Inleiding

Welvaart en vryheid is eienskappe wat alle mense tot die maksimum wil vergroot in hulle lewens. In die proses is daar egter ekonomiese en sosiale beperkings. Sedert ten minste die monargistiese periode vanaf die 1650’s  probeer mense toenemend om die staat te benut om daardie doelwitte te bereik. Alle empiriese data toon egter dat hoe groter die parasiet van ʼn sentrale staat groei, hoe minder welvaart bly daar vir sy onderdane agter en hoe minder persoonlike vryheid het hulle.

As ek dan sê “Hef die staat op en gee ons anargie”, dan assosieer mense daardie anargie met wanorde en chaos. Maar dis bloot nie waar nie. Van die onmiddellike skokreaksies wat ek soms kry sluit in: “Wat keer my dan om ʼn wapen te vat, jou dood te skiet en jou huis of kar te steel?” Mense soek van nature orde, maar die antwoord op ʼn Sowjet monopolie wat net een verrimpelde grys baadjie maak vir almal in Rusland as voorbeeld, is nie om geen baadjies te hê nie. Net so is die antwoord op ʼn monopoliestaat wat alleenreg voorbehou tot ʼn verskeidenheid dienste nie geen polisiëring en geen wette nie, maar eerder lokalistiese selfregering. D.w.s. ʼn groter verskeidenheid en opsies t.o.v. polisiëring en wette. Indien enige misdaad ʼn probleem word in ʼn plattelandse dorp as vb., moet daar geen rede wees hoekom hulle dan nie hul eie toepaslike wette kan maak om dit aan te spreek nie. Anargo-kapitaliste is nie vriendelik teenoor skendings van eiendomsreg nie en beskou selfs alle vorme van gedwonge belasting as niks minder as ʼn skending van eiendomsreg nie.

My argument is dit – daar is geen diens of produk wat die sentrale staat lewer wat die privaat sektor nie goedkoper en meer effektief kan lewer nie en dat dit sekuriteit en regstelsels sal insluit as die monopolie gelig word. Die vryemark is ook elasties genoeg om alle ekonomiese eksternaliteite te beantwoord en daar is ook geen rede waarom die privaat sektor nie antwoorde sal bied op publieke vervoer, natuurbewaring, welsyn en ander dienste wat ons as gemeenskaplik beskou nie. Munisipaliteite sal nog steeds na hul eie infrastruktuur kan omsien, dit is dus lokale en vrywillige regering eerder as gedwonge sentrale regering. Daar word dus ʼn magdom aannames gemaak rondom anargisme en die sentrale staat wat bloot nie waar is nie.

Alhoewel anargisme histories as ʼn linkse konsep beskou was, of selfs word (in Europa), is die afwesigheid van die staat immers lynreg teenoorgesteld van kommunisme waar alles onder die staat val, en word dit in Amerika as radikaal regs beskou. Daar is ook sterk idee verskille tussen wat beskou word as Libertynse-anargisme/ anargo-kapitalisme en minargisme aan die een kant teenoor anargo-sindikalisme/ anargo-kommunisme aan die ander kant.

Hierdie laaste groepering beskryf hulself soms ook as Libertynse-sosialiste. Vir meeste Amerikaners klink dit egter na ʼn oksimoron, maar die waarheid is dat hulle wel die term eerste gebruik het na die vernietiging van die Parys kommune in 1871. Hulle konsep lê in die idees van vrywillige kommunes, koöperatiewe’s en sindikalisme.

Minargiste beskou hulself as meer realisties en reken dat anargo-kapitaliste ʼn utopiese sienswyse het om te glo dat daar geheel en al met state weggedoen kan word. Terwyl anargo-kapitaliste die sienswyse huldig dat minargiste naïef is om te glo dat die staat se monopolie op geweld tot ʼn redelike mate beperk kan word, dat die staat a.g.v. monopolistiese tekortkominge inherent korrup is en dat lokalisme en vrywillige kompeterende regerings die moderne staat wel suksesvol kan vervang.

Alhoewel die idees van etnisiteit en ras meestal verwerp word deur anargo-kapitaliste as kollektivisme en deur die linkse anargiste as blote rassisme en as fascisme beskou word, het daar oor die laaste dekade die idee van volks-anargisme ontstaan, oftewel “national-anarchism” of “tribal-anarchism”. Hulle oordeel is dat die mens van natuur volke of stamme vorm en dat dit in die afwesigheid van die staat sal voortgaan en ook dat sentrale state oor die eeue verantwoordelik was vir die vernietiging van baie volke en dat ʼn volk se vryheid juis nie by die staat berus nie omdat die staat inherent ekspansionêr is en sy eie volk sal vernietig om sy oorlewing voort te sit.

Die Christen-anargiste gebruik weer ʼn magdom Ou en Nuwe Testamentiese teksverse om hul standpunt te staaf en glo dat die heerskappy van die sentrale staat ʼn verwerping van God se heerskappy is, waarvan die mooiste seker 1 Samuel 8 vers 5 tot 18 is. Of hulle reg is of nie, in die afwesigheid van die staat sal die kerk outomaties na vore moet tree om meer funksies van welsyn en onderwys te hanteer en straks weer ʼn moraliteit rigtingwyser in die samelewing word. Verder is daar Moslem-anargiste, swart-anargiste, Agrariese-anargiste en vele meer.

Die enigste argument wat ek wel hier in die inleiding wil aanspreek, is dat anargie vir een of ander rede ʼn utopiese ideologie is. Vanaf die Franse Rewolusie word mense van die een utopiese ideologie na die ander gesleep en elkeen van hulle moet deur die “staat” daar gestel word. Dit is dus die staat self wat utopies is. In teenstelling tot my argument kan jy my seker daarop wys dat die idee van “demokrasie” en “die republiek” veel ouer is, en dis waar, maar beide hierdie konsepte was in hul oorsprong nooit vir iets groter bestem as ʼn enkele stadstaat nie. Die toepassing daarvan op ʼn grondgebied en samelewing wat radikaal verskil verteenwoordig dus ʼn ideologiese verskuiwing op sig sélf en beide daardie eksperimente het hul eie ondergang gegrawe deur imperialisme te beoefen. Nie veel anders as Amerika op n groter skaal vandag nie.

Mense dink dat anargisme nie kan werk nie omdat dit van mense sou eis om “perfekte engeltjies” te wees en aangesien dit onmoontlik is, is die antwoord dus “die staat”. Ons is so gekondisioneer om te glo in gesentraliseerde mag dat anargisme te maklik aangesien word vir politieke nihilisme. Tog is niks verder verwyder vanaf die waarheid nie. Absolutisme en totalitarisme is naby aan nihilisme. Wanneer dit aanvaar word, word alles wat ‘n staat doen “geregverdig”, en dit word geregverdig deur sy honger vir gesentraliseerde mag as ʼn teenvoeter tot individuele vryheid, vrywillige assosiasie en aksies. As dit eers verstaan word, kan alle politieke partye se veldtogte tydens verkiesings gesien word vir wat dit is, nl. verskonings en leuens.

Anargiste opponeer die staat omdat dit hopeloos te veel menslike swakhede ten toon stel soos oneerlikheid, aggressie, gulsigheid en agterbaksheid. Die staat stel hierdie menslike swakhede ten toon juis omdat dit bestaan uit mense wat swakhede het en nou die mag en beheer het oor ander mense. Dit is nie genoeg dat ons “die regte mense” of “die regte klas” of selfs “die regte groep” in daardie magsposisie moet hê nie, dis die menslike natuur self wat die staat onwerkbaar maak.

Die anargis se argument is die volgende: as mense “goed” is dan het ons nie ʼn regering nodig om moraliteit af te dwing nie. As mense “boos” is, dan gaan die mense wat die staat beliggaam ook boos wees met meer mag om ander uit te buit as wat individue dit sou kon doen. As party mense “goed” en ander “boos” is dan moet ons alle gesentraliseerde mag teenstaan omdat dit juis mense gaan aantrek wat daardie mag begeer oor ander. Anargie beteken nie – geen organisasie of selfs regering nie, maar vrywillige regering. M.a.w. kontraktueel, sonder die afstanddoening van jou natuurlike regte. Om in enige vorm van die staat te glo, is om te glo dat een groep mense al die wapens en al die legitimiteit moet hê en dan die alleenreg voorbehou self al die reëls te maak en dat hulle dan nie hul onderdane/burgers gaan uitbuit nie, maar in ons beste belang gaan optree. Hierdie tipe denke is nie net utopies nie, maar ekstremisties.

Vandag het ons rekenaars, vliegtuie en baie wetenskaplike en tegnologiese deurbrake wat in die afgelope 200 jaar gemaak is, maar al daardie vooruitgang is ʼn produk van private inisiatiewe en entrepreneurskap. Ons vooruitgang is nie a.g.v. die staat nie, maar eerder in weerwil daarvan. Een van Karl Marx se opponente het aan hom gevra hoe kommunisme gaan werk, en sy antwoord was :”Alles gaan werk soos die poskantoor”. Wel vir baie eeue was die poskantoor juis die staat se enigste bron van inkomste en vandag werk die poskantoor, wel soos die poskantoor. Daar was bitter min vooruitgang en alle staatsdepartemente in meeste lande werk …wel, soos die outydse poskantoor. Dis lomp, dis stadig en sonder die mededinging wat die vryemark bied.

Een van die outeurs van die Amerikaanse federale artikels wat die ratifikasie van die Amerikaanse konstitusie bepleit het, het gesê, “As mense engele was, sou geen regering nodig gewees het nie.” Hierop het iemand later opgemerk,  “Ek het altyd gedink as mense engele was sou die staat aanvaarbaar wees, maar dit is presies ons onheilige natuur wat die mag van die staat te gevaarlik maak vir mense om te besit”. Die inverse hiervan het Robert Higgs verwoord, ”As mense engele was, dan is die staat of anargisme aanvaarbaar, maar as mense nie engele is nie, dan is anargie nogal gevaarlik en die staat uiters..uiters gevaarlik.”

Die laaste aanklag wat ek gevind het is dit, “Goed, jy het my oortuig. Ek stem met jou saam, maar dis utopies omdat die staat nooit mag sal opgee nie en soveel vryheid sal nooit kan bestaan nie”. My antwoord hierop is: Al wat ek kan doen is om die wêreld te verduidelik vanuit die werklikheidservaring van my eie realiteite, ondervindings en inligting tot my beskikking. Daar was dalk een of twee stemme in die politieke wildernis in die 1500’s wat voorgestel het dat mense demokrasie moet probeer, en daar was sekerlik mense wat gesê het dat dit nooit sal werk nie, want, “selfs al stem ek met jou saam gaan die koning nooit mag opgee nie en demokrasie sal nooit bestaan nie”. Vir al wat ek weet, kom Jesus volgende week terug en oordeel oor ons almal. Miskien het ons nog ʼn duisend jaar en die aand is jonk. Ek weet nie, en jy weet ook nie, so lees, oorweeg en oordeel dan self. Die artikels op die webblad is vanaf ʼn verskeidenheid bronne, nie almal nuut nie, maar is universeel en kan op enige moderne staat van toepassing wees. Dit sluit in die werk van minargiste, anargo-kapitaliste en ek gaan later werke van Christen-anargiste sowel as volks-anargiste insluit. ‘n Studie in anargisme is belangrik, afgesien van ʼn persoon se eie ideologiese oortuigings, omdat dit fundamentele vrae stel en die staat kritiseer op ʼn manier wat selfs sesessie bewegings en federaliste nie kan nie. Dit moet dus selfs vir teenstanders van die idee van anargisme rigtinggewend wees oor die beperkings wat op die aard en omvang van die staat geplaas moet word.