Thomas Hobbes en die geboorte van Leviatan, die sterflike god

leviatan

Hierdie is ʼn uittreksel van: Politokrasie Hoofstuk 4 :

Die Grondlegging en die Grondlegging van Staatlikheid.

politokrasiePolitokrasie is ʼn moet lees vir enigeen geïnteresseerd in staatsleer en word uitgegee deur PULP uitgewers bestelvorm HIER beskikbaar.

2 Thomas Hobbes en die geboorte van Leviatan, die sterflike god.

Deur Prof Koos Malan

Teen die laaste kwart van die sestiende eeu is die konsep van staatlike soewereiniteit in veral Frankryk en Engeland gevestig. In Frankryk in die besonder het staatlike soewereiniteit met monargale absolutisme gepaard gegaan. Ook in Engeland het die pro-absolutistiese stroming sterk stoom opgebou. Vorstelike absolutisme kom eenvoudig daarop neer dat die koning se gesag nie aan enige reëls gebonde was nie. Dit was absoluut (absoluta), aangesien dit aan geen juridiese geldigheidsmaatstawwe onderhewig was nie.[44] 

Jean Bodin en Thomas Hobbes (1588-1679) was die prominentste apologete vir absolutisme. Hulle was egter ingebed in ʼn breë Europese tendens ten gunste van absolutisme en teen wedywerende plaaslike (nie-sentralistiese) en kerklike aansprake op politieke gesag.

Quentin Skinner verduidelik byvoorbeeld dat die indruk wat soms gewek word dat Hobbes ʼn ideologies geïsoleerde figuur was, nie korrek is nie.[45] Hobbesiaanse absolutisme het onder meer gekwalifiseerde ondersteuning van Samuel Pufendorf, een van die voorste internasionaalregtelike juriste van daardie tyd, geniet,[46]terwyl Hobbes ook in Engeland dikwels — soms goedkeurend — aangehaal is. 

Die apologieë wat vir absolutisme aangevoer is, het egter wyd uiteengeloop. Sommige teoretici het hulle daarop toegespits om pro-kerklike magsaansprake teë te gaan en het hulle daarom daarop toegespits om vorstelike absolutisme op grond van die goddelike reg van konings te regverdig. Onder hulle tel William Barclay,[47] wat aan die begin van die sewentiende eeu ʼn invloed op die absolutistiese oortuigings van die Engelse koning James I uitgeoefen het[48] en ook natuurlik James self, wat aanvanklik oor Skotland en later ook oor Engeland regeer het. James was sekerlik die bes gekwalifiseerde vorstelike eksponent van absolutisme. Hy was daarvan oortuig dat die vors aan geen wêreldlike gesag onderworpe was nie en dat die vors oor ʼn onvervreembare reg op gesagsuitoefening beskik het, met inbegrip van die bevoegdheid om wette te maak.[49] James verwerp ook die gedagte dat die vors aan die gemenereg onderworpe is en kom juis as gevolg hiervan in hewige botsing met sommige Engelse gemenereg-juriste soos Edward Coke. Dié aspek kom in hoofstuk 8.3.4 ter sprake. 

Bodin se invloed op James was veral sigbaar in laasgenoemde se beskouing oor godsdiensvryheid. Net soos Bodin was James ook van oortuiging dat godsdiensvryheid genoodsaak is deur die instandhouding van staatstabiliteit.[50] Juis op grond van hierdie beskouing het James enige politieke gesagsaansprake van die kerk — sowel Katoliek en Calvinisties — verwerp.[51] James was in dié opsig ook volledig in pas met sy gedeeltelike tydgenoot, Henri IV (van Navarre) van Frankryk. 

In Engeland het die regverdiging vir vorstelike absolutisme in die laaste kwartaal van die sestiende eeu met die werk van sir Thomas Smith begin stoom opbou. Aanvanklik is volskaalse absolutisme egter nie bepleit nie. In die tydperk vanaf James I tot met die ontseteling van Charles I, met ander woorde vir bykans die hele eerste helfte van die sewentiende eeu, het vorstelike absolutisme egter sterk op die voorgrond getree as ʼn teorie van onbeperkte vorstelike gesag. Na die burgeroorlog was die rojaliste defensief en merkbaar minder absolutisties.[52] Robert Filmer[53] was die laaste om (op grond van hoofsaaklik historiese argumente)[54] ʼn kragtige, maar grootliks anachronistiese pleidooi vir absolutisme te lewer. Dit was egter ʼn laaste stuiptrekking want na die Glorious Revolution van 1689 het absolutisme geen beduidende aanhang meer in Engeland gehad nie.[55] 

Hobbes het hom radikaal van al die ander rojaliste onderskei. Hy was geen gewone absolutis nie. Anders as die eksponente van die goddelike reg van konings, wat weens hulle fokus op kerklike aansprake op politieke mag noodwendig religieus moes argumenteer,[56] was Hobbes se benadering modern en sekulêr. Vir Hobbes kom die staat tot stand vanweë individue se behoefte aan vrede en stabiliteit.[57] 

Hobbes se politieke uiteensettings bly vandag steeds van die allergrootste belang. Absolutisme was maar slegs ʼn klein onderafdeling van Hobbes se opvattings. Die res van sy insigte en beskouings het sy oortuigings oor absolutisme eeue lank oorleef en is vandag nog daaglikse lewende praktyk. 

Anders as Bodin wat hom hoofsaaklik met die klaaglike onstabiliteit van die Franse staat van sy tyd bemoei het, gee Hobbes beslag aan ʼn rasioneel ontwerpte en universeel geldende[58] teorie oor die ontstaansoorsaak en aard van die staat, asook oor die funksies van die owerheid in die staat. Hobbes se politieke teorie is derhalwe nie beperk tot die Engeland van sy tyd nie. Dit is ʼn algemeen geldende politieke teorie wat die basiese karaktertrekke van die nuut ontstaande soewereine territoriale staat in perspektief stel.[59]

Hobbes is egter grondig deur die besonder dramatiese omstandighede van sy tyd beïnvloed. Die sewentiende-eeuse agtergrond waarteen Hobbes sy werk lewer, is een waarin individualisme toenemend op die voorgrond tree. Die antropologiese materiaal waarmee Hobbes, soos ander kommentators van sy tyd gehandel het, was nie die gemeenskap nie, maar wel soos Michael Oakeshott dit stel:

… the independent, enterprising man out to seek his intellectual or material fortune, and the individual human soul responsible for his own destiny …[60]

Bowendien kry Hobbes se opvattings beslag teen die agtergrond van die Engelse burgeroorlog,[61] wat sy mees oorheersende onmiddellike bekommernis was.[62] Ofskoon Hobbes se beskouings nie deur die oorlog veroorsaak is nie, is hy beslis daardeur beïnvloed. Ook ander invloede het op Hobbes ingewerk, soos die ontdekking van die Amerikas en die getuienis oor die leefwyse van die Amerikaanse Indiane. Dit het historiese ondersteuning aan Hobbes se beskouing oor die natuurstaat verskaf.[63] Ofskoon daar spesifiek histories gebonde invloede op Hobbes ingespeel het, is daar egter tereg oor sy werk opgemerk dat dit nie ʼn blote apologie vir die Stuart-monargie van die destydse Engeland, of vir despotiese regering was nie, maar die eerste volskaalse politiek-teoretiese werk in die Engelse taal.[64] Dit was die eerste politiek-teoretiese werk waarin die fundamentele aard van die moderne territoriale staat op ʼn rasionalistiese wyse blootgelê is.[65] 

Hobbes breek met die Aristoteliese beskouing dat die mens grondliggend ʼn sosiale wese is.[66] In al drie sy politieke werke Elements of Law, De Cive en Leviathan begin hy met ʼn uiteensetting van die menslike natuur. Die mens word in al drie die werke as ʼn vryswewende individu beskryf. Hobbes het algaande meer oortuig geraak dat individue ʼn radikaal atomistiese en wedersyds afsydige bestaan voer en al hoe meer skepties oor die moontlikheid van daadwerklike menslike sosiale gemeenskap geraak.[67] Elke individu koester op selfstandige wyse die realisering van sy/haar persoonlike behoeftes en die vermyding van dit wat persoonlik onaanvaarbaar is. Die mees grondliggende beweegrede vir individuele optrede is juis hierdie botsende individuele appetites and aversions. Individue is eksistensieel van mekaar verwyder en is daarom nie in staat om grondig en betroubaar met mekaar te kommunikeer nie. Gevolglik beskik hulle ook nie oor die vermoë om hulle onderlinge botsende aansprake by te lê nie. Dit bring mee dat individue in ʼn atmosfeer van voortdurende wedersydse agterdog jeens mekaar lewe, en poog om fundamenteel botsende aansprake en behoeftes te verwesenlik. Alle mense tree so op. Dit lei tot ʼn toestand van algemene konflik. Die enigste rasionele wyse om die konfliksituasie te hanteer is om na mag te streef. Deur in ʼn gunstiger magsposisie as ander individue te verkeer, kan die verwesenliking van individuele behoeftes verseker word. Dit het natuurlik terselfdertyd die effek dat ander minder magtige individue daarvan weerhou word om hulle (botsende) aansprake en behoeftes te laat realiseer. Die aangewese handelswyse vir elke individu is om persoonlike mag te maksimaliseer ten einde ander individue te troef: mag moet opgebou word sodat botsende mag die hoof gebied kan word. Dienooreenkomstig beskryf Hobbes mag in dinamiese terme, naamlik mag in ʼn deurlopend antagonistiese verhouding met botsende mag, en netto oormag in vergelyking met teenstrydige magsaansprake.

And because the power of one man resisteth and hinderith the effects of the power of another; power simply is no more, but the excess of the power of one above that of another.[68]

Elke individu verkeer in ʼn voortdurende stryd om oormag teen ander individue. Nou is dit ook so dat almal nie dieselfde behoeftes en aansprake het nie en dat baie mense heel gematig is. Aan die ander kant is daar egter ander mense wie se behoeftes so wydlopend is, dat hulle selfs op die basiese behoeftes van meer gematigde mense ʼn kleim afsteek. Weens die algemene aanwesigheid van magsug by alle mense (ten einde persoonlike behoeftes te bevredig) en die uitermatige magsug van sommiges (ten einde hulle buitensporige behoeftes te bevredig), is die natuurlike situasie waarin die mens in die natuurstaat verkeer ʼn algemene oorlogstoestand.

I put for a generall inclination of all mankind, a perpetuall and restlesse desire of Power after power, that ceaseth only in Death. And the cause of this is not always that a man hopes for a more intensive delight, than he has already attained to, or that he cannot be content with a moderate power: but because he cannot assure the power and means to live well, which he hath present, without the acquisition of more.[69]

Wat die situasie in die natuurstaat des te meer onhoudbaar maak, is dat Hobbes leer dat mense nie net wat betref hulle behoeftes en verwagtings nie,[70] maar ook wat betref hulle vermoëns, fundamenteel gelyk is.

For as to the strength of the body, the weakest has the strength enough to kill the strongest, either by secret machination, or by confederacy with them, that are in the same danger with himself.[71]

As die natuurlike situasie een van ongelykheid was, sou daar orde gewees het, al was dit ʼn hiërargies gestruktureerde orde. Die toestand van gelykheid werk egter juis die impasse van ʼn onophoudelike en onbesliste stryd in die hand, wat Hobbes in die volgende beroemde passasie in Leviathan so beskryf:

In such condition, there is no place for Industry; because the fruit thereof is uncertain: and consequently no Culture of the Earth; no Navigation, nor use of the commodities that may be imported by Sea; no commodious Building, no Instruments of moving, and removing such things that require much force; no Knowledge of the face of the Earth; no account of Time; no Arts; no Letters; no Society; and which is worst of all continuall feare, and danger of violent death; And the life of man, solitary, poore, nasty, brutish and short.[72]

Hierdie voorstelling van die natuurstaat is somber, maar die rasioneel geïnspireerde uitvlug uit dié klaaglike toestand is ook latent in die voorstelling opgesluit. Die saak staan so: Die voortdurende doodsvrees wat die mens in die natuurstaat teister, noop hom om met die hulp van sy rasionele vermoëns na ʼn beter toestand, naamlik dié van die staat — die commonwealth — te ontsnap. Die commonwealth word by wyse van ʼn sosiale kontrak in die lewe geroep.

Hobbes verduidelik die rasionele weg na die totstandkoming van die staat by wyse van die sosiale kontrak deur te verklaar dat elke mens oor sekere natuurlike regte beskik, naamlik die reg op lewe, liggaam en besittings. Elke mens het ook die onvervreembare reg ter verdediging van hierdie regsbelange. In die natuurstaat kan daar weens die onsekere toestand waarin mense verkeer — weens die bellum omnia contra omnes (die oorlog van almal teen almal) — nie na hierdie basiese belange omgesien word nie. Hobbes se skets van die mistroostige toestand wat in die natuurstaat heers, maak dit juis duidelik dat die natuurstaat die realisering van hierdie fundamentele regte verhoed. Vir die verwesenliking van hierdie regte is dit rasioneel gebiedend dat die commonwealth deur middel van die sosiale kontrak in die lewe geroep word. 

Alle individue is partye tot hierdie sosiale kontrak. Met hierdie kontrak kontrakteer alle individue onderling met alle ander individue. Die prestasies (optrede) waartoe elke individuele kontraktant ingevolge die kontrak verplig is, is dat elkeen sy natuurstaatlike reg om persoonlik oor sy eie belange te beskik en dit te beskerm, prysgee, met dien verstande dat elke ander kontraktant ook sy natuurstaatlike reg dienooreenkomstig opsê. Ingevolge die kontrak dra almal dan hulle natuurstaatlike regte tot persoonlike belangebeskerming (dit wil sê om eiereg te gebruik) aan ʼn enkele persoon of ʼn enkele vergadering van persone oor.[73] Daarna het hierdie persoon of vergadering die permanente verpligting om doeltreffend na die natuurlike regte van elke kontrakterende individu om te sien. 

Die totstandkoming van die staat (commonwealth) is uitsluitlik daarop gemik om die natuurlike individuele regte waaroor elke persoon beskik, naamlik om na sy voortbestaan en materiële welsyn om te sien, te bestendig en te stabiliseer.[74] Met die totstandkoming van hierdie commonwealth of, in Hobbes se woorde, die Mortall God,[75] word die veelheid van antagonistiese individuele wille wat die natuurstaat so miserabel gemaak het, gekondenseer tot n enkele wil. Dit is die magtige wil van die regering van die staat, die Leviatan, oftewel die sterflike god, synde die:

… Mortall God to which we owe, under the Immortal God, our peace and defence.[76]

Die begrippe staat (commonwealth) en regering is vir Hobbes so heg verwant dat daar nie ʼn onderskeid tussen die twee getref kan word nie. Die staat is per definisie ʼn entiteit met ʼn enkele gesentraliseerde owerheid. Indien met laasgenoemde weggedoen word, is eersgenoemde ook onbestaanbaar. Die staat (en die regering) dank sy bestaan en sy legitimiteit aan die feit dat hy ’n doeltreffende beskermer van individuele regte is. Dit is immers die rede waarom dit tot stand gekom het. Leviatan is, ofskoon hy doeltreffend moet wees, egter geen tiran nie en hy kan ook nie maak soos hy wil nie. Die bestaansoorsaak van die staat is dat dit die ewige vreesteistering en belangeskendings van die natuurstaat moet verwyder en veiligheid en regsbeskerming in die plek daarvan moet plaas.[77] In die lig van die feit dat Hobbes se Leviatan hierdie verpligting het, is dit geensins so absolutisties soos daar dikwels geglo word nie. Leviatan — die sterflike god — moet sy plig tot belangebeveiliging nougeset nakom. Indien Leviatan buite die perke van sy pligte optree, verval die verpligting om Leviatan te gehoorsaam. Die soewerein kan ook nie die onderdaan verplig om tot sy eie nadeel op te tree nie. Daar is in Hobbes se denke egter geen meganismes waarmee die soewerein tot die uitvoer van sy pligte gedwing kan word nie. Hobbes wil trouens ook nie sulke meganismes hê nie, want hy vrees dat dit die integriteit van die soewereine regering tot nadeel van die onderdane kan ondermyn. Die soewereine mag van die staat is daargestel om die onderdane te beskerm. Indien dit deur kontrolemeganismes aan bande gelê word, kan dit tot nadeel van die bevolking strek. Om dié rede is die pligte van die regering ingevolge die sosiale kontrak ook nie uitgedruk in terme van ooreenstemmende regte wat in die onderdane setel nie. Dit word daarenteen eerder hanteer in terme van verpligtinge wat op die owerheid rus. Hobbes kom om hierdie rede moontlik ietwat onmodern voor. Hierdie indruk is egter verkeerd, want moderne (tweede-generasie) ekonomiese regte, soos dit byvoorbeeld in die Internasionale Verbond vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte[78] en die Europese Sosiale Handves[79] vervat is, plaas ook nie die klem op die vestiging van regte in individue nie, maar eerder op verpligtinge wat op die staat rus. 

Volgens Hobbes moet die owerheid dit op hom neem om nie net vrede en veiligheid te waarborg nie maar om ook sekere stappe ter bevordering van sosio-ekonomiese belange te doen.[80]

Die rasionele oogmerk waarvoor die staat tot stand kom, is om tot voordeel van individuele staatsonderdane mag uit te oefen. Ofskoon Hobbes se sterflike god weens die soewereine mag wat dit uitoefen kragtig is, is dit terselfdertyd ʼn voordelige entiteit. In die lig hiervan is dit gepas om Hobbes as die wegbereider van verligte despotisme te tipeer, eerder as ʼn pleitbesorger vir ongebreidelde absolutisme. Die voordele wat die owerheid vir die onderdane moet bewerstellig, plaas Hobbes ook in die utilitêre kader. Soos Ebenstein dit stel:

The Hobbesian monarch cannot hide his ineffectiveness behind divine or traditional authority. He must ‘deliver the goods’ if he is to retain his regal office.[81]

Hobbes se verligte despotisme en sy (vermeende) absolutisme is ver verwyderd van enige vorm van staatstotalitarisme. Hy lewer sy werk voor die era van die totalitêre staat.[82] Sy Leviatan betrek nie die bevolking by ideologiese en sosio-ekonomiese programme nie. Totalitêre politiek behels dat die onderskeid tussen die burgerlike en private sfeer aan die een kant teenoor en die openbare domein aan die ander kant ontken word en dat die staat tot in die fynste besonderhede ook die gang van individue se private lewens en burgerlike bedrywigheid stuur.[83] Dit kom geensins by Hobbes voor nie. Hobbes se staat handhaaf vrede, orde en stabiliteit en hou hom binne die eng omskrewe parameters van die openbare terrein.[84] Die Hobbesiaanse staat reguleer en versag bloot individuele antagonisme en konflik en fasiliteer individuele verhoudings in die bourgeoisie-staat. 

Ofskoon Hobbes nie totalitêr is nie, gee hy sterk voorkeur aan die gedagte van die monistiese staat. Gevolglik is hy baie lugtig vir enige vorm van pluralisme. Hierdie sentiment is ʼn logiese uitvloeisel van sy hele staatsteorie: die staat kom tot stand met die oog daarop om vrede te bring en in stand te hou. Wanneer groeperinge ontstaan, tree die moontlikheid van onderlinge twis na vore, wat die staat in burgeroorlog kan dompel en trouens die gevaar meebring dat die voortbestaan van die staat in die gedrang kan kom. Die Engeland en Europa van Hobbes se tyd bied juis weens die intense konflik wat daar toe geheers het, oorvloedige getuienis van die gevaar verbonde aan verskillende groeperinge in een staat. Hobbes se oorheersende vrees was daarom juis dat burgeroorlog weer kon uitbreek.[85] Die wortel van die kwaad van burgeroorlog is die uiteenlopende opvattings en oortuigings van verskillende groepe in ʼn plurale staat wat, indien dit nie behoorlik beheer word nie, kan oorgaan tot daadwerklike konflik. Om vredesonthalwe moet die owerheid dus beheer uitoefen oor die wortel van die kwaad, naamlik oor die uiteenlopende oortuigings binne die staat. Sodoende kan burgeroorlog verhoed word.

It belongeth therefore to him who hath the Sovereign Power, to be the Judge, or constitute all Judges of Opinions and Doctrines, as a thing necessary to Peace, thereby to prevent Discord and Civill Warre.[86]

Die vrees vir die konflikpotensiaal van antagonistiese oortuigings verklaar waarom Hobbes van mening was dat die staat doktrinêre beheer oor die kerk moes uitoefen. Sodoende moes die staat verhoed dat die kerk deur ondermynende leerstellings mense tot aktivisme beweeg wat die staat kon ondermyn en die openbare orde kon versteur.[87] 

Ofskoon Hobbes en Bodin verskil oor die besonderhede van die presiese wyse waarop godsdiens en die kerke hanteer moes word, is hulle dit roerend eens oor die breë strategiese oogmerk, naamlik dat godsdienstige denominasies op so wyse hanteer moes word dat dit nooit die stabiliteit van die staat sal bedreig nie. Vir sowel Bodin as Hobbes is godsdienstige dogma irrelevant. Hulle benader die kwessie van godsdiens vanuit ʼn strategiese oogpunt deur slegs te fokus op dit wat die beste vir die instandhouding en integriteit van die staat sal wees. Albei sien in pluraliteit ʼn potensiële bedreiging vir die integriteit van die staat en die handhawing van die openbare orde. Net soos die Politiques, maak Hobbes ʼn waardekeuse ten gunste van formele vrede (gehandhaaf deur Leviatan), en verwerp hy ook die gedagte dat die staat ʼn karakter eie aan enige van die groeperinge in die staat moet hê. Hobbes sit die Politiques-geïnspireerde afkeur van groepvorming in die staat voort, en ook hy leer dat die beheer oor groepe en groepvorming volledig aan die oordeel van die soewerein oorgelaat moet word. 

Hobbes se afkeur van (potensieel ondermynende) pluraliteit bring mee dat die enigste entiteite waarvoor daar uiteindelik in sy staatsteorie plek is, die staat en die individu is. Vir groepe is daar ruimte, met dien verstande dat hulle die etiket streng privaat vertoon, en nougeset volgens dié etiket optree. Dit beteken dat groepe geen openbare politieke profiel mag hê en geen ingreep in die openbare domein mag maak nie. Leviatan moet daarvoor sorg.

Die belangrikste aspek van Hobbes se staatsteorie is dat hy uitgaan van die aanname van ʼn radikale afwesigheid van enige daadwerklike menslike gemeenskap. Hy verteenwoordig die prototipiese antitese van ʼn kommunitêre sienswyse en politieke bestel. Vir hom is daar geen gemeenskap nie, maar slegs ʼn klomp mense — a multitude of men — wat in wedersydse wantroue, agterdog, spanning en onverklaarde oorlog teen mekaar wedywer met die oog op die verwesenliking van antagonistiese individuele oogmerke. Die staat probeer ook nie gemeenskap skep nie en bepaal hom by sy hooftaak — eintlik sy enigste taak — naamlik om te sorg dat wedywerende individue mekaar nie uitroei nie. Die staat is nie die vergestalting van menslike gemeenskap, oftewel die burgery se res publica nie, maar is bloot die mag en die skeidsregter wat die antagonistiese optrede van kompeterende individue binne perke moet hou. Wanneer dié mag/skeidsregter onttrek, hervat die onbeheerste stryd van die natuurstaat in al sy felheid. Die staat is dus slegs ʼn juridiese instelling; dit is geen gemeenskap nie. 

Die radikale afwesigheid van menslike gemeenskap en die hantering van die menslike samelewing as een van antagonistiese individuele atome wat vyandig teen mekaar meeding, is die grondliggende aanname van die Hobbesiaanse staat en die Hobbesiaanse staatsteorie. 

In die eeue sedert Hobbes het hierdie aanname dieselfde gebly. In die hedendaagse regsteorie en -praktyk word steeds, en grotendeels onnadenkend, met presies dieselfde aanname gewerk. Daar is, soos aanstons aangedui sal word, sekere kontemporêre instellings soos menseregte wat, ofskoon dit met die eerste aansien lyk asof dit ʼn baie positiewer beskouing van die menslike samelewing het, tog steeds van dieselfde veronderstelling uitgaan.

Notas

  • [44] E Lousse ‘Absolutism’ in H Lubasz (red) The development of the Modern State (1964) 43.
  • [45] Q Skinner ‘The ideological context of Hobbes’ political thought’ (1966) 17 Historical Journal 286 et seq.
  • [46] Skinner (n 45 hierbo) 291.
  • [47] GH Sabine A History of Political Theory (1971) 93-394.
  • [48] HM Chew King James I in FJC Hearnshaw The social and political ideas of some great thinkers of the sixteenth and seventeenth centuries (1967) 111.
  • [49] Chew (n 48 hierbo) 115-116.
  • [50] Chew (n 48 hierbo) 123, 129.
  • [51] Chew (n 48 hierbo) 112.
  • [52] J Daly ‘The idea of absolute monarchy in seventeenth century England’ (1978) 21 The Historical Review 235-239.
  • [53] Sien onder andere JGA Pocock (1957) The Ancient Constitution and the Feudal Law 151-156; Daly (n 52 hierbo) 244-245; Sabine (n 47 hierbo) 512-514.
  • [54] WH Greenleaf ‘Filmer’s patriarchal history’ (1966) 9 The Historical Journal 157 et seq.
  • [55] Daly (n 52 hierbo) 244-245.
  • [56] Chew (n 48 hierbo) 127-128.
  • [57] Böckenförde (n 37 hierbo) 39-40.
  • [58] Die breuk wat Hobbes in die staatsfilosofie meegebring het, strook met die breë filosofiese tendens van sy tyd waarvolgens die Middeleeuse Skolastiek finaal gediskrediteer is en die Rede as bron van menslike kennis sterk op die voorgrond getree het. Sien H-J Störig (1979) Geskiedenis van de Filosofie Vol I 302 en in die algemeen S Hampshire (1956) The age of reason: the seventeenth century philosophers.
  • [59] Soos Ebnestein (n 1 hierbo) 364 dit stel: The Leviatan is not an apology for the Stuart monarchy, nor a grammar of despotic government, but a first general theory of politics in the English language. (Eie beklemtoning).
  • [60] M Oakeshott Rationalism in politics and other essays (1962) 251.
  • [61] A Vincent Theories of the State (1987) 52; Sabine (n 47 hierbo) 456.
  • [62] CB Macpherson Introduction to Thomas Hobbes’ Leviathan (1955) 9.
  • [63] R Ashcraft ‘Hobbes’ Natural Man: A Study in Ideology Formation’ (1971) 33 Journal of Politics 1097.
  • [64] Ebenstein (n 1 hierbo) 364.
  • [65] In hierdie wesenlike opsig sluit Hobbes aan by die rasionalistiese intellektuele klimaat van daardie tyd, soos dit veral uit die werk van René Descartes (1596–1650) blyk. Descartes, klaarblyklik diep geraak deur die ontwrigting van sluipmoord op Henri IV en die verwoesting van die Dertigjarige Oorlog, poog om ’n onaanvegbare intellektuele strategie te vind wat sekerheid van kennis (in die wetenskap) kon bewerkstellig, maar wat vir die politiek wat juis op daardie stadium in ’n groot krisis verkeer en so aan bloedige konflik uitgelewer is, ewe belangwekkend is. Descartes vind hierdie onaanvegbare strategie nie in die tradisie van gemeenskapskennis en wysheid nie maar in net een ding wat volgens Descartes seker is, naamlik die individu se wete van die bestaan van sy eie verstand. Dit is vanuit die individuele verstand wat kennis rasioneel bedink kan word en by implikasie ’n openbare orde ook rasioneel ingerig kan word. Sien hieroor in die algemeen S Toulmin Cosmopolis: The hidden agenda of modernity (1990) veral 45–88.
  • [66] CD Tarlton ‘The Creation and Maintenance of Government: A Neglected Dimension of Hobbes’ Leviathan’ (1978) 26 Political Studies 311.
  • [67] B Missner ‘Skepticism and Hobbes’ political philosophy’ (1983) 44 Journal of the History of Ideas 407 et seq; Kommentare op Hobbes se werk wissel ook na gelang van welke werk die hoofbron/ne van die betrokke kommentaar is. Kommentare waarin hoofsaaklik op Elements of Law en De Cive gesteun word, soos dié van R Tuck Hobbes (1989) gee aanleiding tot dieselfde wederyds antagonistiese toestand waarin die mens in die natuurtstaat verkeer as kommentare wat swaar op Leviathan steun nie.
  • [68] Thomas Hobbes The Elements of Law: Natural and Political (onder redaksie van F Tönnies (1969) Deel I hfst 8.4 34.
  • [69] Thomas Hobbes Leviathan (1985) 161.
  • [70] Hobbes (n 69 hierbo) 184.
  • [71] Hobbes (n 69 hierbo) 183; Sien ook Hobbes (n 68 hierbo) Deel I hfst 14.1.2. 70.
  • [72] Hobbes (n 69 hierbo) 186; die beskrywing van die natuurstaat is soortgelyk in Hobbes (n 68 hierbo) Deel I hfst 14.12 73.
  • [73] Hobbes (n 69 hierbo) 227.
  • [74] T Nagel ‘Hobbes’ Concept of Obligation’ (1959) 68 The Philosophical Review 69, 74, 91.
  • [75] Hobbes (n 69 hierbo) 227 (Die Latynse term civitas word as sinoniem vir commonwealth gebruik.)
  • [76] Hobbes (n 69 hierbo) 227.
  • [77] MacPherson verduidelik dat die Hobbesiaanse politieke teorie in diens staan van die bourgeoisie-gemeenskap, wat by uitstek orde en stabiliteit behoef ten einde private belange so ongestoord as doeltreffend moontlik na te jaag. Sien Macpherson (n 62 hierbo) 51-63.
  • [78] Verenigde Nasies-konvensie wat kragtens resolusie 2200 van die Algemene Vergadering op 16 Desember 1966 aangeneem is en op 3 Januarie 1976 in werking getree het.
  • [79] Konvensie van die Europese Raad wat op 18 Oktober 1961 aangeneem is en op 26 Februarie 1965 in werking getree het.
  • [80] Sien byvoorbeeld Tuck (n 67 hierbo) 70-72.
  • [81] Ebenstein (n 1 hierbo) 369.
  • [82] Vir ‘n onderskeid tussen die konsepte absolutisme en totalitarisme sien byvooerbeeld Lousse (n 44 hierbo) 44-45.
  • [83] G Sartori Democratic Theory (1962) 146.
  • [84] Ebenstein (n 1 hierbo) 370.
  • [85] Aldus Macpherson (n 62 hierbo) 9.
  • [86] Hobbes (n 69 hierbo) 233.
  • [87] Sien hieroor in die algemeen EJ Eisenach ‘Hobbes on church, state and religion’ (1982) in History of political thought (1982) 217 en veral ook 236-237; Tuck (n 67 hierbo) 73-74; Tarlton (n 66 hierbo) 321-322.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Geskiedenis, Politieke Filosofie and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.