Politokrasie: Die staatlik-paradigmatiese politiek van menseregte

paradisgma verskuiwing

Hierdie is ʼn uittreksel van: Politokrasie Hoofstuk 8 :

Menseregte – Die Sorgsame Staat.

politokrasiePolitokrasie is ʼn moet lees vir enigeen geïnteresseerd in staatsleer en word uitgegee deur PULP uitgewers bestelvorm HIER beskikbaar.

3 Die staatlik-paradigmatiese politiek van menseregte

Deur Prof Koos Malan

Menseregte veronderstel menslike behoeftes waaraan die staat moet voldoen. Menseregte gaan gevolglik gepaard met verpligtinge wat op die staat rus en funksies wat die staat moet vervul. Dit is juis die staat wat primêr moet sorg dat menseregte verwesenlik word.[41] Hoe meer die menslike behoeftes wat in die regte vervat is, des te meer die staatlike verpligtinge en funksies.

Aanvanklik was die verpligtinge wat ingevolge eerste-generasieregte op die staat geplaas is, van ʼn negatiewe — weerhoudende — aard. Die staat moes sigself bloot van ʼn bepaalde terrein — die vryheidsdomein van individue — weerhou. Met die tweede-generasie sosiale en ekonomiese regte het die staat egter toenemend as aktiewe rolspeler en pligdraer vir die doel van die realisering van regte op die voorgrond getree. Dikwels belas menseregteverdrae owerhede ook met die verpligting om gesindhede te verander en sodoende as ’t ware onderwysend en predikend op te tree. Die toenemende rol van die staat in die bewerking van maatskaplike veiligheid deur die verwesenliking van tweede-generasieregte het veral sedert die dae van Bismarck toenemend belangrik geword. 

Die veranderde funksies van die staat met die klem op die toenemende pligte in die sosio-ekonomiese sfeer vind neerslag in die sosiologiese regsleer van Rudolph von Jhering, Eugene Ehrlich en uiteindelik van Roscoe Pound. Hulle het voortgebou op die aannames van die utilistiese politiek van Jeremy Bentham.

Voor die negentiende eeu was sake soos onderwys, gesondheid en welsyn vir die staat en die reg van weinig belang. Veral gestimuleer deur die werk van Jeremy Bentham (1748-1832) en natuurlik weens die groot maatskaplike veranderings wat met die nywerheids-omwenteling gepaard gegaan het, het die staat sedertdien algaande meer pligte aangaande die soort kwessies op sy skouers begin neem. Dit het weer progressief meer regsregulering genoodsaak.[42]

Volgens die utiliteitsbeginsel soos deur Bentham bepleit, is dit die funksie van die reg (en die staat) om die hoogste haalbare graad van menslike geluk vir elke individu te bewerkstellig ten einde sodoende optimale geluk vir almal te verseker.[43] Die utilitêre regverdiging vir die noodsaak van wetgewing is juis dat dit ’n belangrike middel is waardeur geluk vir die grootste moontlike aantal mense verseker kan word.[44] Rudolph von Jhering (1818-1892) se werk sluit hierby aan. Hy was eers ʼn aanhanger van die Duitse historiese skool, maar kom later toenemend onder die indruk van die maatskaplike funksie van die reg. Waarskynlik beïnvloed deur die veranderde sosio-ekonomiese omstandighede van sy tyd waarin die staat toenemend op die voorgrond tree as die instelling wat aan maatskaplike behoeftes van talle afhanklike verstedelikte mense moes voldoen, leer Jhering dat die reg sosiale doelwitte moet bereik en dat die reg juis op praktiese sosiale en ekonomiese probleme moet reageer.[45]

Roscoe Pound (1870-1964) se sosiologiese regsleer bou hierop voort. Dit was daarop gemik om te verseker dat die formulering, uitleg en toepassing van wetgewing die sosiale omgewing nougeset in ag neem en daarop reageer. Met die oog hierop moet voortdurende empiriese navorsing onderneem word om die sosiologiese gevolge van wetgewing te bepaal. Sosiale navorsing moet die aanneem van wetgewing voorafgaan en sosiale navorsing moet volgehou word om te bepaal hoe wetgewing sosiaal meer doeltreffend gemaak kan word. Kortom, ʼn omvattende sosiale studie rakende wetgewing moet deurlopend onderneem word. By die bepaling van die behoeftes waaraan die regstelsel moet beantwoord, moet ʼn volledig geklassifiseerde inventaris van menslike behoeftes bygehou word. Hierdie behoeftes moet van regsweë bevredig word en daar moet vasgestel word wat die mees optimale wyses is om juridies aan die behoeftes te voldoen.[46]

Pound se sosiologiese regsleer moet verstaan word teen die agtergrond van die toenemende menslike (veral sosiale en ekonomiese) behoeftes van die laat negentiende en die twintigste eeu. Sy regsleer verteenwoordig as ’t ware die regsteorie se antwoord op die sosio-ekonomiese omstandighede van daardie era. Dit verreken die vermenigvuldiging van onbeantwoorde maatskaplike behoeftes van daardie tydvak en bied die reg as ʼn dinamiese en plooibare instrument aan waardeur die behoeftes bevredig kon word. Vanselfsprekend tree die staat vir hierdie doel net so prominent op die voorgrond as die reg self, want die reg is juis die instrument wat deur die staat vir behoeftebevrediging aangewend word.

Pound se nuwe sosiologiese regsleer waardeur die reg as sosiale en ekonomiese behoeftebevrediger aangewend word, is vandag so alledaags en dit kom so gemeenplasig voor dat ʼn mens die vraag wil vra of dit hoegenaamd enige waarde as regsteorie het. Ons leef immers in ʼn era waarin die dinamiese maatskaplike rol en funksie van die staat en van die reg as vanselfsprekend en normaal aanvaar word.

Bismarck se maatskaplike sekerheidswetgewing en die aanwending van soortgelyke maatreëls elders in die wêreld kan beskou word as die politiek van die sosiologiese regsleer. Wat Bismarck en ander maatskaplik geïnspireerde politici vir die politiek gedoen het, doen Jhering, Ehrlich en veral Pound vir die regsteorie.

Die sosiologiese regsleer is by uitnemendheid die apologeet van tweede-generasieregte. Daarvolgens is daar geen plek vir die afsydige libertariese nagwag-staat met sy laissez faire karakter nie. Met die koms van tweede-generasieregte kom noodwendig ook die spierkragtige en alomteenwoordige staat wie se voedende, onderwysende, genesende en werkverskaffende hand daagliks op alle individue ʼn uitwerking het.

Menseregte het bykans ʼn inherent gunstige betekenis. Net soos demokrasie is dit ook self-legitimerend. Dit wek bykans outomaties aangename sensasies op. ʼn Mens met ʼn reg is immers ʼn bemagtigde en waardige mens. ʼn Regsverhouding impliseer altyd ʼn reghebbende en ʼn pligdraer met die reghebbende wat kragtens die regsverhouding in ʼn relatiewe magsposisie teenoor die pligdraer verkeer.[47] En wanneer ons met menseregte te doen het, is die staat feitlik deurlopend die pligdraer.[48] Voeg hierby die feit dat menseregte soos hierbo verduidelik geweldig in omvang uitgebrei het en die staat derhalwe ʼn magdom van verpligtinge opgedoen het, dan skyn die beeld wat voor ons opdoem besonder aantreklik en behaaglik te wees — ʼn beeld van ʼn bemagtigde en selfversekerde individu teenoor wie die staat ingevolge ʼn verskeidenheid menseregtelike bepalings ʼn groot aantal verpligtinge verskuldig is.

Aan die ander kant van die glinsterende skyn word ons egter deur ʼn heel somber realiteit begroet. Die dominante sosiale en ekonomiese kragte van ons tyd, waaronder tel ekonomiese groei (sonder gepaardgaande werkskepping), verstedeliking, bevolkingstoename, modernisering, werkloosheid, globalisering met die gepaardgaande beweging van kapitaal en arbeid oor staatsgrense, ongekontroleerde misdaad, toenemende druk op skaars noodsaaklike hulpbronne, verouderende sorgbehoewende bevolkings, die soms pynigende uitwerking van (noodsaaklike) streng monetêre beleid op groot gedeeltes van die bevolking, die gaping tussen ryk en arm en andere, het individue vervreem van die geborgenheid van die klein beskermende gemeenskappe waarbinne hulle vroeër geleef het. Ekonomiese, sosiale en kulturele versteuring en ontwrigting van die tradisionele gemeenskappe, van die (uitgebreide) familie, die gesin, feodale strukture of die stam het die onderlinge ondersteuning wat hegter gemeenskapslewe vroeër voorsien het, uit die weg geruim. Namate die staat en die liberaal-kapitalistiese ekonomie ontwikkel het, het die individu die familie en ander gemeenskappe vervang as die entiteit waarmee die reg primêr gemoeid is.[49] Die ontwikkeling van die (atomisties geïnspireerde) reg het gepaard gegaan met die aanhoudende proses van vernietiging van die individu se vroeëre natuurlike bande met sy gemeenskappe en groepslidmaatskap. Dit het toenemende individuele isolasie meegebring[50] en waar individue vroeër op die beskerming van die groepe waarvan hulle deel was, kon staat maak, het die reg, soos deur die staat geadministreer, toenemend die primêre plaasvervangende beskermingsrol vervul.

Diamond vat dit mooi saam wanneer hy verduidelik:

Clearly, the nuclear family in contemporary urban civilization, although bound by legal obligations, has minimal autonomy. It is a reflex of society at large. Obviously, the means of education, subsistence and self-defense are outside the family’s competence. It is in this sense that, giving the absence of mediating institutions, having a clearly defined independent authority, the historical tendency of all state structures visa-vis the individual nay be designated as totalitarian. If ‘totalitarian’ is the state process, totalitarianism cannot be confined to a particular political ideology but is, so to speak, the ideology, explicit or not, of political society.[51] 

Menseregte wat deur die staat gewaarborg word, staan nou in vir dié verlies aan beskerming wat weens die verswakking van intermediêre sosiale strukture en gemeenskappe veroorsaak is.[52] Jack Donnelly verduidelik insiggewend:

These institutions have created a largely isolated individual who is forced to go it alone against social, economic and political forces that far too often appear to be aggressive and oppressive. Society, which once protected his dignity and provided him with an important place in the world, now appears, in the form of the modern state, the modern economy, and the modern city, as an alien power that assaults his dignity and that of his family.[53] 

In die lig hiervan is dit duidelik dat menseregte in werklikheid nie van ʼn bemagtigde individu getuig nie. Inteendeel, menseregte verskaf eerder die gekatalogiseerde beskrywing van die individue in die huidige staat se uiterste behoeftigheid, weerloosheid, onmag en afhanklikheid van die staat. Menseregte getuig van ʼn eensame, ontwortelde individu wat, ontdoen van die ondersteuning wat lidmaatskap van ʼn gunstige sosiale struktuur en ʼn lewendige gemeenskapslewe andersins sou verskaf het, aan die genade van ʼn hopelik alomteenwoordige en doeltreffende staat uitgelewer is. Dit getuig van ʼn individu wat maar net kan vertrou dat die staat as sy enigste toevlug, aan sy behoeftes, wat misleidend kordaat as regte uitgedruk word, sal voldoen.

Teenoor die uitgelewerde individu staan die staat. Die staat se pligte en funksies neem as gevolg van die vermeerdering van individuele regte drasties toe. Vanweë die toevoeging van regte en die ooreenstemmende toename in pligte wat op die staat rus, raak individue net toenemend op die staat aangewese. Die staat raak gevolglik weens die toename in menseregte algaande meer onmisbaar in die daaglike bestaan van individue. Die ware verhaal van menseregte is derhalwe nie dié van ʼn selfversekerde en bemagtigde individu teenoor ʼn verswakte dog dienende staat nie, maar van ʼn behoeftige en afhanklike individu in ʼn hegte menseregtelike verhouding met ʼn kragtige en alomteenwoordige staat.

Hobbes se staat was absolutisties, maar dit was ʼn tingerige Leviatan met ʼn afsydige karakter. Hy het sy onderdane met rus gelaat, behalwe in die geval van ernstige vredesbreuke. Hy was absolutisties weens sy ongebondenheid aan konstitusionele reëls, maar weens sy afsydigheid was hy hoegenaamd nie totalitêr nie. Die staat — die sterflike god — (om weer Hobbes se terme te gebruik) van die hedendaagse menseregte-regime is daarenteen vanweë sy gebondenheid aan konstitusionele reëls nie meer (amptelik) absolutisties nie. Die volgroeide Leviatan het egter, ofskoon hy nie meer absolutisties is nie, sy jeugdige afsydigheid afgeskud. Leviatan is nou totalitêr:[54] hy meng elke dag op velerlei wyses in ons almal se lewens in. Hy is indringend en ingrypend in sy omsien na die welsyn van ons almal. Geen terrein is immuun teen sy moeisame, minsame sorg nie. Hierdie sterflike god — die hedendaagse staat — is weldadig totalitêr en omdat hy die enigste is op wie ons in hierdie wêreld kan staatmaak, moet ons noodwendig in hom glo. Sodoende is hy heeltemal onmisbaar.

Menseregte, die vermeende bemagtiger van individue, staan gegewe hierdie agtergrond dus vierkantig binne die staatlike paradigma. Dit veronderstel die staat as kernentiteit en dit het die effek om weens volslae individuele afhanklikheid van die staat, die posisie van die staat teen enige aanvegtinge te verskans.

3.1 Die besondere posisie van sosiale en ekonomiese regte

Die erkenning en verskansing van tweede-generasieregte illustreer treffend hoe menseregte aangewend is om die onaantasbaarheid van die staat te verseker en sodoende die heersende staatlike orde teen omverwerping te vrywaar.

In die Middeleeue was die lewenstandaard van die gewone landelike bevolking laag in vergelyking met die destydse landelike aristokrasie, maar eersgenoemde het steeds meer maatskaplike veiligheid as die labouring poor van die negentiende-eeuse industriële lande geniet.[55] In die Middeleeue was armoede ʼn natuurlike toestand, maar die sosiale orde en die gepaardgaande ongeskrewe morele etos het middele verskaf vir die bekamping van minstens die ergste gevolge van armoede. Die uitdeel van aalmoese was ʼn gevestigde praktyk.[56] Feodalisme het sy eie nie-juridiese vorme van voldoening aan sosiale regte gebied, hetsy deur die paternalistiese pligte wat deur die feodale here nagekom is, of deur die broederskaplike reëlings van die gildes.[57] Alexis de Tocqueville het reeds gewys op die verskille tussen die maatskaplike verhoudings waarby die landelike aristokrasie van die Middeleeue aan die een kant, teenoor die industriële aristokrasie van die negentiende eeu betrokke was. Die landelike aristokrasie het baie alledaagse lewenservarings met hul lyfeienes gedeel. Hulle was op meer terreine as net op die gebied van arbeid met die lyfeienes gemoeid. Daar was ʼn aansienlike mate van gemeenskaplike lotsgebondenheid tussen hulle. Die industriële aristokrasie, daarenteen, het slegs ʼn loon aan die werker betaal en het verder geen ander raakvlakke met die werkers of enigiets anders met die werkers se welstand te doen gehad nie. Daar het geen gevestigde gewoontes, gebruike en pligte bestaan wat die industrialis met sy werkers verbind het nie. Daarteenoor het die meester van die ou landelike aristokrasie sy lyfeienes bygestaan en hulp aan hulle verleen, terwyl laasgenoemde weer beskerming en diens aan die meester verskuldig was.[58]

Die strukturele veranderings wat met industrialisasie ingetree het, was ʼn belangrike oorsaak vir die maatskaplike onveiligheid van die werkers. Produksie het van die selfgenoegsame huishouding na die fabrieksvloer en gepaardgaande loonarbeid weggeskuif. Die familie (uitgebreide gesin) was vroeër ʼn produksie-eenheid met sy eie interne distribusie-reëlings, asook reëlings vir maatskaplike sorg. Die moderne gesin (nuclear family) is daarenteen ʼn hoogs mobiele, verstedelikte struktuur wat van loonarbeid afhanklik is en wat geensins tot dieselfde maatskaplike selfsorg as sy uitgebreide voorganger in staat is nie.[59]

Die maatskaplik uitgelewerde en onveilige toestand waarin mense hulle toenemend in die negentiende eeu bevind het, het gelei tot groeiende ondersteuning van sosialistiese bewegings wat die onverwerping van die staatkundige orde beoog het. Die werkersbeweging het sigself sterk laat geld in die 1848-rewolusie in Europa. Teen die einde van die negentiende en die begin van die twintigste eeu het rewolusionêre sindikalisme met sy program van direkte optrede, gemik op ʼn uiteindelike algemene staking wat op werkersregerings moes uitloop, in Europa en Suid-Amerika ʼn gevaarlike uitdager vir die bestaande staatlike orde geword.[60] Die heersende orde was in die gedrang en die behoud daarvan het dringende verdedigingsmaatreëls geverg. Die Duitse, en kort daarna, die Britse regering het op die probleem gereageer deur wetgewing deur te voer wat voorsiening gemaak het vir maatskaplike sekuriteit. Die hoof-dryfvere agter die maatskaplike programme was die heersende politici, ondersteun deur senior staatsamptenare, wat die maatskaplike programme geloods het met die oog daarop om die bedreiging van die sosialistiese rewolusionêre beweging, wat die bestaande orde onder druk geplaas het, die hoof te bied.[61]

Die grondliggende motivering vir die beskerming van die werkers deur maatskaplike sekuriteitsprogramme, in sowel Duitsland, Engeland en Frankryk, was die noodsaak vir sosiale integrasie ten einde die staat en die heersende ekonomiese orde teen rewolusionêre omverwerping te vrywaar.[62]

In Frankryk was die poging om die kerk uit te oorlê ʼn bykomende rede waarom die staat die verpligting van maatskaplike sorg aanvaar het. Indien die staat nie die maatskaplike dienste verskaf het nie, het dit die risiko geloop dat die kerk hierdie taak sou behartig, met die gevolg dat die staat se posisie teenoor die kerk sou verswak het.[63]

Waar sosiale en ekonomiese regte die indruk van die individu as die begunstigde skep, blyk daar ook ʼn heel ander dimensie by die saak betrokke te wees. Dit is dat die instel en die bevordering van maatskaplike sekuriteitsprogramme van staatsweë die strategie was wat aangewend is om die heersende staatlike orde te verdedig en die mat onder die voete van sy linkse rewolusionêre uitdagers uit te pluk. Die heersende staatlike orde was dus net soseer ʼn bevoordeelde van maatskaplike sekuriteit en van sosiale en ekonomiese regte as die individue wat voordeel daaruit getrek het. Die staat het deur die aanvaarding van nuwe maatskaplike pligte nie net ʼn totalitêre weldoener geword nie, maar terselfdertyd sy rewolusionêre uitdagers gefnuik. Tweede-generasieregte was die troef.

Hannah Arendt lewer hierop kommentaar deur daarop te wys dat alhoewel die vakbondbeweging as die pleitbesorger vir verbeterde maatskaplike sorg en sekuriteit geslaagd was, dit as rewolusionêre politieke beweging misluk het.[64] Die juridiese instrument van tweede-generasieregte het die vakbondbeweging uiteindelik oorreed om te skik op die grondslag van maatskaplike sorg wat deur die staat voorsien is, in plaas daarvan om die omverwerping van die staatlike orde as strategiese politieke oogmerk te probeer deurvoer. Met die maatskaplike behoeftes van die werkers bevredig en die weg na die verwerwing van ʼn bourgeoisie-lewensstyl gebaan, was die rewolusionêre sosialistiese ideaal van die politieke sakelys verwyder. Dáárvoor het die staat en sosiale en ekonomiese regte gesorg. Sodoende is die staatlike orde weer deur menseregte gedien.

3.2 Horisontaliteit en die ideologiese ommekeer van menseregte

Die oorspronklike oogmerk van grondwetlike instrumente wat basiese regte probeer beskerm het, was om die terrein wat die owerheid mag betree, te begrens om sodoende die individuele vryheidsdomein juridies te probeer beskerm. Basiese regte het dus gepoog om regeringsoptrede in bedwang te hou deur dit te onderwerp aan fundamentele reëls wat as geldigheidsmaatstaf vir regeringsoptrede aangewend is. Hierdie geldigheidsmaatstawwe gee uitdrukking aan die basiese uitgangspunte van konstitusionalisme, aangesien dit poog om regeringsoptrede deur middel van basiese standaarde te rig ten einde sodoende te verseker dat dit altyd voldoen aan minimumstandaarde. Die beskerming van basiese individuele regte probeer dus om ongebonde staatsabsolutisme te vervang met reëlmatige optrede wat voldoen aan basiese juridiese vereistes van sowel ʼn prosessuele as ʼn materiële aard.

Menseregte-instrumente was aanvanklik daarop gemik om die individuele vryheid te beskerm. Dit is gedoen deur maatreëls wat moes waak teen die misstand van owerheidsindringing in, en regulering van die individuele vryheidsdomein. Staatlike absolutisme en totalitarisme was dus die klassieke antagoniste van menseregte.

Intussen het die situasie heeltemal verander. Tweedegenerasieregte het die staat met ʼn magdom van verpligtinge met betrekking tot die versorging van individue belas. Gevolglik is die staat kragtens sy menseregtelike verpligtinge in fyn besonderhede by die totale daaglikse welsyn van individue betrokke. Menseregte het ʼn instrument geword vir die noodwendige vestiging van staatlike totalitarisme. Trouens, waar totalitarisme vroeër ʼn verskynsel was wat met bepaalde ideologieë vereenselwig is, is dit vandag nie meer so nie. Staatstotalitarisme het nou ʼn algemene kenmerk van bykans die totale politieke werklikheid geword.[65] ʼn Nuwe dimensie wat verdere ingryping van die staat in die individuele vryheidsdomein meegebring het, het egter bygekom in die vorm van horisontale toepassing van menseregte.[66] Horisontale toepassing bring onder andere mee dat menseregte naas die vervulling van die klassieke funksie daarvan, naamlik die reël van die verhouding tussen owerheid en onderdaan, ook die onderlinge verhouding tussen privaat persone, insluitende individue, reguleer. Dit impliseer dat individue (asook privaat regspersone) deur menseregtelike bepalings gebind word. Dit beteken dat individue nie slegs reghebbendes is nie, maar ook pligdraers kragtens menseregtelike bepalings geword het.

Dit is natuurlik so dat die staat nie die enigste instelling is wat met mag beklee is en in ʼn magsverhouding teenoor individue staan nie. Private instellings, veral in die sakewêreld, is vanweë die enorme akkumulasie van kapitaal dikwels ewe magtig of selfs magtiger as die staat en gevolglik net soos die staat in ʼn posisie om hulle aan magsmisbruik tot nadeel van individue skuldig te maak. Juis om hierdie rede word geargumenteer dat dit noodsaaklik is dat menseregtelike instrumente ook private verhoudings behoort te reël.[67] Daar bestaan egter geen noodsaak om die potensiële misstande voortspruitend uit ongelyke verhoudings in die private sfeer noodwendig by wyse van algemene grondwetlike bepalings te reguleer nie. Trouens, individuele wetgewende maatreëls wat op die hantering van besondere probleemgevalle afgestem is, blyk ʼn meer gepaste en doeltreffende middel vir die hantering van hierdie soort probleem te wees.

Bowendien moet die enorme risiko’s verbonde aan algemene horisontale aanwending van grondwetlike regte deeglik in ag geneem word.[68] Horisontale aanwending bring mee dat die staat die private en burgerlike sfeer, waarbinne die integriteit van individuele keuses en burgerlike aktiwiteit beskerm behoort te word, binnedring en sodoende individuele vryheid en burgerlike interaksie vernietig. Wanneer die reg op gelykheid en teen onbillike diskriminasie horisontaal toegepas word, kan dit meebring dat individue se keusevryheid by die uitoefening van selfs die mees private en intieme keuses met betrekking tot assosiasie met ander individue vernietig word. Daar mag geargumenteer word dat individue tog oor die reg op vrye assosiasie beskik en dat voormelde ongewensde scenario dus nooit sal opduik nie. Die argument is egter nie noodwendig geldig nie. Die kern van die saak is dat individue by die uitoefening van die keuses by ʼn juridiese geskil betrek kan word, waartydens hulle sal moet verduidelik dat die betrokke keuse tog deur die reg op vrye assosiasie beskerm word. Dit gee dus daartoe aanleiding dat vryheid van assosiasie vanweë die horisontale werking van die reg op gelykheid aan streng staatskontrole onderwerp word. In plaas daarvan dat individuele vryheid ʼn basiese reg is, word dit op dié wyse verskraal tot ʼn uitsondering vir sover dit die staat behaag.

In die Suid-Afrikaanse regspraak is ʼn gevoeligheid vir hierdie totalitêre risiko getoon[69] toe regter Ackermann daarop gewys het dat die horisontale aanwending van die reg op gelykheid juis bovermelde soort ongewenste implikasies kan inhou,[70] wat sal meebring dat van die handves van regte ook ʼn kode van verpligtinge gemaak sal word.[71] Regter Kriegler het in dieselfde uitspraak gefaal deur nie dieselfde insig te openbaar nie en deur die totalitêre risiko’s verbonde aan horisontale aanwending argeloos as ʼn bangmaakstorie af te maak.[72]

Die huidige Suid-Afrikaanse grondwet maak voorsiening vir gekwalifiseerde horisontale toepassing.[73] Daar is egter sekere bepalings, met inbegrip van die reg op gelykheid en die reg teen onbillike diskriminasie, ten aansien waarvan horisontale toepassing ongekwalifiseerd geld.[74]

Die Konstitusionele Hof het geen probleem hiermee ondervind nie en die bepalings is sonder verdere kommentaar in orde bevind.[75] So is die grondslag gelê dat die vrese wat regter Ackermann uitgespreek het, inderdaad bewaarheid kan word.

Deur spesifiek voorsiening te maak vir ongekwalifiseerde horisontale aanwending van die reg op gelykheid, het menseregte sy aanvanklike vertrekpunt en doelwit heeltemal versaak en vir presies die teenoorgestelde verruil. Waar die oorspronklike oogmerk die juridiese verskansing van individuele vryheid was en waar menseregte aanvanklik die bewaker oor die individuele vryheidsdomein was, geld presies die teenoorgestelde nou. Nou voorsien menseregte deur middel van horisontale aanwending die indringende staat van die konstitusionele wapenrusting téén die waardes van vryheid en is hulle gemik op die verminking van die individuele vryheidsdomein en van sosiale en burgerlike aktiwiteit.

Notas

  • [41] Donnelly (n 39 hierbo) 306.
  • [42] RWM Dias Jurisprudence (1976) 580.
  • [43] Dias (n 42 hierbo) 591.
  • [44] Dias (n 42 hierbo) 593.
  • [45] Dias (n 42 hierbo) 585-588.
  • [46] Dias (n 42 hierbo) 596.
  • [47] Donnelly (n 39 hierbo) 305.
  • [48] Vasak (n 5 hierbo) 27 deel ons byvoorbeeld mee dat ingevolge internasionale menseregte die staat altyd vir die verwesenliking van menseregte aanspreeklik is. Hierdie eenvoudige waarheid is veral duidelik wanneer dit kom by sosiale en ekonomiese regte. Aangesien hierdie regte anders as eerste-generasieregte dikwels nie vir onmiddellike voldoening vatbaar is nie, word dit anders geformuleer as hulle eerste-generasie eweknieë. Tweede-generasieregte word gewoonlik gekwalifiseer deur te bepaal dat die staat die plig het om inaggenome die beskikbare hulpbronne die progressiewe realisering van die regte te bewerkstellig. Sien byvoorbeeld artikel 2(1) van die Internasionale Konvensie vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte asook artikel 26(2) en 27(2) van die SuidAfrikaanse Grondwet.
  • [49] S Diamond ‘The rule of law versus the order of custom’ in RP Wolff (red) The Rule of Law (1971) 124.
  • [50] Diamond (n 49 hierbo) 124.
  • [51] Diamond (n 49 hierbo) 124.
  • [52] Donnelly (n 39 hierbo) 312.
  • [53] Donnelly (n 39 hierbo) 312.
  • [54] Die betekenis wat hier aan totalitêr toegedig word, is in navolging van G Sartori Democratic Theory (1962) 47. Hy vereenselwig totalitarisme met die staat se volledige indringing in die private sfeer, die miskenning van die onderskeid tussen die staat en die gemeenskap en die meegaande algehele verpolitisering van die gemeenskap.
  • [55] TH Marshall The right to welfare and other essays (1981) 29.
  • [56] Marshall (n 55 hierbo) 30.
  • [57] Rimlinger (n 17 hierbo) 53.
  • [58] W Ebenstein Great political thinkers: Plato to present (1969) 539.
  • [59] Rimlinger (n 17 hierbo) 53-54.
  • [60] Sien in die algemeen M van der Linden en W Thorpe W (reds) Revolutionary Syndicalism: an International Perspective 1990.
  • [61] Van der Linden & Thorpe (n 60 hierbo) 58.
  • [62] Van der Linden & Thorpe (n 60 hierbo) 63.
  • [63] Van der Linden & Thorpe (n 60 hierbo) 58.
  • [64] Arendt H The Human Condition (1958) 216. Sien in hierdie verband ook die kommentaar van DM Davis ‘Human rights – A re-examination’ (1980) 97 SALJ 94-102 oor die wyse waarop menseregte rewolusionêre politiek uitoorlê.
  • [65] Diamond (n 49 hierbo) 124.
  • [66] Sien in die algemeen oor horisontale toepassing van menseregte IM Rautenbach Algemene bepalings van die Suid-Afrikaanse handves van regte (1994) 75-87; DM Davis Fundamental Rights in the Constitution (1997) 31; P van Dyk P en GJH van Hoof Theory and practice of the European Convention on Human Rights (1990)15.
  • [67] Davis (n 66 hierbo) 31. Presies dit het meegebring dat die sindikalisme sy rewolusionêre appèl verloor en as ʼn politieke krag na 1920 geleidelik van die toneel verdwyn het. Sien Van der Linden & Thorpe (n 60 hierbo) 18-19.
  • [68] Sien byvoorbeeld AJ Jeffery ‘The dangers of direct horizontal application: a cautionary comment on the 1996 Bill of Rights’ (1996) 1 The Human Rights Constitutional Law Journal of South Africa 10-16.
  • [69] Du Plessis and Others v D de Klerk and Another 1996 5 BCLR 658 (KH) para 100112.
  • [70] Du Plessis v De Klerk (n 69 hierbo) para 108.
  • [71] Du Plessis v De Klerk (n 69 hierbo) para 112.
  • [72] Du Plessis v De Klerk (n 69 hierbo) para 120, 122.
  • [73] Artikel 8(2) en (3) van die Grondwet van 1996.
  • [74] Artikel 9(4) plaas ʼn verpligting op privaat individue om nie onbillik teen ander individue te diskrimineer nie. Diskriminasie word ingevolge artikel 9(5) onbillik geag, tensy die verweerder die teendeel op ʼn oorwig van waarskynlikheid kan bewys.
  • [75] In re Certification of the Constitution of the Republic of South Africa 1996 1996 10 BCLR 1253 (KH) para 53-56.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Politieke Filosofie, Regte and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.