Geen Verraad: no 1

Spooner meederheidregering

deur Lysander Spooner

Die vraagstuk ten opsigte van hoogverraad kan ooglopend onderskei word van dié van slawerny. Die antwoord sou egter dieselfde gewees het as die vryestate (waar slawerny nie beoefen was nie) in plaas van die slaafstate van die eenheidstaat afgestig het.

Ten opsigte van die Noorde was die oorlog uitgevoer deur ʼn regering wat altyd die grondwet verdraai en verontagsaam het, nie om die slawe te bevry nie maar om die slawe in slawerny te hou, en was steeds bereid daartoe indien die slawe-eienaars daardeur verlei kon word om in die Unie te bly.

Die beginsel waarop die oorlog deur die Noorde gevoer was is eenvoudig: dat mense wetlik verplig kan word om ʼn regering wat hulle nie wil hê nie te dien en te ondersteun, en dat weerstand van hulle kant af van hulle verraaiers en misdadigers maak.

Geen noembare beginsel kan moontlik meer ooglopend vals wees as dít nie, óf meer ooglopend gevaarlik vir alle politieke vryheid as dié beginsel nie. Tog het dit in die praktyk geseëvier, en word dit nou as ʼn gevestigde gegewe aanvaar. Indien dit werklik gevestig was deur die oorlog het dit die aantal slawe vermeerder in plaas van verminder, aangesien ʼn man wat onderdanig moet wees tot ʼn regering wat hy nie wil hê nie, niks minder as ʼn slaaf is nie.

Daar is in beginsel geen verskil tussen politieke-slawerny en arbeid-slawerny nie, slegs in graad. Eersgenoemde ontken tot presies dieselfde mate ʼn man se eienaarskap van homself en die produktiewe uitsette van sy arbeid, en beweer dat ander mans hom kan besit en hom onteien van sy lewe en eiendom vir hul nut en tot hul diskresie.

Voor die oorlog was daar sekere gronde waarop ʼn mens nog kon sê dat – in teorie ten minste, indien nie in praktyk nie – ons regering ʼn vrye een was – dat dit op instemming berus het. Niks van daardie aard kan meer gesê word indien die beginsel waarop die oorlog deur die Noorde uitgevoer was as beginsel vasgestel en volgehou word nie.

Indien hierdie beginsel nie die beginsel van die Grondwet is nie, moet die feit bekend gemaak word. Indien dit wel die beginsel van die Grondwet is, moet die Grondwet self, onmiddellik omvergewerp word.

Die Aard van ons Regering 

Ondanks al die proklamasies wat Amerikaners in die laaste negintig jaar aan die mensdom gemaak het, naamlik dat ons regering in teenstelling met hulle s’n op instemming berus en dat dit die enigste regmatige grondslag is waarop enige regering kan berus – het die einde van die oorlog prakties gedemonstreer dat ons regering op mag berus: Net soveel as enige ander regering wat ooit bestaan ​​het.

Die Noorde het dus feitlik aan die wêreld gesê: Dit was alles goed en wel om te praat en spog oor instemming, so lank as wat die doelwit wat bereik moes word die beëindiging en bevryding van ons verbintenis met Engeland was, en ook om ʼn verspreide en selfstandige bevolking te verlei na groot nasionale eenheid. Nou dat daardie doelwitte egter bereik is en die mag van die Noorde gekonsolideer is, is dit vir ons genoeg – soos vir alle regerings – om te sê: Ons mag is ons reg.

Proporsioneel tot welvaart en bevolking het die Noorde waarskynlik meer geld en bloed bestee om politieke mag in stand te hou oor onwillige mense as wat enige ander regering ooit gedoen het. Volgens die Noorde se beskouing was dit klaarblyklik die grootste glorie van hul sukses en ʼn ​​voldoende vergoeding vir hul eie verliese asook ruim genoeg as regverdiging vir al die verwoesting en menseslagting wat op die Suide losgelaat is, dat alle skyn van die noodsaaklikheid van instemming tot die voortsetting van regeringsmag (soos wat hulle dink) vir ewig uit die gedagtes van die mense vergete is.

Die Noorde staan onaantasbaar verhewe uit as die bewys dat ʼn regering wat valslik daarop aanspraak maak om op instemming te berus, meer lewens en welvaart sal bestee in die verplettering van dissidente as wat enige regering wat openlik op mag gebaseer was ooit gedoen het.

Daarbenewens beweer sy dat sy dit alles gedoen het in die naam van vryheid! In die naam van ʼn vrye regering! Namens die beginsel dat regering op instemming berus!

As die nakomelinge van Roger Williams binne ʼn honderd jaar na hulle op die beginsel van religieuse vryheid en verdraagsaamheid hul staat gestig het daartoe sou oorgaan om ketters te verbrand met ʼn woede wat nog nooit tevore onder mense gesien was nie – As hulle hulself daarmee sou gelukgewens dat hulle enige vrae oor die waarheid van die staatsgeloof onderdruk het en al die dinge gedoen het met ʼn skoon gewete in die naam van vryheid, sou die teenstrydighede tussen dit wat hulle verkondig het en dit wat hul gedrag ten toon gestel het skaars groter gewees het as dié van die Noorde in die uitvoering van so ʼn oorlog soos die Noorde haar aan skuldig gemaak het, om mense te dwing om onder ʼn regering, wat hulle nie wil hê nie, te lewe en dan te beweer dat dit gedoen was op die beginsel dat regering berus op instemming.

Hierdie verstommende absurditeit en teenstrydigheid kan slegs verreken word deur te veronderstel; dat óf die begeerlikheid van roem, mag en geld haar heeltemal verblind of heeltemal roekeloos gelaat het van die teenstrydigheid en grootheidswaansin van haar gedrag, óf dat sy self nooit verstaan het ​​wat geïmpliseer word met regering wat berus op instemming nie. Om toegeeflik te wees tot dit wat gekoppel kan word aan die menslike natuur kan ons maar hoop dat die laaste verduideliking eerder die waarheid is.

Sewe implikasies van instemming 

Wat word dan geïmpliseer met ​​regering wat op instemming berus?

Sou dit gevra word dat die instemming van die sterkste party van ʼn nasie al is wat nodig is vir die regverdiging van die daarstel van ʼn regering, wat gesag oor die kleiner partye uitoefen, kan dit beantwoord word dat die mees despotiese regerings in die wêreld op daardie juiste beginsel berus, naamlik die instemming van die magtigste party.

Hierdie regerings word eenvoudig gevorm deur die instemming van die sterkste party en hulle tree kollektief op in die onderwerping van die swakker party tot hul dominasie en die despotisme, tirannie en onreg van hierdie regerings bestaan in daardie juiste feit. Dit is ten minste die eerste stap in hul tirannie; ʼn noodsaaklike voorlopige stap tot al die onderdrukking wat daarop volg.

As mens dan sê dat die instemming van die numeries grootste party in ʼn nasie voldoende is om die daarstelling van hul mag oor ʼn kleiner party te regverdig, kan dit beantwoord word deur die volgende:

1) Twee mans het eweneens nie meer van ʼn natuurlike reg om enige vorm van outoriteit oor een man uit te oefen nie, as wat een man het om dieselfde outoriteit oor twee mans uit te oefen nie. ʼn Mens se natuurlike regte is sy eie teen die hele wêreld vry; en enige skending daarvan is ʼn misdaad ongeag of dit gepleeg word deur een man of deur miljoene; hetsy gepleeg deur een man wat homself ʼn rower noem (of ʼn ander toepaslike naam) of deur miljoene wat hulself ʼn regering noem.

2) Dit sou absurd wees vir die meerderheidsgroep om te praat van die daarstel van ʼn regering oor die minderheidsgroep, tensy laasgenoemde ook die sterkste sowel as die grootste was: want dit kan nie bloot as veronderstelling aanvaar word dat die meerderheidsgroep hulself ooit sou berus by die voorskrifte en oppergesag van die minderheid indien hulle die meeste was nie.

Die feit van die saak is dat regerings miskien nooit werklik gestig word deur die meerderheid nie. Dit word gewoonlik, indien nie altyd nie, gestig deur ʼn minderheid – hul superieure mag bestaan ​​in hul superieure welvaart, intelligensie en hul vermoë om op ʼn georkestreerde wyse op te tree.

3) Ons Grondwet maak nie daarop aanspraak dat dit eenvoudiglik deur ʼn meerderheid tot stand gebring is nie, maar deur “die mense” – die minderheid net soveel as die meerderheid.

4) Indien die oprigters in 1776 die beginsel erken het dat ʼn meerderheid die reg het om oor ʼn minderheid te regeer, sou ons nooit ʼn nasie geword het nie, want hulle was ʼn klein minderheid in vergelyking met diegene wat die reg geëis het om oor hulle te heers.

5) Meerderhede, as sodanig, is en kan geen waarborg vir geregtigheid wees nie. Hulle is van dieselfde stoffasie as die minderhede. Hulle het dieselfde passie vir roem, mag en geld as die minderhede en is aanspreeklik en waarskynlik gelyk – miskien selfs meer as gelyk, omdat hulle ook meer vrymoedig is met – roofsugtigheid, tirannie en beginselloosheid wanneer hulle met mag toevertrou word. 

Daar is dus nie meer van ʼn rede waarom ʼn man die heerskappy en regering onderhou en onderdanig daaraan moet wees as dit ʼn meerderheidsregering is as wanneer dit ʼn minderheidsregerings is nie. Meerderhede en minderhede kan nie in ag geneem word in die bepaling van geregtigheid nie. Enige praatjies oor meerderhede en minderhede met betrekking tot regeringssake is ʼn blote dwaasheid.

Mense is dwase om enige regering gesamentlik te beskerm of enige van hul wette te gehoorsaam, afgesien van daardie wette waartoe almal instem. Niks behalwe dwang en bedrog dwing mense daartoe om die regerings te onderhou nie. Om dan te sê dat die meerderheid as sodanig ʼn reg het om oor minderhede te regeer, is gelykstaande daaraan om te sê dat minderhede geen regte het of behoort te hê nie, behalwe dit wat meerderhede tot hul eie diskresie toelaat.

6) Dit is nie onwaarskynlik dat baie of die meeste van die slegste van regerings – alhoewel in die eerste plek deur die mag van ʼn minderheid tot stand gebring, oor tyd ondersteun word deur die meerderheid nie. Indien hulle doen, bestaan hierdie meerderheid grootliks uit die mees onkundige, bygelowige, agterlike, afhanklike, slaafse en korrupte dele van die bevolking; uit diegene wat deur mag, welvaart en arrogansie beïndruk word; uit diegene wat deur bedrieërs mislei is en diegene wat besmet is met korrupsie deur die aansporings wat geskep is deur die weinig min wat werklik die regering opmaak.

Sulke meerderhede kan heel waarskynlik in die helfte, miskien in negentig persent van al die lande in die wêreld gevind word. Wat bewys hulle? Niks, behalwe die tirannie en korrupsie van die juiste regerings wat sulke groot hoeveelhede van die bevolking tot hul huidige onkunde, onderdanigheid, agterlikheid en korrupsie reduseer nie – ‘n onkunde, onderdanigheid, agterlikheid en korrupsie wat ten beste geïllustreer word in die eenvoudige feit dat hulle die regerings wat hulle so verdruk, verneder en besteel, onderhou.

ʼn Meerderheid doen niks om die legitimiteit van die regerings self te bewys nie, of dat hulle in stand gehou behoort te word nie, of selfs verduur behoort te word deur diegene wat hul ware karakter verstaan nie​​. Die blote feit dat ‘n regering homself dus onderhou of probeer onderhou met ʼn meerderheid se ondersteuning bewys geensins iets wat noodsaaklik is om te bewys dat so ʼn regering geonderhou moet word nie.

7) Die beginsel dat die meerderheid ‘n reg het om oor die minderheid te heers, reduseer feitlik alle regerings tot ‘n blote wedstryd tussen twee gegewe liggame van mense, waarvan sommige meesters en sommige slawe sal wees: ‘n Wedstryd wat – hoe bloedig ook al – in die aard van dinge, nooit as finaal gesluit verklaar kan word nie, so lank as wat daar mense is wat weier om slawe te wees.

Wat maak ʼn “nasie”? 

Om te wil sê dat die instemming van die sterkste party of die meerderheidsparty van ʼn nasie ʼn voldoende regverdiging is vir die oprigting of instandhouding van ʼn regering wat oor almal regeer, los nie die probleem op nie. Die vraag bly steeds: Hoe kom ʼn “nasie” tot stand​​?

Hoe word miljoene mense wat versprei is oor ‘n uitgebreide gebied ʼn nasie as elkeen van hulle van nature toegerus met individuele vryheid, toegerus met die wet van die natuur om geen man, of instelling van mense, sy meesters te noem nie? Deur die wet bemagtig om net sy eie geluk na te streef op sy eie manier; Om met sy lewe en eiendom te doen wat ook al hy wil so lank as wat hy nie op dieselfde en gelyke vryheid van ander oortree nie; Ook deur daardie wet bemagtig om sy eie regte te verdedig en om enige oortreding op sy regte, reg te stel en om oor te gaan tot die hulp en verdediging van sy medemens wat mag ly as gevolg van enige vorm van ongeregtigheid – Hoe word miljoene sulke mense in die eerste plek ʼn nasie?

Hoe is dit moontlik dat elkeen van die miljoene gestroop word van al hul natuurlike God-gegewe regte en opgeneem, saamgepers, gekompakteer en gekonsolideer word in ‘n massa saam met ander mense, mense wat hulle nog nooit gesien het nie; met wie hulle geen kontrak het nie; en met wie hulle geen sentimente deel behalwe vrees, haat of minagting nie?

Hoe kom so ‘n mens onder die beheer van mense presies soos homself, wat van nature geen gesag oor hom gehad het nie, maar wat hom beveel om een ding te doen en verbied om weer ʼn ander ding te doen, asof hulle soewereine is bo sy wil en hy hul onderdaan – en asof hul wil en belange die enigste standaarde van sy regte en sy pligte is – en wat hom daartoe dryf om onder die dreigende gevaar van konfiskasie, gevangenisstraf en die dood, onderdanig te wees?

Duidelik is dit alles die werk van dwang of bedrog, of albei.

Vanuit watter reg het ons dan “ʼn nasie” geword? Vanuit watter reg gaan ons voort om ʼn “nasie” te wees? En deur watter reg beweer óf die sterkste óf die meerderheidsparty binne die territoriale gebied bekend as “Die Verenigde State” dat daar regtig so ʼn “nasie” soos die Verenigde State van Amerika is?

Sekerlik moet hulle die regmatige bestaan ​​van “ʼn nasie” kan bewys voordat hulle op daardie gronde kan aanspraak maak, dat hulle self ʼn reg het om beheer daaroor te neem: om vir hul eie doeleindes soveel van elkeen anders se eiendom as wat hulle kan, op te eis, en tot hul diskresie iemand te kan dwing om sy eie lewe te waag of die lewens van ander mense te neem vir die instandhouding van hul mag.

Om van hulle getalle of hul mag te praat, is nie die doel nie. Die vraag is vanuit watter reg bestaan die nasie​​? En deur watter reg word so baie gruweldade in die naam daarvan gepleeg? Hetsy ter behoud daarvan of deur die gesagsdraers daarvan?

Die antwoord op hierdie vraag moet sekerlik wees dat so ʼn nasie geensins vanuit enige reg bestaan nie.

Ons word dus daartoe gedryf om te erken dat nasies en regerings, as hulle regmatig kan bestaan​, slegs met instemming kan bestaan.

ʼn Revolusie van individue 

Die vraag keer gevolglik terug: Wat word geïmpliseer met ʼn ​​regering wat rus op instemming? 

Klaarblyklik word hierdie een ding (om niks te sê van die ander nie) noodwendig geïmpliseer met die idee van ʼn regering wat rus op instemming, naamlik, die aparte individuele instemming van elke afsonderlike man wie se bydra nodig is, hetsy deur belasting of persoonlike diens, tot die ondersteuning van die regering. Dit alles, of niks nie, word noodwendig geïmpliseer, omdat een man se instemming net so nodig is as elke ander man sʼn. 

As (A) byvoorbeeld daarop aanspraak maak dat sy instemming nodig is vir die totstandkoming en instandhouding van ʼn regering oor hom, het hy daardeur noodwendig erken dat B en elke ander man se regte ewe noodsaaklik is, omdat B en elke ander man se regte net so goed as sy eie is. Aan die ander kant, as hy ontken dat B of enige ander spesifieke man se toestemming nodig is, het hy daardeur noodwendig erken dat nóg sy eie nóg ʼn ander man sʼn nodig is en dat regering geensins op instemming daartoe berus nie.

Daar is daarom geen alternatief as om te sê dat die aparte individuele instemming van elke man van wie daar op enige manier vereis word om te help om die regering te ondersteun, nodig is, of dat die instemming van niemand nodig is nie.

Duidelik is hierdie individuele instemming onontbeerlik vir die idee van hoogverraad, want as ʼn man nog nooit ingestem of ooreengekom het om ʼn regering te ondersteun nie, verbreek hy geen ooreenkoms as hy weier om dit te ondersteun nie. En indien hy oorlog daarteen voer doen hy dit as ʼn opponent en nie as ʼn verraaier nie.

Noodgedwonge word al hierdie dinge of niks geïmpliseer in die onafhanklikheidsverklaring van 1776. Want sou die noodsaaklikheid vir instemming wat toe aangekondig was ʼn gesonde beginsel ten gunste van drie miljoen mense was, sou dit ‘n ewe goeie een wees ten gunste van drie mans, of van een man. As die beginsel ‘n ​​gesonde een was namens die mense wat op ‘n aparte kontinent woon, was dit ‘n ewe goeie een namens ʼn man wat op ʼn aparte plaas of in ‘n aparte huis woon. 

Verder was dit slegs as afsonderlike individue wat elk vir homself optree en nie as ‘n lid van enige georganiseerde regering nie, dat die drie miljoen verklaar het dat hul instemming noodsaaklik was ter ondersteuning van enige regering, en om terselfde tyd hul rebellie teen die Britse Kroon te verklaar. Die regerings wat toe in die kolonies bestaan het, ​​het geen grondwetlike bevoegdheid as regerings gehad om die skeiding tussen Engeland en Amerika te verklaar nie. Inteendeel, daardie regerings was as regerings georganiseer onder wetgewing van Brittanje en het onderdanigheid en trou aan die Britse kroon erken. Natuurlik het die Britse koning dit nooit een van die wette of grondwetlike magte van daardie regerings gemaak om mense by te staan of toe te laat om trou aan die Britse kroon op te gee nie. 

So ver as wat die koloniale wetgewers dus opgetree het as revolusionêres het hulle net opgetree soos so baie ander revolusionêre individue, en nie as grondwetlike wetgewers nie. En hul verteenwoordigers by Philadelphia, wat vir die eerste keer onafhanklikheid verklaar het, was volgens die grondwetlike reg van die tyd, net ‘n komitee van revolusionêres en selfs verraaiers en geensins grondwetlike owerhede of verteenwoordigend van grondwetlike owerhede nie. 

Dit was ook volgens die wet slegs as afsonderlike individue wat elkeen namens homself sy natuurlike regte as ‘n individu uitgeoefen het, en daarvolgens het die meerderheid van die mense die onafhanklikheidsverklaring bekragtig. 

Dit was ook slegs as individue, wat elk net namens hulsels opgetree het in die uitoefening van hul natuurlike regte, dat hulle die grondwetlike karakter van hul plaaslike regerings hervorm het om die idee van trou aan Groot-Brittanje uit te sluit; selfs die veranderinge op vorms is verander slegs soos en wanneer dit gerieflik was. 

Die hele revolusie, as ‘n revolusie, was dus verklaar en uitgevoer deur die mense wat afsonderlik as individue opgetree het in die uitoefening van elkeen se natuurlike regte en nie deur ʼn regering in die uitoefening van grondwetlike magte of regte nie. 

Dit was daarom as individue en slegs as individue, elkeen vir homself, dat hulle verklaar het dat hul instemming – dit is hul individuele instemming – nodig is vir die skepping of voortsetting van enige regering, wat hulle finansieel moet onderhou. 

Op dieselfde manier het elk vir homself verklaar, dat sy eie wil, plesier en gewete die enigste owerheid was wat hy per geleentheid kon raadpleeg in die bepaling of hy langer die regering wou ondersteun waaronder hy nog altyd geleef het. As hierdie optrede van elke individu in die revolusie dan geldig en regmatig was toe so baie tot die daad oorgegaan het, sou dit in die lig van natuurlike geregtigheid dan presies ewe geldig en regmatig gewees het indien een enkel individu dieselfde stappe geneem het. 

Hy het dieselfde natuurlike reg om die wapen op te neem om sy eie eiendom te verdedig teen ʼn enkele belastinggaarder as wat hy gehad het om die wapen op te neem saam met drie miljoen ander om die eiendom van almal teen ʼn leër van belastinggaarders te verdedig. Die hele Revolusie het hierom gedraai, en in teorie beweer dat elke man die reg het, tot sy eie diskresie, om homself te bevry van enige dwang om ʼn regering te onderhou waartoe hy nie ingestem het nie. En hierdie beginsel was neergelê, nie as ʼn reg net op hulself van toepassing nie, of net op daardie tydstip nie, of net tot daardie bepaalde regering nie, maar as ʼn universele reg van alle mense, ten alle tye en onder alle omstandighede. 

Koning George III het ons revolusionêre voorvaders verraaiers genoem vir wat hulle op daardie tydstip gedoen het. Maar hulle was in werklikheid nie verraaiers nie, ongeag wat hy of sy wette hulle genoem het. Hulle was in werklikheid nie verraaiers nie omdat hulle niemand verraai het en geen politieke verhouding waartoe hulle ingestem het, verbreek het nie. Hulle was hom gelyk, in die opsig dat hulle hom geen getrouheid, gehoorsaamheid, of onderdanigheid verskuldig was nie en ook geen ander plig nie, behalwe soos hulle aan die mensdom in die algemeen verskuldig is. 

Hul politieke verhoudings met hom was suiwer vrywilliglik. Hulle het nooit aan hom vrywilliglik trou gesweer of belowe dat hierdie verhoudings langer sou duur as wat dit nodig was nie en daarom het hulle geen probleem gehad om van hom afskeid te neem nie. Hulle het net hul natuurlike reg uitgeoefen deur aan die koning en die Engelse volk te sê dat hulle onder geen verpligting staan om voort te gaan met hul politieke verbintenis met hom nie en dat, vir redes van hul eie, hulle verkies het om die verhouding te ontbind. 

Wat waar was van die revolusionêres van daardie tyd is waar in die algemeen. Die monargieë en regerings van wie mense kies om hulself te skei, probeer altyd die mense stigmatiseer as verraaiers. Hulle is egter in werklikheid nooit verraaiers nie, aangesien hulle geen trou gesweer het teenoor ʼn staat waartoe hul hul instemming onttrek het of nooit aan toegegee het nie. 

Hulle is net mense, wat vir hul eie redes – hetsy goed of sleg, ongeag verstandig of onverstandig – kies om hul natuurlike reg uit te oefen om die verbintenis met die regering waaronder hulle leef te ontbind. In die uitvoerring hiervan, het hulle so min ʼn misdaad begaan as wat hulle verraad gepleeg het – verraad wat noodwendig kontrakbreuk, bedrog of troubreuk impliseer – so min as wat ʼn man verraad pleeg as hy kies om enige vrywillige assosiasie of kerk te verlaat. 

Hierdie beginsel was waar in 1776 en dit is nou ook waar. Dit is die enigste een waarop enige regmatige regering kan berus. Dit is die een waarop die Grondwet self aanspraak maak om op te berus. As dit nie werklik op daardie grondslag berus nie, het dit geen bestaansreg​​ nie en is dit die plig van elke man om daarteen in opstand te kom. 

As die manne van die Amerikaanse Revolusie daarop uit was om absurde idees soos lojaliteit aan en verraad teen ʼn regering in die Grondwet te inkorporeer, idees wat hulle self verwerp het, waarteen hulle geveg het, idees wat die wêreld in slawerny gehou het, dan het hulle daardeur hulself onbetwisbaar walglik en bespotlik gemaak voor die hele mensdom. 


Lysander Spooner (1808–1887) was die Amerikaanse individualistiese anargis en regsteoretikus, veral bekend vir die oprigting van ʼn kommersiële poskantoor in kompetisie met die regering, wat toe onder dwang gesluit was. Hy was egter ook die outeur van ʼn paar van die mees radikale opstelle van die 19de eeu en het vandag steeds ʼn groot invloed op libertariese denkers. Hy was ʼn toegewyde teenstander van slawerny in alle vorme en het selfs gepleit dat guerrilla-oorlogvoering teen slawerny van stapel gestuur word – maar ook ʼn toegewyde teenstander van die militêre inval van die Unie op die Amerikaanse Suide asook die na-oorlogse rekonstruksie. Sien Let’s Abolish Government, ʼn versameling opstelle persoonlik gekies deur Murray Rothbard as Spooner se beste werke.

About kanwilsal

ʼn Kompromie is ʼn ooreekoms waarby beide partye kry wat nie een van hulle wou gehad het nie.
This entry was posted in Anargie, Politieke Filosofie and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.