Wees openlik en bring raswet dan liefs terug

Deur Piet Le Roux

Almal wil ons ras weet. Skole en universiteite, werkgewers, sportspanne en nou Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Kan ras nie sommer weer in ID-boekies aangebring word nie?

In die jongste uitbreiding van verpligte rasseklassifikasie wil Nkwinti grondeienaars wetlik verplig om hul ras aan te dui. Die regte ras, natuurlik. Die een wat jy sou gehad het as dit van die NP se bevolkingsregistrasiewet van 1950 afgehang het.

Hoewel rasbepalings reeds in Suid-Afrikaanse wetgewing opgeneem is lank voordat die NP in 1948 aan bewind gekom het, het die NP in 1950 ʼn groot tree gegee deur ras en bevolkingsregistrasie te integreer. 

Nie net het almal in Suid-Afrika toe op ʼn bevolkingsregister verskyn nie, maar hul ras is deur die staat aangeteken en dit is uiteindelik ook in hul identiteitsnommers weerspieël. Wit, kleurling en naturel was die hoofkategorieë, met onderafdelings soos die minister dit toepaslik geag het. Die proses was duidelik uiteengesit. Klinies en meganies. 

Staatsamptenare sou gronde kon vind om ʼn aanvanklike rasseklassifikasie te maak, waarna klassifikasies op twee maniere gewysig kon word: Eerstens kon die staat met opgaaf van redes iemand kennis gee dat hy anders geklassifiseer sou word. Tweedens kon burgerlikes self om ʼn verandering van ras aansoek doen.

ʼn Raad bestaande uit drie mense, soos deur die betrokke minister aangewys, het dan ʼn beslissing gevel. As die betrokke persoon nie tevrede was nie kon daar altyd na die howe geappelleer word, waar wit-, kleurling- of naturelskap n bevel van die hof gemaak kon word. 

Elke landdrosdistrik het vir openbare insae ʼn afskrif van die bevolkingsregister, met aanduiding van iedereen se ras, beskikbaar gehad.

En daar was dit: die staat se rigiede rassestempel, verpligtend en gereed vir eenvormige gebruik deur almal in Suid-Afrika. 

Die blatantheid van die wet het, totdat dit in 1991 afgeskaf is, ʼn welkome swak plek in apartheid se mondering gebied. 

Vandag is die situasie anders, maar ook nie soveel anders nie. Die bevolkingsregistrasiewet bestaan weliswaar nie meer op die wetboek nie, maar dit bestaan kliphard in praktyk. 

Rasseklassifikasie is immers die basis waarop ʼn magdom van wette berus, insluitende die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op ­Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging. Die greep van hierdie wette word boonop deur stringe regulasies, kwotas en “teikens” van die wieg tot in die graf versterk.

Omdat die onderliggende wet vir rasseklassifikasie egter nie op die wetboek is nie, is die rasmeganisme ongelukkig minder tasbaar – en daarom minder kwesbaar. Vandag bedryf die staat sy rasseklassifikasie onder die dekmantel van selfklassifikasie. Dat jy soms van ’n vorm voorsien word om kamma self oor jou ras te besluit, is egter ʼn klug. 

Dink maar aan die studente wie se toelating tot keuringskursusse by meer as een universiteit al teruggetrek is nadat die universiteit besluit het hulle is eintlik wit. 

Rasregistrasie was destyds ʼn slegte idee en dit is ook nou die geval. Dit is daarom jammer dat die huidige rasbeplanners so in die skadu’s te werk gaan.

Wil hulle nie maar liewer openlik en verleë vra dat die bevolkingsregistrasiewet terugkom nie?

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Politieke Korrektheid and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.