Besware teen Sosiale Kontrak Teorie

Hierdie plasing vorm deel van ʼn reeks aangaande sosiale kontrak teorieë, die Inleiding en Indeks hier te vinde.

1. Die Sosiale Kontrak: Meeste mense sou met die idee saamstem dat indien daar ʼn kontrak bestaan het tussen ʼn klomp mense en ʼn keiser, dit die grondslag van sy outoriteit sou wees sowel as die mense se regte en verpligtinge aan die keiser. Wanneer mense kontrakte aangaan is daar immers regte en verpligtinge wat die partye opgelê word in terme van die kontrak, maar bestaan daar so ʼn kontrak?

ʼn Kontrak of ooreenkoms kan op een van twee maniere plaasvind: Uitdruklik of implisiet. ʼn Uitdruklike kontrak: Dit vind plaas as jy uitdruklik kommunikeer dat jy instem tot iets. Voorbeeld: Jy bied tant Anna R20 aan vir ʼn pakkie van haar koeksisters en sy gee dit vir jou, dan is jy verantwoordelik om te presteer in terme van jou verpligting volgens daardie kontrak. Veronderstel egter jy gaan sit by ʼn restaurant en wys na die koeksister op die nagereg-spyskaart en die kelnerin bring dit vir jou. Jy het nêrens uitruklik ingestem om daarvoor te betaal nie en jou instemming word dan as ʼn implisiete kontrak deur jou aksies geag. Die vraag wat dan beantwoord moet word: het ons uitdruklik of implisiet ingestem om deur die staat regeer te word?

2. Besware: David Hume het geargumenteer dat daar nie so ʼn kontrak bestaan nie.

1)     Uitdruklike instemming: Hy wys uit dat baie heersers regeer of deur dwang of troonopvolging, nooit deur ʼn kontrak nie. Ook dat burgers of onderdane wat onder daardie regering gebore word dit eenvoudiglik as ʼn gegewe aanvaar. Hulle is onbewus van enige kontrak waaraan hulle deel gehad het, aldus kan uitdruklike instemming nie as argument voorgehou word nie. Geen regering word ooit tot stand gebring deur ʼn kontrak waartoe almal waaroor daar regeer word uitdruklik instem nie. Dit is dalk moontlik dat sommige stamme in die oertyd uitdruklik ingestem het dat een persoon (of ʼn paar) die stam regeer, maar selfs dan is sulke kontrakte lankal vergete en geen bestaan vandag nie.

2)     Implisiete instemming: Een voorstel wat soms geopper word, is dat mense ingestem het tot die regering deur binne die territoriale gebied van die staat te bly. Met ander woorde as jy nie saamstem nie kan jy trek en iewers anders gaan woon. Dit wil voorkom of John Locke van mening was dat jou inwoner status van die staat se gebied jou ten minste gedeeltelik tot die regering bind. As ek byvoorbeeld na Zimbabwe toe gaan op vakansie moet ek verkoopsbelasting/BTW betaal as ek iets koop, ek kan ook nie net wild en wakker hul wette breek en verwag om nie gestraf te word nie. Hy dui egter aan dat slegs uitdruklike instemming mens werklik deel maak van ʼn gemenebes. Hume se antwoord hierop was dat dit vir die meeste mense bloot nie moontlik is om elders heen te gaan nie. Hy skryf:

Kan ons werklik sê dat ʼn arm persoon of vakman ʼn vrye keuse het om sy land te verlaat as hy dag tot dag van sy inkomste lewe en geen vreemde tale en kulture ken nie? Ons kan dan net sowel argumenteer dat ʼn slaaf ingestem het tot die meesterskap van sy eienaar, want alhoewel hy teen sy wil met ʼn skip in die nag weggedra was, kon hy homself red deur oorboord te spring en te verdrink. 

Oorweeg hierdie eenvoudige drie gevalle:

  • Jou vriend sit in sy kar en vra “Wil jy saam ry kampus toe?” Hierop antwoord jy ja en klim in die kar. Jy het uitdruklik ingestem om saam met hom te ry.
  • Jy sit in jou vriend se kar en hy sê “Ek gaan nou kampus toe ry.” Jy sê niks nie en verstel dalk jou sitplek en maak die sitplekgordel vas. Jy het implisiete instemming gegee.
  • Jy word in jou vriend se kar wakker wat teen 160km per uur op die snelweg jaag en hy sê “Ek wil op kampus verder gaan drink, jy is welkom om uit te klim as jy nie wil saam kom nie, maar ek gaan nie stadiger ry nie. 

Daar is geen sprake van implisiete toestemming in die derde geval nie. Instemming of toestemming is onmoontlik om te bewys as daar geen vrye keuse tot die teendeel bestaan nie (dit is waarom kontrakte wat geteken word terwyl ʼn pistool teen een party se kop gedruk word nie geldig is nie.) Dit is die realiteit vir elke persoon ongeag onder watter regering en/of land hy woon. Vir die meeste mense bly emigrasie na ʼn ander land onmoontlik en vir die res ook nie sonder aansienlike persoonlike opoffering nie. Verder het elke land ʼn monopolistiese regering, daar is geen manier om dit te ontsnap nie, tensy jy Antarktika toe trek wat tog onwerkbaar is. Hoe kan instemming tot regering bestaan as daar geen lewensvatbare uitgang is of selfs ʼn bestaande regering waardeur jy regeer wil word nie? 

3)     Implisiete toestemming deur die aanvaarding van dienste: Daar is baie dienste wat die regering bied soos militêre beskerming, polisie beskerming, publieke skole, paaie, howe en selfs die geldeenheid wat ons elke dag gebruik, ens. Sekerlik kan daar bewys word dat die gebruik hiervan neerkom op implisiete toestemming tot die regering. Locke huldig presies hierdie standpunt, dat ons deur die gebruik van hierdie regeringsdienste verplig is om die regering te aanvaar, maar ook dat ons ter enige tyd die dienste kan opgee en die regering dan nie verder outoriteit oor ons uitoefen nie (Tensy ons uitdruklik ingestem het om lid van daardie gemeenskap te wees).

Daar kan twee redes wees waarom die aanvaarding van dienste ons verplig om in die stelsel in te betaal. Eerstens dat ons die dienste gebruik en daardeur demonstreer dat ons daartoe ingestem het om belas te word, en kontraktueel verplig is om by die ooreenkoms te hou (Kontrak-Teorie). Tweedens, dat dit net regverdig is dat ons betaal as ons die dienste gebruik (Fair Play-Teorie), anders skep dit wat bekendstaan as “free-riders”. 

Daar moet onderskeid getref word tussen regeringsdienste wat ons kan uitsluit en dies wat nie uitsluitbaar is nie. Uitsluitbare goedere en dienste kan aan sommiges gelewer word maar nie aan ander nie soos skole, hospitale en subsidies. Militêre en polisie beskerming is voorbeelde van dienste wat nie-uitsluitbaar is nie – die weermag kan byvoorbeeld nie op ʼn redelike grondslag net sekere belastingbetalers beskerm teen ʼn buitelandse bedreiging nie. 

Vorm die aanvaarding van een van die twee soorte dienste ʼn geldige kontrak? Daar is geen redelike manier om te weier om die nie-uitsluitbare dienste te ontvang of uit die transaksie te tree nie, omrede daar eenvoudiglik geen uit-opsie is nie. Die aanvaarding van nie-uitsluitbare dienste kan dus nie as ʼn kontrak gereken word nie. Die uitsluitbare dienste lyk met die eerste oogopslag meer belowend; Michael Huemer (Huemer’s Objection) het aangevoer dat die aanvaarding van uitsluitbare regeringsdienste wel ʼn kontrak verteenwoordig indien die antwoorde op die volgende drie voorwaardes Ja is.

  • Daar is redelike alternatiewe tot die dienste.
  • Die dienste sal slegs aangebied word as jy jou deel van die ooreenkoms nakom.
  • Indien daar geen verpligtinge op jou gelê word indien jy nie van die dienste gebruik maak nie. 

Die antwoord is egter nee, op elkeen van die voorwaardes.

  • Daar is geen alternatiewe tot baie van die regering se dienste nie, soos paaie waar ʼn alternatiewe mark as gevolg van die monopolie nie kan ontstaan nie.
  • Belasting ontduikers en kriminele gebruik steeds baie van die regeringsdienste, die regering weier byvoorbeeld nie onderwys aan jou kinders indien jy belasting ontduik nie.
  • Ons moet belasting betaal ongeag of jy selfs nooit van die dienste gebruik maak nie en bly onderworpe tot die staat se regsstelsel, jy kry byvoorbeeld geen belasting afslag as jou kinders na ʼn privaatskool gaan of as jy van ʼn privaat sekuriteitsfirma gebruik maak vir beskerming nie. 

Huemer se beswaar is: Gegewe dat daar geen toepaslike alternatief tot menige van die staat se dienste is nie en die staat self ook nie ons politieke trou met die gebruik al dan nie van hul dienste koppel nie – is daar gevolglik geen manier om te redeneer dat ʼn geldige implisiete kontrak tussen die staat en die onderdane/burgers bestaan nie. Die argument sou geldig gewees het net as daar ʼn uitdruklike kontrak gemaak was. Die argument dat dit net “regverdig” is dat almal belasting betaal kan nie gemaak word tensy almal daartoe ingestem het nie. 

4)     Uitdruklike Verset: Nie net is daar geen uitdruklike of implisiete instemming nie, daar is meermale uitdruklike verset. David Hume skryf: Wanneer ʼn nuwe staat gestig word, is daar ongeag hoe daardie staat gestig word, ontevredenheid. Mense eerbied meer uit vrees en noodsaaklikheid as uit enige idee van getrouheid of morele verpligting. 

Dit wil voorkom of uitdruklike verset ons ook nie toelaat om uit die kontrak uit te ontsnap nie. As jy byvoorbeeld môre ʼn brief aan die regering van die territoriale gebied bekend as Suid-Afrika rig en aanvoer dat jy nie verder partydig tot hierdie kontrak wil wees nie, gaan jy nog steeds moet belasting betaal en onderdanig aan hul wette moet wees. Ongeag hoe die sosiale kontrak verdedig word, wil dit voorkom of dit ʼn ongeldige kontrak is, en slegs ʼn rookskerm vir die vergryping van mag. 

5)     Probleem van inklusiwiteit / eksklusiwiteit

 ʼn Goeie voorbeeld van ʼn implisiete kontrak wat werk is die gedragsreëls van meenthuis komplekse. Jy koop byvoorbeeld jou eenheid vanaf ʼn vrywillige verkoper en die partye wat betrokke is by die transaksie is jy die verkoper en die bank wat die finansiering voorskiet. Tog woon daar ander mense in die kompleks en is daar dan ʼn stel gedragsreëls wat help om onmin tussen die inwoners te beperk. In baie gevalle word die gedragsreëls nie uitdruklik onderteken nie, dit word as implisiet aanvaar. Die rede daarvoor is dat afgetrede nudiste en mense met troetel krokodille of mense wat dalk ou handgranate versamel nie almal ontstig nie. 

Die gedragsreëls eindig egter die oomblik wat jy by die hek uitry en enige verbintenis kan beëindig word deur hetsy jou eiendom te verkoop of huur op te neem by ʼn ander eiendom. Veronderstel egter ons meenthuis kompleks ontwikkelaar raak wispelturig en besluit dat hy ʼn ontwikkeling van stapel gaan stuur eksklusief vir krokodil eienaars, Jehova se getuies, nudiste, Chinese, gays, blankes, prostitute of golfspelers. Daar sal in so geval duidelik ʼn ondertekende kontrak moet wees en val die implisiete kontrak weg. Daar kan weliswaar beswaar aangeteken word dat sekere individue of groepe van individue dan per definisie uitgesluit sou kon word. Daar is egter geen dwangmatigheid betrokke nie, ʼn kontrak tussen twee individue sluit almal anders uit en dit is ʼn groot sprong om te redeneer vanaf:

  • Almal moet ingesluit KAN word

Na

  • Almal MOET ingesluit word.

 Hierdie selfde oorwegings geld dan ook vir die argumente wat gewoonlik tot stand kom rondom sesessie en etniese insluiting, waarom een dorp of streek binne hierdie sosiale kontrak moet val al dan nie. In ʼn klein definieerbare woonkompleks kan dit ingesien word waarom daar net een bestuursliggaam is, maar die staat se grense is uitgestrek, waar dit begin en eindig meermale onnatuurlike kunsmatige grense; Waar riviere of berge as natuurlike grense gebruik word is daar altyd etniese groepe wat in twee state as minderhede opeindig en aan albei kante weer multikulturele gemeenskappe wat nie by een van die twee sosiale kontrakte ingesluit wil word nie. 

6)     Ignoreer die ware menslike natuur as ʼn agent van aksie

 Filosowe kan letterlik eeue lank stry oor die natuur van die mens en wat natuurregte en geregtigheid werklik is en selfs oor wat werklikheid werklik is. Die beroemde ekonoom Ludwig von Mises, alhoewel hy geen gelowige was in enige teorie van natuurregte nie, het meer gedoen as enigeen om menslike aksie te bestudeer, dít wat hy Prakseologie genoem het. Die mens is dalk na alles ʼn uiters selfsugtige dier wat slegs aksie neem tot sy eie voordeel en niks anders nie, maar verstaan sosiale kontrak teoretici die gevolge daarvan? In sy meesterstuk Human Action lê hy inderdaad ʼn Hobbesiaanse oorlog van almal teen almal uit amper asof dit ʼn voorvereiste is vir die opkoms van die vryemark. Sy benadering word as te ware bekragtig deur Hobbes maar in sy verduideliking draai hy Hobbes onderstebo.   

Die mens is dalk totaal selfsugtig met beperkte hulpbronne, en tog sny ons mekaar se kele nie af om by ʼn brood in die kafee uit te kom nie. In die gedeelte The Harmony of the ‘Rightly Understood’ Interests stel von Mises dit dat omrede baie mense skoene wil hê – dit die fokus word van grootskaalse produksie, wat dit meer toeganklik en goedkoper maak as wat kleinskaalse produksie ooit sou kon bereik. 

Von Mises gaan voort: Die feit dat my medemens, nes ek, skoene wil hê, maak dit nie moeiliker vir my om skoene te bekom nie, maar makliker……Die katallaktiekse [of ekonomiese] kompetisie van ander wat nes ek gretig is om nuwe skoene te bekom maak skoene goedkoper en nie duurder nie” (Yale University Press, 1949, p. 670). 

Ter opsomming sluit hy af: “Wat vriendelike verhoudinge tussen mense moontlik maak is die hoër produktiwiteit en die verdeling van arbeid. Dit verwyder die natuurlike konflik van belange. Want waar daar ʼn verdeling van arbeid is, is daar nie meer ʼn distribusie vraagstuk na verskaffing wat nie vergroot kan word nie.” “ Die versterkte intensiteit van sosiale samewerking word van uiterste belang en wis alle essensiële belangebotsings uit. Katallaktiekse kompetisie vervang biologiese kompetisie” (p. 669). 

Mense met ʼn ekonomiese agtergrond sal verstaan dat dit die eenvoudige verdeling van arbeidsmodel is maar Von Mises lei iets dieppers hieruit af en gebruik die verdeling van arbeid as ʼn beginsel van probleemoplossing, in stede daarvan dat botsende begeertes en behoeftes uitgedruk word in konflik word gedeelde begeertes motiverende uitdrukkings van samewerking. Deur die verdeling van arbeid word die Hobbesiaanse konflik van belange op ʼn natuurlike wyse opgelos en ware biologiese konflik geminimaliseer. 

Die doel van hierdie tipe oorwegings is; Al verbeel ons eerder minimale politieke ordes en beslis geen politieke orde van ʼn monopolie aard nie, is daar steeds natuurlike prosesse wat konflik minimaliseer.   

Kritiek op hierdie soort besware 

1)     Daar word soms gesê dat mense wat hierdie soort besware opper nie werklik sosiale kontrak teorie verstaan nie. Dit is nie asof almal in Suid-Afrika letterlik bymekaar gekom het om ʼn ooreenkoms te sluit wat politieke mag op-wentel tot ʼn monopolie staat nie. Dit is slegs ʼn verduideliking van waarom ʼn redelike mens so ʼn reëling sou aanvaar eerder as verwysing na ʼn fisiese kontrak. Met ander woorde, wat redelike mense sal aanvaar eerder as iets wat hulle histories aanvaar het. Hierdie verduideliking kan verstaan word as ʼn is-proposisie verduideliking. Die probleem is dat dit nie waar is nie, die sosiale kontrak word as verduideliking voorgehou vir ʼn magdom funksies waarop die staat ʼn monopolie het, en is ook histories byvoorbeeld voorgehou as verduideliking teen sesessie. Dit is waarom ek in die inleiding tot die reeks gesê het dat die staat ook ontwikkel het aan die hand van hierdie sosiale kontrak verduidelikings. Die sprong word dus gemaak vanaf ʼn is-proposisie na ʼn moet-wees-proposisie toe, wat intellektueel oneerlik is.        

2)     Die ander kritiek is dat veral David Hume geen libertariër was nie en hy het bloot daarop gewys dat meeste state met die swaard tot stand kom, en dat hierdie tipe besware bokspring tussen die argumente van utilitariste en verskeie kontraktualiste en ekonome. Die antwoord daarop is eenvoudig dat al die argumente hier logies was, en niks behalwe logika is gebruik nie, dit is tog nie asof ons trigonometrie en biologie gemeng het om met dolosse op ʼn beesvelmat op te eindig nie.

 

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Politieke Filosofie, Regte and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.