Wie trek nou eintlik Jan Taks se toutjies?

belastinggaarder

Deur Piet Le Roux

Hulle noem dit “belastingseisoen” – en die jag op ons beursies is pas weer “oop” verklaar. 

Ons almal ken vir Jan Taks: die man wat ’n pond van jou vleis vir die staat kom vat. Hy aanvaar nie nee vir ’n antwoord nie. En hy’s soos ou Jan Wilson se kat: elke jaar kom hy maar weer. 

Oor Jan Taks kan ’n mens baie kritiek lewer, maar vandag wil ek vir hom ’n lansie breek. Jan Taks bepaal nie hoe swaar die belastinglas is nie, hy vorder dit maar net in. 

Die regering gee die opdrag. Dis hoekom die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se slagspreuk eintlik bietjie misleidend is: “Tot u diens” moet wees “Tot die regering se diens”. 

Min van Suid-Afrika se 3,7 miljoen persoonlike inkomstebelastingbetalers is ten gunste van swaarder belasting. Moontlike uitsonderings is Desmond Tutu, wat na berigte nie onsimpatiek teen die gedagte van ekstra belasting op wit mense is nie. Julius Malema kwalifiseer nie as uitsondering nie, want of hy al sy belasting betaal het, is ietwat onduidelik.

Maar waarom is belasting dan so hoog? Is dit sowaar alles net die ANC se skuld? Die antwoord is nee: die regering het medewerkers. 

Al is min belastingbetalers ten gunste van swaarder belasting op hulself, kry ’n mens die kansvatters wat ten gunste is van swaarder belasting op ander. 

Hulle wil bank toe lag, terwyl ander mense vir die gelag betaal. In Engels praat die ekonome van “rent-seekers”. In Afrikaans is dit sommer gunsjagters.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) is een so ’n gunsjagter. Danksy ­Sapa betaal ons ’n soort spesiale BTW op hoendervleis.

Sapa het in September verlede jaar daarin geslaag om belasting (hulle noem dit tariewe) op hoenderinvoer uit lande soos Brasilië te verhoog. Suid-Afrikaanse invoerders moet nou so veel as 82% ekstra vir sekere hoenderporsies betaal, wat op die duur weer vir die eindgebruiker se rekening geskryf word.

Pas het Sapa sy gunsjag voortgesit met ’n versoek dat tariewe so hoog as 91% op pluimvee-invoer uit Nederland en Duitsland ingestel moet word. Sapa voer allerhande argumente oor “storting”, werkgeleenthede en handelsbeperkinge teen Suid-Afrikaanse hoenderboere aan, maar die argumente hou nie steek nie.

Waarop dit neerkom, is dat Sapa met dié heffings wil keer dat plaaslike invoerders gelykwaardige hoenderprodukte in Suid-Afrika teen laer pryse verkoop as wat Sapa-lede hul hoender wil verkoop. So kan Sapa-lede dan deur medewerking met die regering hul hoendervleis teen hoër pryse aan Suid-Afrikaners verkoop. 

Waarmee Sapa handel probeer blokkeer, en daarmee in vredestyd aan Suid-Afrikaners doen dit wat ’n vyandige staat in oorlogstyd sou doen. In plaas van voedselsekerheid bevorder Sapa met sy duurder hoender voedselonsekerheid. 

As Sapa oop kaarte met Suid-Afrikaners wou speel, moes hy sê: “Mense, ons het met die regering gereël vir ekstra belasting. Dis ’n wen-wen ooreenkoms: Jan Taks kry die ekstra belasting, en ons kry die hoër pryse wat julle uiteindelik betaal.” 

So ’n reguit stelling sou uiteraard geen steun ontlok nie.

Gelukkig tree die meeste sakelui nie so op nie: mense wat uit is op eerlike winsbejag, eerder as op gunsbejag. 

Jan Publiek het dit reeds moeilik genoeg met die regering en sy inkomstediens. Ons wil nie nog die gunsjagters se belastings ook betaal nie!

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.