die model van die sosiale kontrak is vertroue, rasionaliteit en selfbelang almal faktore wat die ander party eerlik hou en daarvan ontmoedig om die reëls te breek.[10][11]

Philip Pettit se Republikanisme (1997)

Philip Pettit het in sy boek Republicanism: A Theory of Freedom and Government (1997),probeer bewys dat die teorie van sosiale kontrak wat tradisioneel gebaseer is op die instemming van dié oor wie regeer word, aangepas moet word. In stede daarvan om te argumenteer vir instemming, wat in elk geval “geproduseer” kan word, argumenteer Pettit dat die afwesigheid van effektiewe rebellie teen die kontrak die enigste legitimiteitsfaktor is.

Instemming

Een van die vroeë kritici van sosiale kontrak teorie was Rousseau se vriend en filosoof David Hume, wie in 1742 ʼn opstel getiteld: Of Civil Liberty, gepubliseer het. In die tweede gedeelte van die opstel getiteld: Of the Original Contract[12], beklemtoon en beskryf hy dié konsep as ʼn “gerieflike fiksie”:

Aangesien geen party in die huidige era hulself kan onderhou sonder ʼn filosofiese of spekulatiewe grondslag van beginsels wat tot hul politieke beleid aangeheg is nie; vind ons diensooreenkomstig dat elk van die faksies waarin die nasie verdeel is, ʼn mate van die voormalige gefabriseer het om die beleid of aksies wat hulle nastreef te beskerm en te verskans…..Die een party [verdedigers van die absolute en goddelike reg van konings, of Tories], doen bogenoemde deur regering se oorsprong in die goddelik wil te vind en poog om dit so hoogheilig en onaantasbaar te laat dat dit skaars minder as kettery is, ongeag hoe tirannies die regering ook al mag wees, om dit aan te raak of aan te val in die kleinste artikel. Die ander party [die Whigs of gelowiges in konstitusionele monargie], doen bogenoemde deur regering se oorsprong volledig op instemming van die mense te vind en veronderstel vir dié doel dat daar ʼn soort oorspronklike kontrak is, waardeur die onderdane stilswyend die mag behou het om die soewerein teen te staan wanneer ook al hulle ontevrede is met die outoriteit wat hulle vir sekere doeleindes aan hom toevertrou het.    

—David Hume, “On Civil Liberty” [II.XII.1][12]

Hume argumenteer dat instemming van die waaroor regeer word die ideale grondslag is waarop regering kon rus, maar dat dit nog nooit enigsins werklik so tot stand gekom het nie.

My doelstelling hier is nie om instemming van die mense uit te sluit as ʼn gepaste grondslag vir regering waar dit van pas is nie. Dit is sekerlik die beste en hoogste regverdiging daarvan. Ek beweer slegs dat dit baie selde in enige graad plek gehad het in die totstandkoming van die staat nie en feitlik nooit tot die volle omvang daarvan nie, en daarom moet ʼn ander grondslag vir regering ook erken word.

—Ibid II.XII.20

Natuurreg en konstitusionalisme

Regsdenker Randy Barnett het geargumenteer[13] dat alhoewel verblyf in ʼn bepaalde samelewing se grondgebied noodsaaklik mag wees vir instemming, is dit nie instemming tot enige reëls wat daardie samelewing dalk mag maak ongeag jou instemming nie. ʼn Tweede voorwaarde tot instemming is dat die reëls in lyn met die onderliggende beginsels van geregtigheid moet wees en die beskerming van natuurlike en sosiale regte(vryhede) moet wees. Hierdie idee is ook aangegryp deur O.A Brownson[14] wat argumenteer dat daar in ʼn sekere sin drie grondwette betrokke is: Eerstens die grondwet van die natuur wat natuurreg insluit; tweedens die betrokke samelewing se grondwet as die ongeskrewe algemeen aanvaarde reëls van die samelewing waardeur die derde tot stand gebring word as ʼn grondwet van die regering. Om instemming te bewys moet die reëls dan volgens die siening konstitusioneel wees in al drie konsepte daarvan.

Stilswyende instemming

Sommige teoretici probeer om te bewys dat die ontbreking van gewelddadige weerstand ʼn bewys is van instemming. Die teorie van implisiete sosiale kontrak stel voor dat deur in ʼn gegewe territoriale gebied te bly wat deur ʼn samelewing met sekere norme, beheer word, en gewoonlik ʼn regering het – Gee mense toestemming om deur daardie regering geregeer te word. Hierdie instemming is wat legitimiteit aan die regering verleen.

Ander skrywers het weer geargumenteer dat instemming om by ʼn samelewing aan te sluit nie instemming tot die regering van daardie samelewing is nie. Daarvoor moet die regering as voorwaarde gebaseer wees op ʼn grondwet wat in lyn is met die natuur en die aard van die betrokke samelewing.[14]

Voluntarisme

Volgens die wil teorie van kontrakte kan ʼn kontrak nie as geldig beskou word tensy alle partye vrywilliglik en sonder dwang daartoe ingestem het nie. Lysander Spooner, was ʼn 19de eeu se prokureur en ʼn groot voorstander van die reg van individue om te kontrakteur. In sy opstel No Treason, argumenteer hy dat ʼn veronderstelde sosiale kontrak nie gebruik kan word om regeringsaksies, wat in stryd is met die natuurreg te regverdig nie, aksies soos belasting, aangesien regerings dwang inisieer teen enigeen wat sou verkies om nie in so ʼn kontrak in te tree nie. Daarom beskou hy so ʼn kontrak nie as vrywillig of as ʼn geldige kontrak nie.

Moderne reg is gebaseer op die wil-teorie van kontrak, waarvolgens alle terme van ʼn kontrak bindend is op alle partye omrede hulle gekies het om daardie terme te aanvaar. Hierdie idee was baie minder waar in die tyd toe Hobbes Leviatan geskryf het; toe sou meer gewig verleen gewees het aan oorweging, bedoelende wedersydse ruil van voordele wat noodsaaklik geag sou moes word om as ʼn geldige kontrak beskou te word. In ʼn tyd waar ʼn absolute minderheid van die bevolking sou kon lees, was meeste kontrakte implisiete (geïmpliseerde) kontrakte wat tot stand gekom het vanuit die verhouding tussen die partye, eerder as iets waartoe hulle ingestem het of ʼn keuse uitgeoefen het. Daarom kan daar geargumenteer word dat sosiale kontrak teorie meer verband hou met kontrakte soos dit in die tyd van Hobbes en Locke verstaan was en waarom die idee vir moderne mense wat oorwegend in staat is om selfstandige besluite te neem so vreemd voorkom, soos dat oertydse voorouers namens ons kontrakte sou kon aangaan.[15]

 Bronne

  • [1]Die term sosiale kontrak (of oorspronklike kontrak) behels twee verskillende soorte kontrakte, en om die evolusie daarvan te verstaan is dit belangrik om hulle te onderskei. Beide was toepaslik in die 17de eeu en kan teruggespoor word in antieke Griekse denke…Die een behels in die algemeen ʼn teorie oor die oorsprong van die staat. Die ander vorm van ʼn sosiale kontrak kan meer akkuraat die kontrak van regering of kontrak van onderhorigheid genoem word…. In die algemeen het die tweede min te make met die oorsprong van die samelewing, maar voor-veronderstel die bestaan daarvan as ʼn gegewe en probeer eerder om die terme waarvolgens die samelewing geregeer word, definieer: die mense het volgens die denke ook ʼn kontrak met die heersers wat hul verhouding tot daardie mag bepaal. Hulle belowe onderhorigheid, terwyl hy beskerming en goeie regering belowe. Terwyl hy sy deel van die kontrak eer, moet hulle hul deel van die kontrak eer, maar as hy wanregeer is die kontrak in gebreke en kan hulle trou beëindig. J. W. Gough, The Social Contract(Oxford: Clarendon Press, 1936), pp. 2–3. Moderne weergawes van sosiale kontrak teorieë was baie minder geïnteresseerd in die oorsprong van die staat.
  • [2] Ross Harrison skryf dat”Hobbes seems to have invented this useful term.” See Ross Harrison, Locke, Hobbes, and Confusion’s Masterpiece (Cambridge University Press, 2003), p. 70. The phrase “state of nature” does occur, in Thomas Aquinas‘s Quaestiones disputatae de veritate, Question 19, Article 1, Answer 13. However Aquinas uses it in the context of a discussion of the nature of the soul after death, not in reference to politics.
  • [3] Patrick Riley, The Social Contract and Its Critics, chapter 12 in The Cambridge History of Eighteenth-Century Political Thought, Eds. Mark Goldie and Robert Wokler, Vol 4 of The Cambridge History of Political Thought (Cambridge University Press, 2006), pp. 347–75.
  • [4] The Republic, Book II. Quoted from http://classics.mit.edu/Plato/republic.3.ii.html
  • [5] Vincent Cook (2000-08-26). “Principal Doctrines”. Epicurus. Retrieved 2012-09-26.
  • [6] Quentin Skinner, The Foundations of Modern Political Thought: Volume 2: The Age of the Reformation (Cambridge, 1978)
  • [7] Jean-Jacques Rousseau, Oeuvres complètes, ed. B. Gagnebin and M. Raymond (Paris, 1959–95), III, 361; The Collected Writings of Rousseau, ed. C. Kelley and R. Masters (Hanover, 1990–), IV, 139.
  • [8] Oeuvres complètes, III, 364; The Collected Writings of Rousseau, IV, 141
  • [9] • Gerald Gaus and Shane D. Courtland, 2011, “Liberalism”, 1.1, The Stanford Encyclopedia of Philosophy.
       • Immanuel Kant, ([1797]). The Metaphysics of Morals, Part 1.
  • [10] “Social Contract Theory [Internet Encyclopedia of Philosophy]”. Iep.utm.edu. 2004-10-15. Retrieved 2011-01-20.
  • [11] “Contractarianism (Stanford Encyclopedia of Philosophy)”. Plato.stanford.edu. Retrieved 2011-01-20.
  • [12] “Hume, Essays, Moral, Political, and Literary, Part II, Essay XII, OF THE ORIGINAL CONTRACT | Library of Economics and Liberty”. Econlib.org. Retrieved 2011-01-20.
  • [13] Restoring the Lost Constitution: The Presumption of Liberty, Randy Barnett (2004)
  • [14] O. A. Brownson (1866). “The American Republic: its Constitution, Tendencies, and Destiny. Retrieved 2011-02-13.
  • [15] Joseph Kary, “Contract Law and the Social Contract: What Legal History Can Teach Us About the Political Theory of Hobbes and Locke”, 31 Ottawa Law Review 73 (Jan. 2000)

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Politieke Filosofie, Regte and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.