Staatswelsyn ontmasker

Ontmasker

Deur Gawie Snyman

“Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”[1]

Nie een van ons sal seker stry wanneer die opmerking gemaak word dat die bostaande teks ʼn ondubbelsinnige uiteensetting van die implikasies van die Liefdesgebod is nie. Dit is tog ook so dat elke opregte Christen simpatie met sy naaste se beproewinge, asook fisiese- en geestelike welstand sal hê en ook graag op sy eie manier sal wil help daar waar hy kan. 

Sodra welmenende Christene dan positief op hierdie gebod reageer en hulp begin organiseer, is die groot vraag natuurlik wat die mees effektiewe manier sal wees om ‘n verskil te maak en miskien ook watter rol die Kerk en staat hierin moet speel. 

Dit is voor die hand liggend dat die gemiddelde persoon dadelik sal antwoord dat die staat beslis ʼn rol moet speel, juis omdat soveel meer fondse deur belasting ingevorder sal kan word.[2]

Dit is egter van kardinale belang dat ons die gevolge en implikasies van die staat se betrokkenheid by welsyn van naderby sal bekyk en ook deurdringend sal toets. 

Liefdadigheid vereis vrywilligheid; belasting is nie vrywillig nie 

Gestel my niggie het kort nadat sy haar werk verloor het, ernstige beserings in ʼn motorongeluk opgedoen. Om haar hospitaalkoste te help dek beroof ek die rykste man op die dorp – Piet Poggenpoel. Sal u my daad of die feit dat Piet indirek my niggie se hospitaalkoste betaal het, as welsyn beskou? Wat as ek ʼn bende rowers sou huur om die 10 suinigste ryk mense in die dorp te beroof? Natuurlik nie! Dit is roof, sonde, immoreel en onwettig! 

Wel, in The Law[3] onderskei die Franse filosoof en politieke ekonoom, Frédéric Bastiat, tussen wettige- en onwettige plunder/roof en verwoord hy wettige plunder só:

“See if the law takes from some persons what belongs to them, and gives it to other persons to whom it does not belong. See if the law benefits one citizen at the expense of another by doing what the citizen himself cannot do without committing a crime.”[4] 

Sou ons bogenoemde beginsel dan op die feitestel van my siek niggie van toepassing maak, dan is dit duidelik dat dit net so oneties en immoreel vir die behoeftiges is om met hul getalle en die hulp van opportunistiese en populistiese politici wetgewing daar te stel wat die meer welaf burgers belas en met geweld dreig (boetes en helaas tronkstraf as hulle nie sou betaal nie), om dan so hul mediese sorg te betaal. Die feit dat sommige welaf mense hiertoe mag instem, beteken ook nie dat dit nou reg is om hierdie maatreël teen alle welaf mense in te stel nie. Net soos Piet Poggenpoel en sy vriende nie kan toestem dat my bende ook vir Sannie Verwey mag beroof nie, netso kan hulle ook nie toestem dat die staat haar ook belas nie.[5] 

Die staaltjie word vertel dat ʼn joernalis eenkeer vir dr. DF Malan, voormalige Eersteminister van Suid-Afrika, sou vra waarom hy so hewig teen kommunisme gekant is, gegewe dat kommunisme soveel parallelle met die Christendom het en juis die kwessie van jou naaste se fisiese welstand aanspreek? Dr. Malan sou glo antwoord: “Die Bybel leer ‘Wat myne is is joune’, terwyl die kommunisme leer ‘Wat joune is, is myne’. Daar is ʼn groot verskil.” 

Dit is liefdadigheid om geld uit jou eie sak te haal en dit vir die armes te gee. Om geld uit iemand anders se sak te haal en dit vir die armes te gee, is diefstal. 

Die uitdaging vir die Kerk in die algemeen – en die AP Kerk in besonder – is daarom om meer aktief en meer direk haar roeping uit te leef en dat sy nie agter ʼn korrupte of oneffektiewe regering sal skuil nie; terwyl dit ook ʼn oproep tot die gewone AP Kerklidmaat is om die plaaslike gemeente met sy/haar tiende hiertoe te bemagtig.

  • [1] Matt 25:35-40, 1953 Afrikaanse vertaling 
  • [2] Dis belangrik om te onthou dat die staat slegs deur twee maniere fondse kan bekom: (1) d.m.v. belasting, en (2) om skuld aan te gaan wat later terugbetaal sal moet word deur toekomstige generasies te belas. 
  • [3] http://bastiat.org/en/the_law.html#SECTION_G001
  • [4] Wanneer ons aanvoer dat ʼn demokraties verkose regering sy mandaat van die stemgeregtigde kiesers kry, dan is dit net logies dat die individuele burger nie daartoe in staat kan wees om meer regte of bevoegdhede aan die regering oor te dra as wat hyself oor beskik nie. Ons vind ʼn soortgelyke regsbeginsel in die Suid-Afrikaanse privaatreg – die Nemo plus iuris-reël. ʼn Morele regering behoort daarom nie by magte te wees om iets te doen wat die onderskeie burgers in die eerste plek nooit by magte was om te doen nie.
  • [5] https://anargisme.wordpress.com/2013/12/08/sosiale-geregtigheid-en-die-welsynstaat/

Hierdie artikel het oorspronklik op die APK se webblad verskyn.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Medies/Welsyn and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.