Fascisme as ʼn Linkse Ideologie

Hitler en Mussolini Junie 1940

Deur Keith Preston

Die algemeen aanvaarde Links/Regs model van die politieke spektrum beskou fascisme en Marxisme as teenoorgesteldes van mekaar. Marxisme word beskou as ʼn ekstremistiese linkse ideologie terwyl fascisme veronderstel is om ʼn ideologie te wees wat so ver regs is wat mens kan kry. ʼn Boek wat in 2001 verskyn het deur ʼn Sweedse historikus en regsgeleerde wat tans in Spanje bly, Eric Norling se Revolutionary Fascism, gaan in diepte in om hierdie persepsie van fascisme soos dit deur Mussolini en sy volgelinge verbeel en uitgevoer was as ʼn regse ideologie, uit te daag.

Norling verduidelik hoedat Mussolini regdeur sy lewe vanaf sy kinderdae tot en met die Eerste Wêreld Oorlog homself trots as ʼn linkse radikaal beskou het in lyn met sy tydgenote soos Eugene V Debs. Hy was in ʼn sekere sin wat later bekend sou word as ʼn “red diaper baby”. (bedoelende dat hy die kind van revolusionêre sosialistiese ouers was). As ʼn jongman was Mussolini ʼn oortuigde Marxis asook antiklerikaal ten opsigte van die Katolieke kerk. Om militêre diens vry te spring het Mussolini Switserland toe gevlug en word toe boonop daarna gearresteer vir die organisasie van militante stakings. Uiteindelik word hy die leier van die Italiaanse Sosialistiese Party en word in 1911 weer gearresteer vir anti-oorlogsaktiwiteite wat verband gehou het met Italië se militêre inval in Libië. Mussolini was tot so ʼn mate ʼn prominente sosialis op daardie stadium van sy loopbaan dat Lenin in Rusland sy eer besing het en hom beskou het as die regmatige leier van die toekomstige Italiaanse sosialistiese staat.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreld Oorlog in 1914 het Mussolini die Italiaanse Sosialistiese Party se weerstand tot die oorlog gehandhaaf, maar in die daaropvolgende maande sy posisie verander ten gunste van die oorlog en is daarvoor uit die Sosialistiese Party uit geskors. Hy het by die weermag aangesluit en is later tydens ʼn veldslag gewond. Die redes vir Mussolini se drastiese verandering in sy siening van die oorlog is van kardinale belang om die ware natuur van fascisme en die plek wat dit inneem in die konteks van die twintigste eeu se politiek en intellektuele geskiedenis te verstaan. Mussolini het die oorlog begin sien as ʼn anti-imperialistiese stryd teen die Habsburg dinastie van Oostenryk- Hongarye. Verder het hy die oorlog ook begin sien as ʼn anti-monargiese stryd teen konserwatiewe magte soos die Ottoman Turke, Habsburgers en die Hohenzollern van Duitsland, hy het geglo dat hierdie regimes sosialisme onderdruk en dus reaksionêre vyande is. Heel profeties het Mussolini ook geglo dat Rusland se deelname aan die oorlog die land so sal verswak tot op die punt dat Rusland heel vatbaar sal kan raak vir ʼn sosialistiese revolusie, en dit is ook presies wat gebeur het. Mussolini het dus die oorlog begin sien as ʼn metode om ʼn linkse revolusionêre stryd in Italië en elders van stapel te stuur.

Met die stigting van die Italiaanse fascistiese beweging in 1919 was meeste van die leiers en teoretici, nes Mussolini, voormalige Marxiste of afkomstig uit ander radikale linkse bewegings, soos die voorstanders van Georges Sorel se revolusionêre sindikalisme. Die amptelike beleid wat deur die fasciste uitgereik was, waarvan daar vertalings in Norling se boek verskyn, reflekteer ʼn redelike standaardmengsel van republikeinse en sosialistiese idees wat algemeen was tot enige linkse politieke groep van daardie era. Indien die bewyse inderdaad daarop neerkom dat Fascisme sy oorsprong en inspirasie in ver-linkse idees het, vanwaar kom fascisme se reputasie as ʼn ver-regse ideologie dan vandaan?

Die antwoord is ʼn kombinasie van drie primêre faktore: Marxistiese propaganda wat ongelukkig hul merk gelaat het in die hoofstroom historiese beskouing; Die hervertolking van linkse revolusionêre leerstellings deur fascistiese leiers van die tyd; en laastens en dalk die belangrikste die onafwendbare vennootskappe en kompromieë wat die fasciste aangegaan het in hul opmars na en behoud van staatsmag. Aangaande die eerste twee van dié beskryf David Ramsay Steele die algemene Marxistiese interpretasie van Fascisme in ʼn belangrike artikel oor fascisme se geskiedenis as volg:

In die 1930’s het die siening van “fascisme” in die Engelssprekende wêreld getransformeer vanaf ʼn eksotiese, selfs elegante Italiaanse nuwerwetse konsep tot ʼn allesomvattende simbool van boosheid. Onder die invloed van linkse skrywers is ʼn siening van fascisme gepromoveer en versprei wat tot en met die hede dominant onder denkers en akademici bly. Hierdie siening verloop ietwat soos volg:

Fascisme is kapitalisme sonder die vriendelike masker. Dit is ʼn instrument van groot sakebelange, sogenaamde “Big Business” wat demokraties heers totdat dit enigsins bedreig voel en dan fascisme ter beskerming loslaat. Mussolini en Hitler het hul mag verkry deur die ondersteuning van magtige besighede omrede hulle bedreig was deur die revolusionêre werkersklas. Hiernaas moet daar darem verduidelik kan word hoe fascisme dan ʼn massa beweging kan wees wat nie deur magtige sake belange georganiseer word nie en ook nie daardeur gelei word nie. Die algemene verduideliking is dat fascisme dit doen deur die uitgeslape gebruik van rituele en simbole. Fascisme word dan beskryf as ʼn leë intellektuele leerstelling sonder enige intellektuele inhoud, of alternatiewelik word die inhoud as onsamehangende poespas beskryf. Fascisme se aantrekkingskrag as ʼn geval van emosies eerder as idees wat steun op ideologiese lofsang, vlag verafgoding en ander rituele wat niks meer is nie as irrasionele instrumente van die fascistiese leiers wat deur sakebelange uitgekoop is om die massas te beheer.

Hierdie algemene linkse “analise” en seining van fascisme duur steeds voort, en help om te verduidelik waarom politieke bewegings wat uit pas uit is met “aanvaarde standaarde” of self in enige stryd met ʼn regering is, so maklik die F-woord vir hulself op die hals jaag deur nostalgiese neo-liberale en ander linkses.

Die realiteit van Fascisme se oorsprong was heel anders. Die oorspronklike organisasie daarvan was deur ʼn verskeidenheid linkse denkers en politieke figure wie se algemene verwysingspunt die bewuswording was dat Marxisme se klasbewussyn uiteensetting van die geskiedenis foutief en onwerkbaar was. Soos Steele waarneem:

Fascisme het begin as ʼn hersiening, ʼn variasie van Marxisme deur Marxiste, ʼn hersienning wat in opeenvolgende stappe so ontwikkel het dat hierdie Marxiste geleidelik opgehou het om aan hulself as Marxiste te dink en opgehou het om na hulself as Sosialiste te verwys. Hulle het egter nooit opgehou om aan hulself te dink as anti-liberale revolusionêres nie.

Die krisis in Marxistiese kringe het plaasgevind in die 1890’s. Eerstens het die Oostenrykse ekonoom Böhm-Bawerk die arbeidsteorie van waarde ten volle weerlê en alhoewel Marxistiese denkers dalk daarop kon aanspraak maak om namens ʼn massiewe sosialistiese beweging regoor Europa te praat het dit tog duidelik geword dat Marxisme as teorie voortgeleef het in ʼn wêreld wat volgens Marx nie eens moontlik was nie. Die werkers het stelselmatig meer welvarend geword, die werkersklas was gefragmenteer in seksies met uiteenlopende belange, tegnologiese vooruitgang het versnel eerder as die Marxistiese voorspelde “vallende winskoerse”, die hoeveelheid ryk beleggers “kapitaal magnate” het toegeneem en nie afgeneem nie, industriële konsentrasie het nie toegeneem nie en in alle lande het die werkers hul land bo enige klasbewussyn geplaas.

Die vroegste fasciste was nie net voormalige Marxiste wat in die revolusionêre potensiaal van Marxisme getwyfel het of daarop opgegee het nie, maar ook mense wat gelyktydig die potensiaal van revolusionêre nasionalisme as ʼn belowende alternatief beskou het. Soos Mussolini in ʼn toespraak op 5 Desember 1914 opmerk:

Die nasie het nie verdwyn nie . Ons het vantevore geglo dat die konsep totaal sonder inhoud was. In stede daarvan sien ons die nasie voor ons opkom as ʼn lewende realiteit!… Klas(verskille) kan dit nie vernietig nie. Klas-teorie word voorgehou as ʼn versameling kollektiewe belange – maar die nasie is ʼn geskiedenis van sentimente, tradisies, taal, kultuur en ras. Klasse kan ʼn integrale deel van die nasie word, maar die een kan nie die ander oorskadu nie. Die klassestryd is ʼn tevergeefse formule, met die gevolg en uitwerking dat waar ook al jy ʼn volk vind wat nie na behore homself geïntegreer het in sy taalkundige en raskundige grense nie – waar die nasionale vraagstuk nie volledig opgelos is nie, bewegings rondom klasbelange hulself in ʼn belemmerende toestand bevind deur ʼn onbelowende historiese klimaat.[1]

Fascisme het gevolglik opgegee op enige klas-teorie en die klassestryd agtergelaat vir ʼn revolusionêre nasionalistiese beskouing wat sou staan vir samewerking tussen klasse onder die leierskap van ʼn sterk staat wat daartoe in staat sou wees om die nasie te verenig [nasiebou] en versnelde industriële ontwikkeling te bewerkstellig. Steel maak inderdaad interessante afleidings aangaande die ooreenkomste tussen Italiaanse fascisme en Derdewêreldse-Marxistiese “national liberation struggles” wat vanaf die tweede helfte van die twintigste eeu ontwikkel het:

Die logika onderliggend tot hierdie verskuiwing van posisie was die realisasie dat daar geen werkersklas revolusie sou plaasvind nie, ongeag of dit ontwikkelde lande of minder ontwikkelde lande soos Italië met lae industriële uitsette was. Italië was volgens hulle op hul eie. Hulle het Italië beskou as ʼn proletariaat land wat uitgebuit word deur ander lande terwyl die lande wat ekonomies meer welaf was eerder oorbodige bourgeoisie lande was, bedoelende ʼn oordadige hoë middelkas wat hul eie proletariaat uitbuit. Die nasie was die mite wat die produktiewe klasse kon verenig in ʼn sosialistiese dryf na hoër produksie. Hierdie idees was die voorloper van die propaganda wat in die 1950’s en 1960’s uit Afrika en ander Derdewêreld lande sou kom, waar aspirant elites in agterlike ekonomiese lande hul eie gewetenlose “humanitêre” heerskappy kon bevorder as “progressief” aangesien dit versnelde ekonomiese ontwikkeling in die Derdewêreld sou aanvuur en versnel. Van Nkrumah tot Castro sou Derdewêreld diktators in Mussolini se voetspore volg, fascisme was ʼn volledige kleedrepetisie vir die naoorlogse derdewêreldisme wat sou ontvou, dit wat die Franse noem Tiers-mondisme.

Gedurende Mussolini se drie-en-twintig jaar as staatshoof het hy baie noemenswaardige kompromieë en toegewing aangegaan teenoor verskeie rolspelers, tradisionele konserwatiewe belange soos die monargie sekere industriële sakebelange sowel as aan die Katolieke kerk. Dit is egter ironies dat juis hierdie pragmatiese insluitings en kompromieë wat uit noodsaaklikheid tot stand gekom het gewoonlik opgedis word as die bewyse van fascisme se regse natuur, terwyl daar meer as genoeg bewyse is dat Mussolini in wese regdeur sy politieke lewe verbind gebly het tot sosialistiese ideale. Teen 1935, dertien jaar nadat Mussolini aan bewind gekom het in die opmars na Rome, was vyf en sewentig persent van die Italiaanse industrieë óf genasionaliseer óf onder intensiewe regeringsbeheer. Dit was dan ook inderdaad aan die einde van beide Mussolini se lewe en die van sy regime dat die toegepaste ekonomiese beleid op hul mees sosialistiese was.

Mussolini het vir ʼn paar maande in die somer van 1943 sy magsposisie verloor en het met Duitse militêre hulp weer aan bewind gekom as staatshoof, die republiek sou voortaan bekendstaan as die Italiaanse Sosiale Republiek. Die regime het gevolglik alle maatskappye genasionaliseer wat meer as ʼn honderd arbeiders in diens gehad het; behuising wat voorheen in privaatbesit was vir verhuring was herverdeel aan die huurders, grondherverdeling was algemeen en korrup; daarbenewens het ook heelwat prominente Marxiste by Mussolini se regering aangesluit insluitende Nicola Bombacci, die stigter van die Italiaanse Kommunistiese party en persoonlike vriend van Lenin. Hierdie gebeure word breedvoerig weergegee in Norling se boek.

Dit wil voorkom of die historiese bitter stryd tussen Marxiste en fasciste nie soseer een van links teen regs was nie maar eerder ʼn broederstryd tussen twee gelyksoortige linkse bewegings. Dit moet as geen verrassing beskou word nie, gegewe die geneigdheid van radikale linkse bewegings om intensiewe en selfs gewelddadige sektariese binnegevegte te hê. Daar kan selfs geargumenteer word dat die linkse “antifascisme” niks meer is as ʼn diep gewortelde wrok en jaloesie teen ʼn ietwat meer suksesvolle familielid nie. Soos Steele dit stel:

Mussolini het geglo dat fascisme ʼn suksesvolle internasionale beweging sou word. Hy het verwag dat beide dekadente bourgeoisie demokrasie en dogmatiese Marxistiese-Leninisme die knie sou swig voor fascisme en dat die twintigste eeu die eeu van fascisme sou wees. Nes sy ander linkse tydgenote het hy straks die veerkragtigheid van beide demokrasie en vryemark liberalisme onderskat. Wat inhoud aan betref was Mussolini se voorspelling egter verwesenlik: In die twintigste eeu en daarna word die meeste mense geregeer deur regerings wat in praktyk baie nader aan fascisme is as wat enige van hulle ooit aan liberalisme of aan Marxistiese-Leninisme was.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Fascisme, Geskiedenis, Marxisme and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.