Gelyker as jy

meer gelyk as jy

Deur Karel Combrinck

Van al die dooie katte wat deur die Franse Rewolusie aan ons nagelaat is, is die konsep van gelykheid een van die onwelriekendste. ʼn Groot aantal dooie mense is ook nagelaat deur daardie glorieryke gebeurtenis, maar kom ons bepaal ons vir eers by hierdie besondere kat. 

Ons word daagliks gebombardeer met gelykheidspropaganda van allerlei aard, dermate dat ons net kan hoop, in die woorde van Shakespeare, that surfeit the appetite may sicken and so die. 

Regstellende aksie, Swart ekonomiese bemagtiging, Transformasie, Positiewe diskriminasie, alles eufemismes vir omgekeerde rassisme en ʼn program om wittes te tap en uit te mergel. Asof daar iets soos « positiewe » diskriminasie kan wees. Hoekom dan nie sommer positiewe diefstal, positiewe moord, positiewe verkragting, positiewe onbevoegdheid en positiewe korrupsie ook nie? 

In die nastrewe van «gelykheid» word witmense in Amerika, daardie vesting van vryheid, asook in Suid­Afrika (sy klakkelose skoothondjie) universiteitstoelating geweier ten gunste van swartes; dít natuurlik sonder inagname van verdienste. Van die feit dat hierdie soort praktyk op die langeduur glad nie in die belang van swartes is nie, eerder die teendeel, is die ideoloë skynbaar salig onbewus. 

Onthou u nog die school busing in die VSA ? Gedurende die sewentiger- en tagtigerjare en selfs nou nog, word skoolkinders oral in Amerika soos troppe ganse met busse aangery van bakboord na stuurboord na swart skole sodat almal «gelyk» kan wees. Dis natuurlik ʼn gesonde beginsel van onderwysadministrasie om kinders te laat skoolgaan in die skool die naaste aan hulle woonplek. 

Nog beter sou wees om hulle te huisves in die skool van hulle keuse. Maar nie in Amerika nie, die sg. «mees vrye» land. Vry, maar die willose slaaf van ideologie. 

Om besorg te wees oor ons minder bevoorregte broers en iets daaromtrent te doen, is goeie Christenmoraliteit. Die minder bevoorregte broers hoef natuurlik nie noodwendig swart, soos baie weldoeners skynbaar dink, te wees nie. Die einddoel hoef ook nie te wees om almal gelyk te maak nie. In die hande van politici, ideologies gedrewe akademici en joernaliste, met hulle betaalmeesters in die finansiële wêreld, word sulke besorgdhede snel verwring tot sinisme, eiebelang en geveinsdheid. Om geld uit staatsfondse in die naam van gelykheid en geregtigheid te pomp na die sakke van die massas in die derde wêreld is ʼn handige manier om markte te skep vir verbruikersgoedere en sodoende die rykes verder te verryk ten koste van die belastingbetaler. Iewers langs die pad het filantropiese en handelsoorwegings deurmekaar begin loop. Die «regte» ding word gedoen ten einde daaruit wins te maak. 

Daar is diegene wat ons graag wil laat glo dat die ideologie van gelykheid Christelik van oorsprong is. Christus het wel gesê : «Verkoop alles wat jy het, gee dit vir die armes en volg my». Die belangrike punt hier is egter nie «gee vir die armes» nie, maar «volg my». Hy het wel bedelaars en kreupeles liefgehad (of moet ons liewer die eufemismes gebruik?) en so ook die rykes en die armes en die slegte vrou. Hy het selfs die belastinggaarder liefgehad en dit wil gedoen wees! Daar is egter geen aanduiding dat Hy ʼn soort sosiale rewolusie wou ontketen en almal wou omvorm tot ʼn amorfe, massa insekte nie. Het Hy dan nie self êrens gesê nie, «Die armes sal julle altyd by julle hê». Feite van die lewe! Daar is sterk aanduidings vandag dat die kerke eerder ʼn blaadjie uit die boek van die gelykheids- sosiale rewolusie wil neem as andersom. Vir die Christen is die ideale koninkryk waar ons almal voor God gelyk sal wees, in die hiernamaals. Vir die sosiale rewolusionêr en die marxis is daar geen hiernamaals nie en moet die ideale koninkryk hier en nou geskep word. Dis ʼn verskil wat nooit uit die oog verloor moet word nie. 

Daar is in elk geval geen aanduiding dat grootboetieregerings die rol van indiwidue moes oorneem en naasteliefde namens hulle moes beoefen nie. Naasteliefde en omgee vir ander is streng beperk tot verhoudings tussen indiwidue en sulke verantwoordelikhede kan nie aan die staat gedelegeer word nie. Die oogmerk van die Christelike leer is nie om aan indiwidue ʼn voorwendsel te verleen om hulle hande in onskuld te was en hulle verantwoordelikhede aan die staat oor te maak nie. 

Ons weet almal wat geword het van die poging om ʼn gelyke staatsoorheersde samelewing in die Sowjetunie tot stand te bring: Geen vryheid, geen ekonomiese vooruitgang, hongersnood, korrupsie, verdrukking, miljoene dooies. Die kommunisties geïnspireerde stelsel in Suid­-Afrika lyk vasberade om hierdie katastrofiese eksperiment voort te sit, maar minstens is hulle geslepe genoeg om ʼn mate van ekonomiese vryheid toe te laat vir ʼn handjie vol skeppende en produktiewe mense. Daar moet ten slotte ʼn belastingkoei wees om te melk sodat die vetkatte kan floreer en ʼn regter sewe jaar lank sy volle salaris kan trek sonder om ʼn vinger te verroer en ʼn hoof van die SABC ʼn salaris van 2,5 miljoen rand kan «verdien» sonder matriek en sodat ministers plase verniet kan kry waar hulle diere van verwaarlosing vrek. 

Agter die rookskerm van stories oor die regstelling van «ongeregtighede» van die verlede, dring «ontluikende» lande knaend daarop aan dat ontwikkelde lande hulle ekonomieë moet rugsteun ten einde ongelykhede tussen die eerste en die derde wêreld uit te stryk. (Lees: pasellas uit te deel aan die vetkat- regerende elite.) Tog is daar geen groter ongelykheid as binne hierdie «ontluikende» lande self nie. Klein klieks met politieke mag in die hande word fabelagtig ryk binne die bestek van enkele jare soos sedert 1994 in Suid­Afrika gebeur het, terwyl die massas, wat hulle so histeries op die hande dra, hoegenaamd nie «ontluik» nie en trouens steeds net nog armer word. Die vooruitsig dat die demokratiese utopie die towermiddel sou wees om die verwagtings van die massas te bevredig, was toe ook maar ʼn mite. 

In hulle soeke na gelykheid, strewe die ideoloë konsekwent na gemiddeldheid (mediocrity). Uitnemendheid is byna ʼn vloekwoord. In sommige lande is daar agitasie dat skoolkinders nie meer eksamens moet skryf nie en wanneer hulle dan wel eksamens skryf, moet die uitslae nie bekend gemaak word nie omdat dit «ongelykheid» in die hand sal werk ; ʼn sprekende voorbeeld van die neiging van ideoloë om wanneer die feite nie met hulle obsessies strook nie, die feite «reg» te maak, te verwring of toe te smeer. 

Uiteindelik bly die ideologie van «gelykheid» en «gelykmaking», beoefen as ʼn soort van religie, net maar die doodste van alle katte.

Hierdie artikel het oorspronklik op Praag se webblad verskyn.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Klas Teorie/Hiërargie, Politieke Korrektheid and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.