Die genadedood van die getroue spaarder

genadedood

Deur Dawie Roodt

Deesdae is sentrale banke statutêre monopolieë en seker die magtigste monopolie in enige land!

Kyk ’n mens wat sentrale banke vandag aanvang, is dit duidelik hulle gebruik dié mag tot die uiterste.

Sentrale banke verkry hul magte deur wetgewing wat slegs aan hulle die reg gee om geld te druk en te munt.

Aangesien sentrale banke die enigste “bron” van geld is, is hulle ook by magte om die “prys” (rentekoers) van geld te bepaal.

Die meeste sentrale banke hoef deesdae nie meer goud of ander bates te hou om die geld wat hulle skep, te ondersteun nie.

Sentrale banke kan dus vandag letterlik geld uit niks uit maak.

Om daardie rede sal geld sy waarde verloor indien te veel daarvan geskep word.

Wanneer dit gebeur, kry ons inflasie en daarom het baie sentrale banke vandag inflasieteikens wat meet of te veel (of selfs te min – in die geval van deflasie) geld geskep word.

Die rol van sentrale banke vandag is dus om te sorg dat daar net genoeg geld in die ekonomie is. Daar is ’n paar maniere om dít te bepaal.

Een manier is om te kyk na inflasie, maar ’n ander manier is om seker te maak dat daar ’n “balans” tussen spaarders en leners is.

Wanneer te veel mense geld leen, verhoog die sentrale bank rentekoerse om leners te ontmoedig om te leen en om spaarders aan te moedig om meer te spaar. Die teenoorgestelde geld ook.

Sentrale banke se take het dus met die geldvoorraad te doen. Die belangrikste instrument wat ’n sentrale bank gebruik om die geldvoorraad te bestuur, is rentekoerse. Deesdae se sentrale banke reken hulle is nou ook verantwoordelik vir die res van die ekonomie, sowel as verantwoordelik vir die finansiële markte.

Sedert die finansiële krisis in 2007-’08, wat in elk geval grootliks deur te lae rentekoerse wêreldwyd veroorsaak is, het die wêreld se sentrale banke rentekoerse tot histories lae vlakke verlaag.

Die rede waarom sentrale banke tot sulke stappe oorgegaan het, is om dit makliker te maak vir mense om skuld af te betaal en om mense aan te moedig om selfs meer te leen en minder te spaar. Die idee is dat lae rentekoerse en geldskepping die wêreld se ekonomiese wiele weer aan die draai gaan kry.

Ondanks ongehoorde monetêre stimulering van sentrale banke bly leners sku en bly banke onwillig om te leen. Dit skep ’n dilemma vir beleggers.

Beleggers se beleggingsopsies het drasties verander; rente-opbrengste is vandag bitter laag en die enigste tradisionele bateklas wat oorbly, is aandele. Deur hul beleid van ultralae rentekoerse dwing die wêreld se sentrale banke beleggers om in bates te belê waarvan die pryse intussen tot gevaarlike vlakke gestyg het.

Intussen moet iemand betaal vir al die gelag. Die wenners is diegene wat geld skuld en die verloorders is diegene wat geld gespaar het.

Terwyl die lewe so maklik gemaak word vir diegene wat geld skuld, beteken dit dat die lewe vir spaarders baie moeilik gemaak word. Instellings soos pensioenfondse vind dit ook al hoe moeiliker om beleggings te identifiseer met redelike opbrengste teen aanvaarbare risiko’s.

Suid-Afrika is nie anders nie. Persone wat van rente-inkomste afhanklik is, die spaarders, kan vandag ’n opbrengs van sowat 6% op die geldmark verdien terwyl die inflasiekoers amper 7% is.

Dit beteken dat spaarders se opbrengste nie naastenby genoeg is om vir inflasie te vergoed nie – om nie eens van belasting te praat nie.

Wat almal van sentrale banke moet weet, is dat hul beleid van besondere lae rentekoerse ten doel het om vraag te stimuleer en om sodoende ekonomieë aan die groei te kry (wat in elk geval nie baie suksesvol is nie). Dit word egter bereik deur rentekoerse so laag te hou dat leners bevoordeel word ten koste van spaarders.

Op ’n manier subsidieer vandag se spaarders vandag se leners. Wat dit nog erger maak, is dat diegene wat afhanklik van spaargeld is gewoonlik ook afgetrede en ouer mense is.

Mense wat altyd geglo het dat ’n staatsbeheerde sentrale bank-monopolie beter na sy spaarders sal omsien, kan dalk ietwat ontnugter wees…

 

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Ekonomie and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.