Politokrasie: Die Disharmonie en agterdog van Menseregte

disharmonie

Hierdie is ʼn uittreksel van: Politokrasie Hoofstuk 8 :

Menseregte – Die Sorgsame Staat.

politokrasiePolitokrasie is ʼn moet lees vir enigeen geïnteresseerd in staatsleer en word uitgegee deur PULP uitgewers bestelvorm HIER beskikbaar.

3.3 Die Disharmonie en agterdog van Menseregte

Deur Prof Koos Malan

Die menseregte-diskoers word dikwels in ʼn jubelende trant en in ʼn atmosfeer van opgewonde vreugde gevoer. Met die invoer van ʼn handves van menseregte in Suid-Afrika in 1994 is die menseregte-regime deur talle met bykans kinderlike uitgelatenheid begroet. Menseregte as die vermeende geneesmiddel vir bykans alle sosiale en politieke kwale soos voorgeskryf deur die grondwet en toegepas deur die howe was vir baie ʼn bron van gemoedsrus, genoegdoening en vreugde.

Die bestaansrede vir menseregte, ongeag hoe geldig dit is, regverdig egter allermins dié blydskap. Indien daar werklik ʼn hegte gemeenskap binne die staat bestaan het, wat op onderlinge individuele vertroue, respek en samewerking berus het, was daar geen rede om ʼn stelsel van menseregte te ontwikkel aan die hand waarvan menslike verhoudings van bo af gereguleer moes word nie.

ʼn Stelsel van menseregte erken en bevestig die realiteit van die gemeenskaplose atomistiese tradisie wat deur Hobbes ingelui is. Hiervolgens is die staat nie die politieke manifestasie van ʼn outentieke gemeenskap van mense nie, maar bloot ʼn instansie wat deur ʼn stelsel van afgebakende individuele regte poog om antagonistiese individue se potensiële en daadwerklike konflik te bedwing en te bestuur. Menseregte is dus een van die uitvloeisels van die Hobbesiaanse tradisie. Sowel Karl Marx as Friedrich Engels het dit ingesien en lewer paslike kommentaar hierop. Marx laat hom soos volg oor die uitgangspunte van regte uit:

None of these so-called rights of man goes beyond the egoist man, beyond man as a member of civil society, as man separated from life in the community and withdrawn into himself, into his private interest and his private arbitrary will. These rights are far from conceiving man as a species-being. They see rather the life of the species itself, society, as a frame external to individuals, as a limitation of their original independence.[76]

Vir Friedrich Engels is die staat met sy antagonistiese individue en hul botsende doelwitte tekenend van ernstige sosiale patologie. Die staat, sê hy:

is the confession that this society has become hopelessly divided against itself, has entangled itself in irreconcilable contradictions which it is powerless to banish. In order that these contradictions, these classes with conflicting interests, may not annihilate themselves and society in a useless struggle, a power becomes necessary, that stands apparently above society and has the function of keeping down the conflicts and maintaining order. And this power, the outgrowth of society, but assuming power over it and becoming more and more divorced from it, is the state.[77]

Dit is natuurlik nie nodig om, soos Engels, juis ekonomiese konflik te beklemtoon nie. Onderlinge ekonomiese konflik en antagonisme bly sekerlik vandag steeds ʼn belangrike faktor, maar hedendaags het konflik voortspruitend uit botsende groepsidentiteite van veral ʼn taalkundige en kulturele aard sterk op die voorgrond getree. Dit tree na vore in die aandrang op nuwe regte, bo en behalwe die bestaande individuele regte. Wat meer is, is dat die erkenning van nog meer regte juis die bestaan van verdere antagonisme in die staat aan die lig bring — nuwe antagonismes wat deur nuwe regte gereguleer word. Ofskoon die regte gedeeltelik in die bekamping en bestuur van konflik slaag, lewer die erkenning van steeds nuwe regte terselfdertyd sombere sosiale kommentaar op die samelewings waarbinne menseregte-regimes funksioneer. Robert Goldwin verklaar hieroor met verwysing na die regte-kultuur sedert John Locke:

In extolling the importance of individual rights, we must realize that they stem from a political teaching based on strife and harsh competition, with pain, suffering and deprivation and misery often resulting. A nation whose political scheme is based on the primacy of individual rights is one of confusion, turmoil and ferment — and unavoidably more than a little injustice. It is not a design for calm and harmony in national life. It is a design for a stormy, tumultuous and chaotic peace, but one we can nevertheless readily consent to.[78]

Menseregte mag dus lof verdien, maar dan alleen as ʼn werktuig om konflik en antagonisme te probeer reguleer. Die samelewing waarvoor dit ontwerp is, is egter een waarin dit jammerlik aan werklike harmonieuse menslike gemeenskap en onderlinge vertroue ontbreek.[79]

Menseregte-handveste word verder gewoonlik vervat in onbuigsame grondwette wat teen gemaklike wysiging deur wetgewers verskans is. Dit geniet derhalwe gewoonlik die status van hoër of fundamentele reg. Hierdie reëling bied verdere getuienis van die onderlinge wantroue waarop grondwetlik verskanste menseregte geskoei is. Individue en groepe in die staat koester diepliggende agterdog jeens mekaar. Elkeen glo dat die ander nie met die regeringsmag vertrou kan word nie. Daarom moet daar byvoorbaat ʼn vaste onveranderbare reëling getref word sodat wie ook al aan bewind kom, minimum politieke beweegruimte sal hê. Sanford Levinson verwoord dit soos volg:

The very existence of written constitutions with substantive limitations of future conduct is evidence of skepticism, if not outright pessimism, about the moral caliber of future citizens; else why not simply enjoin them to ‘be good’ or ‘do what you think best’?[80]

Hieruit is dit duidelik dat grondwetlik verskanste menseregte nie die vergestalting van onderlinge vertroue is nie, maar die bepalings van ʼn sosiale kontrak gebou op wedersyds gekoesterde agterdog en vrees.

3.4 Die staatlike orde en die prominensie van die juristeklas

Saam met die groei van regte sedert die sewentiende eeu tot die sleutelwerktuig in die administrasie van die hedendaagse staatlike samelewing, het ook die regskenners — die regsprofessie in al sy vertakkings — op die voorgrond getree as die klas wat ten beste in staat is om die bestuur in die staatlike orde te behartig en populêre geloof in menseregte te versterk. Die regsprofessie het ʼn baie lang geskiedenis, maar die regte-gedrewe moderne staat — die regsregime — het die sosio-politieke infrastruktuur opgelewer wat by uitnemendheid die werksterrein van die juris is.

Die Republica Christiana van ouds was godsdienstig gedrewe en die klas mees eie aan dié orde was die kerklikes wat die samelewing gedomineer het.[81] Die huidige staatlike samelewing is natuurlik meer pluralisties as sy godsdienstige voorganger, maar net soos die Republica Christiana lewer dit ook sy eie, indien nie dominante nie,tog mees invloedryke klas op. Dit is die juristeklas wat net so behendig met die retoriese instrumente van die reg woeker as die vroeëre kerklikes met die retoriese gereedskap van die teologie. Net soos wat die Republica Christiana ʼn teologiese en geteologiseerde orde was, is die huidige staatlike samelewing ʼn juridiese en gejuridifiseerde orde.

In die Middeleeue was alle vraagstukke wat die moeite werd was om aan aandag te gee, godsdienstig van aard. So het dit minstens gelyk, want ofskoon ʼn probleem moontlik vanuit ʼn nie-Middeleeuse perspektief nie godsdienstig voorgekom het nie, is dit tog in godsdienstige terme geformuleer en sodoende binne die teologiese diskoers tuisgebring. Dit het tot gevolg gehad dat die kerklikes die enigstes was wat hulle met gesag oor sodanige geteologiseerde probleme kon uitlaat. Al die ander — die nie-teoloë — wat nie die teologiese diskoers bemeester het nie, was daarvan uitgesluit. Sodoende is die hantering, beheer en oplossing van vraagstukke deur die teologiese klas gemonopoliseer. Die manipulasie van die diskoers op sodanige wyse dat die probleme in teologiese terme geherdefinieer en dus geteologiseer is, was in effek ʼn politieke strategie, want die uitwerking van herdefiniëring was dat die gesag van die kerklikes versterk is en dat almal wat buite die kerklike klas gestaan het, van enige beduidende gesag en invloed ontneem is.

Dieselfde soort verskynsel kom in die staatlike orde met sy regtegedrewe samelewing voor. Talle probleme, met inbegrip van die belangrikste openbare vraagstukke, word ook gedefinieer en herdefinieer en geklassifiseer, maar dié keer nie tot teologiese probleme nie, maar tot probleme van ʼn juridiese aard en sodoende binne die operasionele sfeer en beheer van juriste gebring. Die proses van juridifisering wat hierdeur in die hand gewerk word, is trouens reeds ver gevorderd. Theo van Boven, ʼn voormalige senior VN menseregte-funksionaris, sê:

The great international issues of our times can all be framed, argued and contested on the terrain of human rights — issues of war and peace, self-determination, colonialism, racism, apartheid, the preservation and conservation of the environment, development, population, food, poverty, the establishment of a new international economic order, a new social order and a new human order.[82]

Die strategie wat sigself hier voltrek, is een van disassosiatiewe definiëring.[83] Daarvolgens kan ʼn bepaalde probleem wesenlik van ʼn politieke aard wees, maar deur disassosiatiewe definiëring word dit van die politiek gedisassosieer en ontkoppel en tot ʼn juridiese probleem herdefinieer. Die probleem word gevolglik retories gedepolitiseer en as herdefinieerde juridiese vraagstuk na die professionele terrein van die juris verplaas. Sodoende word die politieke diskoers binne die beheer- en gesagsterrein van die juris geplaas. Alle nie-juriste word van die diskoers uitgesluit en word ook van die juris wat die professionele terrein beheer, afhanklik gemaak.

Dit is treffend dat die prototipiese regsretoriese strategie juis aan die begin van die staatlike era uitgevoer is. Dit was in 1610 toe sir Edward Coke in Bonham’s Case tot die onsteltenis van James I hersienings- en nietigverklaringsbevoegdhede met betrekking tot Parlementêre en vorstelike handelinge vir die hof toegeëien het.[84] Coke het in sy hoedanigheid as Chief Justice of the Common Pleas in Bonham’s Case uitspraak gegee, maar hy is later, in 1613, tot hoofregter van die Kings Bench bevorder waar sy politieke invloed geringer was.[85] Hy is egter later as regter ontslaan, maar het mettertyd as parlementslid ʼn leidende rol teen die absolutistiese neigings van James I gespeel.

Coke het op sterkte van betreklik onoortuigende gesag[86] vir die hof ʼn hersienings- en nietigverklaringsbevoegdheid van Parlementêre en vorstelike handelinge toegeëien, toe hy in sy uitspraak in die saak verklaar het:

It appears in our books, that in many cases, the common law will control acts of Parliament, and sometimes will adjudge them to be utterly void: for when an act of Parliament is against common right and reason, or repugnant, or impossible to be performed, the common law will control it, and adjudge such an act to be void.[87]

Coke het soos volg geredeneer: die common law is fundamentele reg. Die regbank is die eksklusiewe bewaker oor en die vertroueling van die common law en het dienooreenkomstig oor die bevoegdheid beskik om wetgewing wat daarmee strydig was, ongeldig te verklaar.[88] Voorts was dit onmoontlik om die common law te ontsluit as jy nie grondig in die boeke van die common law en in die eiesoortige kunsmatige rede (artificial reason) van die common law geskool was nie. Kundige juriste, vaardig in die kunsmatige rede van die common law — mense soos Coke self — kon die insigte van die common law blootlê. Ander, met inbegrip van die politici, soos selfs koning James I, beskik hoe intellektueel voortreflik hulle ook al mag wees, egter nie oor die eiesoortige toerusting van die kunsmatige rede nie. Die boodskap aan diesulkes is om liewers oor die reg te swyg en hulle by die uitsprake van hulle juridies kundige meerderes te berus. Coke rapporteer soos volg hieroor:

Then the king said that he thought the law was founded upon reason, and that he and others had reason, as well as the judges: to which it was answered by me, that true it was, that God had endowed his Majesty with excellent science, and great endowments of nature; but his Majesty was not learned in the laws of his realm of England, and causes which concern the life, or inheritance, or goods, or fortunes of his subjects are not to be decided by natural reason but by the artificial reason and judgment of law, which law is an act which requires long study and experience, before that a man can attain to the cognizance of it … with which the King was greatly offended, and said, that then he should be under the law, which was treason to affirm, as he said: to which I said, that Bracton saith, Quod rex non debet esse sub homine, sed sub Deo et lege.[89]

Coke se dictum in Bonham’s Case het uiteindelik die heel belangrikste stelling met betrekking tot die vestiging van grondwetlike reg en, meer in besonder, met betrekking tot die hersienings- en nietigverklaringsbevoegdheid van die howe in die VSA geword.[90] Juis op sterkte van hierdie dictum is die praktyk van regterlike kontrole reeds lank voor Marbury v Madison in pre-rewolusionêre Amerika gevestig.[91] Coke is ook by name deur een van die founding fathers, Alexander Hamilton, ingespan ten gunste van die saak vir regterlike kontrole.[92]

Wat betref die wyse van argumentering was Coke grotendeels nog ʼn Middeleeuer. Hy het fragmentaries te werk gegaan en het nie probeer om ʼn omvattende filosofiese stelsel te ontwikkel nie. Daar is ook sterk aanduidings dat hy steeds die Middeleeuse oortuiging van ʼn onveranderlike fundamentele reg gehuldig het.[93] Coke was egter veel meer as net ʼn common law-juris. In werklikheid was hy ook ʼn politieke filosoof[94] en ʼn politikus.[95] Trouens, hy was ʼn juris-politikus wat op behendige wyse die gesaghebbende regsdiskoers, wat moeilik deur sy opponent, James I, teengegaan kon word, aangewend het met die oog daarop om ʼn politieke doelwit te bereik, naamlik om die koning (en by implikasie ook die Parlement) se legitieme gesagsterrein te verklein en die gesagsterrein van die hof en, daarmee saam, ook sy eie gesagsterrein uit te brei. Dit was klaarblyklik politiek par excellence.

Die verskynsel van regterlike kontrole deur ʼn bevoegde hof — veral konstitusionele howe — het sedertdien vernaamlik in die Westerse Wêreld ʼn algemene verskynsel geword.[96] Daarmee saam het die toenemende juridifisering van die politiek op die voorgrond getree. Sake wat vroeër as politiek beskou is en wat inderdaad wesenlik politiek is, word toenemend in regsterme herdefinieer. Sodoende word die funksionele terrein van die juris voortdurend uitgebrei en word die vermoë van nie-juriste tot sinvolle politieke deelname algaande ingekort. By die deelname aan die politieke diskoers wat in regsterme heromskryf is, word die politieke posisie en invloed van die juris versterk en die van dié nie-juris verswak. Die niejuris het deurlopend die probleem dat hy as gevolg hiervan verplig is om oor die weg te kom met taal (parlance) wat hy nooit werklik goed onder die knie het nie. Hy kom nooit behoorlik tot verhaal nie. Hy loop deurlopend die risiko om deur die juris, wat uiteraard die gejuridifiseerde diskoers goed onder die knie het, gekorrigeer te word. Die nie-juris se uitweg uit hierdie ongemak is gewoonlik om die professionele bystand van ʼn juris in te roep wat dan namens hom die woord kan voer. Met ander woorde, vermy die probleem van juridiese onkunde en word ʼn kliënt van die juris. Hier tree ʼn verdere gevolg van juridifisering op die voorgrond, naamlik dat hoe meer kwessies tot regskwessies herdefinieer kan word, des te groter word die juris se potensiële kliëntebasis.[97] Herdefiniëring brei gevolglik nie net die gesag en invloed van die juris uit nie; dit vergroot ook sy mark. Benewens die politieke implikasies van herdefiniëring, is dit gevolglik ook ekonomies voordelig.

Die mees voor die hand liggende juridifiserende gevolg van regterlike hersiening is dat die howe, en dus die regters, tot (mede)nasionale beleidmakers verhef word.[98] Juridifisering gaan egter verder as hofuitsprake. Dit verander ook die handelswyse van politici en beleidmakers. Die uitsprake van ʼn konstitusionele hof (of ander howe met die vereiste jurisdiksie) het ʼn rigtinggewende uitwerking, aangesien dit perke aan toekomstige beleidsopsies stel. Bowendien bestaan daar ook die risiko van regterlike sensuur vir soverbeleidsbesluite van wetgewers en die uitvoerende gesag nie juridies na wense is nie.[99] Dit gee daartoe aanleiding dat beleidsoorwegings noodwendig swaar met regsargumente en regsoorwegings belaai word. Konstitusionele debatvoering is dus nie net beperk tot die hof by wyse van regspraak en daadwerklike judisiële intervensie nie, maar kom trouens op ʼn deurlopende grondslag in die wetgewende proses voor.[100] Dit kring ook wyer uit na die algemene openbare diskoers, insluitende die media, waar argumente om die grondwetlikheid al dan nie van gebeure en besluite wentel. Die verskynsel het in Suid-Afrika algemeen geraak. Gejuridifiseerde politiek het deel van ons alledaagse werklikheid geword. Maar hoe veel daar ook al deur leke oor dié sake geargumenteer word, berus die finale antwoord in ʼn gejuridifiseerde diskoers by die juriste.[101] Hierdie ongelykheid in die gejuridifiseerde openbare diskoers, net soos dié van die geteologiseerde diskoers van die Republica Christiana, is onversoenbaar met gelykheid, wat juis ʼn voorwaarde vir ʼn egte demokratiese diskoers is.

3.5 Menseregte, bron van ʼn ideologie van afhanklikheid

Dit is ʼn inherente eienskap van die denkbeeld reg dat dit met gesag beklee en allerweë met ontsag en eerbied bejeën word. Trouens, daar lê gewoonlik ʼn element van heiligheid in die reg opgesluit. Juis daarom streef politieke maghebbers altyd daarna om politieke mag in die gestalte van die reg, deur oënskynlik neutrale wetgewing, te verwoord ten einde sodoende die brutaliteit wat dikwels met die verkryging en behoud van politieke mag gepaard gaan, te verbloem. Daarmee word die maguitoefening legitiem en ten minste in ʼn mate onaantasbaar. Reg bring (gewoonlik) gehoorsame gedrag mee en wanneer politieke mag sigself met die toga van die reg omklee, word dit bestendig en veel moeiliker uitdaagbaar.[102] Diegene wat in die besonder hierby baat, sluit spesifiek hulle in wat met die regspleging (administrasie van die reg) gemoeid is — die regsgeleerdes. Regsgeleerdes word eweneens met ʼn mindere of meerdere mate van ontsag en agting bejeën. Hulle dank dit onder meer aan die feit dat hulle met die mag, waarmee die regspleging gewoonlik gepaard gaan, beklee is. Aan die ander kant word regsgeleerdes ook dikwels gesien as die enigste beskutting teen vryheidsberowing en anargie.[103] Kyk net na al die vryhede wat as basiese regte beskerm word, en dit is nie vreemd nie dat juriste dikwels gesien word as die priesters wat die vryheid beskerm.[104]

Die invloed van die regsprofessie groei ook standhoudend vanweë die toenemend breër definiëring van regskennis en regsdienste en die meegaande verbredende terrein waarop die regsprofessie werksaam is.[105] Die funksionele terrein van die regsprofessie en van regsdienste het trouens tot so ʼn mate verbreed dat dit in werklikheid heeltemal ongedefinieerd geraak het.[106] Bowendien word die definiëringsfunksie grootliks aan die juriste self oorgelaat.[107] Die uitoefening van die definiëringsaksie wat hieruit voortspruit is grootliks kommersieel gedrewe. Die terrein word al hoe breër omskryf ten einde die gebied van juridiese dienslewering te vergroot en nuwe markte vir regsdienste te verwerf.[108]

Uiteindelik is die regsgeleerde ʼn bykans alomteenwoordige persoon — iemand wie se hulp in talle alledaagse besluite, transaksies en handelinge behoef word. Wat hieruit voortvloei, is waarna al heel paslik as die ideologie van die hulpverlener verwys is.[109] Die gevolg hiervan is dat die posisie van die hulpbehoewende nie-juris tot voordeel van die hulpverlener (juris) verswak word. Die hulpbehoewende se vermoë tot outonome beskikking verweer progressief en ʼn patroon van opsien na, en afhanklikheid van die regsgeleerde word aangekweek. Regsdienste neem die karakter van maatskaplike werk aan[110] en die regsgeleerde verkry dienooreenkomstig ʼn hoedanigheid wat herinner aan dié van die maatskaplike werker. Dit geld veral in die geval van staatsondersteunde regsbystand en natuurlik met die talle nuwe voordele wat hulpbehoewende mense kragtens sosiale en ekonomiese regte te beurt val. Met al die menseregte (wat ook standhoudend meer word) wat individue geniet en met die talryke regsdienste wat verleen word en waarby almal so mildelik baat, dra die reg en die regsprofessie by tot ʼn minsame alomversorgende totalitarisme[111] — die versorgende Leviatan.

Die posisie van die regsprofessie word ondersteun deur ʼn (onbedoelde) retoriese strategie wat tussen die regsprofessie en die potensiële kliënt afspeel. Komplekse en moeilik verstaanbare regsjargon word gebruik, wat die reg vir die nie-juris ontoeganklik maak. Dit gaan gepaard met komplekse prosedures — rituele — wat die reg verder ontoeganklik maak en die nie-juris se afhanklikheid en hulpbehoewendheid van die reg en die juris verder vererger.[112] Die hof-arena dra ook by tot die verleentheid en afhanklikheid van die leke-litigant. Dit kortwiek sy selfvertoue want hy weet gewoonlik nie wat hom daar te doen staan nie. Die hofprosedure en atmosfeer is allermins bevorderlik vir die moontlikheid dat ʼn persoon sy saak self kan behartig. Die ingewikkelde voorverhoor-prosedures maak die leke-litigant nog verder op die kundige dienste van die regsgeleerde aangewese. Voeg hierby die feit dat regters in elk geval moeilik met leke-litigante kommunikeer en baie makliker oor die weg kom met regsverteenwoordigers, aangesien hulle deur dieselfde regsjargon bedien word en ewe gemaklik daarmee omgaan. Die stelsel is dus so ontwerp dat dit nouliks sonder regsverteenwoordiging kan funksioneer.[113]

Wanneer tale anders as dié van die partye vir hofverrigtinge gebruik word, verdiep die afhanklikheid van die leke-partye verder teenoor hulle regsraadgewers. In Suid-Afrika is daar ʼn sterk neiging om byvoorbeeld slegs Engels vir die amptelike notulering van hofverrigtinge te gebruik.[114] Alle amptelike hofstukke sal hiervolgens slegs in Engels beskikbaar wees, wat, soos gesê, die hof nog meer ontoeganklik vir die leek maak en die noodsaak vir regsbystand verder beklemtoon.

Hierbenewens werk dit klaarblyklike regsongelykheid in die hand, aangesien diegene wat die notuleringstaal goed verstaan, bevoordeel word bo diegene wat dit nie behoorlik onder die knie het nie en laasgenoemde derhalwe nog meer op regsverteenwoordiging aangewese maak.[115]

Uiteindelik kan die leek die funksionering van die reg, nieteenstaande die feit dat sy belange intens daarby betrokke is, slegs op ʼn afstand as ʼn toeskouer gadeslaan. Dit alles moet die nie-juris met ʼn gevoel van eerbied en ontsag vir die reg, die regsproses en die regsprekers aanskou. Benewens die ontoeganklikheid en onaantasbaarheid van die regspleging weens die reeds gemelde ingewikkelde regstaal en moeilik volgbare prosedure en die vreemde hof-atmosfeer, is daar ook nog die eerbied wat aan die regter verskuldig is — iets wat opsigself ruim bydra tot die ontsag vir die reg waarna hierbo verwys is. Bepaalde regsreëls rond die mistiek van die hof af met die misdryf, minagting van die hof. Daardeur word minagting vir die regsprekende beamptes (en die regsproses) bestraf, terwyl ontsag en eerbied dienooreenkomstig verplig word. Dit dra by tot die veredeling van die regsproses en die verheffing van die voorsittende regter tot ʼn regskoning.[116]

Menseregte het steeds meer regte vir individue bygevoeg en doen dit steeds. Hoe meer regte mense het, des te meer word hulle van die dienste van die regsgeleerde afhanklik. Die staat wend die reg aan om al die gevarieerde menslike behoeftes te bevredig. Dit dien terselfdertyd as die sleutel-strategie om die staatlike orde te verskans. Wie sal dit na alles oorweeg om die rug op so ʼn weldoenende staat te keer? Individue is die behoeftige ontvangers van die voordele wat die staat via die reg verskaf. Die toevoeging van elke nuwe reg registreer ʼn verdere dimensie in menslike behoeftigheid en afhanklikheid en verdere verwering van individuele selfstandigheid. En die houvas van die minsame, genadige weldoener-Leviatan, die sterflike god, op sy kudde — die burgers van die territoriale staat — raak steeds stewiger. Die staat raak ook algaande meer sensitief vir besondere behoeftes: van byvoorbeeld vroue, kinders, inheemse bevolkings, godsdienstige, taal- en kulturele minderhede — almal ontvangers van nuwe voordele van menseregte. Maar namate al die groepe ontvangers van Leviatan se regsvoordele word, en meer afhanklik word, verweer hulle vermoë om deur politieke en dergelike handeling na hulself om te sien. Leviatan sien met al groter sorg na sy weerlose staatsburgerlike kudde om. Ongeloof in en ontrouheid aan Leviatan is bykans onmoontlik. Uitdaging van die sterflike god is hoegenaamd nie ter sprake nie. Menseregte het die staat daarteen geharnas.

Notas

  • [76] Karl Marx On the Jewish Question aangehaal deur R Dagger (n 1 hierbo) 302-303.
  • [77] F Engels The origin of the family, private property and the state (vertaal deur Ernst Untermann) (1902) 206.
  • [78] RA Goldwin ‘What is a Bill of Rights and what is it good for?’ in A Licht & B de Villiers (red) South Africa’s crisis of constitutional democracy: can the U.S. constitution help? (1994) 162-163.
  • [79] Sien verder Diamond (n 49 hierbo) 140.
  • [80] S Levinson ‘Law as Literature’ (1981-2) 60 Texas Law Review 376.
  • [81] Sien hoofstuk 2.1.
  • [82] T van Boven People Matter: Views on international human rights policy (Saamgestel deur Hans Toolen) (1982) 16.
  • [83] P Goodrich ‘Rhetoric as jurisprudence: An introduction to the politics of legal language’ (1984) 4 Oxford Journal of Legal Studies 92-93.
  • [84] Sien hieroor asook oor die invloed van Coke onder andere FT Plucknett ‘Bonham’s case and judicial review’ (1926-1927) 40 Harvard Law Review 30-70; (a) ES Corwin ‘The establishment of judicial review’ (1910) 9 Michigan Law Review 102-125; (b) ES Corwin ‘The ‘higher law’ background of American Constitutional Law’ 19281929 42 Harvard Law Review 365-409; RA MacKay ‘Coke, Parliamentary sovereignty and the supremacy of the law’ (1924) 22 Michigan Law Review 215247; CF Mullet ‘Coke and the American revolution’ (1932) 12 Economica 457-471
  • [85] Mullet (n 84 hierbo) 459.
  • [86] Mullet (n 84 hierbo) 460-461; 467; Plucknett (n 84 hierbo) 40.
  • [87] Aangehaal deur GH Sabine A History of Political Theory (1971) 452 uit Coke’s Reports Pt. VIII, 118a.
  • [88] Plucknett (n 84 hierbo) 50.
  • [89] Aangehaal deur Sabine (n 87 hierbo) 452 uit Coke’s Reports Pt. XII, 65.
  • [90] Corwin (n 84b hierbo) 367; Corwin (n 84a hierbo) 105-106.
  • [91] Plucknett (n 84 hierbo) 62.
  • [92] Corwin (n 84a hierbo) 107; Mullet (n 84 hierbo) 458; Corwin (n 84b hierbo) 397.
  • [93] Corwin (n 84b hierbo) 366; Mullet (n 84 hierbo) 466. Sien oor die onveranderlike Middeleeuse fundamentele reg hoofstuk 2.2.
  • [94] Plucknett (n 84 hierbo) 30; 45.
  • [95] CF Mullet 1932 461.
  • [96] Sien byvoorbeeld A Stone ‘The birth and development of abstract review: constitutional courts and policy making in Western Europe’ (1991) 81 Policy Studies Journal 81-95; G Dietze ‘America and Europe — decline and emergence of judicial review’ (1959) 76 SALJ 398-434.
  • [97] Z Bankowski en G Mungham Images of Law (1976) 43.
  • [98] Stone (n 96 hierbo) 88.
  • [99] Stone (n 96 hierbo) 87-88.
  • [100] Stone (n 96 hierbo) 89.
  • [101] Die uitwerking van die bestaande reg en van regterlike ingryping moet natuurlik terselfdertyd ook nie oorskat word nie. Howe kan korreksies aan beleid aanbring maar is natuurlik nie in staat om ʼn breë politieke program van die politieke takke van staatsgesag — die wetgewer en die uitvoerende gesag — in die war te stuur nie, veral nie wanneer hierdie programme sterk openbare ondersteuning geniet nie. Verder is die howe natuurlik inherent polities swakker as die ander takke van staatsgesag en dit moet natuurlik ook voortdurend in ag neem dat dit juis van die wetgewer en, in die besonder, van die uitvoerende gesag afhanklik is om die hof se bevele uit te voer. Ofskoon juridifisering dus ʼn sterk faktor in die moderne politiek geword het, moet howe steeds noodwendig teësinnig wees om te geredelik met die beleid van die wetgewer en die uitvoerende gesag in te meng. Sien hieroor onder andere R Dahl se insiggewende artikel ‘Decision-making in a democracy: “The Supreme Court as a national policy-maker”’ (1957) Journal of Public Law 293 et seq asook K Malan ‘The Unity of Powers and the Dependence of the Judiciary’ 2005 De Jure 2005 99-115.
  • [102] Sien in die algemeen AT Turk ‘Law as a weapon in social conflict’ (1976) 23 Social Problems.
  • [103] J Caplan ‘Lawyers and litigants’ in I Ilich I et al Disabling Professions (1977) 94.
  • [104] Bankowski & Mungham (n 97 hierbo) 94.
  • [105] Bankowski & Mungham (n 97 hierbo) 43.
  • [106] Caplan (n 103 hierbo) 96.
  • [107] Caplan (n 103 hierbo) 96; Bankowski & Mungham (n 97 hierbo) 39.
  • [108] RL Abel ‘The Rise of Professionalism’ (1979) 9 British Journal of Law and Society 82.
  • [109] Bankowski & Mungham (n 97 hierbo) 75.
  • [110] Bankowski & Mungham (n 97 hierbo) 75.
  • [111] Die frase benign totalitarianism word deur I Ilich I Disabling Professions (1977) 14 gebruik.
  • [112] Caplan (n 103 hierbo) 93.
  • [113] Caplan (n 103 hierbo) 101-102.
  • [114] Sien byvoorbeeld S Netshitomboni ‘The use of languages in courts: the point of view of the Department of Justice and Constitutional Development’ (21 Maart 2000) FAK-Konferensie:Taal in die howe (Ongepubliseerd); Mthethwa v De Bruin NO and Another 1998 3 BCLR 336 (N); S v Matomela 1998 1 BCLR 339 (Ck); S v Damoyi 2004 2 SA 564 (K). Vgl ook K Malan ‘Observations on the official use of language for the recording of court proceedings’ (2008) 23 SAPR/L 59-76.
  • [115] K Malan ‘Oor die hofnotuleringstaal in die lig van die grondwet en na aanleiding van onlangse regspraak’ (1998) 61 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 700-702.
  • [116] Die regter word in die Engelse wêreld so hoog geag dat buitestaanders — van buite die Engelse wêreld — soms spottenderwys na dié regters as regskonings verwys (wat terloops retories goed inpas by Dworkin se gebruik van die begrip Law’s Empire.) Sien JMT Labuschagne ‘Minagting van die hof: ʼn strafregtelike en menseregtelike evaluasie’ (1988) TSAR 330.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Politieke Filosofie, Regte and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.