Moenie deur ANC-’newspeak’ mislei word nie

woorde uit 1984

Deur Sebastiaan Biehl

ʼn Regering wat ʼn regime verteenwoordig, dus vir homself opeis om nie net sy plig na die beste van sy vermoë vir die volgende termyn te doen nie, maar om die samelewing volgens sy ideologie te omvorm, heers nie soseer met brute geweld nie, maar deur die beheersing van die openbare debat en veral deur die gebruik van sekere sleutelwoorde. Dit is eie aan alle regimes dat hulle hul harde ideologie wat talle mense teen die bors stuit, verpak in mooiklinkende woorde en frases sodat dit onskuldig of selfs goed klink. Ook die ANC-regering, wat vir homself opeis om swartmense van die nalatenskap van “apartheid” te bevry, beskik oor ʼn verskeidenheid van sulke woorde wat van hulle oorspronklike betekenis gestroop word om ʼn linkse ideologie aan die burgers te verkoop. George Orwell het in sy boek “1984” die term “newspeak” vir sulke ideologies verwronge woorde gebruik. Hier is ʼn paar van die ANC-regering se gewildste “newspeak” terme:

Regstellende Aksie en Verteenwoordigendheid: Dié term veronderstel dat iets wat verkeerd is, reggestel word. In praktyk beteken dit egter dat die hele samelewing verswart moet word en daar vir minderhede nêrens ʼn plek, instelling, vereniging of maatskappy is waar hulle die meerderheid is nie.  Die ANC-redenasie is dat onder gewone omstandighede alle bevolkingsgroepe orals gelyk, dit wil sê volgens hulle nasionale bevolkingsgetalle, verteenwoordig sou wees, maar dat weens diskriminerende wetgewing tydens apartheid minderhede bevoordeel is sodat hulle nog steeds op te veel plekke oorverteenwoordig is. Dit moet nou reggestel word. Op die oog af klink die redenasie billik, maar dit is ʼn drogredenasie en maak van “verteenwoordigendheid” ʼn absolute wat net deur middel van diskriminasie en staatsinmenging bereik kan word. By die verabsolutering van verteenwoordigendheid word buite rekening gelaat, of gerieflikheidshalwe verswyg, dat net instellings wat almal in dieselfde mate bedien, soos die Departement van Binnelandse Sake, wat aan alle landsburgers ID-boeke uitreik, verteenwoordigend van die hele bevolking kan wees. Interessant genoeg is juis ʼn instelling soos Binnelandse Sake waarskynlik ook nie verteenwoordigend nie, maar het meer swartmense in sy diens as wat die demografiese teikens vereis. In werklikheid is daar egter bitter min instellings en ook bitter min maatskappye wat op almal ewe sterk fokus. ʼn Maatskappy wat grimering of naellak bemark, sal mos nie 50% manlike verkopers en bemarkers aanstel om verteenwoordigend van die hele bevolking te wees nie. So sal ʼn maatskappy wat in ʼn tradisionele Xhosa-area bemark, nie Afrikaanssprekendes of Zoeloesprekendes aanstel nie, en as hulle dit doen, sal hulle besigheid swak wees. Net so min kan ʼn Christelike kerk “verteenwoordigend” wees en sy kwota Hindoes, Moslems en Ateïste volgens die bevolkingsamestelling insluit by sy ledemate en amptsdraers. Die mooiklinkende eis van “verteenwoordigendheid” is inderwaarheid ʼn manier om elke aspek van die samelewing te oorheers met mense wat die ANC-ideologie bevorder.

Transformasie: Die term, wat op sigself ʼn neutrale of selfs positiewe klank het, word benut om aan te dui dat dit wat boos en sleg was, nou goed en algemeen aanvaarbaar gemaak word. Transformasie word ook in dieselfde asem as verandering gebruik,om daarmee te insinueer dat dit onvermydelik is en dat diegene wat daarteen gekant is vasklou aan ʼn slegte en onregverdige verlede en in elk geval besig is met ʼn verlore stryd. Elke keer wanneer nog ʼn Afrikaanse skool of universiteit verengels word en sy Christelike etos met een van sosialisme of links-liberalisme vervang word, dan word van “transformasie” gepraat sodat elke aksie wat op sigself ontwrigtend is en mense ontstel, ondergeskik gestel kan word aan die hoër, edele doel van ʼn “oop samelewing”. In praktyk beteken transformasie egter dat geen verskille, geen uitblinkers, geen ander opinies geduld word nie.

Demokrasie: Die term word nou al vir dekades en nie net in Suid-Afrika nie, so baie rondgegooi en deur almal, van links tot regs, gebruik, dat dit sy betekenis verloor het en alles vir almal geword het. Almal skryf “demokrasie” op hulle vaandels want niemand kan in vandag se tyd nog teen demokrasie wees nie. Eintlik beteken demokrasie ʼn regeringsvorm van publieke deelname gegrond op ononderhandelbare regte, wat die belange van die verskillende groepe in ewewig probeer bring. Die ANC eis egter vir hom die alleenreg op demokrasie op omdat hulle na vele jare van ʼn kommunisties geïnspireerde stryd, dikwels gewelddadig, in 1994 na ʼn onderhandelde skikking deur middel van ʼn algemene, “demokratiese” verkiesing aan bewind gekom het. Dit beteken dan ook by implikasie dat, as ʼn ander party behalwe die ANC iewers ʼn verkiesing wen, demokrasie gesneuwel het en met alle middele weer herstel moet word. Die onverdraagsaamheid van die ANC teenoor die opposisie is ʼn bewys daarvan. Demokrasie beteken vir die ANC dat hulle deur hulle verkiesingsoorwinning die mandaat het om die land volgens hulle idees te vorm, nie net vir die volgende termyn nie, maar vir altyd. Nog geen leier van ʼn ware demokrasie het ooit gesê dat sy party sal regeer “tot en met die Wederkoms” nie en dat diegene wat nie vir die regerende party stem nie, “hel toe sal gaan”.

 Vryheid: Nes demokrasie is dit ook ʼn term wat al so baie misbruik is dat dit alles vir almal kan beteken. Vir die meer konserwatiewes en die klassieke liberales beteken dit om vry te wees om die regte ding te doen, sonder om deur die staat voorgeskryf te word. Dit is dus ʼn term wat die vryheid om te skep, om jouself te wees en om vir jouself te sorg, impliseer. Vir linksgesindes en veral vir Afrikaniste beteken dit bevryding van iets of iemand. Net soos met demokrasie, eis die ANC en sy trawante vir hulleself op dat net hulle vryheid gebring het en weet wat dit beteken, en dat net swartmense na vryheid strewe terwyl blankes per se onderdrukkers is en ander van hulle vryheid wil ontneem. Die klem lê nie op dit wat jy met jou vryheid wil doen as jy dit het nie, maar op dit wat jy aan die vermeende onderdrukker of die instellings wat jou gevange hou, wil doen, naamlik om hulle te ontmagtig, te vernietig of te omvorm tot jou eie voordeel. Opvallend is dat wel luidkeels “20 jaar van Vryheid” gevier word, maar dat feitlik alle wetgewing daarop gemik is om “die mense te bevry” deur middel van inmenging in die ekonomie, grondgryp, gedwonge rasseteikens by instellings en maatskappye, bevoordeling van die sogenaamd “voorheen benadeeldes”, ens. Daar het ook nog nooit ʼn punt gekom waar ʼn swart nasionalistiese regering gesê het dat sy mense nou werklik bevry is en nou hulle pligte moet opneem om hulle vryheid ook sinvol te gebruik nie. Die lys van euwels waarvan die mense eers nog bevry moet word, selfs vele dekades na onafhanklikheid, het geen einde nie: die nalatenskap van kolonialisme, onregverdige en onderdrukkende strukture, rassisme, kapitalisme, minderhede wat kapitaalkragtig is, buitelandse inmenging en uitbuiting, ens.

Diversiteit: Dit is ʼn verdere mooiklinkende maar niksseggende term wat deel is van die ANC senewspeak-versameling. Dit is ook ʼn begrip wat so gekies is dat dit regverdig en goed voorkom en niemand eintlik daarteen kan wees nie en dat diegene wat so iets teenstaan, hulleself as rassisties of ten beste as eng ontbloot. Diversiteit op sigself beteken eintlik net ʼn groot mate van verskeidenheid. Waar jy ʼn groot verskeidenhied het om van te kies, is dit ʼn goeie ding. As egter vir jou voorgesê word wat jy moet kies, en as op die rak van verskeidenheid net items beskikbaar is wat jy nie wil hê nie en wat alles variasies van dieselfde is, dan is dit nie ʼn goeie ding nie. Suid-Afrika was nog altyd ʼn uiters diverse land, ook in die tye van streng apartheid. Daar was nog altyd ʼn verskeidenheid volke, tale, gelowe, geure, kossoorte, landskappe, leefwyses, ens. Die ANC se vertolking van die verlede is egter dat Suid-Afrika ʼn eensydig wit, Afrikaanse, manlike en streng Kalvinistiese land was waar alles wat anders was, verdruk is. Diversiteit volgens die newspeak beteken om almal tot hulle reg te laat kom. In praktyk beteken dit egter onverdraagsaamheid teenoor diegene wat nie wil inval nie by dit wat as “divers” beskou word nie. Pleks daarvan om diversiteit te akkommodeer deur middel van instellings soos skole en universiteite, kerke en verenigings vir elke groep en taal, beteken dit volgens die ANC dat net dit wat swart, Engels en nie-christelik, oftwel alles behalwe wit, christelik en Afrikaans is, as ‘divers’ en dus toelaatbaar en gesond beskou word. Dié soort onverdraagsaamheid in die naam van diversiteit is onlangs weer bewys deur uitsprake van prof Adam Habib, rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, wat ʼn hoofsaaklik wit en Afrikaanse (en by implikasie christelike) universiteit soos byvoorbeeld Potchefstroom as onversoenbaar met die ideale van die nuwe, demokratiese Suid-Afrika beskou het, omdat dit nie “divers” is nie. ʼn Universiteit wat egter oorweldigend swart is en Engels as enigste voertaal het, is volgens die logika wel “divers”. Diversiteit beteken dus in praktyk maar net “val in by ons, die meerderheid.”

Hierdie artikel het oorspronklik op die Oraniablog  se webblad verskyn.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Politieke Korrektheid and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.