Die Lewe en Denke van Lysander Spooner – Deel 1

lysander spooner demokrasie

Deur Wendy McElroy

Die 19de eeu se individualistiese anargis Benjamin Tucker het Lysander Spooner “our Nestor” genoem, ʼn Griekse naam wat wysheid aandui. Die 20ste eeu se libertariër Murray Rothbard het na Spooner verwys as “die laaste van die groot natuurreg teoretici… die laaste van die ou garde wat in natuurregte geglo het.”

Natuurreg teorie soos wat Spooner voorgestaan het, is gebaseer op die idee dat geregtigheid en regverdige wette inherent is tot die natuur – in die natuur van die mens en in realiteit. Regte kan dus daarom afgelei word of ontdek word en gekodifiseer word deur dokumente soos grondwette. Regte kan nie geskep word deur die mens of menslike instellings soos regerings nie, dit is eerder iets wat tot stand kom vanuit logiese rede in die proses waar sosiale konflikte opgelos word. Die idee van selfeienaarskap dien as goeie voorbeeld – dat elke persoon ʼn natuurlike jurisdiksie oor sy eie liggaam het, die konsep of reg het as probleemoplossing gedien in die argumente aangaande slawerny en kan daarom as ʼn reg beskryf word.

Gegewe Spooner se vele skrywes weet ons betreklik min van sy privaat lewe, Tucker het eens hierdie mooi beskrywing van sy leermeester neergepen. Hy skryf,

… ʼn Besoeker aan die Boston Athenaeum Biblioteek … mag dalk waargeneem het … die figuur van ʼn ou man wat gebuig voor ʼn tafel lees langs gestapelde stowwerige volumes boeke oor geskiedenis, jurisprudensie, politieke wetenskappe en konstitusionelereg… Sou die ou man dalk sy kop vir ʼn oomblik lig, sou die besoeker in die raamwerk van die ou man met sneeu wit hare en lang baard die gesig sien van een van die beste, vriendelikste, sterkste en wonderlikste gesigte wat ooit die oë van die mens verbly het.

Lysander Spooner was gebore in die platteland in Massachusetts op 19 Januarie 1808 en vernoem na Lysander van Sparta, die admiraal wie die Atheense vloot gedurende die Peloponnesiese Oorlog verslaan het. Die eerste 25 jaar van sy lewe het hy op die familie plaas deurgebring en daar was geen aanduiding van die latere man wat baie sou beskou as radikaal selfs onder radikale nie. Tog het hy sy familie later beskryf as “ardent abolitionists,” bedoelende dat hul voorstanders was van die onmiddellike en onvoorwaardelike afskaffing van slawerny.

Op 25 het Spooner in ʼn naburige dorp genaamd Worcester gaan werk in die kantoor van die registrateur van aktes. Daar het hy ʼn passie ontwikkel vir regs-teorie wat daartoe gelei dat hy ʼn pos aanvaar het by die regsfirma van John Davis en Charles Allen, beide was goed gerespekteerde en invloedryke juriste in die staat van Massachusetts en was mentors vir die jong Spooner.

Slegs drie jaar later het Spooner sy eerste aanval op onregverdige wetgewing geloods. Massachusetts wetgewing van die tyd het vereis dat klerke met ʼn universiteit graad drie jaar by ʼn regsfirma studeer voordat hulle kan aansoek doen om die balie eksamen te skryf. Die sonder ʼn graad moes vir vyf jaar as klerk werk voordat hul kon aansoek doen om die balie eksamen af te lê. Spooner het die tydsverskil beskou as die daarstelling van onregverdige diskriminasie teen opgevoede armes “well-educated poor,” waarvan hy homself deel geag het. Met die goedkeuring van sy mentors het hy ʼn ongelisensieerde praktyk oopgemaak en daarin geslaag om genoeg steun te kry dat die algemene hof die wet terugtrek.

Tucker het later soos volg kommentaar gelewer oor Spooner se eerste ontmoeting met statutêrereg:

… Alreeds het die besonderse formaliteite, absurditeite en kwaksalwery …voorgekom as soveel onnodige spinnerakke wat eers weggevee moes word vir die doel om ʼn nadere blik te kry op fundamentele werklikhede en waarhede wat hy genoem het die beginsels van natuurlike geregtigheid…

Spooner se regspraktyk in Massachusetts het nie floreer nie, nie op grond van sy vermoëns nie maar moontlik omdat mense in die gemeenskap afgeskrik was met sy geloofsoortuigings. As deïs het hy geglo : Sonder om ooit die bestaan van God te ontken het Spooner die bonatuurlike en outoritatiewe aspekte van geloof verwerp. Verder het hy openlik leiers in die kerklui en sekere dogmatiese leerstellings van die kerk veroordeel. Sy opstel: The Deist’s Immortality, and an Essay on Man’s Accountability for His Belief (1834) stel dit as volg,

As ʼn man die Bybel tekste lees oor die wonderwerke wat daar gesê word Jesus uitgevoer het en sy gesonde verstand oortuig hom dat die bewyse onvoldoende is om die bonatuurlike feite as waarhede te aanvaar, vereis sy morele besinning hom nie om voort te gaan nie – dit vrywaar hom in sy weiering om saam te stem.

Hierdie uitdagende denke het regdeur Spooner se skryfwerk verskyn: Bevraagteken gesag en besluit vir jouself.

Spooner het hiernaas ʼn regspraktyk in Ohio geopen, maar soos die historikus James J. Martin verduidelik het was “Die loopbaan van Spooner die juris van veel minder belang as Spooner die kritici van die grondwet en regsprosesse.” Sy skryfwerk en nie sy loopbaan nie is dus waar die fokus moet wees.

Spooner en ekonomie
In Ohio skryf en publiseer Spooner sy eerste analise van ʼn grondwetlike aangeleentheid. Die opstel Constitutional Law, Relative to Credit, Currency, and Banking (1843) begin as volg, “Die Grondwet van die Verenigde State, (Art. 1, Sec. 10,) verklaar dat ‘No State shall pass any law impairing the obligation of contracts.’” Spooner gaan voort om ondersoek in te stel na die beperkings wat op geld en bankwese geplaas word en demonstreer dat dit ongrondwetlik is asook teen die natuurreg, “To issue bills of credit, that is, promissory notes, is a natural right.”

Die ekonomiese paniek (depressie) van 1837 het ongetwyfeld direk bygedra tot Spooner se belangsteling in finansiële aangeleenthede, selfs al was dit net omdat hy self daardeur alles verloor het. Met sy terugkeer na die familie plaas moes hy oorweeg het hoe die ekonomie so vinnig in duie kon stort. ʼn Latere opstel, Poverty: Its Illegal Causes and Legal Cure (Part First, 1846), het sy eie weergawe van ekonomiese verhoudings in die samelewing aangebied, verhoudings wat bereik kon word deur wat hy genoem het sewe “ekonomiese proposisies”.

Eerstens: Elke man moet die vrugte van sy eie arbeid besit.

Tweedens: Om dit te bewerkstellig moet elke man direk of indirek vir homself werk.

Derdens: Om dit te kan doen moet hy die “implemente of kapitaal tot sy beskikking hê, waarop hy sy arbeid kan uitstort”.

Vierdens: ʼn Man sonder kapitaal moet vry wees om dit kontraktueel op krediet te kry teen watter rentekoerse ook al beskikbaar mag wees.

Vyfdens: Om ʼn werkbare rentekoers te verkry is dit noodsaaklik dat vryebankdienste sonder regeringsinmenging toegelaat word.

Sesde: Krediet moet gebaseer word op wat ʼn man het , sy eiendom, en nie sy toekomstige inkomste nie, sodat hy altyd in staat sal wees om sy skuld volkome te vereffen.

Sewende: “Krediteure moet retensieregte op die eiendom van hul debiteure kan hou.”

Vir die moderne leser kan van Spooner se ekonomiese teorieë ietwat oudmodies voorkom, maar dit moet ingedagte gehou word dat hy skryf voor die totstandkoming van moderne ontwikkelings soos grootskaalse industrieë. Daarbenewens skryf Spooner ten tye van die goudstandaard waar hoë inflasiekoerse bykans ongekend was. Dit is dan ook oorwegend sy politieke teorieë en werk om jurisprudensie wat die aanslae van tyd oorleef het en steeds as ʼn bron van kennis beskou word. Dit is nogtans noodsaaklik om kortliks ondersoek in te stel na die veld waaraan Spooner soveel aandag geskenk het.

Sy benadering tot ekonomie was gebaseer op twee oortuigings: Mense het absolute eiendomsreg tot hul arbeid, en mense het ʼn reg om vrylik te kontrakteer sonder regeringsinmenging. Hy was gekant teen alle vorme van regerings monopolieë in besigheid, veral met betrekking tot die uitreiking van geld.

Waarom was die reg tot die uitgifte van papiergeld deur privaat instellings vir Spooner van kardinale belang? Deel van die antwoord, soos hy in Poverty verduidelik het, is dat hy geglo het dat dit ʼn noodsaaklike voorvereiste is vir arbeiders om hulself uit armoede uit te lig. Selfs lae rentekoerse, indien dit deur ʼn regering vasgestel is, verhoed sommige arbeiders die vermoë om regmatige krediet te bekom.

Indien ʼn arbeider byvoorbeeld net riskante kapitaal het om as belofte teen te leen, dan verhoed kunsmatige lae rentekoerse dat hy die hoër koers betaal as afset vir die hoër risiko. Regeringsinmenging en beheer oor krediet en rentekoerse kom neer op ʼn nadeel vir die werker, selfs al word dit as “arbeids vriendelik” verkoop deur politici. Dit plaas arbeiders onder die genade van die elites in bankwese wat dan ook onafwendbaar in alliansie is met die staat. Dit ondermyn hul onafhanklikheid en hul vermoë om ekonomies te styg.

Geld en Bankwese
Nog ʼn rede waarom Spooner ekonomiese teorie benadruk het was die historiese konteks waarin hy geleef het. Dekades na die Paniek van 1837 het hy waargeneem dat die Unie (Noordelike State) ʼn reeks wetgewings deurvoer vir die doel om die burgeroorlog teen die Suide (1861 – 1865) te finansier. Deur die Legal Tender Acts het die kongres almal gedwing om hul geldnote te aanvaar afgesien van hul kwynende waarde in die mark relatief tot goud. Deur die National Banking Act of 1863 het die regering die note van goedgekeurde bankiers gewaarborg en hulle met wetgewing beskerm teen aanspreeklikheid of skuld. Daarbenewens was ook ʼn nasionale belasting van 10% ingestel op die uitgifte van geldnote wat nie deur die regering goedgekeur was nie. Spooner het geglo dat die regering deur hierdie soort maatstawwe ʼn feitlike en onregmatige monopolie tot stand gebring het oor die mees belangrikste industrie in die Amerikaanse ekonomie – bankwese.

Hy het ook geglo dat hierdie monopolie inbraak maak op die regte van die individuele persoon om vrylik te kontrakteer op ten minste twee maniere. Eerstens dat privaat individue daarvan weerhou word om privaatgeld uit te gee aan die wat bereid is om dit te aanvaar. Tweedens dat bankiers vrygestel word van persoonlike aanspreeklikheid deur die daad van inkorporasie.

Spooner het banke nie as kollektiewe entiteite of ʼn onpersoonlike meganisme beskou nie maar eerder geglo dat die spesifieke mense wat die banke bestuur persoonlike verantwoordelikheid moet dra en aanspreeklik gehou moet kan word vir hul instellings se beleid. In sy opstel: A New Banking System (1873), verduidelik Spooner dit as volg:

Die sogenaamde “Nasionale” stelsel…is in der waarheid ʼn privaat stelsel waar die eksklusiewe voorreg om bankdienste aan te bied aan slegs ʼn paar toegestaan word, wat hulle die mag gee om pryse te beheer, sowel as eiendom en arbeid en gevolglik die mag om indirek te steel, plunder en die mense te onderdruk.

Spooner het al so vroeg as 1843 in Constitutional Law, Relative to Credit, Currency, and Banking, die idee voorgestel dat elke en enige persoon die reg moet kan hê om geld te kan druk en uitgee, gegewe dat dit gerugsteen word deur harde metale (goud en silwer). Hy het die populêre idee dat die regering mense toegang tot geld gee deur privaat kompetisie in die vervaardiging daarvan te verbied so absurd beskou as om te sê die regering gee mense toegang tot kos deur privaat individue te verbied om hul eie groente te plant.

Spooner se skryfwerk om ekonomiese teorieë was bedoel om te dien as ʼn praktiese bloudruk vir werkende mense om ekonomiese onafhanklikheid en vooruitgang te bereik. Sy opstelle spreek dus die werklike en drukkende probleme wat hy waargeneem het aan. Sy opstel getiteld A New Banking System dra byvoorbeeld die subtitel The Needful Capital for Rebuilding the Burnt District, ʼn verwysing na die vuur wat ʼn groot gedeelte van Boston tydens die oorlog vernietig het.

Spooner en privaat posdienste
Spooner se persoonlike sakepraktyke was prakties terwyl dit terselfdertyd ʼn uitdrukking van sy uitdagende weerstand teen regeringsregulasies was. In 1844 stig hy die American Letter Mail Company om pos af te lewer tussen Boston en New York, die sukses daarvan het daartoe gelei dat die dienste vinnig uitgebrei het na Philadelphia sowel as Baltimore. Ten tye het die federale regering gepoog om ʼn monopolie op alle aflewerings buiten koerante daar te stel en af te dwing. Daar was privaat posmaatskappye teenwoordig wat sakke pos per boot en poskoets vervoer het en dit teen ʼn fraksie van die prys sowel as vinniger gedoen het as wat die regering dit kon doen. Maatskappye soos Spooner s’n het selfs hul eie seels gedruk en verkoop.

In ware Spooner styl het hy ʼn opstel uitgereik wat die regering se “reg” tot ʼn monopolie op enige aspek om posdienste uitdaag. The Unconstitutionality of the Laws of Congress, Prohibiting Private Mails (1844) het geopen met:

“Die grondwet van die Verenigde State (Art. 1. Sec. 8.) verklaar dat die kongres die mag sal hê om poskantore en paaie vir die doel van posdienste daar te stel”. Maar, het Spooner geredeneer, dit is een ding om te sê dat die regering dit mag doen, maar iets heeltemal anders om te sê dat die regering die mag het om almal anders te verhoed om dieselfde te doen. Die grondwet het geen eksklusiwiteit aan die nasionale regering opgedra nie.

Die federale regering het gereageer deur die pryse van seels bykans te halveer. Daarbenewens het die regering swaar boetes ingestel op enigeen wat ʼn privaat posdiens probeer bedryf. Tucker verduidelik dit as volg:

… Omrede die dra van elke brief ʼn afsonderlike oortreding verteenwoordig het was die regering daartoe in staat om hom[Spooner] te vergruis binne enkele maande deur hom toe te gooi in regsgedinge en regskostes.

Die American Letter Mail Company was uit besigheid uit gedwing.

Ongeag die terugslag het Spooner bevrediging daaruit geput dat hy die regering gedwing het om seelkostes dramaties te verlaag. Dit blyk duidelik uit sy opstel Who Caused the Reduction of Postage? Ought He to Be Paid?, wat in 1850 verskyn het. Baie mense het met Tucker saamgestem toe hy Spooner die vader van goedkoop posdienste genoem het.

Spooner en slawerny
Spooner het weereens teruggekeer na die familieplaas na sluiting van sy besigheid waar hy ten diepste betrokke geraak het by die talle argumente aangaande slawerny wat die verhoog betree het as die groot morele uitdaging van die tyd.

Spooner se eerste werk aangaande slawerny was, The Unconstitutionality of Slavery, Part First, wat in 1845 verskyn het met die tweede gedeelte wat in 1846 verskyn het. Dit was hierdie skryfwerk wat hom nasionaal prominent gemaak het binne die abolisiebewegings van die tyd as ʼn radikale hervormer. Die leidende voorstander van abolisie was William Lloyd Garrison, wat toe al reeds vir ʼn lang tyd argumenteer dat die grondwet verontagsaam moet word as ʼn pro-slawerny dokument. Garrison se gewilde kwartaallikse anti-slawerny koerant The Liberator, het die grondwet beskryf as ʼn “covenant with death, an agreement with hell.”

In teenstelling met Garrison het Spooner die grondwet verdedig. Hy het geargumenteer dat slawerny teenstrydig is met die fundamentele beginsels van die grondwet wat geld vir almal onder daardie grondwet. Hy skryf,

Die eerste reël in die interpretasie van die grondwet, soos vir alle ander wette en kontrakte is, “dat die bedoelling van die instrument moet seëvier” en dat die bedoelling van die grondwet dit ʼn anti-slawerny dokument maak. Deur hierdie argumentsinvalshoek te gebruik het Spooner nie ʼn meer gematigde posisie ingeneem as Garrison nie, maar meer radikaal soos later sal blyk. Die eerste weergawe van Unconstitutionality het so ver gegaan as om die reg van slawe om wapens te gebruik te verdedig… “ter verdediging van hul lewens en vryheid.”        

Deur die grondwet aanvanklik te verdedig het Spooner homself gevestig aan een kant van ʼn debat wat binne die anti-slawerny bewegings gewoed het, en die filantroop Gerrit Smith het hom hiernaas finansieel ondersteun. Daar was ʼn sterk groepering in die anti-slawerny bewegings wat die grondwet wou behou as ʼn middel om slawerny mee uit te daag en Spooner se skryfwerk het die nodige uitdrukking daaraan gegee.

Sodoende het Spooner se skryfwerk die materiaal van die Liberty Party se verkiesingsveldtog geword, die party het in 1840 gevorm uit die lede van die Amerikaanse anti-slawerny bewegings en verenigings.

Spooner se argumente het so ʼn diep indruk gemaak binne die anti-slawerny kringe dat die ondersteuners van Garrison moes rondspring om antwoorde te probeer vind. Wendell Phillips het gepoog om Unconstitutionality verkeerd te bewys met sy opstel getiteld “Review of Lysander Spooner’s Essay ‘The Unconstitutionality of Slavery’” (1847). Desnieteenstaande was Spooner se opstel so oortuigend dat baie oorgeloop het op grond daarvan.

Spooner se skryfwerk het aandag getrek, gedeeltelik op grond van die ongewone benadering wat hy gevolg het. By verre die meeste teenstanders van slawerny het gewoonlik hulself beroep op argumente wat gegrond was op die Bybel en geloof terwyl dié wat slawerny as ʼn instelling verdedig het hulself beroep het op die grondwet en die reg. Hierin het Spooner hulle dus nie net op hul eie grond ontmoet nie, maar oortuigend geklop.

Spooner se skrywes teen slawerny sluit in A Defence for Fugitive Slaves (1850), A Plan for the Abolition of Slavery (1858), To the Non-Slaveholders of the South (1858), en Address of the Free Constitutionalists to the People of the United States (1860). Deur hierdie opstelle en briewe het die evolusie van Spooner se denke na anargisme duidelik na vore gekom. Vir sommiges was dit dalk al uit die staanspoor uit duidelik, Wendell Phillips het byvoorbeeld as volg opgemerk te opsigte van Unconstitutionality : Mnr. Spooner se idee is in praktyk “no-governmentism”. Dit los almal om te doen wat reg is in hul eie oë. (In daardie tyd was ʼn “no-government man” ʼn algemene term vir ʼn anargis)

Die evolusie kan waargeneem word vanaf Unconstitutionality, waarin Spooner die reg van slawe tot gewapende weerstand teen onderdrukking verdedig tot A Defence for Fugitive Slaves, waarin hy dieselfde argument gebruik maar vir alle individue. In laasgenoemde verklaar hy:

Hierdie reg van mense om weerstand te bied teen magsvergrype deur die regering is strenggesproke ʼn grondwetlike reg, en die uitvoering van die regte nie rebellie teen die grondwet of revolusie nie – Dit is die behoud van die grondwet self deur die regering by die grondwet te hou. Dit is ook ʼn verdediging van die natuurlike regte van mense teen rowers en oortreders, wat poog om hul eie persoonlike outoriteit en mag daar te stel oor ander…

Die reg van ʼn individu of ʼn volk om ʼn regering te verwerp en teen dit te rebelleer word gevolglik erken deur die grondwet self.

Wie besluit of natuurlike regte of die grondwet oortree is deur die regering? Spooner stel voor,

Indien ʼn aanklag gemaak word is die jurie wat oor daardie aanklag uitspraak moet lewer nie net regters oor die feite van die saak nie maar ook die wet self. Indien hulle dink dat die wet onregverdig of selfs ongrondwetlik is, is hulle verplig om die verweerder gelyk te gee in sy weerstand teen die uitvoering daarvan.

Die reg van mense om hulself te verdedig teen die magsvergrype van ʼn regering was die sentrale tema van Spooner se volgende belangrike opstel, An Essay on the Trial by Jury (1852), sommiges beskou dié opstel as sy meesterstuk. Volgens Benjamin Tucker was die kern van Trial by Jury: “Dat geen man gestraf mag word vir ʼn oortreding tensy die beslissing eenparig aanvaar word deur twaalf mans wat per lot verkies word vanuit die volle liggaam van burgers om nie net regspraak te lewer oor die feite nie maar die wet self en die geregtigheid van die wet, sowel as die omvang van die straf”; en “Die geleidelike verdringing van regters op die regte van juries laat onafhanklike juries bykans waardeloos as ʼn instrument van geregtigheid.”

Spooner het geglo dat vir gesonde regspraak ʼn jurie beide die geregtigheid van wette en die feite van die saak moet oordeel en dan hul uitspraak grond op enige van die oordeel beslissings. Juries moet ook bepaal wat die omvang van die straf of boetes moet wees. Indien ʼn skuldigbevinding die eenparige beslissing van 12 lukraak(randomly) gekose persone vereis, dan sal die juriestelsel meer geneig wees om as ʼn doeltreffende stut te dien teen onregverdige wette, omrede dit onwaarskynlik was dat twaalf totaal onpartydige mense sou saamstem om onregverdiglik op te tree teen ʼn vreemdeling.

Spooner se Trial by Jury laat ʼn minderheid van enkele veto toe teen die beslissing van ʼn meerderheid. Dit mag dalk voorkom of dit die deur oop los vir oorheersing deur ʼn minderheidsopinie, maar die minderheid kan slegs die wet negeer of weerspreek in die negatiewe sin en nie implementeer nie. ʼn Enkele jurie kan dus ʼn skuldige uitspraak afweer maar nie een afdwing nie en regs skade afweer maar nie afdwing nie.

Spooner het sterk aanklank gevind by die idee en vooruitsig van ʼn reg op ʼn jurie veto, aangesien hy so baie moes skryf oor wetgewing wat indruis teen die reg; wetgewing aangaande slawerny, posdienste, geld, die doodstraf, ens. Aangaande hierdie aangeleenthede het die openbare opinie baie keer radikaal van die wet verskil. So ʼn juriestelsel kon dus ʼn baie noodsaaklike “hof met ʼn gewete” daarstel wat die ordentlikheid en “common sense” van die gewone mense weerspieël. Regters in diens van die staat sou egter nooit instem tot so ʼn magsoordrag na burgers toe nie, gevolglik het Spooner sy fokus gedraai vanaf idees van regshervorming na probleme wat gewone mens raak.

Hy het ook sy aandag van die grondwet weggewend na die breër tradisie van gekodifiseerde natuurreg waarvan die grondwet net ʼn voorbeeld was. Hy het sy aandag meer gefokus op gemenereg (common law) en was daardeur meer opsoek na vorme van geregtigheid wat gebaseer was op universele waarhede eerder as die outoriteit van die staat.

Trial by Jury steun dus swaar op die 13de eeu se Magna Carta wat deur koning John van Engeland onderteken was en wat as ʼn lys van vryhede gedien het waardeur die Engelse adel hulself teen die mag van die troon beskerm het. Die dokument word algemeen beskou as ʼn deurbraak in die evolusie van menslike vryheid. ʼn Jurieverhoor was dan ook een van die vryhede wat deur die Magna Carta verseker was. Spooner stel dit as volg:

That the trial by jury is all that has been claimed for it … is proved both by the history and the language of the Great Charter of English Liberties, to which we are to look for a true definition of the trial by jury, and of which the guaranty for that trial is the vital, and most memorable part.

Lysander-Spooner en die reg

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Geskiedenis and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.