Vryheid: Die ander Gelykheid, die Gelykheid van Outoriteit

Deur Roderick T. Long

Gelykheid is ʼn ideaal wat deur heelwat ideologieë onderskryf word, deesdae word dit selde geassosieer met libertariese idees of selfs klasieke liberalisme. Baie mense verkeer onder die indruk dat gelykheid as ideaal in teenstryd is met vryheid soos libertariërs dit verstaan. Wat word egter met “gelykheid” bedoel? Sommige denkers tref ʼn onderskeid tussen formele gelykheid en substantiewe gelykheid. Met formele gelykheid word iets soos gelykheid voor die reg bedoel, dat wette op alle individue van toepassing is en alle individue gelyk behandel word deur die wette, terwyl daar met substantiewe gelykheid bedoel word dat verskille in welvaart, geleenthede en invloed geëlimineer word of ten minste grootliks verminder word. Laasgenoemde gelykheid kan ook sosio-ekonomiese gelykheid genoem word en is nie versoenbaar met die libertariese filosofie nie, insover as wat dit dwangmatige wetgewing vereis.[1]

Wetgewing wat poog om sosio-ekonomiese gelykheid te bewerkstellig word verwerp deur libertariërs as onregverdige en sosialistiese inmenging met die eiendomsregte van individue. Dit beteken nie dat dit nie bevorderlik is nie, maar slegs dat dwang nie as instrument gebruik kan word nie. In teenstelling word gelykheid voor die reg algemeen deur libertariërs voorgestaan, maar daar is niks besonders libertaries omtrent gelykheid voor die reg opsigself nie. Anatole France het eens droog opgemerk dat die wet in sy wonderlikheid gelykheid bevorder deur ryk en arm te verbied om onder brûe te slaap, ʼn sinsnede wat baie gewild is onder voorstanders van egalitarisme wat blote formele gelykheid as onvoldoende beskou. Libertariërs het egter ook rede om formele gelykheid as onvoldoende te beskou, soos Murray Rothbard opgemerk het: “Die geregtigheid van gelykheid van behandeling hang eerstens af van die geregtigheid van die behandeling self.” Veronderstel    ons geliefde president besluit om vir hom ʼn paleis iewers te bou, en almal moet gelyk bydra tot die bou daarvan of dat ʼn Malema en sy aanhangers beoog om ʼn groep mense as slawe aan te hou. Geeneen sal die idee voorstaan dat  geregtigheid vereis dat hulle gelyk in hul knegskap moet wees nie en as een sou ontsnap hom veroordeel vir die ontwyking van die gelykheid wat sy medemens toegeval het nie.[2]

As nóg substantiewe sosio-ekonomiese gelykheid nóg formele gelykheid voor die reg voldoende is, dan is dit dalk maklik om tot die slotsom te kom dat gelykheid geensins ʼn waarde moet wees nie. Daarom is dit belangrik om te kyk wat klasieke liberale werklik bedoel het met gelykheid en waarom hulle soveel klem daarop geplaas het. Thomas Jefferson het in die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring geskryf ”All men are created equal”; In sy persoonlike notas het hy heelwat uitgebrei hierop ”vanuit daardie gelyke skepping verkry hulle regte wat inherent en onvervreembaar is”, hiermee maak hy gelykheid die grondslag van ons regte.[3] Van wat se soort gelykheid praat Jefferson dan?

Dit word algemeen aanvaar dat Jefferson sterk gesteun het op John Locke se Second Treatise of Government in die skryf van die onafhanklikheidsverklaring en sy idee van gelykheid word inderdaad direk daaruit afgelei. Locke definieer ʼn “toestand van gelykheid” as een “waarin al die mag van jurisdiksie wederkerig is, waar geeneen meer het as ʼn ander nie, dat niks meer duidelik is as dat al die skepsels van dieselfde spesie en rang, ondiskriminerend gebore word met dieselfde voordele van die natuur en die gebruik van hul fakulteite, gelyk moet wees onder mekaar sonder ondergeskiktheid of onderdanigheid…”[4]

Met gelykheid van mense het Locke nie bedoel dat mense gelyk moet wees in die voordele van materiële welstand nie, maar dat almal gelyk is in outoriteit. Om ʼn persoon teen sy wil te onderwerp tot ʼn ander se wil is om daardie persoon as ʼn ondergeskikte te behandel en daarom onregmatig as ons almal natuurlik gelyk is. Gevolglik is die inmenging met enige ander persoon se vryhede ʼn oortreding van die Lockeaanse konsep van gelykheid: “…In almal se gelykheid en onafhanklikheid het geen een die reg om ʼn ander se lewe, gesondheid, vryhede of eiendom kwaad aan te doen nie… En toegerus met soortgelyke fakulteite en in een gedeelde natuur, kan daar geen veronderstelling van ondergeskiktheid wees wat ons magtig om mekaar te vernietig asof ons geskep was vir mekaar se gebruik, soos die laer diere spesies vir ons nut is nie.”[5]

Dit is daarom nie verbasend dat Jefferson bykans ʼn eeu later sou volhou dat menslike gelykheid die grondslag van ons regte teen mekaar is nie. Locke het op sy beurt uitgebrei op idees van ʼn vroeër radikale Engelse groep genaamd Levellers. Hierdie Levellers, wie se leiers mense ingesluit het soos John Lilburne, William Walwyn, en Richard Overton, het gedurende die Engelse Burgeroorlog van die 1640’s ontstaan as ʼn beweging. Die benaming klink erg egalitaristies maar was nie hul benaming vir hulself nie, en hulle het inderdaad daarteen kapsie gemaak met ʼn opstel getiteld: A Manifestation from [Those] Commonly (Though Unjustly) Styled Levellers and The Levellers (Falsely Socalled) Vindicated. Hul ongemak daarmee spruit juis uit die vrees dat die benaming geïnterpreteer kon word met die idee dat ongelykhede in welvaart onder dwang beëindig moet word, ʼn doelwit wat hulle uitdruklik teengestaan het: “We profess therefore that we never had it in our thoughts to level men’s estates, it being the utmost of our aim that the commonwealth be reduced to such a pass that every man may with as much security as may be enjoy his propriety [i.e., his own property].”[6]

Des nie teenstaande het “Leveller” hulle goed gepas want alhoewel hulle nie sosio-ekonomiese gelykheid nagejaag het nie was hulle passievol oor gelykheid van outoriteit. Overton het byvoorbeeld volgehou dat “deur natuurlike geboorte alle mense gelyk is insover dat hulle van eiendom, vryhede en vryheid sal hou” sodat “blaasbalk-herstelkundiges, straatveërs, skoenmakers, ketellapper, of skoorsteen-veërs gelykmatig vry gebore is” met “die hooggeborenes (adel) in die land.”  En dat “ Geen man het mag oor my regte en vryhede nie, en ek oor geen ander man nie” en dat elke man “ʼn koning, priester en profeet is in sy natuurlike kring en rigting, waar geen oor hom heers sonder afvaardiging, deputasie of vrye instemming van hom af wie se natuurlike reg en vryheid dit is nie.”[7]

Hierdie vorm van gelykheid gaan veel verder as gelykheid voor die reg. As die heersers van die staat van alle burgers vereis om Robert Mugabe te aanbid dan behandel hulle alle burgers in ʼn sekere sin gelyk, met die aanname dat hulle natuurlik self Mugabe aanbid, maar hulle respekteer nie gelykheid van outoriteit nie, want hulle eis onregmatiglik regte vir hulself op wat hulle aan ander weier, naamlik om te besluit of almal Mugabe moet aanbid al dan nie. Eerder as die blote toepassing van gelykheid voor die reg vereis gelykheid in die libertariese sin om beperkings te plaas op die inhoud van daardie wette deur dwangmatige onderdanigheid van enige soort as onwettig uit te sluit. Hierdie siening is volkome versoenbaar met die legitieme gebruik van geweld vir defensiewe doeleindes aangesien dit gelykheid van outoriteit herstel eerder as om dit te skend. Maar enige inisiasie van dwang en geweld behels die behandeling van ander mense as “geskape vir die gebruik van ander” en is dus teenstrydig met menslike gelykheid (korrek verstaan). Die wat gelykheid slegs sien as formele gelykheid voor die reg of substantiewe sosio-ekonomies gelykheid, het die moontlikheid van ʼn derde misgekyk.

Libertariese Gelykheid

Wat is die politieke implikasies van die derde soort gelykheid? Die voordeel van libertariese gelykheid (gelykheid in outoriteit) is dat geen regering regte kan besit wat die onderdane nie self ook het nie – tensy hulle uit vrye wil afstand daarvan doen deur ʼn verteenwoordiger aan te stel of uitdruklike instemming. Aangesien ek geen regte het oor ʼn ander se lewe of eiendom nie, kan ek geen reg aan ʼn regering oordra waaroor ek nie self beskik in terme van ander se lewens of eiendom nie. Soos die Franse ekonoom Frédéric Bastiat dit gestel het: As elke persoon die reg het, om selfs met geweld, sy lewe, vryheid en eiendom te verdedig, dan volg dit logies dat ʼn groep mense die reg het om te organiseer in gemeenskaplike verdediging om daardie regte konstant te beskerm. Die beginsel en wettigheid van kollektiewe reg word gebaseer op die individuele reg. En die algemene mag wat daardie kollektief beskerm kan nie logies enige ander doel of missie dien as ʼn plaasvervanger vir dit waarvoor dit in die lewe geroep is nie. Aangesien ʼn individu dus nie wettig geweld of die dreigement daarvan teen ʼn ander se lewe, eiendom of vryheid kan gebruik nie, kan die gemeenskaplike mag vir presies dieselfde rede ook nie wettiglik gebruik word vir die ondermyning van ander individue of groepe se lewens, eiendom of vryhede nie.[8]

Terwyl libertariërs met mekaar mag verskil oor die graad waartoe, indien enige, van mens se natuurlike regte na ʼn regering oorgedra moet word, stem alle libertariërs egter saam dat die ongelykhede geminimaliseer moet word tussen die outoriteit waaroor die gemiddelde individu beskik en die waaroor die amptenare en bevoorregte funksionarisse van die staat oor beskik. Nie die sosio-ekonomiese gelykheid of gelykheid voor die reg kom naby die radikalisme van libertariese gelykheid nie, omdat nie een van die twee so ver gaan as om die magstruktuur te bevraagteken nie. Beide vorme van gelykheid doen ʼn beroep op die staat om gelykheid in hul gekose vorm af te dwing op die waaroor geheers word, terwyl hulle ongelykheid van outoriteit as ʼn gegewe aanvaar tussen die regeerders en die waaroor geheers word.

Die feit dat burgers in ʼn staatlike orde mag kwalifiseer om aangestel te word of verkies kan word tot die heersende klas ampsdraers, verwyder ook nie die ongelykheid nie, aangesien dit noodsaaklik altyd ʼn klein minderheid van die bevolking moet wees. Soos die filosoof Antony Flew uitwys is daar onder die regulasies van ʼn regeringsstelsel “wat die verskeie heersende elites ook al bepaal om toepaslik te wees… mag dalk of dalk selfs nie uitdraai om gelykheid te wees tussen al die wat nou afhanklik van die staat is nie, maar tussen die wat die bevele gee en die wat dit ontvang kan daar uiteraard nooit gelykheid wees nie”.[9]

In teenstelling behels libertariese gelykheid nie net gelykheid voor die wat die wette administreer nie maar ook gelykheid met hulle. Regering moet beperk word binne die morele grense wat van toepassing is op die private burger, as ek byvoorbeeld nie my buurman se geld kan vat sonder sy toestemming nie mag die regering dit ook nie doen nie. Gevolglik is dit die libertariese filosofie en nie staatlike–sosialisme, –nasionalisme of –liberalisme wat waardig is van die titel radikale gelykheid. Vryheid is na alles die suiwerste vorm van gelykheid.[10]

Notas

  • [1] Dit is nogtans belangrik om in gedagte te hou dat sosio-ekonomiese gelykheid wel vreedsaam en vrywillig as doel vir baie kan dien en steeds versoenbaar met libertariese idees is, dit is die gebruik van dwang om enigiets sosiaal te bereik wat verwerp moet word. Vir ʼn volledige bespreking hiervan sien gerus Roderick T. Long en Charles W. Johnson, “Libertarian Feminism: Can This Marriage Be Saved?” http://charleswjohnson.name/essays/libertarian-feminism/
  • [2] Murray N. Rothbard, Man, Economy, and State: A Treatise on Economic Principles; with Power and Market: Government and the Economy, scholars’ edition (Auburn, Ala.: Ludwig von Mises Institute, 2004), p. 1219, http://mises.org/rothbard/mes/chap6d.asp
  • [3] Thomas Jefferson, Original Draft of the Declaration of Independence (emphasis added), http://classicliberal.tripod.com/jefferson/origdecind.html
  • [4] John Locke, Second Treatise of Government II. 4, www.lonang.com/exlibris/locke/loc-202.htm
  • [5] Locke, ibid., II. 6.
  • [6] A Manifestation from Lieutenant-Colonel John Lilburne, Mr. William Walwyn, Mr. Thomas Prince, and Mr. Richard Overton (Now Prisoners in the Tower of London), and Others, Commonly (Though Unjustly) Styled Levellers (1649), http://www.constitution.org/lev/eng_lev_11.htm
  • [7] Hierdie uittreksel is seker uit een van die langste gesubtitelde politieke opstelle ooit: Richard Overton, An Arrow Against All Tyrants and Tyranny, Shot from the Prison of Newgate into the Prerogative Bowels of the Arbitrary House of Lords, and All Other Usurpers and Tyrants Whatsoever; Wherein the Original, Rise, Extent, and End of Magisterial Power, the Natural and National Rights, Freedoms and Properties of Mankind are Discovered and Undeniably Maintained; the Late Oppressions and Encroachments of the Lords over the Commons Legally (By the Fundamental Laws and Statutes of This Realm, As Also By a Memorable Extract Out of the Records of the Tower of London) Condemned; the Late Presbyterian Ordinance (Invented and Contrived by the Diviners, and By the Motion of Mr. Bacon and Mr. Tate Read in the House of Commons) Examined, Refuted, and Exploded, As Most Inhumane, Tyrannical and Barbarous, by Richard Overton, Prerogative Archer to the Arbitrary House of Lords, Their Prisoner in Newgate, for the Just and Legal Properties, Rights and Freedoms of the Commons of England (1646), www.constitution.org/lev/eng_lev_05.htm Vir ʼn verdere bespreking sien Peter Kurrild-Klitgaard, “Self-Ownership and Consent: The Contractarian Liberalism of Richard Overton,” Journal of Libertarian Studies, Fall 2000, pp. 43—96, https://mises.org/journals/jls/15_1/15_1_2.pdf
  • [8] Frédéric Bastiat, The Law, trans. Dean Russell (Irvington-on-Hudson, N.Y.: Foundation for Economic Education, 1998 [1850]), http://bastiat.org/en/the_law.html
  • [9] Antony Flew, The Politics of Procrustes: Contradictions of Enforced Equality (Buffalo, N.Y.: Prometheus Books, 1981), p.12.
  • [10] Roderick T. Long, “Equality: The Unknown Ideal,” Mises Daily Article, October 16, 2001, http://mises.org/story/804

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Liberalisme, Regte and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.