Politokrasie: Menseregte – Die Sorgsame Staat

Die sorgasame staat

Hierdie is ʼn uittreksel van: Politokrasie Hoofstuk 8 :

Menseregte – Die Sorgsame Staat.

politokrasiePolitokrasie is ʼn moet lees vir enigeen geïnteresseerd in staatsleer en word uitgegee deur PULP uitgewers bestelvorm HIER beskikbaar.

1 Simbiose

Deur Prof Koos Malan

Net soos ons tydvak by uitstek een van demokrasie is, is dit ook die era van menseregte. Menseregte is die idee van ons tyd, die enigste politiek-morele ideaal — naas demokrasie — wat universele aanvaarding geniet.[1] Net soos met demokrasie is daar ook ʼn bykans universele vereenselwiging met menseregte.[2]

Menseregte het die lewenslig op dieselfde oomblik aanskou as wat die territoriale staat sy aankoms op die historiese toneel aangekondig het.[3] Sedertdien is daar ʼn onafskeidbare lotsgebondenheid tussen die staat en menseregte.

Daar word algemeen aanvaar dat die individuele mens die reghebbende en bevoordeelde van menseregte is. Dit is waar, maar nie die volle waarheid nie, want die staat, wat volgens die menseregtelike verhouding met die verpligting belas is om aan menseregte uitvoering te gee, put net soveel — indien nie meer nie — voordeel uit menseregte. Juis hierdie waarheid word vervolgens in meer besonderhede toegelig.

Die stelling dat die staat net soveel baat by menseregte vind en versterking daaruit put, val met die eerste lees vreemd op. ʼn Regime en ʼn kultuur van menseregte — so word algemeen geleer — bestaan juis om die staat tot die voordeel van individue in bedwang te hou en in diens van individue te plaas. Dit is weliswaar korrek, maar aan die ander kant is dit ook so dat menseregte altyd die staat veronderstel. Die menseregtelike verhouding is nie sonder die staat bestaanbaar nie. Die staat is altyd noodwendig ʼn party daarby. Menseregte voorveronderstel ʼn aantal eise teen die staat. Daarom is die staat ʼn absolute noodsaaklikheid in enige regsorde waarin menseregte in stand gehou word.[4] Dienooreenkomstig verklaar Karel Vasak dat ʼn georganiseerde gemeenskap in die vorm van die staat ʼn basiese voorvereiste vir die realisering van menseregte is[5] en voeg daaraan toe dat die mens sonder die staat nie vry kan wees nie.[6]

Hieruit is dit duidelik dat menseregte volledig binne die staatlike paradigma ingebind is. Menseregte bring nie die staat in gedrang nie; inteendeel, dit beklemtoon en bevestig die noodsaak van die staat as ʼn conditio sine qua non vir ons daaglikse bestaan. In menseregte het die staat ʼn troue bondgenoot gevind vir die versterking en die verskansing van die staat.

Menseregte word veral deur die regsprofessie verfyn en geadministreer. Die leke-individu vind dit gewoonlik moeilik om regte self af te dwing. Hy is daarvoor bykans altyd op die bystand van regspraktisyns, hetsy in die privaat praktyk, of verbonde aan die staatsinstellings aangewese. Hy kan nie die voordele wat menseregte bied sonder die hulp van die prokureur, die advokaat, die regter en ʼn reeks ander regslui wat by die administrasie van menseregte betrokke is, benut nie. Hoe meer regte daar beskikbaar is, des te groter die moontlikheid om regte af te dwing en des te meer die afhanklikheid van die regsprofessie.

Teen hierdie agtergrond val die soeklig op die staat se strategiese bondgenoot en die mede-bevoordeelde uit ʼn menseregte-regime, naamlik die regsprofessie wat met die vermeerdering van regte al hoe meer funksies verwerf en wie se kliëntebasis met die toevoeging van elke nuwe reg verder groei.

Individue is die eerste en opvallende bevoordeeldes van menseregte. Daaragter skuil egter ʼn meer wesenlike waarheid, naamlik dat die staat en die regsprofessie minstens net soveel aan menseregte te danke het en minstens net soveel rede het om nuwe regte bloot te lê en meganismes vir die beskerming daarvan te voorsien.

2 Op die spoor van die ontwikkeling van menseregte

In hoofstuk 4 is daar verduidelik dat die individuele reg op godsdiensvryheid die prototipiese mensereg is. Dit het saam met die territoriale staat beslag gekry en het aan die staat een van sy fundamentele kenmerke, naamlik godsdienstige neutraliteit, besorg. Godsdiensvryheid en die meegaande godsdienstige neutraliteit van die staat was die voorwaarde vir die bestaan en stabiliteit van die staat. Godsdiensvryheid as ʼn basiese mensereg en die sekuriteit van die staat was wedersyds van mekaar afhanklik. Op hierdie wyse is ʼn simbiose geskep wat as presedent dien vir die huidige veel meer uitgebreide simbiotiese verhouding tussen die staat en menseregte, waaroor hieronder meer gesê word.

Die tradisionele beskouing is egter dat menseregte hul oorsprong in die sewentiende- en agtiende-eeuse stryd teen absolutisme vind.[7] Dit het neerslag gevind in ooreenkomste tussen die vorste en die bevolking — in werklikheid die aristokrasie — met die oog daarop om aan die bevolking sekere regte in die gestalte van vryhede te verleen en om die owerheid daartoe te verbind om homself te weerhou van inbreuke op daardie vryhede.[8] Die eerste menseregte was dus grootliks immuniteite teen arbitrêre owerheidsinmenging.

Oorspronklik het menseregte die verhouding tussen owerheid en onderdaan op ʼn manier gedefinieer wat ʼn bepaalde vryheidsterrein vir die onderdaan afgebaken het waarin die owerheid nie mag inmeng nie.[9]

Dit was in Engeland, wat juis in die sewentiende eeu ʼn uitgerekte stryd teen absolutisme beleef het, waar die eerste rudimentêre menseregte-dokumente die lig gesien het.[10] Die Petition of Right van 1628 lê arbitrêre owerheidsoptrede aan bande, die Habeas Corpuswet van 1641 weerhou die owerheid van die onregmatige aanhouding van ʼn persoon en die Bill of Rights van 1689 poog om ʼn verskeidenheid rights and liberties van die burgery teen owerheidskending te verskans. Hier het ons egter nog nie met ʼn omvattende katalogus van basiese regte te make nie. Nog ʼn eeu sou verloop waartydens die middelklas eers sterker gevestig kon word en liberale politieke en ekonomiese opvattings eers posgevat het, alvorens omvattende menseregte-verklarings die lig gesien het.

Die triomftog van menseregte is ingelui met die Bill of Rights van Virginia van 12 Junie 1776, opgevolg met die eerste tien amendemente van die grondwet van die Verenigde State van Amerika en die Franse Deklarasie van die Regte van die Mens en die Burger van 1789.[11] Die Amerikaanse handves soos aangevul deur die Burgeroorlog-amendemente van 1868 en die Franse Deklarasie het uiteindelik ʼn groot en blywende impak gehad: die Amerikaanse handves omdat dit as ʼn model vir baie ander grondwetlike menseregte-handveste gedien het en deur regterlike hersiening verder uitgebou is; die Franse handves omdat dit die voorbeeld was vir die grondwette van België, Duitsland, Oostenryk, Griekeland, Roemenië, Switserland, Italië en die voormalige Franse kolonies.[12]

Gedurende die rewolusionêre tydperk in Frankryk en die VSA in die laaste kwart van die agtiende eeu was daar ʼn aansienlike wisseling van rewolusionêre idees tussen Engeland, die VSA en Frankryk. Vooraanstaande figure het ook by mekaar se ervaring gebaat. Lafayette, een van die opstellers van die Franse Deklarasie van die Regte van die Mens en die Burger was byvoorbeeld in die VSA toe die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring voorberei is. Hy was ook bevriend met Thomas Jefferson, die hoofouteur daarvan. Op sy beurt was Jefferson in 1789 die Amerikaanse ambassadeur in Frankryk en dit is bekend dat Lafayette die opstel van die Franse Deklarasie met hom bespreek het.[13]

Ofskoon daar uiteraard verskille tussen die twee dokumente bestaan — die Franse handves is in veel meer ideologiese terme as sy empiries geneigde Amerikaanse eweknie geformuleer — vind ons ook ʼn hoë mate van ooreenstemming.

Albei dokumente poog om deur die beklemtoning van die reg op individuele vryheid, die integriteit van ʼn private individuele sfeer te vestig wat immuun teen staatsindringing moes wees. Getrou aan die common law-tradisie beskerm die Amerikaanse handves die prosessuele regte van die beskuldigde. Individuele vryheid is ook die sentrale waarde van die Franse deklarasie. Verskeie aspekte van individuele vryheid word ook daarin verskans. Die Franse deklarasie, anders as die Amerikaanse handves, plaas ook die klem op die reg op gelykheid en op die beskerming van eiendomsreg. (Die reg op gelykheid is eers met die invoer van die Burgeroorlog-amendemente in die Amerikaanse handves opgeneem).[14]

Sowel die Franse as die Amerikaanse handves weerspieël die waardes van die vroeë kapitalisme en die gepaardgaande belange van die opkomende middelklas.[15] Met die verordening van die Franse en die Amerikaanse handveste word die middelklas-rewolusie juridies vergestalt in wat algemeen as eerste-generasie (burgerlike en politieke) menseregte bekend staan en waarin die waardes en die belange van middelklas-individualisme verskans word.

Die soort verpligting wat kragtens hierdie regte op die owerheid geplaas word, is nie soseer om daadwerklik te handel nie, maar eerder dat die owerheid sigself van bepaalde optrede — inbreuke op die individuele vryheidsdomein — moet weerhou.

Daar word tereg verklaar dat menseregte twee oogmerke het: enersyds om deur institusionele middele mense se belange teen magsmisbruik deur die owerheid te verdedig; andersyds, die bevordering van basiese lewensomstandighede en die veelfasettige ontwikkeling van die menslike persoonlikheid.[16]

Die soort regte wat in die Amerikaanse en die Franse handveste ter sprake is, val onder die eerste komponent van hierdie definisie. Die eerste komponent weerspieël die gedagte van die minimum-staat oftewel die nagwag-staat. Die tweede gedeelte verteenwoordig die teenoorgestelde staatsbeskouing, naamlik dié van die ingrypende staat wat in besonderhede bemoeienis met die belange van die inwoners maak.

Die noodsaak vir laasgenoemde soort staat tree eers in die negentiende eeu op die voorgrond, toe die ekonomies ontwikkelde wêreld met die maatskaplik misstandige gevolge van die nywerheidsomwenteling te kampe kry. Die probleem is aanvanklik in sosio-ekonomiese wetgewing aangespreek, maar is mettertyd verreken in die erkenning van ʼn aantal sosio-ekonomiese belange as basiese menseregte.

In die verstedelikte industriële staat waarin mense geïndividualiseerd leef, het elkeen se arbeid mense se enigste middel tot ekonomiese oorlewing en voortbestaan geword. Dit was anders as in ʼn vroeëre era toe bevolkings baie kleiner was, toe almal danksy regstreekse toegang tot grond daartoe in staat was om kleinskalige bestaansekonomieë, hetsy deur landbou of deur jag en versameling in stand te hou en sodoende voort te bestaan. In die industriële era, meer as enige tyd voor dit, kon jy vir jou eie voortbestaan net jou arbeid verkoop. Indien jy dit nie kon regkry nie of as die dienskontrak onveilig was en sonder meer beëindig kon word, was daar niks om op terug te val nie. Dan het net krepering van ellende gewag. Aan die begin van die nywerheidsera was daar juis min langtermyndienskontrakte. Arbeid is as tydelike stukwerk verkoop en het gevolglik nie blywende sekuriteit gebied nie. Die maatskaplik onveilige en uitgelewerde toestand waarin mense as werkers verkeer het, is die eerste maal in Bismarck se Duitsland aangespreek, waar daar in die 1880’s wetgewing aangeneem is wat voorsiening gemaak het vir versekering teen inkomsteverlies weens siekte, nywerheidsongevalle, ouderdom en ongeskiktheid.[17]

Die uitwerking van die maatreëls was dat beperkings op eiendomsreg, asook op werkgewers se kontrakteervryheid geplaas is. Die rede waarom die maatreëls eerste in Duitsland getref kon word sonder dat dit oormatig sterk kapitalistiese weerstand ontlok het, was die betreklik swak posisie van die liberalisme in dié land.[18] Soortgelyke maatreëls is egter kort hierna ook in Frankryk en Brittanje ingestel.[19]

Die eerste deurbraak vir sosiale en ekonomiese regte in die sin van die erkenning daarvan as grondwetlik verskanste menseregte naas burgerlike en politieke regte, kom in 1917 met die aanneem van die Meksikaanse grondwet, asook van die grondwet van die Weimarrepubliek in Duitsland in 1919.[20] In die Meksikaanse grondwet is daar byvoorbeeld maatreëls getref vir die beperking op, asook die verdeling van grond. Die reg om te werk asook die reg op billike weksomstandighede is ook as basiese reg erken.[21]

Met die erkenning van hierdie tweede-generasieregte, wat vanweë die sosialistiese aard daarvan ook rooi regte heet, word die feitelike grondslag vir die tweede gedeelte van die definisie van menseregte, wat hierbo weergegee is, verskaf.[22] Ter wille van individuele vryheid moes die owerheid daarvolgens sigself nie net van sekere optrede weerhou het nie, maar daarenteen daadwerklik ingryp ten einde beter lewensomstandighede en maatskaplike sekuriteit te verseker.

Tweede-generasie menseregte is sedertdien in talle nasionale grondwette opgeneem, hetsy as volwaardige fundamentele regte op dieselfde grondslag as eerste-generasieregte, of as sogenaamde directive principles of state policy soos in die Ierse, Indiese en Namibiese grondwette.[23]

Menseregte het ook in so ʼn mate in die internasionale reg beslag gekry dat dit vandag een van die belangrikste komponente van dié dissipline geword het. Dit word onder andere geïllustreer deur die inhoud van handboeke oor die internasionale reg. As ʼn afdeling van die reg wat primêr met interstaatlike regsverhoudings handel, het die handboeke oor die internasionale reg tot in die 1970’s geen of min aandag aan menseregte gewy. Tans beklee menseregte waarvoor daar in internasionale regsinstrumente voorsiening gemaak word, ʼn prominente plek in die studie en die literatuur van die internasionale reg.

Voor die Tweede Wêreldoorlog was daar slegs beperkte internasionale erkenning van menseregte. Die Internasionale Arbeidsorganisasie het minimum-standaarde vir die werksplek begin ontwikkel.[24] Die enigste ander voor-Tweede Wêreldoorlogse internasionale erkenning van menseregte was die voorsiening wat vir die beskerming van etniese en godsdienstige minderhede in SentraalEuropa gemaak is. Hierdie beskerming het gegeld kragtens internasionale verdrae wat na afloop van die Eerste Wêreldoorlog gesluit is. Die afdwinging daarvan is deur die Volkebond gewaarborg.[25] Die verdrag waardeur die Volkebond tot stand gekom het, het egter geen algemene menseregtelike bepalings bevat nie.[26]

Weens die werksaamhede van die Verenigde Nasies is menseregte na die Tweede Wêreldoorlog tot ʼn omvattende internasionale stelsel uitgebou. Menseregte is tot in die fynste besonderhede gestandaardiseer en ge-universaliseer.[27]

Die Handves van die Verenigde Nasies wat dié organisasie in 1945 tot stand gebring het, bevat opsigself reeds ʼn plegtige verbintenis tot die bevordering van respek vir menseregte, sonder aansien van taal, ras, geslag of godsdiens.[28] Die Handves bepaal voorts as een van die basiese verpligtinge van sowel die organisasie self, as sy lidstate dat menseregte gerespekteer moet word en dat alle lidstate gesamentlik en afsonderlik stappe moet doen om menseregte te bevorder.[29]

Die VN se verbintenis tot menseregte het kort hierna in 1948 neerslag gevind in die aanname van die Universele Deklarasie van Menseregte deur die Algemene Vergadering. Hierdie resolusie skep as ʼn besluit van die Algemene Vergadering van die VN geen bindende verdragsreg nie. Dit is nie ʼn multilaterale verdrag nie en state is derhalwe nie kragtens die reëls van die internasionale verdragsreg daaraan gebonde nie. Nogtans is dit om minstens twee redes van groot belang vir die internasionale menseregte-stelsel.

Eerstens was die invloed daarvan enorm. Dit geniet bykans universele goedkeuring en dit is beswaarlik denkbaar dat ʼn staat die inhoud daarvan openlik sal verwerp. Ofskoon resolusies van die Algemene Vergadering in beginsel slegs aanbevelende status geniet, is dit met hierdie resolusie heel anders gesteld. Die mening word gehuldig dat die inhoud daarvan as internasionale gewoontereg reeds die status van bindende reg verwerf het.[30] Ofskoon nie algemeen geldig nie, is hierdie siening minstens waar ten opsigte van sekere sleutelbeginsels van die Verklaring, wat aan die vereistes van internasionale gewoontereg voldoen.[31]

Die tweede rede is die omvattende aard van die Verklaring. Dit bevat al die eerste-generasievryhede, die reg op gelykheid, die reg op ʼn billike verhoor, die reg teen aanhouding sonder verhoor, eiendomsreg, die reg op vryheid van beweging, denke, godsdiens, oortuiging, uitdrukking en van vergadering. Daarbenewens bevat dit ook ʼn aantal tweede-generasie sosiale en ekonomiese regte: die reg op werk, billike werksomstandighede en regverdige besoldiging, die reg op ʼn basiese lewenspeil, op voeding, kleding, behuising en op mediese, maatskaplike en bejaardesorg, asook die reg op basiese onderwys.[32]

Die Algemene Vergadering verleen dus volle erkenning aan sosiale en ekonomiese regte, bo en behalwe burgerlike en politieke regte. Op dié wyse word die beginsel van die interafhanklikheid van regte wat intussen geyk geraak het, bevestig.[33]

Met die aanname van die Universele Deklarasie was daar egter nog nie bindende internasionale menseregte nie. Daar was gevolglik die noodsaak om die belydenisse van die Deklarasie in bindende verdragsreg te bestendig. Aanvanklik is ʼn enkele verdrag beoog. Die destydse ideologiese spanning tussen Wes en Oos het dit egter verhoed en uiteindelik is twee konsepverdrae in 1966 deur die Algemene Vergadering goedgekeur. Die twee instrumente het in 1976, nadat die vereiste aantal lidstate dit bekragtig het, in werking getree.[34] Die Internasionale Verbond vir Burgerlike en Politieke Regte bevat al die tradisionele basiese burgerlike en politieke regte en vryhede: die reg op lewe,[35] die reg teen marteling, wrede, degraderende en onmenslike straf en behandeling, die reg teen slawerny, die reg op persoonlike vryheid en sekuriteit, die reg op ʼn billike verhoor, die reg op die legaliteitsbeginsel in die strafreg,[36] die reg op vryheid van beweging, denke, gewete, oortuiging, uitdrukking, vergadering en assosiasie, stemreg, die reg op privaatheid en die reg op gelyke regsbeskerming.

Die tweede verdrag, die Internasionale Verbond vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte, maak voorsiening vir die reg om te werk, die reg op billike werksomstandighede, wat die reg op ʼn billike loon en ʼn gesonde werksomgewing insluit, die reg op lidmaatskap van ʼn vakbond, die reg op ʼn voldoende lewenstandaard, voeding, kleding, behuising en algaande beter lewensomstandighede, die reg op die hoogste haalbare lewenspeil en op fisiese en geestesgesondheid, die reg op onderwys, met inbegrip van gratis primêre onderwys en die reg op deelname aan die kulturele lewe.[37]

Die sentrale belang van die twee verbonde is dat dit vir al die verdragspartye daartoe gebiedende verpligtinge kragtens die internasionale verdragsreg skep. In artikel 2 van albei die verbonde verbind staatspartye hulle tot die voldoening aan die regte en die verpligtinge daarin vervat.

Daar kan na die twee bovermelde verdrae as die algemene VN-menseregteverdrae verwys word omdat ʼn wyd uiteenlopende aantal regte daarin opgeneem is. Menseregte-standaarde is daarbenewens ook in ʼn aantal spesifieke VN-konvensies gestel. Daaronder tel die Internasionale Konvensie vir die Verwydering van alle Vorme van Rassediskriminasie (1965), die Konvensie vir die Verwydering van alle Vorme van Diskriminasie teen Vroue (1979), die Konvensie teen Marteling en ander Vorme van Wrede, Onmenslike of Degraderende Behandeling of Straf (1984), die Konvensie oor die Regte van die Kind (1989) en die Konvensie vir die Regte van Gestremdes (2004).

Naas die internasionale menseregtelike stelsel wat sy beslag weens VN-werksaamhede gekry het, is daar ook ʼn aantal streekstelsels van krag:

• Die Europese stelsel waarin die Europese Konvensie vir die Beskerming van Menseregte en Individuele Vryhede (1950) en die Europese Sosiale Handves (1961) die toonaangewende instrumente is en daaropvolgende uitbreidings (ʼn omvattend hersiene Sosiale Handves het in 1999 in werking getree);

• Die Amerikaanse stelsel ingevolge die Amerikaanse Deklarasie van Regte en Verpligtinge van die Mens (1948) en die Amerikaanse Konvensie vir Menseregte (1969);

• Die Afrika-stelsel kragtens die Afrika-Handves vir Mense- en Volksregte (1981).

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat ons era inderdaad bowenal een van menseregte is. Benewens die omvattende internasionale en streekstelsels oor menseregte, het daar na die Tweede Wêreldoorlog ook ʼn fenomenale toename in die erkenning van menseregte in nasionale grondwette voorgekom. Dit het meegebring dat daar vandag nouliks ʼn staat oor is sonder die een of ander goedkeurende menseregtelike verwysing.

Die funksionele terrein van menseregte kom ook onversadigbaar voor. Nuwe belange wat nog nie in menseregtelike terme gedefinieer is nie, word aanhoudend geïdentifiseer en die proses van menseregtelike standaardstelling kom net nie tot stilstand nie. Minderheidsregte wat een van die eerste gebiede was, wat deur internasionale menseregte verreken is, maar daarna lank agterweë gelaat is, het veral in die 1990’s sterk opgang gemaak.[38] Ook die regte van inheemse bevolkings en derde-generasieregte geniet toenemende aandag binne die menseregteveld.

Menseregte is trouens feitlik heeltemal ontslae van enige spesifieke ideologiese konnotasie en staan los van eksklusiewe ideologiese voor- of afkeure. Menseregte, net soos die natuurreg van ouds, is soos ʼn spons en blyk bykans alles wat voorkom te absorbeer, ongeag die ideologiese teenstrydighede van die belange wat as menseregte erken word. Dit is ʼn steeds verruimende begrip wat alle menslike behoeftes na gelang van veranderde sosiale omstandighede juridies verreken.[39]

Menseregte is omvattend. Dit omvat nie net meer die plig van die owerheid om sigself van inbreuke op politieke en burgerlike regte te weerhou nie. Dit sluit ook die verpligting in dat die owerheid daadwerklik moet optree om die sosiale en ekonomiese welsyn van die staatsbevolking te verbeter. Dit vereis dat die owerheid moet beplan, aktivisties tussenbeide moet tree en op ʼn programmatiese wyse die realisering van sosiale en ekonomiese regte moet verwesenlik. Soos Louis Henkin sê:

… international human rights implied rather a conception of government as designed for all purposes and for all seasons.[40]

Notas

  • [1] L Henkin The Age of Rights (1990) ix; R Dagger Rights in T Ball et al (reds) Political Innovation and Conceptual Change (1989) 292.
  • [2] Editorial note (1984) 113 Daedalus ‘Human Rights Issue’ iv.
  • [3] Dagger (n 1 hierbo) 298.
  • [4] F Venter ‘Menseregte, groepsregte en ’n proses na groter geregtigheid’ (1986) 1 SAPR/L 206.
  • [5] K Vasak et al ‘Human Rights: As a Legal Reality’ in K Vasak et al The International Dimension of Human Rights (1982) 4.
  • [6] Vasak (n 5 hierbo) 4.
  • [7] M Cranston ‘Are there any human rights?’ (1984) 113 Daedalus 2; DE de Villiers ‘Die geskiedenis van menseregte’ in DA du Toit (red) Menseregte (1984) 22.
  • [8] I Szabo ‘Historical Foundations of Human Rights’ in K Vasak et al The International Dimension of Human Rights (1982) 13.
  • [9] Szabo (n 8 hierbo) 13.
  • [10] JD van der Vyver Die Beskerming van Menseregte in Suid-Afrika (1975) 20-21.
  • [11] Daar is op ʼn stadium gedebatteer oor die vraag welke van die Virginia-handves of die Franse Deklarasie aanspraak kan maak op die status van die oorspronklike menseregte-dokument. Sien K Stern ‘The Genesis en Evolution of EuropeanAmerican constitutionalism’ (1985) XVIII CILSA 192.
  • [12] AP Blausten et al Human Rights Source Book (1987) 727; De Villiers (n 7 hierbo) 20.
  • [13] Blaustein (n 12 hierbo) 743; De Villiers (n 7 hierbo) 19.
  • [14] Blaustein (n 12 hierbo) 740-745.
  • [15] Sien byvoorbeeld Blaustein (n 12 hierbo) 743 en De Villiers (n 7 hierbo) 22.
  • [16] Szabo (n 8 hierbo) 11.
  • [17] GV Rimlinger ‘Capitalism and Human Rights’ (1984) 113 Daedalus 55.
  • [18] Rimlinger (n 17 hierbo) 55.
  • [19] Rimlinger (n 17 hierbo) 57-58.
  • [20] Szabo (n 8 hierbo) 19.
  • [21] Blaustein (n 12 hierbo) 749-750.
  • [22] Oor hierdie benaming, sien A Eide et al (reds) Economic, Social and Cultural Rights: A Textbook (1995) en die outeurs aldaar aangehaal.
  • [23] Sien hieroor onder andere B de Villiers ‘Directive Principles of State Policy and Fundamental Rights: The Indian Experience’ (1992) 8 SAJHR 29 et seq. Hierdie aanwysende beginsels (directive principles) word nie regstreeks soos (meesal) eerste-generasieregte wat in ʼn handves van regte vervat is, toegepas nie. Dit is nie regte wat mense regstreeks in die howe kan afdwing nie. Dit funksioneer egter as ʼn uitlegmetode ten gunste van die realisering van sosiale en ekonomiese regte en desnoods ook as ʼn beperking op en kwalifikasie van eerstegenerasieregte.
  • [24] T Buergenthal International Human Rights: In a Nutshell (1995) 9-10; Eide (n 22 hierbo) 27-28 meld die interessante feit dat tweede-generasieregte in die vorm van minimum-standaarde op die arbeidsterrein nog voor eerste-generasie burgerlike en politieke regte in die internasionale reg erken is.
  • [25] Buergenthal (n 24 hierbo) 10-13.
  • [26] Buergenthal (n 24 hierbo) 7.
  • [27] Buergenthal (n 24 hierbo) 21 verklaar tereg dat moderne menseregte ʼn post Tweede Wêreldoorlogse verskynsel is.
  • [28] Artikel 1(3) van die Handves van die Verenigde Nasies, 1945.
  • [29] Artikel 53 en 56 (n 28 hierbo).
  • [30] J Dugard International Law: A South African Perspective (2005) 315.
  • [31] Dugard (n 30 hierbo) 315. Die verklaring voldoen na alle waarskynlikheid grootliks aan die opinio iuris-vereiste vir internasionale gewoontereg, maar nie aan die usus-vereiste nie. Sien oor hierdie vereistes onder andere Dugard (n 30 hierbo) 29-33; H Booysen Volkereg en sy verhouding tot die Suid-Afrikaanse reg (1989) 48-50.
  • [32] Artikel 24 tot 26 van die Universele Verklaring van Menseregte bevat die gemelde ekonomiese en sosiale regte.
  • [33] Die beginsel is in 1950 deur die Algemene Vergadering van die VN bevestig. Sien Eide (n 22 hierbo) 15.
  • [34] Dugard (n 30 hierbo) 316.
  • [35] Die reg is aangevul deur die Tweede Opsionele Protokol van 1989 tot die Internasionale Verbond vir Burgerlike en Politieke Regte, wat daarop gemik is om die doodstraf af te skaf.
  • [36] Die beginsel van nullum crimen sine lege, oftewel dat niemand vervolgbaar is vir ʼn handeling wat nie strafbaar was toe dit gepleeg is nie.
  • [37] Gesamentlik staan die Universele Deklarasie en die twee 1966-verbonde as die International Bill of Rights (Internasionale Handves van Regte) bekend.
  • [38] Sien byvoorbeeld F Benoit-Rohmer The majority question in Europe: towards a coherent system of protection for national minorities (1996); HA Strydom ‘South African constitutionalism between unity and diversity: lessons from the new Europe’ (1997) 12 SAPR/L 373 et seq.
  • [39] Szabo (n 8 hierbo) 19; De Villiers (n 7 hierbo) 35-36; J Donnelly ‘Human rights and human dignity: An analytical critique of the Non-Western conception of human rights’ (1982) 76 American Political Science Journal 315.
  • [40] Henkin (n 1 hierbo) 6.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Politieke Filosofie, Regte and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.