Onoplosbare teenstrydigheid van Sosiale Kontrak teorie

Onoplosbare Teenstrydigheid

Hierdie plasing vorm deel van ʼn reeks aangaande sosiale kontrak teorieë, die Inleiding en Indeks hier te vinde.

Per definisie is ʼn kontrak ʼn ooreenkom en dit is niks minder as intellektuele oneerlikheid om iets ʼn ooreenkoms te noem as dit nie een is nie.

Deur Stefan Molyneux

Die Sosiale kontrak is dus ʼn geografies gespesifiseerde eensydige (unilaterale) kontrak – staat tot burger in terme van belasting en wette en nie burger tot staat nie, en word as implisiet geag. Jy teken dit nie, jy hoef nie in te stem nie, jy het geen keuse nie en moet volgens voorstanders van die idee jouself gelukkig ag as jy demokraties kan stem – wié in terme van dié kontrak oor jou regeer.

Enige metodiek wat egter wil aanspraak maak op geldigheid moet self ook oop wees vir kritiek en navorsing. Niemand is verhewe bo die reg nie. So byvoorbeeld moet die wetenskaplike metode as dit vergelyk word met sê maar een of ander religieuse openbaring, ook self oop wees as onderwerp van die wetenskaplike metodiek. Ons kan dus die resultate daarvan toets teen ander vorme van “kennis”. Logika en bewyse moet self onderwerp kan word aan logika en bewyse in realiteit en konsekwentheid. Daar kan dus ook nie onoplosbare teenstrydighede wees nie. Veronderstel ʼn ateïs peil op jou af en sê: Daar is geen God nie! As jy vra wat sy bewyse hiervoor is, antwoord hy: God het dit vir my gesê! Dit sou ʼn onoplosbare teenstrydigheid wees en jy sal hom uitlag en dink hy is ʼn skisofreen.

Die regering beskou hulself as die hoogste en uitsluitlike agentskap van geregtigheid in hierdie territoriale gebied en sy regverdiging daarvoor is die sosiale kontrak. Die sosiale kontrak moet daarom die hoogste en mees morele kontrak wees wat bestaan, want dit vorm die grondslag waarmee die staat alle ander kontrakte bemagtig, afdwing en oordeel. Die teenoorgestelde van die sosiale kontrak moet dus ongeregtigheid en immoraliteit beliggaam. Dit volg net logies as (A) die hoogste morele geregtigheid is, moet die teenoorgestelde van (A) immorele ongeregtigheid wees.

Alle kontrakte wat soos die sosiale kontrak is, dit wil sê aan dieselde vereistes of kriteria voldoen – geografies, unilateraal en implisiet, moet ook moreel en regverdig wees.

Ek stig my sosiale-kontrak-motormakelaars in Nelspruit en stuur ʼn rekening aan elke huishouding in ʼn tien blok radius waarin ek hulle meedeel dat hulle kan kies of hulle ʼn nuwe Toyota of ʼn Hyundai bakkie wil hê. As hulle nie kies nie, gaan ek vir hulle die een stuur wat die meerderheid verkies. Elkeen in die tien blok radius kry ook dan sy rekening vir R 2,000,000.00 saam met die bakkie wat afgelewer word. As net die onderstel of bakwerk afgelewer word, is hulle welkom om te betoog (binne perke) oor swak dienslewering, maar die voertuig kan nie teruggee word nie. As jy nie die voertuig wil gebruik nie hoef jy nie, maar jy moet egter steeds betaal. Indien jy dit belaglik vind is jy welkom om aansoek te doen vir toestemming om na ʼn ander buurt te verhuis waar jy dalk tussen twee ander voertuie kan kies.

Van Nelspruit se inwoners besluit om die kontrak uit te daag en ek vra op my beurt die hof om dit af te dwing. Die regter wat uitspraak moet lewer sal heel moontlik beslis dat ek my varkies verloor het, en tien teen een in ʼn instelling hoort. Wat sou gebeur as ek dan ʼn wapen optel en sê: “Ek gaan die 2Miljoen Rand insamel wat elk van hierdie mense my skuld en as hulle hul teësit gaan ek hulle in my huis se kelder toesluit”? Mense sou my as ʼn aggressiewe immorele misdadiger beskou. Ek sal gou gearresteer word en dalk jare in die tronk moet deurbring, maar ek het dan aan al die vereistes van die sosiale kontrak voldoen, dit was geografies, dit was unilateraal en dit was implisiet.

Aangesien die regering as regverdiging vir sy bestaan aanspraak maak op die universele geldigheid van die sosiale kontrak maar enige ander party wat presies dieselfde kontrak probeer afdwing aanval as boos en onregverdig, moet die sosiale kontrak gelyktydig die hoogste vorm van ʼn morele geregtigheid en ʼn bose ongeregtigheid wees.

1)Indien die sosiale kontrak die hoogste morele goedheid is dan moet die regering dit vir almal verdedig. Die regering doen egter die teenoorgestelde en val kompeterende sosiale kontrakte aan. Daarom moet dit dus ʼn onregverdige boosheid wees.2) Indien die sosiale kontrak per definisie immoreel en boos is, dan moet die staat per definisie immoreel en boos wees aangesien die staat se bestaan, gesag en mag rus op sy aanspraak dat ʼn sosiale kontrak hom in die lewe geroep het.

Wat as ons die sosiale kontrak aanpas om te sê “geen geografiese oorvleuelings nie”? Met oorvleuelende regerings vlakke soos provinsiaal, sentraal, munisipaal ens werk die argument net nie. Wat as ons dan sê die sosiale kontrak is per definisie net van toepassing op die regering? Per definisie moet die sosiale kontrak egter op almal van toepassing wees om geldig te wees, veral die belasting betaler.

As die sosiale kontrak op almal van toepassing is, kan almal hul eie sosiale kontrakte skep en afdwing. Veronderstel die regering sê “ ek stuur vir jou ʼn rekening vir tien duisend rand se belasting in terme van my sosiale kontrak” waarop ek terugskryf “dis reg, maar ek stuur dan sommer ook my rekening vir julle terug vir tien duisend rand in terme van my sosiale kontrak”. Dit kanselleer mekaar uit, niks word bereik nie en niemand sal sulke kontrakte respekteer nie. Die sosiale kontrak is dus slegs moontlik as dit gelyktydig die hoogste vorm van “goed” en die hoogste vorm van “sleg” is. Goed vir die regering, horribaal vir my.

1)Indien dit moreel reg is vir persoon (A) om ʼn sosiale kontrak op persoon (B) af te dwing maar moreel onregverdig om die teenoorgestelde te doen, dan presies tot die graad wat die sosiale kontrak moreel goed is, is die staat dan immoreel boos as hulle kompeterende vergrype van universeel “gesonde” sosiale kontrakte weier.2) Presies tot die graad wat die sosiale kontrak immoreel is, is die staat steeds immoreel aangesien dit die regverdiging vir sy mag is, die sosiale kontrak is dus ʼn totale ongeldige en teenstrydige konsep wat net ʼn skisofreen kan aanvaar.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Politieke Filosofie, Regte and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.