Die Lewe en Denke van Lysander Spooner – Deel 2

lysander_spooner grondwet van geen outoriteit

Deur Wendy McElroy

Slawerny en die Burgeroorlog

Nes met ekonomiese teorie het Spooner se benadering meer as net teorie behels maar ook toepassing. In Oktober 1859 het die militante abolisionis John Brown en ʼn aantal van sy volgelinge beslag gelê op die weermag se arsenaal te Harper’s Ferry, Wes-Virginia en is gevange geneem na ʼn oor en weer geskietery waarin vyf mense dood is. Spooner het voorgestel dat Brown se ondersteuners die goewerneur van Virginia ontvoer en ruil vir Brown se vrylating. Hierdie ongerealiseerde plan het nie net Spooner as regskenner se minagting vir politici bewys nie maar ook sy absolute gebrek aan vertroue dat die regstelsel enigsins geregtigheid sou oplewer. Brown was dan ook gevolglik gehang.

In 1861 breek die burgeroorlog in volle swang uit. Spooner se afsku in slawerny het egter nie daartoe gely dat hy die Noorde ondersteun het soos so baie ander abolisioniste nie. Selfs die pasifis William Lloyd Garrison het sy pasifistiese sienings laat vaar en die Noorde se militêre optrede geprys. Garrison het wel later krities geraak teenoor Lincoln se duidelike begeerte om die eenheidstaat te behou teen alle koste terwyl Garrison gedink het dit moet die afskaffing van slawerny wees. Spooner het in teenstelling van die begin af begryp dat die oorlog vir Lincoln oor die behoud van mag en uitbreiding van die staat gaan en dus nooit vir die Noorde om vryheid of geregtigheid gegaan het nie, en daarom het hy hom van die begin af uitgespreek teen die Noorde se inval van die Suide.

In sy latere opstel, No Treason No. 1 (1867), verduidelik Spooner:

Ten opsigte van die Noorde was die oorlog uitgevoer nie om die slawe te bevry nie, maar deur ʼn regering wat altyd die grondwet verdraai en verontagsaam het om die slawe in slawerny te hou, en was steeds bereid daartoe indien die slawe-eienaars daardeur verlei kon word om deel van die Unie te bly.

Spooner het ook ekonomiese analise van die oorlog aangebied waarin hy argumenteer dat korporatiewe sake belangegroepe in die Noorde die konflik ondersteun het om beheer oor markte in die Suide te verkry.

No Treason – wat sekerlik met Trial by Jury kompeteer as Spooner se magnum opus – spruit ongetwyfeld voort uit ʼn diepe selfondersoek teen die agtergrond van die burgeroorlog. Die wêreld soos Spooner dit geken het was op sy kop gedraai, soos die historikus Joseph Stromberg waarneem “Spooner het hoofsaaklik in ʼn vrye samelewing grootgeword waar verskeie konstitusionele republieke verenig was deur instemming. Teen die tyd wat hy dood is in 1887 het hy die sentrale staat sien versterk deur die swaard, vuur en bloed tussen 1861-1865 en die oorgang van instemming tot naakte mag, wat die staat nooit weer van sou afsien nie.

Die naakte mag het nie met die oorlog geëindig nie. Die rekonstruksie van die Suide na die oorlog het elke tipe individuele reg ontken en alle dissident opinies gesmoor. Vir Spooner was die oorlog en die nagevolge daarvan die totale vernietiging van die idee van ʼn vrye regering deur instemming.”

Regering deur instemming beteken dat elke persoon wat belasting betaal of ʼn diens aan die regering lewer dit uit vrye wil doen in ruil vir die dienste wat hulle bied en daarom ʼn regverdige ruiltransaksie is. Sonder instemming is die ruiltransaksie net naakte mag wat deur die regering op die individu afgedwing word. Anders gestel, indien mense belasting betaal of ʼn diens aan die regering lewer uit vrees vir die gevolge as hulle dit nie doen nie dan is daardie regering niks anders as ʼn bende rowers wat sê, “jou geld of jou lewe” nie. Soos Spooner dit gestel het, “Regering word dan net die sameswering van die sterke teen die swakke.”

Instemming en die Grondwet
Tot en met die Burgeroorlog, het Spooner hard probeer om die beginsels van die Grondwet te integreer met die van natuurlike reg. In No Treason laat vaar hy hierdie poging. Hy kom tot die slotsom dat die idee dat enige iemand verplig kan word om die Grondwet te respekteer verwerp moet word. So ʼn verpligting kom tot stand onder slegs die wat vrywillig instemming gegee het en geen lewende persoon het ingestem tot die Grondwet nie.

Die eerste No Treason – met die subtitel The Suppression of the Rebellion Finally Disposes of the Pretence That the United States Government Rests on Consent – was bedoel as die eerste van ses opstelle. Daar het slegs twee verdere gedeeltes verskyn: No. II: The Constitution (1867), en No. VI: The Constitution of No Authority (1870). Met die inleiding van VI, het Spooner aangedui dat No. III, IV, en V nie bestaan nie, maar hy het nooit hul afwesigheid verduidelik nie.

Die kort inleiding tot die reeks eindig met ʼn puntenerige aanmerking. Voor die oorlog was daar sekere gronde waarop mens kon sê – in teorie ten minste – dat die regering een was wat rus op die grondslag van instemming. “Maar niks van die soort” het Spooner geskryf, “kan nou daarvan gesê word nie.”

Hy het daarop aanspraak gemaak dat as gevolg van die oorlog wat die Noorde losgelaat het, die beginsel waarop die regering en die grondwet rus een is wat daarop neerkom dat “mense regmatig verplig mag word om ʼn regering te dien en ondersteun wat hulle nie as regering wou hê nie.”:

As daardie beginsel nie die beginsel van die grondwet is nie, moet hierdie feit bekend gemaak word. As dit wel die beginsel van die grondwet is, moet die grondwet self onmiddellik omvergewerp word.

Die reeks was dus daarop gemik om die morele en regsgesag van die grondwet omver te werp nie.

No Treason No. 1 Vra wat bedoel word met regering wat rus op instemming en wat die implikasies daarvan is. Spooner analiseer eers die algemeenste vorm van instemming waarop enige regering rus: dit is die instemming van die meerderheid of die sterkste waardeur mag afgedwing word op die minderheid of die swakste. Hy opper vele besware tot hierdie proses, met die mees basiese een wat lui:

ʼn Mens se natuurlike regte is sy eie, teen die hele wêreld, en enige inbraak daarop is ʼn misdryf ongeag of dit deur een mens, of miljoene gepleeg word; of dit nou deur een man is wat homself ʼn rower noem, of deur miljoene wat hulself ʼn regering noem.

Die “beginsel dat die meerderheid ʼn reg het om te regeer” verdeel slegs die regering in “twee liggame van mens” – meesters en slawe – en verseker so konstante konflik in die samelewing.

Die rede waarom die reeks No Treason getitel was? Tydens die Amerikaanse burgeroorlog is duisende mense letterlik gehang vir die wetsoortreding, geen van hulle het egter ooit ingestem tot die grondwet wat dit magtig nie, en bitter min het dit tien teen een gelees en veel meer kon glad nie lees nie. In No Treason No. II herhaal Spooner die enigste definisie wat deur die grondwet aangaande hoogverraad gegee word: “Treason against the United States shall consist only in levying war against them, or in adhering to their enemies, giving them aid and comfort.” Spooner sluit af dat die definisie geïnterpreteer moet word “soos alle ander kriminele wette in die sin wat mees gunstig tot beide die beginsels van vryheid en geregtigheid is.” Hy ondersoek die woord se “eg en legitieme taalkundige betekenis.” Hoogverraad beteken ʼn verbreking van alliansie wat “noodwendig verraad, misleiding en troubreuk impliseer. Sonder dit kan daar geen hoogverraad wees nie.”

Die sogenaamde misdaad van hoogverraad maak slegs sin as die beskuldigde binne die jurisdiksie waarop die regering aanspraak maak woon en hy ingestem het om deur die regering regeer te word. Indien dit nie so is nie, dan is die beskuldiging vals want dit is onmoontlik om ʼn lojaliteit te breek wat nooit gegee is nie. Verder argumenteer Spooner dat die regering sonder bewyse bloot aanneem dat instemming gegee is, steeds bestaan en nooit teruggetrek is of verval het nie. Hy observeer, “Tot selfs die wat gestem het vir bekragtiging van die grondwet, het nie hul geloof of vertroue vir enige spesifieke tydperk belowe nie; aangesien geen spesifieke tydperk benoem is waar die assosiasie moet bestaan nie.”

No Treason No.VI dra die subtitel: The Constitution of No Authority. Dit open, “Die grondwet het geen inherente outoriteit of verpligting nie. Dit het geen outoriteit of verpligting hoegenaamd nie, tensy as ʼn kontrak tussen mens en mens.” Die huidige grondwet behels nie eens dit nie. “Dit behels, op die meeste, om slegs ʼn kontrak tussen mense te wees wat 80 jaar gelede geleef het” Spooner sluit dan af met:

As diegene wat dan die grondwet opgestel het geen mag gehad het om hul nageslag daartoe te bind nie, moet die vraag gevra word of hul nageslag hulself daartoe gebind het? As hulle dit gedoen het, kon hulle dit slegs gedoen het op een of albei van twee maniere, deur te stem, of om belasting te betaal.

Spooner verduidelik hiernaas waarom deelname aan ʼn verkiesing mense nie kollektief, of as bepaalde individue, tot die grondwet kan bind nie. ʼn Kort lys van die punte in sy argument is soos volg:

  • Die daad van stem kan slegs diegene bind wat stem.
  • Meeste mense stem nie in enige gegewe verkiesing nie, baie mense stem nooit nie. Dus het hulle nie ingestem nie.
  • Om bindend te wees, moet ʼn stem “perfek vrywillig” wees, maar “ʼn groot aantal” mense stem as ʼn vorm van selfverdediging.
  • Belasting is verpligtend en baie stem slegs om te verhoed dat hul geld gebruik word teen hulle.
  • Stemme vir onsuksesvolle kandidate kan nie bindend wees nie.
  • ʼn Geheime stem voorsien niemand van geen regsgeldige bewys om enige spesifieke persoon tot die grondwet te bind nie.

Oor belasting skryf hy, “Die betaling van belasting, aangesien dit verpligtend is, dien geen bewys dat enige iemand vrywilliglik die grondwet ondersteun nie.” Dus, sluit hy af:

In so ver as wat die grondwet nooit onderteken was of as kontrak toe ingestem was nie, het dit nooit enige iemand gebind daartoe nie en bind dit nou ook niemand nie; merendeels net soos nageslagte nie vir ewig deur ʼn kontrak gebind kan word nie, tensy hulle daartoe geforseer word teen die punt van ʼn swaard.

Spooner voltooi dus met die opstel reeks ʼn soektog vanaf ʼn persoon wat die grondwet bestudeer en verdedig tot een wat dit verwerp.

Spooner se nalatenskap

Spooner se nalatenskap was grootliks te danke aan jonger radikale denkers van die tyd wat hom as ʼn leermeester beskou het, en veral Benjamin Tucker. Na Spooner se dood het hy die regte op al sy gedrukte opstelle gekoop sowel as die ongepubliseerdes vanuit sy boedel. Daarna het hy dit te koop aangebied in sy kwartaalblad Liberty (1881-1908) , al die opbrengste daaruit het hy geskenk aan die Spooner Publication Fund wat hy gestig het om die manuskripte mee te druk en te bemark.

Tucker se invloed op Spooner en sy nalatenskap kan nie oorbeklemtoon word nie. Hy het die konteks geskep waar Spooner se idees bewaar kon word, daarbenewens het radikale individualisme as ʼn beweging nooit voor die 1870’s in enige vorm bestaan nie. Reeds as student in die vroeë 1870’s het Tucker deur sy eerste publikasie The Radical Review ʼn fokuspunt geskep waarom “veterane” soos Spooner, Josiah Warren, William B. Greene, en Ezra Heywood kon verenig. Teen die tyd wat hy Liberty op die been gebring het was dit ʼn ten volle ontwikkelde beweging.

Spooner het meer as enige ander skrywer die oorspronklike anti-staatlike inhoud van die Libery publikasie daar gestel. Gedurende die leeftyd van die kwartaalblad is baie van Spooner se langer opstelle in korter segmente gepubliseer soos, “A Letter to Grover Cleveland, on His False, Absurd, Self-contradictory, and Ridiculous Inaugural Address,” wat in 19 gedeeltes verskyn het.

Die groot verskil wat Tucker met Spooner gehad het spruit uit hul siening van intellektuele eiendomsreg met betrekking tot kopiereg en patente. Tucker het Spooner se lang (tog nooit voltooide) opstel, “Law of Intellectual Property; or an Essay on the Right of Authors and Inventors to a Perpetual Property in Their Ideas” (1855) beskou as “fundamenteel foutief”. Spooner het intellektuele eiendom as ʼn natuurlike reg gesien. Hy skryf, “So absoluut is die outeur se reg oor sy idees dat hy dit mag verbied om selfs mondelings oorgedra te word indien dit hom so sou behaag.” Tucker het geglo dat intellektuele eiendom slegs per kontrak behoorlik verseker kon word maar nie ʼn natuurlike reg verteenwoordig nie. Teen die tyd wat die verskil ʼn openbare debat op die blaaie van Liberty geword het was Spooner reeds dood en sy posisie oor die aangeleentheid is deur ander verdedig.

Spooner se lewe het gedraai om die “politiese” – soveel opstelle aangaande teorie en implementering dat dit voorkom of daar min tyd oor was vir die “persoonlike”. Hy het nooit getrou of kinders gehad nie, hy het ook geen noemenswaardige welvaart opgebou nie en daar is bitter min inligting omtrent sy persoonlike lewe. Sy idees en die vriende wat sy passie daarvoor gedeel het was sy lewe.

Spooner het beswyk op die ouderdom van 79, om een uur die middag 14 Mei 1887 in sy klein kamertjie omring met boektrommels, manuskripte en politieke pamflette wat hy versamel het in sy loopbaan wat oor meer as ʼn halfeeu gestrek het.

In sy huldeblyk getiteld “Our Nestor Taken From Us” (Liberty, Mei 28, 1887), skryf Tucker dat die naam Lysander Spooner voortaan bekend sou word onder mense. Alhoewel dit polities nie plaasgevind het nie bly Spooner se werke vir studente van grondwetlike beginsels van groot belang en word steeds vertaal in allerlei tale en webblaaie wat verskyn om sy idees te bevorder. Nuwe boeke en interpretasies van sy werke word steeds geskryf en gepubliseer.

Oor Spooner skryf Charles Shively in sy uitstekende biografiese opstel as inleiding tot The Collected Works of Lysander Spooner (1971):

In ons huidige tyd bly beide sy voorbeeld en idees aangaande die absolute ongeldigheid van dwang en regering steeds relevant. Huidige libertariese en anti-staat bewegings bly besorg oor die beëindiging van politieke dwang en dominasie… Daar is ʼn soektog na vorms van menslike samewerking om die slaaf-meester verhouding te vervang en in die soektog was Lysander Spooner ʼn pionier en ʼn profeet.

Van Spooner se Werke

  • The Deist’s Immortality, and An Essay On Man’s Accountability For His Belief (1834)
  • The Deist’s Reply to the Alleged Supernatural Evidences of Christianity (1836)
  • Constitutional Law, Relative to Credit, Currency, and Banking (1843)
  • The Unconstitutionality of the Laws of Congress, Prohibiting Private Mails (1844)
  • The Unconstitutionality of Slavery (1845)
  • Poverty: Its Illegal Causes, and Legal Cure (1846)
  • Illegality of the Trial of John W. Webster (1850)
  • An Essay on Trial by Jury (1852)
  • The Law of Intellectual Property (1855)
  • A Plan For The Abolition Of Slavery (and) To The Non-Slaveholders of the South (1858)
  • Address of the Free Constitutionalists to the People of the United States (1860)
  • A New System of Paper Currency (1861)
  • A Letter to Charles Sumner (1864)
  • Considerations for Bankers, and Holders of United States Bonds (1864)
  • No Treason I: The Suppression of the Rebellion Finally Disposes of the Pretence That the United States Government Rests on Consent (1867)
  • No Treason II: The Constitution (1867)
  • No Treason VI: The Constitution of No Authority (1870)
  • Forced Consent (1873)
  • Vices Are Not Crimes: A Vindication of Moral Liberty (1875)
  • Our Financiers: Their Ignorance, Usurpations and Frauds (1877)
  • Gold and Silver as Standards of Value: The Flagrant Cheat in Regard to Them (1878)
  • Natural Law, or the Science of Justice (1882)
  • A Letter to Thomas F. Bayard (1882)
  • A Letter to Scientists and Inventors, on the Science of Justice (1884)
  • A Letter to Grover Cleveland, on His False Inaugural Address, The Usurpations and Crimes of Lawmakers and Judges, and the Consequent Poverty, Ignorance, and Servitude of the People (1886)

lewe van lysander spooner

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Geskiedenis and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.